Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die mens wie se gees in God geanker is, se lewensboot kan enige storm oorleef. En as jou lewenslaste te swaar word, stuur jy dit per gebedspos na Jesus. Hy verwelkom dit.
WAAROM LOOP DINGE SO VERKEERD?
Ds Andrè van den Berg
Die lewe is vol teenstrydighede. Dit neem toe soos wat die wêreld na sy einde beweeg. Enersyds bereik mense asemrowende hoogtes terwyl ander weer in die skandelike dieptes versink. Mense verken die buitenste ruimte maar nie hul eie innerlike ruimte (siele) nie. Mense spandeer al hoe meer geld, maar put al hoe minder vreugde uit die stoflike gerief wat hulle verkry. Mense het groter huise, maar kleiner gesinne; meer geriewe, maar minder tyd vir mekaar. Mense stapel al hoe meer akademiese kwalifikasies op, maar gebruik al hoe minder hul gesonde verstand.
Let op die byna ongelooflike ontwikkeling van die inligtingstegnologie – mense het baie meer kennis as ʼn dekade of twee gelede, maar ongelukkig ook baie swakker oordeel as tevore. Die mensdom beskik vandag oor baie meer kundiges, maar sit ook met baie meer probleme as ooit tevore opgeskeep.
Op mediese gebied is daar baie meer medisyne, maar ook minder gesondheid. Die gemiddelde mens drink te veel, rook te veel, spandeer sy geld en tyd op te veel verkeerde dinge, ry te vinnig, word te gou kwaad en bly te laat op. Daarom staan mense soggens moeg op.
Mense praat oor die algemeen te veel en luister te min. Hulle haat te veel en bemin te min. Ja, hulle het geleer om ʼn bestaan te maak, maar nie ʼn lewe nie. Ons het jare by ons lewe gevoeg, maar nie lewe by ons jare nie.
Op godsdiens en sedelike gebied gaan dit ook beroerd. Mense begeer te veel en bid te min! Mense se besittings het vermeerder, maar hul beginsels afgeneem Mense kyk te veel TV en lees te min God se Woord. ʼn Mens staan geskok om met TV vasvra-programme te hoor hoe baie mense basies niks van die Bybel weet nie! Daarbenewens is ouers banger vir hul kinders as vir God. Gevolglik laat baie ouers hul kinders sienderoë toe om gruwels in God se oog te bedryf.
Die mensdom het groter dinge, maar nie juis beter dinge gedoen nie. Dink maar net aan die duur pogings om mense se aandag op globale verwarming te vestig. En dit terwyl menseverhoudinge vriespunt bereik! Mense werk lugbesoedeling teen, maar besoedel hul siele met sedebederwende en okkultiese lektuur.
Let op die omvang van die lektuur wat oor gedragsprobleme handel. Mense skryf al hoe meer, maar leer al hoe minder. Hulle beplan meer, maar vermag minder; alles ʼn dolle gejaag na wind. En die uiteinde van dit alles? Alles is maar net vertoon – mense met baie in hulle vertoonkamer, maar niks in hul stoorkamer nie!
Waarom loop alles so verkeerd? Wat ontbreek? Liefde! Alle verkeerde maniere van leef, getuig van ʼn gebrek aan opregte liefde; die liefde vir God en die liefde vir mekaar. Dis waaraan die mensdom mank gaan – daar is nie meer liefde onder mekaar nie!
Hierdie gebrek werk ook na gemeentes deur soos wat in Korinthe gebeur het. Van die gemeentelede het so verkeerd met die gawes van die Gees te werk gegaan, dat hulle geestelik hoogmoedig geraak en op mekaar begin neersien het. Dit het tot liefdeloosheid gelei wat alle verhoudings skeefgetrek het. Dis ʼn baie groot waarheid wat nie sterk genoeg beklemtoon kan word nie – AS LIEFDE ONTBREEK, TREK ALLE MENSEVERHOUDINGS SKEEF!!
Daarom daag Paulus die Korintiërs uit: “Maar beywer julle met die oog op die beste gawes, en ek wys julle ʼn nog uitnemender weg. Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie....” (1 Kor.12:31; 13:1).
Paulus se beskrywing van die liefde in 1 Kor.13 is ʼn portret waarvoor Christus as te ware self geposeer het. Ja, liefde is die skoonheid van die siel. As dit ontbreek trek alle verhoudings skeef. En dis wat met die wêreld verkeerd is en die werklike rede waarom daar so baie teenstrydighede is – ʼn gebrek aan liefde.
Kan ons iets hieraan doen? Ja, dis waarvoor God ons siele in Jesus Christus gered het – om vir ʼn verlore mensdom te wys hoe om reg te leef. En daarvoor het Jesus ʼn duidelike voorskrif: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:33). Dis ʼn belofte uit die mond van ons Verlosser! God sal al wat ontbreek, byvoeg! “.... want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” (Mt.6:32).
Die teenoorgestelde is ook waar - as ons nie God se koninkryk soek nie maar dié van Mammon. sal ons onsself vir stoflike benodighede moet afsloof. Dis waarom mense in hul gejaag na stoflike voorspoed, as’t ware hul siele verpand. En aan die einde sterf hulle sonder Christus en word hulle liggame moeg en mat in ʼn graf laat sak. Soos Salomo sê – alles tevergeefs!
Wat is die oplossing? Liefde. Spandeer baie meer tyd met die mense wat jy liefhet want hulle gaan nie vir altyd saam met jou wees nie. Hulle wat nou na jou opsien, gaan grootword en jou huis verlaat. Gee liefde en gee dit nou; môre is dalk te laat!
Wie liefde betoon, word nooit vergeet nie. Hulle salige nagedagtenis bly hul geliefdes jare lank by. My moeder is al 33 jaar oorlede en ek dink nog feitlik elke dag aan haar!
Liefde is die enigste skat wat jy kan gee, sonder dat dit iets van jou wegneem. Dis nie hoeveel jy vir iemand doen wat tel nie, maar die liefde waarmee jy dit doen. Liefde is om niks in ruil terug te verwag nie. Iemand het by geleentheid gesê dat liefde die enigste vuur is waarvoor daar nie versekering uitgeneem hoef te word nie.
Om iemand lief te hê, is om hom te sien soos God hom sien. Moet nooit nalaat om vir hulle wat vir jou kosbaar is te sê: “Ek is lief vir jou” nie! Liefde wat uit ʼn opregte hart kom, maak die seer van die lewe gou gesond. Daarom is die slegste ding wat ʼn mens kan oorkom, om sonder liefde te wees. Koester dit wat jy liefhet want God het die grootste liefgehad toe Hy sy Seun vir ons geoffer het. Daarom is ʼn lewe van liefde ʼn lewe van dankbaarheid jeens Hom.
Druk jou geliefdes vandag teen jou vas. Môre is of hulle of jy nie meer daar nie. Maak baie meer tyd om liefde te gee. ʼn Mens wat liefhet en bemin word, voel die son van beide kante op hom skyn. Liefde gee kleur aan ʼn troostelose vaal lewe. Dit gee betekenis en diepte daaraan. Dis nie ʼn luuksheid nie, maar ʼn noodsaaklikheid waarsonder die mensdom hoogstens kan bestaan, maar nooit werklik kan leef nie.
Ons leef in ʼn vaal, lustelose wêreld wat stadig maar seker sterwe, soos Paulus aan die Korintiërs twee hoofstukke later skryf. Wat kan ons daaraan doen? Baie meer liefde gee. Liefde is die rivier van die lewe wat alles laat groei; ook hierdie dooie wêreld waarin ons onsself elke dag bevind!
“En nou bly geloof, hoop en liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” - 1 Kor.13:13