Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself – Prediker 10:12
GROEI!...
...TEEN ALLE VERWAGTING
Ds Andè van den Berg
“En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar My aangesig kan nie gesien word nie” - Ex.33:23
ʼn Paar jaar gelede sit ʼn diakensvrou en haar kleuterdogtertjie tydens die oggenddiens in die moederskamer toe sy haar vra: ” Mamma, waar is God?” Vir ʼn oomblik het sy nie geweet wat om die kind te antwoord nie en sê toe maar: “ Kyk daar voor, langs dominee is daar nog ʼn stoel op die kansel wat jy nie hiervandaan kan sien nie. God sit daar langs dominee”. Ná die erediens het dogtertjie reguit kansel toe genael en toe terug na haar ma: “Mamma, was reg. God was daar!” antwoord sy opgewonde. “Maar hoe weet jy dat God daar was?” vra sy haar. “Hy het sy jassie daar vergeet!” antwoord sy - my toga wat ek na die erediens op die stoel langs my neersit!
Sou jy nie ook graag vir God wou sien nie? Ek sou, en dis nie sonde nie! Ons lees in die Bybel van verskeie mense wat God baie graag wou sien, veral in krisistye. Gelowiges durf egter nooit aan God se teenwoordigheid in sulke tye twyfel nie. Hy is altyd daar, maar is so ontsaglik groot en bo ons menslike verstand verhewe, dat ons Hom nie met die oog kan aanskou nie.
In die OT het mense geglo dat as jy God sien, jy sterf. In Jes.6 lees ons van die profeet se roeping: “In die sterfjaar van koning Ussia het ek die Here sien sit op ʼn hoë en verhewe troon ...” (:1) en sy reaksie: “ ... Wee my, ek is verlore! ... want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien!” (:5).
Ex.33 vertel ons egter van die eerste Godsverskyning aan ʼn mens toe God wat botydelik en ewig is, sy persoonlike teenwoordigheid aan Moses bekend gemaak het, al was dit net van agter. Soos reeds gesê, het die Godsverskynings hoofsaaklik met krisistye verband gehou soos wat dit in Ex.33 die geval was. Die episode met die goue kalf was pas verby en 3000 Israeliete het as straf gesterf.
Toe God boonop vir Moses sê: “... Ek sal in jou midde nie optrek nie” (:3) was daar groot onrus in die kamp. Israel kry as’t ware amptelike kennis dat God hulle gaan verlaat. Daar in die bloedige warm woestyn het dit vir die volk van God helder oordag donker geword. Hulle sou nie op hul eie kon oorleef nie. God se kennisgewing was na reg ʼn doodsvonnis!
Moses het voor ʼn reuse dilemma te staan gekom. Was al sy opofferings en ontberings dan alles tevergeefs? Ex.33 skets die aller moeilikste tyd in sy lewe. Die pad tussen God en sy volk was besig om te skei. Wat kon hy doen om die situasie te red? Kon sake nog enigsins omgekeer word? Alles het so verlore gelyk! Toe doen Moses die regte ding om met God in die geloof te worstel. En siedaar - God verskyn! Jakob het ook een nag met God geworstel waarna hy lewensrigting verkry het. Dieselfde het met Elia gebeur toe Israel in die tyd van koning Agab so afvallig van God geword het dat hy selfs ʼn tempel vir Baal langs dié van God opgerig het,
In al hierdie gevalle was Israel in ʼn voortbestaankrisis gedompel en het die geestelike leiers nie gedink dat die son ooit weer vir die volk sou skyn nie. Maar dit het. Telkens het God ingegryp en in sy onbegryplike liefde vir sy volk die sake omgekeer. Dis nie net die OT wat daarvan getuig nie maar ook die NT. Kyk saam met my na twee gevalle – Paulus en Johannes (Evangelis).
Paulus was ʼn bitter groot gevaar vir die vroeë Christendom omdat hy die gesag gehad het om selfs lewens te laat beëindig! Mense was bang vir hierdie Jood met sy Romeinse burgerskap en hartstogtelike haat vir die Christendom. Toe hy by geleentheid Christene in Damaskus gevange wou gaan neem, het ʼn ding met hom gebeur: “En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ʼn lig van die hemel af en hy val op die grond en hoor ʼn stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy antwoord en sê: Wie is U Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg” (Hand.9:3-5).
Paulus het ʼn Godsverskyning beleef wat hom nie net tot inkeer laat kom het nie maar wat sy ganse lewe omgekeer het van Satansagent tot Jesus volgeling! In hul krisisuur het God in die voortbestaan van die jong Christendom ingegryp en van ʼn vyand ʼn vriend gemaak. En met wat ʼn oorgawe het hierdie Paulus nie vir Jesus gewerk nie! In ʼn skrywe aan die Korintiërs som hy sy lyding en opoffering vir die Evangelie as volg op:
“Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na, Driemaal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ʼn nag en ʼn dag het ek op die diepe water deurgebring – dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op die see, in gevare onder valse broeders, in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. Behalwe dit alles, my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (2 Kor.11:24-28).
Ons bely saam met miljoene gelowiges wêreldwyd dat Christus aan die regterhand van God sit vanwaar Hy sy kerk bewaar en regeer. ʼn Goeie voorbeeld hiervan het op die Damaskuspad gebeur toe Christus in die krisisuur van die kerk deur ʼn Godsverskyning ingegryp het en een van die gevaarlikste mense in die grootste sendeling op aarde verander het.
In Openbaring lees ons van nog ʼn Godsverskyning. Johannes was 90 jaar oud toe hy in hegtenis geneem is omdat hy die Evangelie van Jesus Christus in Efese verkondig het. Die Romeinse owerheid het hom aan die verkondiging van dwaalleer skuldig bevind en na die eensame eiland Patmos verban.
Daar op die eiland het alles vir Johannes donker geword. Sou hy maar hier in die vreemde as eensame sterf ! Dit was ʼn krisisuur in sy lewe. Toe gebeur daar iets wonderliks met hom - ʼn Godsopenbaring: “Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ʼn groot stem gehoor soos van ʼn basuin...” (Openb.1:10). Johannes ontvang ʼn wonderlike opdrag – skryf die laaste boek van die Bybel.
Wanneer die pad vir die gelowige baie moeilik raak, tel God hom op. “Soos ʼn vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees” (Ps.103:13). God dra sy kinders in krisisse. In Deutr.1:31 herinner God Moses daaraan dat Hy hulle deur die woestyn dra “soos ʼn man sy seun dra”.
Die pad wat God met ons stap, is dikwels baie anders as wat ons verwag. Dis paradoksaal – dinge gebeur andersom. Dit gaan soms teen die grein van ons veragting in. En as dit lyk asof dinge dood loop, bring God op sy tyd ʼn ommekeer soos Israel ook daar in die woestyn ervaar het. Ja, wanneer die nood op sy hoogste is, is God die naaste aan sy kinders.
Kyk maar net wat in Babel gebeur het! Eers beland Daniël se drie vriende in ʼn vuuroond en hyself kort daarna in ʼn leeuhok. As God nie ingegryp het nie, was dit klaar met Kees. God was in hul nood so naby aan hulle dat Nebukadneser self die godsverskyning in die vuuroond waargeneem het!
Ons kan God nie met ons aardse oë sien nie. Hy is egter in al ons beproewing teenwoordig. Hoe deeglik was ek nie verlede jaar daarvan bewus nie! In krisistye laat God Hom in ons midde ken en jy weet dat God met jou is: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die Here jou God...” (Jes.43:2,3).
Kyk ʼn bietjie wat mense in krisistye doen - hulle lees baie meer Bybel, gaan meer kerktoe gaan, bid meer ens. En as daar niks gebeur nie, sê hulle: “Maar ek het dan so hard probeer!” Nee, geloof is nie ʼn towerformule of resep nie waar jy ʼn bietjie meer Bybel lees, genoeg gebed byvoeg en dit deeglik in die bak van skyngeloof roer en met gereelde kerkgang geur nie. Nee, geloof is ʼn persoonlike verhouding met Jesus Christus. Geloof is nie daar om as dit nodig is ʼn salige haas uit ʼn benoude hoed te trek nie want dan is jy nie ʼn gelowige nie maar eerder ʼn towenaar!
Al kan ons God nie met ons fisiese oë in ons krisisuur sien nie, weet ons dat Hy daar is: “... Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie, want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Jos.1:9). Ons het egter die wonderlike versekering dat ons Hom wel eendag sal sien: “Geliefdes, nou is ons kinders van God ,,,, maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Joh.3:2). Dan sien ons Hom nie van agter soos ʼn Moses van ouds nie, maar van voor, soos ʼn kind sy vader.
Voor daardie dag aanbreek, sal ons met geloofs-oë moet wandel, hetsy in die dal van doodskaduwee of op die pieke van die berge. As jy ʼn bitter moeilike pad moet stap en dit raak vir jou te veel, sal God jou optel en verder dra.
Ons land, volk en kerk is in ʼn baie groot krisis wat al hoe groter word. Heidene, verraaiers en dwaalleraars maai onder die Boerevolk. Moenie moedeloos word nie. God is en bly steeds in beheer. Sy weë is nie ons weë nie. Laat ons geloof nooit afneem nie maar eerder paradoksaal wees - teen alle verwagting in groei!
Amen!