Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy baie swaar help dra, moet jy nie vir ‘n ligter las pleit nie, maar eerder vir ‘n sterker rug!
SEWE STERRE
Ds Andrè van den Berg
“En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou” - Openb.1:16
Baie jare gelede het argeoloë ʼn merkwaardige fonds in Griekeland gemaak toe hulle op ʼn paar baie ou grafte afgekom het wat uit die sesde eeu v.C. dateer het. In een van die grafte het hulle die geraamte gevind wat iets in sy benerige hand styf vasgeklou het. Toe die vingers versigtig oopgemaak is, het ʼn goue muntstuk uit die hand geval.
Kundiges het gou agter die kap van die byl gekom. Hierdie muntstuk in die hand van die 25 eeu-oue geraamte was reisgeld; nie vir ʼn aardse reis nie, maar na die ewigheid. Die ou Grieke het geglo dat as jy sterf, jy op ʼn baie lang en gevaarlike reis na jou eindbestemming gaan waarvoor jy geld nodig gehad het. Hoe meer hoe beter.
So ʼn reisiger moes ʼn aantal riviere oorsteek. Die eerste een was die rivier van vergetelheid en redelik maklik om oor te steek. Jy moes net van die water drink waarna alle lelike gedagtes verdwyn het. Die tweede rivier was baie moeiliker en is die vuurstroom genoem. Dit was ʼn tipe van vagevuur soos wat die Roomse Kerk aan glo. Die vuur moes die reisiger reinig.
Die derde rivier was die heel moeilikste omdat dit net per boot oorgesteek kon word. Charon was die bootsman, ʼn mitologiese doderyk-figuur en het geld vir sy dienste gevra. Hoe meer geld, hoe gouer het hy mense na die oorkant geneem. Wie nie geld gehad het nie, moes maar saam met miljoene siele op die oewer van die wêreld van doodskemering agter bly.
Ons glimlag hieroor. Tog het ons iets in gemeen met hierdie geraamte en die goue muntstuk. Deur die eeue was daar by baie mense die diepgewortelde gevoel dat jy iets in die hand moet hê as jy sterf. Jy kan nie met leë hande die hiernamaals betree nie. Jy moet iets kan wys. Ek moet my plek in die hemel verdien. Ek kan nie met leë hande voor God gaan staan nie; nie met geld nie, maar met dinge soos goeie werke, geestelike prestasies, aansien, geleerdheid, eer, ens. Ek moet soos die Griekse geraamte iets waardevol in die hand hê; ʼn losprys vir my plek in die ewigheid - reisgeld op die pont na die ewigheid!
En dan ontdek ons dat wanneer ons die laaste asem uitblaas, ons krampagtige hand oopgaan en alles daaruit val al klem ons daaraan vas. Niks op aarde is waardevol genoeg om ons reis na die ewigheid te finansier; nie geleerdheid, goeie werke, kerklidmaatskap of wat ook al nie. Met die dood val alles uit ons hand. Geen geld, geen mag, geen aansien, geen besondere gawe, ja, niks kan vir ons plek in die hemel betaal nie.
Kan u die ou Hallelujalied onthou: “Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet?” Moet ons? Ja, ek is bevrees, ons moet! Dit laat my dink aan die geldgierige ou man wat baie geld opgegaar het. Op ʼn dag sê iemand vir hom: “Oom, jy kan niks van hierdie geld eendag saam met jou na die ewigheid vat nie” waarna die oom hom vies aankyk en sê: “Wel, dan gaan ek nie!” As dit maar ons keuse was! Ons almal gaan; met leë hande.
Maar, so van hande gepraat, in Openb.1:16 lees ons ook van hande; besondere hande - ʼn regterhand. Terwyl Johannes op die eiland Patmos was waarheen hy t.w.v. sy getuienis van Jesus verban was, het hy in ʼn hemelse gesig o.a. hande gesien. Hierdie gesig het hom so oorweldig, dat hy soos ʼn dooie aan die voete van Jesus neergeval het. Jesus moes sy regterhand uitsteek om Johannes weer tot sy volle bewussyn te bring, so groot was hierdie belewenis.
Die Bybel skets God se regterhand dikwels as beeld van sy krag en reddende teenwoordigheid. Dis met so ʼn hand dat Hy vir Israel uit Egipte gelei en vir 40 jaar in die woestyn versorg het. Met dieselfde hand het Hy ook die Bondsvolk uit hul onderskeie ballingskappe verlos. God het menige vyand met sy regterhand in hul spore gestuit en booswigte se planne verydel. God se hand bepaal die gang van die wêreldgeskiedenis en hou Hy die hemel in stand.
Met hierdie hand hou Hy die sewe sterre tot aan die einde van die wêreld vas. Dit is simbolies vir die Christelike kerk. Ons bely dat Jesus ten hemel gevaar het waar Hy aan die regterhand van God sy kerk regeer en bewaar. Al ontspoor kerke ook hoe, sal God altyd ʼn oorblyfsel bewaar om die waarheid te verkondig. Hy laat nooit die werke van sy hande vaar nie. Daarvan kan Protestantisme getuig.
Toe die kerklike wêreld donker geword het, het Christus gelowiges bewaar wat die waarheid verkondig en die suiwere leer voortgesit het. Ges.265: “Hou Christus self sy kerk in stand – vergeefs die hel se woede. As Here aan Gods regterhand regeer Hy ons ten goede...” Die ware kerk is in sy hand. Al lyk dit asof die Christendom sterf, herleef dit telkens. Christene glo immers in ʼn Verlosser wat die pad uit die graf ken.
In Openb.1:18 lees ons van sleutels in sy regterhand: “En Ek het die sleutels van die doderyk en die dood” Dit wat Jesus oopsluit, kan niemand toemaak nie. En dit wat hy toesluit, kan niemand oopmaak nie. Luister wat sê Hy vir die gelowiges in Filadelfia in Openb.3:8: “Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie. Ek ken jou werke. Kyk Ek het voor jou ʼn geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie”.
Christus is die sleuteldraer en sluit enige deur oop, selfs wanneer dit vir altyd toe blyk te wees. Die engel wat vir Abraham sê dat Sara ʼn seun sou baar vra vir Abraham: “Sou iets vir die Here te wonderbaar wees? ...” (Gen.18:14).
Jesus kan enige deur oopsluit omdat alle mag in die hemel sowel as op die aarde aan Hom gegee is. Met Sy dood het Jesus selfs die deure van die doderyk gaan oopsluit en die Satan in sy eie domein gaan troef. Met sy regterhand het Jesus ook die poort na die paradys vir gelowiges oopgesluit. Die toegangskaartjie is gratis. Jesus het met sy offerdood die onkoste vir elkeen van ons betaal. Tereg sing ons: “Leeg, net met my sondelas, hou ek U verdienste vas” (Ges.69:3).
Let op die woord leeg. Ons kan niks aanbied nie. “En ekself – wat kan ek doen om my sonde te versoen? Sou my hart met ywer gloei, sou my trane ewig vloei; nog gebede, nog geween kan my red, Heer, U alleen.” (Ges.69:2).
Die hemelwoning kos gelowiges niks nie. Vir Jesus het dit alles gekos. Hy het met sy lewe vir ons reisgeld na die ewigheid betaal. Sy hande is met spykers aan ʼn houtkruis vasgeslaan om die deur na die ewige lewe vir sondaars oop te gooi; ʼn daad was so ingrypend dat die heilige gordyn in die tempel geskeur het!
Kyk na jou hande. Wat doen jy vir Jesus daarmee? Is daar iets vir Jesus in jou hande? Daar is niks nie! Kyk na die regterhand van God. Is daar iets in? Ja, daar is iets kosbaar in - jy wat deur die bekering jou hart aan Jesus gegee het! Wie in Christus gevind is, kan nooit weer verlore raak nie. “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Nou maak dit nie meer saak waarmee ek eendag in my hand sterf nie al is dit ook goud. Alles val uit. Al wat werklik saak maak, is in Wie se hand ek sterf. En met hierdie wete dat ek in hierdie bose wêreld in Jesus se hand is, val ek ook in verbystering en dankbaarheid soos ʼn dooie aan die voete van Jesus neer!
Amen!