Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die man van weinig woorde se solder is so klein dat daar nie plek vir kaf is nie, het Langenhoven gesê. Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan want dit bepaal jou hele lewe. Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolge dra, leer die Bybel ons.
WAT DOEN JY VIR GOD EN VADERLAND?
Ds Andrè van den Berg
“En hulle het in dié tyd van Moab omtrent tienduisend man verslaan… So moes Moab dié dag buig… Toe kom ná hom Samgar, die seun van Anat, wat van die Filistyne seshonderd man met ʼn osdrywerstok verslaan het; en ook hy het Israel verlos” . Rigters 3:29-31
Die laaste vers in Rigt.3 val die oor ʼn bietjie vreemd op. Daarin word gesê dat Samgar Israel verlos het. Was dit nie eerder God wat Israel verlos het nie? Die bedoeling van vers 31 is dat Samgar ʼn instrument in God se hand was en dat hy met die krag van God Israel van die volksvyand bevry het.
Samgar se optrede leer ons ʼn baie groot waarheid - niemand is vir God te gering om in sy diens bruikbaar te wees nie. As Hy jou krag gee, verslaan jy selfs reuse soos Dawid van getuig . Luister na Dawid se loflied nadat hy Goliat verslaan het: “Want met U loop ek ʼn bende storm, met my God spring ek oor ʼn muur” (2 Sam.22:30). In Ps.18:30 is dieselfde woorde weer opgeteken.
Alles van God is groot en gedug. Wanneer Hy deur mense werk, word ʼn osdrywerstok in die hand van ʼn boerseun ʼn kragtige wapen, soos die slingervel in Dawid se hand enkele jare later. Samgar se geskiedenis word slegs in een vers opgeteken en vertel die verhaal van ʼn gelowige man wat teen ʼn heidense oormag te staan gekom en met die hulp van God die oorwinning behaal het.
In die dae van Samgar was Israel gedurig deur Filistynse moord-en roofbendes geteister. Dit was Israel se grootste vyand. Rigt.5 vertel meer hieroor. Mense het uit vrees vir Filistynse rowers die hoofpaaie na stede vermy en met ompaaie hul bestemmings bereik. Plase het veral erg onder hierdie rowers deurgeloop.
By geleentheid het so ʼn roofbende by die rigter Samgar op sy plaas aangekom. In ʼn oomblik van heilige woede en met God se hulp het hierdie rigter-boer ʼn osdrywerstok gegryp en met doodsveragtende onverskrokkenheid onder die rowers ingeklim. Wat ʼn oormag was dit nie - die rowers was gewapen en hy nie. Hulle was opgeleide terroriste en hy maar net ʼn eenvoudige boer. Maar waarom sê hy hulle nogtans die stryd aan? Omdat hulle nie net Israel se vyand was nie, maar ook God s’n. Samgar het met blitsig maar berekende houe die daglig uit hulle gemoker en korte mette met die plaasaanvallers gemaak!
Rigters 3 leer ons hoe daar teen die magte van die duisternis opgetree moet word. Hulle is per slot van sake op die vernietiging van God se eiendom ingestel en elke dag rondom ons – sigbaar en onsigbaar. “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes.6:12).
Hulle is talryk en begeer ons dood. As ons nie soos ʼn Samgar van ouds geestelike murg in ons pype en ʼn liefde vir ons volk het nie, kan hulle ons oorweldig en vernietig! Ons sal met die genade van God iets moet doen.
Wat het Samgar gedoen toe hy teen die roofbende te staan gekom het? Hy het dit wat byderhand was, gebruik – ʼn osdrywerstok. Dit was ʼn reguit stok met ʼn skerp punt waarmee beeste aangepor is; voorganger van die moderne skokstok. Dit was nou nie ʼn dienlike wapen teen 600 rowers nie. Nogtans het Samgar nie gehuiwer nie. Hy het nie vir ʼn beter wapen gaan soek of die stryd gewonne gegee nie. Hy het dit wat tot sy beskikking was, gebruik; hoe ondoeltreffend dit ook al gelyk het. In ons geestesoog sien ons hoe hierdie boerseun met sy plaasinstrument onverskrokke behendig onder die rowers inklim en met God se hulp almal verslaan.
Elke keer as God vir Israel ʼn nuwe leier beskik, het Hy hulle nie by die diep kant ingegooi om self te sien en kom klaar nie, maar kragtig bygestaan. In Rigt.2:18 lees ons: “En wanneer die Here vir hulle rigters verwek, was die Here met die rigter om hulle te verlos uit die hand van hul vyande… omdat die Here medelye gehad het vanweë hulle gekerm oor hulle verdrukkers en hulle verdringers”.
In die Bybel en latere kerkgeskiedenis lees ons hoedat God dikwels onbeduidende mense in vreemde lewensomstandighede gebruik het om uitstaande diens vir Hom te lewer. So het Samgar met ʼn osdrywerstok meer uitgerig as wat 600 rowers met vlymskerp swaarde kon doen.
Geen mens hoef slim, welsprekend of geleerd te wees om vir God bruikbaar te wees nie. God verwag nie van ons om wapens te gebruik wat ons nie kan hanteer nie. Gebruik dit wat tot jou beskikking is. Jy mag miskien soos Moses nie welsprekend wees nie. Die regte woord op die regte tyd is egter meer werd as ʼn duisend woorde van ʼn dwaas.
Samgar was ʼn boer en nie ʼn kryger nie. Van ʼn spies en ʼn swaard het hy min geweet; van ʼn gaffel en osdrywerstok wel. Met hierdie plaasinstrumente in sy hande het hy met die krag van God die wêreld van die volksvyand omgekeer! Dawid het dieselfde ding met ʼn eenvoudige slingervel gedoen.
Samgar het die oorwinning behaal omdat hy in sy uur van nood God as sy medestryder gehad het. Die Filistyne het dit nie geweet nie en hulle derhalwe lelik met Samgar misreken. Hulle het gedink dat hulle met ʼn ongewapende boer te doen gehad het wat sy laaste dag op aarde sou beleef.
Miskien het Samgar geskrik toe die plaasaanvallers opdaag. Hy het geweet dat hulle nie kom koffie drink het nie. Desondanks het God hom krag in sy uur van nood gegee. Toe hy die vyand tegemoetgaan, was God so na aan hom dat hy as’t ware aan Hom kon raak. Vir Samgar was God Immanuel: God by my!
Die as waarom hierdie ongewone oorwinning draai het en talle daarna sou draai, is Godsvertroue. Hierdie mense se Godsvertroue was merkwaardig. Hoe lyk ons s’n vandag? In Christus het God teenaan ons kom loop. In Joh.1 lees ons: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon”. In die oorspronklike taal staan dit dat hy tent onder ons kom opslaan het. Jesus het Hom so met die mens kom identifiseer, dat Hy soos iemand is wat reg langs ons tent opgeslaan het.
Ongelukkig gewaar ons nie altyd sy tent langs ons nie. In krisistye verdwyn Jesus uit ons gesigsveld en sien ons net die vyand en sy booshede raak. In plaas van soos Samgar die vyand aan te durf, gooi ons so maklik die handdoek in en gaan lê. As Samgar daardie dag nie geveg het nie, het hy omgekom en Israel nie verlos nie.
Wat doen jy in die stryd vir God en vaderland? Doen jy iets? Te veel goeie mense doen volstrek niks nie! As goeie mense die stryd gewonne gee, bly daar net booswigte oor. Die teendeel is egter salig - die siel word sterk in sy stryd teen die Satan. Soos wat oefening die liggaam sterk maak, maak stryd ons gees sterk. ʼn Mens ontvang eers ná die stryd ʼn kroon.
Stryd laat sy merke. Laat die plooie op jou gesig die graveerwerk van stryd en nie van onverskilligheid teenoor God en volk wees nie. Veg eerder soos ʼn Samgar van ouds vir iets in die lewe as om vir niks te leef nie.
“Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.....” (Heb.12:1,2).
Amen