Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“Here, ek bid nie vir ‘n algehele kalmte van gees of dat my swaarkry dadelik einde sal kry nie. In hierdie wêreld sal daar altyd pyn en probleme wees. Ek bid slegs dat u Gees, u liefde en u genade my met soveel uithouvermoë sal vul, dat ek enigiets wat oor my pad mag kom, sal kan geniet of verdra”.
NABOT SE WINGERD
Ds Andrè van den Berg
“Maar Nabot het vir Agab gesê: Mag die Here my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee!” - 1 Kon.21:3
Nabot beteken in Hebreeus vrug en om volksgrond te erf, was ʼn groot voorreg. Die wynplaas wat hy geërf het, was op daardie tydstip toe al baie lank in sy familie se besit, ja, vandat Israel in Kanaän gekom en God aan elke stam sy eie grondgebied afgemeet het. Omdat Nabot se plaas uitsoekgrond was soos niemand anders in Samaria gehad het nie, het die koning dit begeer.
Nabot was ʼn gelowige en het hard op die familieplaas gewerk. Hy was altyd daarvan oortuig dat hierdie spogplaas nooit werklik sy eie was nie en dat hy maar net die rentmeester daarvan was. Dit was net vir ʼn tyd lank sy grond om te bewerk, maar nog belangriker om dit te beskerm sodat dit in familiebesit bly. Nabot het ʼn verantwoordelikheid teenoor sy kinders en ook sy kleinkinders gehad. As hy dit nie beskerm het nie, het hy niks gehad om aan sy nageslag te gee nie.
By geleentheid het Nabot ʼn besoeker op sy plaas ontvang – koning Agab. Die koning het hom ʼn aanbod vir sy plaas kom maak. Omdat mense dit nie maklik sou waag om hul koning teen te gaan nie, kon Nabot dié aanbod strenggesproke nie weier nie! Agab wou die wingerd hê. Dit was langs sy paleis-grond en hy wou ʼn kruietuin daar aanlê. Daar was niks met so ʼn aanbod verkeerd nie. Dit kon, om die waarheid te sê, Nabot se lewensomstandighede baie verbeter het.
Oppervlakkig beskou, sou dit sin maak om Agab se aanbod te aanvaar en die plaas te verkoop. Nabot het egter dieper gekyk en gesien wat werklik aan die gang was - Agab wou sy erfenis uitwis! Daarom het Nabot geweier en sê vir Agab: “Hierdie grond sal in die familie bly!”
Nabot se ferm besluit sê iets van sy karakter. Hy was ʼn gelowige. Die Woord van God was sy rigtingwyser in die lewe en dit het hom verbied om erfgrond te verhandel. Daarom sê hy vir Agab: ”... Mag die Here my daarvoor bewaar... “ Dinamies vertaal, sou dit lui: “Die Here behoed my dat ek so ʼn iets sal doen!”
Nabot het geweet wat God se Woord oor die handel van erfgrond sê: “...sodat die erfdeel van die kinders van Israel nie van stam tot stam oorgaan nie; want die kinders van Israel moet elkeen die erfdeel van die stam van sy vaders vashou” (Num.37:7). Daarbenewens mag geen koning se onderdane se erfgrond gekoop het nie: “En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul besittings te verdring nie ...” (Eseg.46:18)
Elke gelowige het ʼn heilige plig om God se Woord te gehoorsaam. Toe hierdie aanbod kom, het Nabot hom deur die Woord van God laat lei. In sy woorde “Mag die Here my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee!” hoor ons ook sy renons in die koning. Nabot ag Agab onwaardig om die erfenis wat hy van God ontvang het, te bekom.
Agab was ʼn slegte koning. Sy eie mense het geen eerbied vir hom gehad nie. Boonop was hy met ʼn heidenvrou getroud waarna volksvreemde vennootskappe die gevoelens vir sy eie volk so afgetakel het, dat hy met afgodery begin heul het. Agab het selfs so ver gegaan as om vir Baäl ʼn tempel in Jerusalem te laat bou en die afgodspriesters uit die staatskas te vergoed! Dit het hom die veragting van ware gelowiges op die hals gehaal soos Nabot se antwoord van getuig.
God gebruik oral mense in sy diens. So het Hy bv. die profeet Obadja in die paleis van die goddelose koning Agab as ʼn goddelike raadgewer laat optree. God gebruik weer vir Nabot, Agab se buurman as ʼn getuienis. Net jammer dat Agab eerder Nabot se wingerd i.p.v. sy geloofslewe dopgehou het!
Omdat die Woord van God geëis het dat erfgrond nie verkoop mag word nie, het Nabot sy hemelse Koning meer as sy aardse koning gevrees. Wat hom betref, het sy grond aan God behoort. God het dit aan sy voorsate in trust gegee en Nabot moes dit weer aan sy nasate besorg. Dit was soos ʼn stokkie wat tydens ʼn aflosresies van die een na die ander aangegee word. Nabot se besluit was dus ʼn godsdienstige besluit - die grond was ononderhandelbaar!
Sommige sou Nabot ʼn dwaas noem omdat hy aan ʼn ou wet vasgehou gehou het waaraan min mense hulle toe nog gesteur het. Nabot het egter geweet dat dit die regte ding in God se oë was om te doen. Hy laat ʼn mens in ʼn mate aan Maria van Betanië dink. Beide sy en Nabot het geen begeerte gehad om hulself te verryk toe dit by die dinge gekom het wat vir die Here waardevol was nie. Nabot het reg opgetree deur aan sy wingerd vas te hou. Maria het reg opgetree deur haar salf prys te gee.
Dit sou so aangenaam gewees het indien die verhaal van Nabot se wingerd ʼn gelukkige einde gehad het. Ongelukkig het dit nie. Ons lees dat Isebel, Agab se heidenvrou, ʼn valse aanklag teen Nabot aanhangig gemaak het en valse getuies teen hom ingespan het. Dit het sy lewe gekos. Hy is gestenig, waarna Agab die wingerd in besit geneem het.
Klink dit vir u asof Agab gewen en Nabot die stryd verloor het? Moenie glo nie, dis net anders om! Nabot het in vele opsigte gewen. Hy het eerstens inbors getoon, soos dit gelowiges betaam. Nabot het met die gemoedsrus geleef en gesterf dat hy die regte ding gedoen het. Inbors kan nie gekoop word nie. Dit besorg ʼn rein gewete; en dis die sagste kussing om op te slaap.
Tweedens is Nabot se siel toe hy sterf na God toe. En dis al wat werklik saak maak. Baie mense leef goed en mooi op die aarde, maar kom nooit voor hul dood tot bekering nie. Wat is goed aan ʼn mooi lewe indien jou siel die ewige verdoemenis betree sodra jy jou laaste asem uitblaas?
God laat onreg nie vir altyd seëvier nie. “Want die Here is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien” (Ps.11:7). Kort ná Nabot se dood het ʼn oorlog uitgebreek waarin Agab gesneuwel het. Kyk weer na die wen-verloor situasie - Nabot het sy grond verloor, maar sy siel gewen. Agab het sy grond gewen, maar sy siel verloor!
In hierdie verhaal het twee mans met verskillende oë na grond gekyk. Die een kyk met oë van geloof daarna en dit kos hom sy lewe. Die ander een kyk met gierige oë daarna en dit kos hom sy siel! Jesus sê: “Want wat baat dit ʼn mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ʼn mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
1 Kon.21 leer ons die verband tussen geloof in God en volksliefde. Nabot was met beide die geloof in God en ʼn liefde vir sy eie mense besiel. Agab was weer ʼn verraaier wat sy rug op beide God en sy volk gedraai het. Nabot het geweier om sy seile in die verraderlike winde wat in Samaria gewaai het te ontplooi. Soos ʼn goeie landsburger het Nabot sy volk se eer sy eie eer gemaak al het die heidendom hulle ook verwar.
Die geskiedenis getuig van mense wat weens hul geloof in God en liefde vir hul volk uitsonderlike instrumente in God se hand was. God het in hul gees so ʼn hartstog vir die waarheid en ʼn sin vir reg en geregtigheid gegee, dat hulle nooit die stryd vir hul volk se vryheid gewonne gegee het nie.
ʼn Volksliefde wat op eerbare beginsels gebou word, kan nie anders as om God te verheerlik nie. Laat ons liefde vir God en ons volk net te belangrik wees om ons toekoms ooit aan volksvyandige agendas oor te laat. Kom ons sê vir die volksvyand: “Hierdie grond aan die suidpunt van Afrika is nie te koop nie; dit sal in die familie bly! “
Amen!