Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wees bly vir jou Christenvriend/famiielid se onthalwe dat God hom kom haal het. As jy net 'n oomblik deur 'n loergaatjie na die wêreld anderkant die dood kon kyk, sou jy hom/haar beny en sou jou lyding veel draagliker word.
KOM LAAT ONS DIE SAAK UITMAAK
Ds Andrè van den Berg
“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol ... Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word...” - Jes.1:18+20
Sondaars maak almal foute. Niemand is sonder foute nie. In Jesus se gesprek met die Fariseërs oor die owerspelige vrou wat hulle na Hom gebring het, sê Hy: “Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi” (Joh.8:7). Foute is dinge wat jy doen wat jou of ander mense benadeel. Soms beide!
Sommige foute is klein en ander groot. Die grootste foute word gemaak wanneer mense waarskuwings minag, hul daarna vasloop en dan verwyt: “As ek maar net geluister het!” Baie mense hoor, maar luister nie. Die Bybel sê : Jy mag nie! nogtans doen ons dit. Baie mense en volke kon talle onaangename dinge gespaar gewees het as hulle maar net wou luister. Israel is een van hulle.
Jesaja het onder baie moeilike omstandighede geleef. Met die opkoms van die Babiloniese ryk onder Nebukadneser is die een volk na die ander gestoomroller en onderwerp wat die wêreldsituasie destyds (700 v C) baie onseker gemaak het. Toe Nebukadneser wêreldheerser word, het hy hul grondgebied ingepalm en swaar belastings op sy onderdaniges gehef. Brittanje sou eeue later die selfde doen. Landrowery is ʼn gruwel in die oë van God want die aarde behoort aan Hom.
Babilon het destyds deur die Ou Nabye Ooste getrek en die een oorwinning na die ander behaal - al hoe nader aan Juda! In watter spanning moes Juda nie leef nie - onderwerping was ʼn uitgemaakte saak. Baie ontsteld vra hulle: “Waarom gebeur dit met ons as God se uitverkore volk? Is die Here nie by ons nie?”
Dan antwoord God hulle: “Julle het troubreuk gepleeg”. Juda het sy deel van die goddelike kontrak (verbond) nie nagekom nie. Die verbond het gelui: God sal vir hulle ʼn God wees en hulle moet vir Hom ʼn volk wees. Hulle het hulle kant nie nagekom nie. Dis kontrakbreuk, en ʼn ernstige saak!
In Jes.1:2 lees ons van hierdie kontrakbreuk: “Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die Here spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar hulle het teen My oortree”. God het hulle soos kinders grootgemaak maar toe hulle groot word, het hulle hierdie verbintenis opgesê.
In vers 3 sê God dat hulle slegter as diere geword het: “’n Os ken sy besitter en ʼn esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie; my volk verstaan nie”. Die Bondsvolk het God op ʼn lelike manier verlaat soos vermetele kinders wat ʼn deur in ʼn pa se gesig toeslaan.
Die gevolg hiervan was dat dinge vir Juda verkeerd begin verloop het. Babilon was soos ʼn getygolf wat nie gekeer kan word nie en op pad Jerusalem toe. Juda aan die ander kant het die dood in die gesig gestaar. Mense was mismoedig want alles het in duie begin stort. Desondanks wou Juda nie insien dat dit God se straf was nie. Hy het die vyand as tugroede in sy hand gebruik, maar Juda het dit nie raakgesien nie. Hy vra: “Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan om af te wyk? Die hele hoof is siek en die hele hart is krank” (:5). God se straf het geen inpak op Juda se mense gemaak nie.
Waarom het hulle so verkeerd opgetree? Juda het ʼn ding gedoen wat baie mense vandag nog doen - en met dieselfde gevolge. Hulle het skeiding tussen hulle godsdienstige- en alledaagse lewe gemaak. Hulle was godsdienstig maar nie godvrugtig nie; soos ʼn vrugteboom wat geen vrugte dra nie.
Toe die nood op sy hoogste was, het die mense van Juda kerktoe gestroom. Vers 11-15 som hul godsdienstige vertoon op: slagoffers is gebring (:11), kerke se voorhowe is vertrap (:12), godsdiensfeeste is gehou (:13), daar is baie gebid (:15). Dit was alles vertoon - om hul skynheiligheid te kamoefleer. Juda het geglo dat God hul godsdienstigheid sal raaksien en die vyand as vergoeding verdryf. Juda het God se arm probeer draai!
Die groot fout wat hulle gemaak het, was om te glo dat godsdienstigheid genoegsaam is; ʼn vergissing wat hulle baie duur te staan gekom het. Juda het nie net sy vryheid verloor nie, maar ook sy grondgebied nadat die Babiloniese magte met Juda se leer klaar gespeel het en as krygsgevangenes in ballingskap weggevoer het.
Juda se fout is daarna telkens herhaal; ook hier aan die suidpunt van Afrika. Mense praat van God sonder om te weet met Wie hulle werklik te doen het! Juda het ʼn goeie godsdiens-indruk gemaak. Hulle het die godsdiens voorskrifte vir ʼn sabbatslewe nagekom – eredienste, feeste, seremonies, offers, noem dit op! Agteraf het Juda dinge gedoen wat ten hemel geskreeu het – weduwees verkul, regspraak verdraai, medemense ingedoen, kwaad gespreek ens.
God het ʼn renons in skynheilige oppervlakkigheid. In vers 14 sê Hy: “Ek is moeg om dit te dra”. Juda het siek geword, ja, tot die dood toe siek! God moes hulle as hul verdiende loon uitgedelg het. Nogtans kom Hy in groot liefde en genade en bied Juda ʼn laaste kans op genesing. Hy gee vir Juda ʼn voorskrif in vers 16: ” Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor My oë weg, hou op om kwaad te doen”. Daarna gee Hy ook die belofte van genesing: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol ...”
God was tot op no.99 bereid om te vergewe en Juda as volk te herstel As Juda hom bekeer het, sou God die vyand in hul spore gestuit het en Juda alles behou! God het hulle egter ook gewaarsku: "... Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word...”
Juda het nie geluister nie en die prys betaal toe die Babiloniërs kort daarna oor Juda geloop en in ballingskap weggevoer het. As Juda net na God geluister het, was hulle al die droefheid en die verlies aan vryheid gespaar!
Ons kan hierdie tyd van die jaar nabetragting doen. Hoe was my geestelike lewe hierdie jaar? Was ek soos Juda bloot net godsdienstig? Gereeld kerktoe gegaan, bydraes gegee en funksies bygewoon? Het dit wat ek gedoen het tot die uitbreiding van God se koninkryk op aarde bygedra? Wat het ek werklik vir die Here beteken? Kon mense Christus in my lewe raaksien? Het hulle uit my mond van Hom gehoor? Wat het ek vir Hom gedoen; Hy wat alles vir my gedoen het?
Moenie dieselfde fout maak as wat Juda gemaak het deur agter ʼn godsdienstige masker weg te kruip nie. God sien ons soos ons werklik is. Lees gerus Ps.139! Hy weet alles van ons af.
Twyfel jy miskien by die aanhoor van God se Woord of jy Nagmaal moet gebruik? Is daar iets tussen jou en God wat hinder? Dan is dit nou die tyd om hierdie ding reg te maak en jou hart opnuut aan God te gee. Hy het vir jou ʼn wonderlike belofte: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol ...” Glo Hom!
Amen!