Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy maak meer vriende in vyf minute deur opreg in iemand anders en sy doen en late belang te stel as wat jy in 'n maand sal maak deur ander sover te kry om in jou belang te stel.
GOD IS MET ONS – OOK IN 2017
Ds Andrè van den Berg
“Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word. En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ’n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is” - Eseg.37:4-6 .
Dis die jaar 597 v.C. Die Babiloniërs het Palestina binnegeval en die eerste van drie groepe mense te voet in ballingskap na Babel (800 km) weggevoer. Onder hulle was ’n jongman van ongeveer 25 jaar oud - Esegiël. Dit beteken: die Here versterk. Die ballinge het ʼn spoedige vrywording verwag en geglo dat hulle binnekort na Juda sou terugkeer. Dit het nie gebeur nie. En so het die jare aangeskuif sonder enige teken van nasionale vrywording.
Na 27 jaar in Babel was Esegiël, toe al 52 jaar oud, steeds aan ʼn heidenregering onderdanig. Hy het saam met die ballinge in Tel-Abib by die Kebarivier in Babel gewoon. Miskien was hy soos die ander bannelinge mismoedig oor die toekoms en gewonder of daar ooit ʼn uitkoms sou wees?
Op ʼn dag gee God hom ʼn visioen. In ʼn profetiese vervoering sien hy ʼn laagte vol droë mensbeendere. In plaas van weg te hardloop, gee God hom opdrag om vir hulle te preek: “ ... Dor bene, hoor die woord van die HERE!...”
Was hy die kluts kwyt? Nee, hy het dit in opdrag van God gedoen. Die beeld van die laagte vol doodsbeendere was simbolies van Juda in ballingskap, sonder ʼn vaderland, gesinslewe, koning, tempel of heilige stad. Dit het vir hulle soos die dood gevoel. Ja, hulle lugkastele het in puinhope en hul dagdrome in nagmerries verander!
In so ’n situasie kan ʼn emosionele doodsheid maklik van ʼn volk se siel besit neem. Mense kan vergeet wie die Here is. En dis presies wat met Juda gebeur het en waarom God vir Esegiël gebruik om vir sy volk te sê – onthou wie God is. Juda het so erg moed verloor, dat hulle op daardie tydstip geen goddelike ingryping of bestiering verwag het nie. Esegiël moes vir hulle sê: “Julle het vergeet met Wie julle te doen het. God is ’n God van lewe. Vir Hom is alles moontlik, selfs om lewe uit dood te skep!”
Die Bybel leer dat God genadig is en mense ontmoet net waar hulle is. Psalm 40:2 sê: “Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor.” Ja, God ontmoet mense waar hulle is – ook vir Juda toe hulle geglo het dat dit klaar was met Kees.
So ontmoet Hy ook vir jou en my in ons diepste krisis en grootste hartseer. Wanneer ons hulpeloos en magteloos voel, word sy mag in ons lewe sigbaar, want Hy is God en nie ’n mens nie. Hy gee nie op as ons in die lewe opgee nie. Hy tel ons op waar ons geval of deur onverskilligheid beland het. Wat vir ons na ʼn punt lyk, is dikwels vir God net ʼn komma in sy nuwe begin met ons.
Ons staan aan die begin van 2017. Ons land is een van die gewelddadigste plekke ter wêreld. Geweld en ontwrigting is deel van heidenregerings se politieke mondering. Afrika wemel van aanskouingslesse!
Wat het van die wet en orde geword wat soveel jare aan die suidpunt van Afrika geheers het? Die fondamente van die Westerse beskawing is behoorlik omgekeer en daarmee saam die kerklike lewe! Die Boerevolk word deur onrus, verwarring, leuens en dwaalleer geskud. Politici en kerklui het ons willens en wetens in ʼn noodlottige proefneming laat beland!
Ons land is besig is om te verarm. Kos word al hoe duurder, mense verloor hul werk, pryse skiet die hoogte in, misdaad, korrupsie, liefdeloosheid en eiewaan neem toe. Is daar hoop vir 2017? Ja, daar is! En hierdie hoop vloei uit ons geloof in God dat Hy, wanneer alles verlore lyk, kan vernuwe en nuwe lewe in ʼn volk kan inblaas soos wat met die doodsbeendere in die laagte gebeur het.
Een ding moet ons weet: Net God kan ons uit hierdie heidense ballingskap waarin ons verkeer, red; geen mens of politieke party nie. God gee sy kinders hoop in hul wanhoop. Maar hoe lyk hierdie hoop? Die gelykenis van die verlore seun laat ons iets hiervan verstaan. Toe die jongste seun in sy vaderhuis was, het hy na opwinding en plesier gesmag, sy erfporsie gevra en laat vat. Sy droom was gou verby waarna hy tussen varke beland het. Sy situasie was haglik.
Op ʼn goeie dag het die hoop weer in sy lewe opgevlam. Hy is terug na sy vaderhuis en het ʼn ontvangs geniet wat alle verwagting oortref het. Wat was die geheim van sy sukses? Hy het die regte besluit geneem! As hy geen hoop gehad het nie, het hy tussen varke bly sit!
Hoop hang egter nie in die lug nie. Dit het ’n anker nodig. Dit was juis die verlore seun se probleem – hy het sy toekoms op iets gebou wat nie fondamente gehad het nie – ydele genot. Toe plaas hy sy hoop op sy vader. Hy het geweet sy pa sal hom nie sou wegjaag nie. Hy het sy pa geken en dit was die anker van sy hoop – die kennis van sy pa. Die kennis van ons hemelse Vader moet ook ons hoop vir 2017 wees.
Die beproewing wat ons onder hierdie heidenregering ly, is ook ʼn instrument in God se hand. Dit hou ons op ons geestelike tone. ʼn Kalm see maak nie van seelui goeie matrose nie. Dit moet van tyd tot tyd rof gaan!
Die geloof wat ons in 2017 gaan deurtrek, is meer as blote verstandelike instemming van ʼn klomp Bybelse waarhede. Ons sal vir-lewe-en-dood aan die geloof in Jesus Christus moet vasklou. Hy sal ons nooit begewe of verlaat nie.
Eseg. 37 leer ons dat niks vir God onmoontlik is nie. Hy kan selfs lewe uit die dood gebied en van ʼn begraafplaas ʼn militêre paradegrond maak. Hy bied vir gelowiges altyd uitkoms as hulle Hom daarom bid al neem dit langer as wat ons hoop. God het sy eie tyd. Ons moet soos Dawid net luister, glo en op God vertrou: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my; u stok en u staf dié vertroos my.” (Ps.23).
Wat die toekoms in 2017 vir ons gaan inhou, weet ons nie. Al wat ons weet en saak maak, is in Wie se hand dit is. Om te glo dat ons volk in ʼn hopelose situasie sonder uitsig is, is om God te beledig. Wie brood sonder hoop eet, gaan stadig van honger dood! Hoop wat nie met geloof in Jesus Christus verweef is nie, is geen ware hoop nie. Nee, gelowiges het in Jesus Christus ʼn eindelose hoop. Ongelowiges daarenteen het ʼn hopelose einde!
Hoop is om die melodie van die toekoms te hoor en geloof is om op die maat daarvan te dans. Daar is nie hopelose situasies nie, maar slegs hopelose mense. Laat ons moed skep en weet dat geen winter vir ewig duur nie. Nog minder slaan ʼn lente sy beurt oor.
Gelowiges durf nie die toekoms nie vrees nie. Vertrou jou onbekende toekoms aan ʼn bekende God toe want die toekoms behoort aan Hom. Oral waar God se kinders hierdie jaar gaan, is Hy by hulle. Jesus sê: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20). Hy stap die pad end-uit met ons.
In hierdie lig gesien, is 2017 so helder soos God se beloftes. Ons moet dit net glo. Kom ons steek eerder die kers van hoop aan as om die donker in ons land te verwens.
Amen!