Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geluk is soos ‘n boemerang – dit keer altyd terug na diegene wat dit gee. As jy dus regtig in jou hart gelukkig is, moet jy dit met ander deel anders gaan dit verlore. Niks kelder geluk soos selfsug nie.
EINDE VAN NG KERK?
IS DIE EINDE VAN DIE NG KERK IN SIG?
Ds Andrè van den Berg
Inleiding
Niks heg ʼn gemeenskap soos die steenwerk van gesonde godsdiens nie. ʼn Siek godsdiens vernietig dit. En dit gebeur as verkeerde dinge nie betyds gekeer word nie. Dis soos ʼn lek in ʼn skip wat nie herstel word nie en dit mettertyd laat sink soos met die NG kerk gebeur het toe sy haar oë vir die werklikheid en haar ore vir die waarheid gesluit het. Haar ontsporing en verval is een van die kernhoofstukke in die tragiese verhaal van ʼn volk wat vrywillig ten gronde gegaan het.
1. Verdeeldheid
1.1 ʼn Onoorbrugbare kloof
Dit het begin toe die NG kerk geestelik ontspoor, aan haar volk ontrou geword en die gevolge van haar onverskilligheid nie kon vryspring nie. Sy het haar mistastings in die glanspapier van vernuwing toegedraai en mense aangemoedig om hul sienings oor gruwels soos aborsie, homoseksualiteit en ontug te wysig. Dit het stormagtige debatte in meerdere vergaderings ontketen wat tot hewige onderlinge verskille oor grondliggende geloofsake gelei het.
Dit het ʼn onoorbrugbare kloof tussen twee duidelik onderskeie groepe in die NG kerk laat ontstaan. Aan die een kant van die kloof is die Skrifgetroues wat onverbiddelik by die Bybel as die onfeilbare Woord van God staan. Aan die ander kant van die kloof is dwaalgeeste wat die geloofwaardigheid van die Bybel bevraagteken en Skrifgetroues met terme soos fundamentaliste, konserwatiewes en biblisiste bombardeer; “...mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloor het” (2 Tim.3:5).
Dis tragies dat laasgenoemdes uit die boesem van die NG kerk kom. Sommige van die eerste Christengemeentes het dieselfde tragiek ervaar. “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het...” (1 Joh.2:19).
Dwaalgeeste het destyds al onmin, verwarring en liefdeloosheid in sommige gemeentes veroorsaak: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom — en sy gebooie nie bewaar nie — is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh.2:3-6).
Die onderlinge verskille in die NG kerkgeledere gaan nie oor middelmatige sake nie, maar oor ewige waarhede van die Skrif. Dit het ʼn geveg om die siel van die NG Kerk ontketen wat geen draadsittery duld nie. Lidmate kan nie saam met die haas hardloop asook saam met die jagters jag nie.
1.2 Vroeë waarskuwings
Kerke wat ten gronde gegaan het, is selde van buite af vernietig. Satan gebruik eerder mense om dit van binne af te doen. Een duiwel in die kerk is meer werd is as ʼn duisend daarbuite! Vrysinnige kerklui het hul kateders en kansels as ʼn platvorm gebruik om leerstellings wat in stryd met die Bybel en die Gereformeerde belydenisskrifte is as vernuwende teologiese insig aan te bied.
Sagaria waarsku ook: “Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man wat my metgesel is! spreek die HERE van die leërskare. Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word....” (Sag.13:7). Jesus waarsku teen misleiers wat die kuddes gaan skaad (Mt.26:31).
Paulus skryf aan die gelowiges in Efese: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat...” (Hand.20:29,30). Dit gebeur tans sienderoë! God word egter nie geflous nie: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Heb.4:12,13).
2. Ontsporing
2.1 Bedenklike omgang
Mense het oor die algemeen ʼn broertjie daaraan dood om aan mense aanstoot te gee. Desondanks skroom hulle nie om God aanstoot te gee. So ook kerke. Ontsporing begin altyd by die afwatering van Skrifwaarhede. Waar dit gebeur, kom die kerklike lewe op los skroewe te staan. ’n Kerk wat Skrifbeginsels versaak, begin by een waarna die ander volg totdat daar niks meer oorbly as die begeerte om nog verder te verander nie.
Die bedenklike wyse waarop die NG kerk tans met die Bybel omgaan, lê aan die wortel van haar ontsporing. Dis ’n baie ernstiger probleem as bloot om homoseksualisme te wil ontsondig. Geen kerk durf ʼn vraagteken plaas waar God ʼn punt gesit het sonder om die geïnspireerdheid en gesag van die Bybel in gedrang te bring nie. En dis die kanker wat aan die siel van die NG kerk vreet en haar gaan verteer indien sy haar nie bekeer nie!
Oral waar waarhede bevraagteken word, verander dit in twispunte. Sekere NG kerklui bevraagteken bv. die wonders van die Bybel, Jesus se maagdelike geboorte, sy opstanding uit die dood en selfs die bestaan van Satan! Die Bybel moet glo kultuursensitief gelees word en kerke die reg hê om sondes waarvan sekere groepe nie hou nie, te ontsondig.
Om mense wat gruwels bedryf op hul sondes te wys, tas glo hul menswaardigheid aan. Dis onsin! Die mens se menswaardigheid is in die beeld van God in hom opgesluit. Dis met die sondeval gebreek en telkens as hy sondig, breek hy hierdie beeld nog verder in hom af. Homoseksualisme is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Wie hom hieraan skuldig maak, breek doelbewus die beeld van God in hom af. Daarom is ʼn kerk verplig om sondaars te vermaan om hulle van hul verkeerde weë te bekeer (Eseg.3:18-21). Wie dit nalaat, is liefdeloos (1 Joh.4:7-12). Wie God liefhet, sal Hom gehoorsaam.
2.2 Kerkgesag
Dwaalleraars verkondig dat die Bybel in ʼn ander tyd geskryf is en dat die skrywers daarvan gevolglik oor geen kennis van moderne sake beskik het nie. Daarom is die Bybel nie meer op die moderne lewe van toepassing nie. Gevolglik kan dit mense nie met sedelike gedrag help nie. Kerke besluit maar self daaroor.
Nee, alle gesag is Woordgesag. Kerke het geen eie gesag op grond waarvan hulle iets wat in stryd met die Bybel is, kan leer en verkondig nie. Die Bybel is vir sondaars geskryf om hul lewens na God se wil en nie na eie sin te verander nie. Daarbenewens het die waarheid niks met die aantal mense wat dit glo te doen nie. Dit sal altyd die waarheid bly al glo niemand dit meer nie. Die son skyn mos nie flouer omdat blindes dit nie kan sien nie. So ook nie die lig van die Evangelie net omdat geestelike blindes dit nie kan raaksien nie.
2.3 Valse kerk
Alhoewel die NG kerk haar op die Bybel as die onfeilbare Woord van God beroep, weerspreek haar leer en prediking dit in alle tale. Sy bevraagteken, betwyfel en verwerp talle Skrifwaarhede. En oral waar haar dwalings teelaarde vind, word daar aan die sondige wil van mense toegegee. Dit maak van die Bybel in der waarheid niks anders as maar net nog ʼn godsdienstige geskrif wat nie veel van ander sg. heilige geskrifte verskil nie.
NG leraars lê met hul toelating tot die bediening ʼn legitimasiebelofte af waarin hulle voor God beloof om alle leer wat in stryd met die Bybel en Gereformeerde leer is, te weerlê en teen te staan. Wie dit nie doen nie, is aan die versuim van leertug skuldig. Tug is immers een van die drie eienskappe van ʼn ware kerk. Die NG kerk se versuim om dit toe te pas, maak van haar, kragtens haar eie kerkorde en belydenisskrifte, ʼn valse kerk!
Dwaalleer het die vroeë Christen kerk soveel skade berokken, dat Johannes ʼn baie streng opdrag moes gee: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Joh.10,11).
3. Postmodernisme
3.1 Hervertolking
Die NG kerk se hervertolking van Skrifwaarhede word postmodernisme genoem. Dit leer dat daar geen absolute waarheid benewens die ervaringswêreld bestaan nie. So ʼn leer is geensins met die Skrif of Gereformeerde belydenisskrifte versoenbaar nie. Dis eerder ʼn lisensie om te mag lieg!
Postmoderniste laat nie veel van die ware Evangelie oorbly nie. Hulle verwerp bv. die maagdelike geboorte van Christus asook sy liggaamlike opstanding. Sy kruisdood word selfs as ʼn wrede daad van die Vader verag. Die Bybel is vir hulle in werklikheid ʼn uitgediende geskrif wat oor dit wat mense in die verlede oor God geglo het handel en niks meer nie.
Jesus is Iemand oor wie mense destyds hul eie mening gehad het. Die moderne mens kan met Hom maak net wat hy wil. Gevolglik is goddelike openbaring vir hulle geen geldige bron van kennis nie. Kennis setel in die mens en sy ervarings. Dit skep ʼn ongekende belangstelling en vertroue in die wetenskap en menslike rede wat geensins met grondige geloofsbeginsels versoenbaar is nie.
3.2 Besmetting
Postmodernisme het die NG kerk al so besmet, dat dwaalgeeste al hoe sterker op die voorgrond tree en gelowige kerklui al hoe minder weerstand bied. “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel” (Tit.1:15).
Postmodernistiese dwaalgeskrifte word gereeld met gesogde toekennings vereer. Al die skrywers stem oor een ding saam; daar bestaan geen vaste waarhede nie. Die waarheid setel in mense se ervarings en omstandighede. Dis ʼn leuen! Jesus sê dan self: “Ek is die waarheid” (Joh.14:6).
Indien gelowige kerklui dwaalleer nie streng genoeg teenstaan nie, versprei en floreer dit. Ongelukkig koop talle besorgde NG leraars ter wille van die behoud van hulle werk en salarisse in die kerk se dwaalleer in. Daarom kan hulle nie vir mense sê “Jy is verkeerd” nie en skep daarmee die indruk dat hulle self aan die waarheid twyfel.
3.3 Misleidende prediking
ʼn Gewese NG leraar skryf onlangs op Internet:
“Geskok, terneergedruk en mateloos verslae. Het op 25 Des. saam met familie in die Kaap 'n Kersfeesdiens bygewoon. Ek het daar gesit en ween in my hart dat duisende mense in drie agtereenvolgende dienste in 'n groot kerkgebou van Stellenberg hierdie God-onterende dwalinge moes aanhoor.
- (i) Die Wonderbaar, Raadsman Sterke God en Ewige Vader van Jes.9 is nie 'n voorspelling van Jesus nie, maar sommer 'n koning wat in daardie tyd hoop en verwagting vir sy mense gebring het.
- (ii) Die wedergeboorte van Joh. 3 is nie 'n geestelike verandering wat in elke mens moet plaasvind sodat hy gered kan word en God se ewige koninkryk beërwe nie. Dit is maar net 'n aanduiding dat ons moet weet dat net soos die geboorte van 'n baba nuwe hoop en verandering in ʼn huis bring, so moet elkeen met nuwe hoop poog om die wêreld om ons te verander.
- (iii)Die geboorte van Jesus is soos die geboortes van Samuel en Moses en ander konings in die OT wat nuwe hoop vir hul mense gebring het. Jesus kom inspireer ons om mekaar te dien en hoop vir hierdie wêreld te bring. Daar is nie 'n ander wêreld waarheen ons gaan nie. Nie een van my familie het hieroor 'n oog geknip nie en was baie tevrede met die boodskap. Ek glo met my hele hart dat 'n wedergebore siel wat by aanhoor van hierdie humanistiese wêreldgelykvormige idees in daardie kerk gesit het in sy hart sou ween!”
4. Vernuwing
4.1 Hervertolking
Vernuwing klink miskien positief en modern. Dis egter nie altyd die geval nie. Om te vernuwe en ten goede te vernuwe, is dikwels twee verskillende dinge. Besorgde lidmate van die NG kerk kan daarvan getuig hoe dwaalleer onder die dekmantel van vernuwing ʼn vastrapplek in die kerk verkry het. Dis in werklikheid ʼn ou probleem in die kerk: “En baie sal hulle veranderlikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:2).
In die vernuwingsmanie wat die NG kerk en ander ontspoorde kerke wêreldwyd beetgepak het, is verbandmatiging (kontekstualisering) die sleutelwoord. Dit kom daarop neer dat die Bybel hervertolk en deur die bril van die moderne mens verstaan moet word. Daarmee gaan die ware teks verlore en sien mense net wat hulle wil sien en nie wat God wil hê hulle moet sien nie.
Dwaalleraars praat sondes goed omdat dit mense wat gruwels bedryf goed oor hulself laat voel. Paulus waarsku teen hulle: “...hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper....” (Rom.1:25). Nee, dit wat in die verlede vir die onveranderlike God verwerplik was, kan onmoontlik nie vandag vir Hom aanvaarbaar wees nie. Wie met so ʼn teologie werk, huldig die begrip van ʼn veranderende God en dis onhoudbaar. Niemand durf die Woord van God verander om by die kultuur van die tyd te pas nie. God is en bly dieselfde – gister, vandag en tot in alle ewigheid!
Romeine 1 is baie duidelik oor die gruwel van homoseksualisme. Dis nie ʼn kultureel tydgebonde openbaring nie maar ʼn ewigheidsperspektief op God wat geskape het. Elke liggaamsdeel is met ʼn spesifieke doel geskep. Die anus skei liggaamsafval uit en niks meer nie. Hoe durf die NG kerk homoseksualisme ontsondig en selfs toelaat dat ʼn Sinode emosioneel deur homoseksuele sprekers gemanipuleer word? Om genetika vir homoseksualisme die skuld te gee, is onsin. “Moenie dwaal nie! Geen hoereerder .... of sodomiete ..... sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Kor.6:10).
4.2 Poligamie
Die NG kerk dien met haar goedkeuring van selfde geslag huwelike, voorhuwelikse saamblyery en toekomstige poligamie, die huwelik as die blywendste instelling van die samelewing ’n gevoelige nekslag toe. Dr. André Bartlett spog alreeds daarmee dat hy ʼn huwelik tussen drie mense voltrek het!
Toe die Algemene Sinode in 2015 homoseksuele huwelike met 102 stemme teen 88 aanvaar het, het van die ontspoorde ampsdraers gevoel dat die kerk verder moet gaan en ook poligamie goedkeur. Die studie-kommissie wat toe aangestel is, steek selfs by Islam kers op. Bartlett haal selfs die Koran aan en sê dat die NG kerk aanvaar dat daar net een Opperwese is wat op verskeie maniere aanbid word. Daarom kan die kommissie ook poligamie by ander godsdienste ondersoek.
Die sekulêre pers, wat wesenlik Bybelse waardes en beginsels vyandig gesind is, gee aan mismaaksels van die huwelik wye dekking om die indruk te skep dat dit aanvaarbaar is en oudmodiese Christelike waardes afgeskryf behoort te word. Van ‘n God wat absolute wette maak en gehoorsaamheid daaraan eis, is daar geen sprake nie. Daarom verkrag ontspoorde kerke hul eie gewete om by mense aan te pas.
Die Bybel is baie duidelik oor die huwelik:
“Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.... Toe het die HERE God ’n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Gen.2:18, 21-25).
4.3 Morele kompas
Die NG kerk het van die Bybel as haar morele kompas ontslae geraak en Jesus, die Ware Noord, uit die oog verloor. Daarom bly daar vir haar niks anders as ʼn valse vertoon oor nie. Vandaar die waarskuwing in Heb.12:1 om die oog op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof, gevestig te hou.
ʼn Kerk wat die Bybel se waarheid, betroubaarheid en gesag bevraagteken, verloor die Ware Noord uit die oog. Dwaalleer verduister haar leer oor die saligmakende versoening in Jesus Christus en laat mense vertroue in die kerk verloor om vir hulle die lewenskoers aan te dui. Leraars wat nie na God se Woord luister nie, het uiteraard niks om vir mense te sê nie!
As die fondamente van sekerheid verdwyn, beland mense in ʼn lugleegte waarin hulle hul eie reëls skep en niks volstrek vasstaan nie. Al wat dan sentraal staan, is die mens met sy ellendes en behoeftes. En so word hy sy eie god wat sy eie lewe in ’n wêreld sonder reëls of regulasies bepaal. So ʼn mens beërwe die ewige verderf: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openb. 22:18-19).
5. Teologiese opleiding
5.1 Afvalligheid
Afvalligheid gaan net voor die wederkoms van Christus skerp toeneem: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim.4:1,2).
Satan gaan subtiel te werk. Hy weet dat ’n openlike ontkenning van die waarheid verwerp sal word. Daarom het hy vir hom ʼn teikengroep in die NG kerk gevind wat ’n deel van die waarheid behou en die ander deel met growwe leuens vermeng. Baie van hierdie leuens is so na aan die waarheid, dat dit byna soos die kleure van die reënboog in mekaar vloei. Johannes waarsku: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh.4:1).
Die NG kerk gee aan haar teologiese leerkragte ʼn vrye hand. Gevolglik beskou hulle hul vry van inperkings en ondergrawe sekere grondliggende geloofsoortuigings onder die denkmantel van byderwetse denke. Hulle jaag die wetenskap van ongeloof na en misbruik hul opdrag en gesag om predikers vir die toekoms op te lei. Sulke geleerdes is dwase - die skadukant van ʼn genie!
Ongeloof is nie die teken van ʼn besondere intellek nie maar eerder die teken van ʼn verdraaide wil. “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor.11:13-15). Eeue gelede waarsku Hosea: “.... Die profeet word ʼn dwaas, die man van die gees ʼn waansinnige....” (Hos.9:7).
5.2 Misleiers
Die geskiedenis leer dat leerkragte wat dwaalleer aanvanklik met huiwering aan studente oordra, spoedig aanklank by hulle vind. Verstande groei uiteraard met dit waarmee dit gevoer word. So word vandag se katedertaal môre se kanseltaal.
Dwaalleer en ongeloof is soos twee kouse wat van dieselfde materiaal gemaak is. Daarom wil baie ouers hul kinders nie na NG teologiese opleidingskole stuur nie uit vrees dat hulle die mas akademies sal opkom, maar die geloof verloor.
“ .... behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal.1:8).
Sodra dwaalleer in die kerklike murg beland, bly daar spoedig slegs ʼn leë dop oor. ʼn Besorgde gelowige skryf onlangs in ʼn Amerikaanse kerkblad dat sy land se theological seminaries in theological cemeteries ontaard het.
Ontspoorde NG teoloë se belangstelling in die teologie skyn suiwer akademies van aard te wees. Van ʼn hartstog vir Christus, sy kerk of die Bybel is daar weinig sprake. Hulle beskou dit hul taak om vas te stel watter dele van die teks eg en watter foutief is. Daarmee verhef hul hulself bo die teks en dra in die proses ʼn verwoestende twyfel aan hul studente oor!
Alle duiwels het nie gesplete hoewe nie. Wie ʼn teologie bedryf sonder die absolute oortuiging dat God leef en sy skepping onderhou, durf nie ʼn leermeester wees nie. So ʼn persoon vernietig die saligmakende geloof in Christus en kweek verwarde twyfelaars en/of agnostici soos hyself: “’n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees” (Luk 6:40).
6. Verraad
6.1 Verraaiers
Dit gaan baie sleg met gelowiges in Suid-Afrika. Hulle is nie deur ʼn bose mag verslaan nie, maar eerder deur die enorme masjien van politieke en kerklike verraad verpletter. ʼn Volk kan nog dwase oorleef, maar nie verraaiers nie. ʼn Vyand op die landsgrens is minder gevaarlik as die een in tussen sy eie mense. Eersgenoemde se doelstellings is duidelik, maar nie laasgenoemde s’n nie. Hy beweeg ongesiens tussen sy eie mense, lyk soos hulle, praat dieselfde taal as hulle en raak selfs gemeenskaplike dinge aan. Maar in die geheim ondergrawe hy die pilare van sy volk sodat hulle nie weerstand teen booswigte kan bied nie. Selfs moordenaars is nie so gevaarlik soos verraaiers nie. Moordenaars tree as enkelinge op, maar verraaiers as ʼn groep.
6.2 Vernietig die skans
ʼn Kerk wat die krag en wil om vir verkeerde dinge nee te sê verloor, het geen bestaansreg nie. In die laat 80er jare het Ferdinand Deist gesê as apartheid verdwyn, dit die einde van die NG Kerk gaan wees. Hy was reg. Nadat sy die volksvyand gehelp het om haar volk se verdedigingskans af te breek, is sy daarna op ʼn syspoor gerangeer. Sy het oor die waarheid gestruikel, maar teen die verwagting in met die leuen volstaan.
Haar herhaaldelike pogings om die sekulêre reëls van die reënboognasie goed te laat lyk, was alles tevergeefs. Mense het haar nie verder vertrou nie. Sy het soos die vlermuis in die diereryk geword - die voëls vertrou hom nie want hy lyk te veel na ʼn muis, so ook nie die diere nie want hy lyk te veel na ʼn voël!
Die NG kerk was onteenseglik een van die hoofkokke in die kombuis van oorgawe en kon die gevolge van die mynveld wat sy help opstel het nie vryspring nie. Sy het kwalik ʼn oog verroer toe heidene die Christen-grondwet in 1996 opgeskort is waarna die land in ʼn morele vryval beland het. Dit het ʼn eens vreedsame samelewing omgekeer om vir ʼn georganiseerde guerrilla-oorlogvoering plek te maak.
Suid-Afrika is sedert 1996 amptelik ʼn sekulêre staat waar misdaad en geweld ongekende brutale afmetings aanneem. Kinders word daagliks verkrag en vermoor. Mense leef in vrees vir hulle lewens, selfs in hulle eie huise. VIGS rig verwoesting aan, dwelmverslawing neem epidemiese afmetings aan, barbaarse optrede het gangbaar geword, dissipline kwyn by die dag, onderliggende woede is oral aan die opbou, korrupte mense plunder die land bankrot, selfverryking het mode geword, aanspreeklikheid het ’n stille dood gesterf, gesonde werksetiek het skaars geword, werkloosheid bedreig die goeie orde, die landsadministrasie gaan sienderoë agteruit, die infrastruktuur gaan ten gronde en die onderwys het ’n ontstellende laagtepunt bereik. En om alles erger te maak, word ʼn geslag van jongmense sonder kennis van die Bybel groot.
6.3 Skadelike bondgenote
Verraad ken geen perke nie. So is die NG kerk se aansoek vir heropname van lidmaatskap op ʼn sitting van die Sentrale Komitee van die Wêreldraad van Kerke (WRK) in Trondheim (Noorweë) op 27 Junie 2016 goedgekeur. Sy was sedert die stigting daarvan in 1948 daarby betrokke, maar het in 1961 weens politieke druk bande verbreek. Sy het egter in 1995 waarnemerstatus by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), die plaaslike arm van die WRK, verkry en in 2004 volle sittingsreg. Daarna het sy weer aansoek om lidmaatskap van die WRK gedoen en dit in 2016 onder dawerende applous ontvang.
Die WRK het ʼn bedenklike geskiedenis van die ondersteuning van terrorisme en in die 60er jare fel kritiek vir hul kerkgeld-vir-geweld op die hals gehaal. Geen Evangeliese kerk kan ooit in sulke geselskap tuis voel nie. Desondanks beskou die NG kerk haar geslaagde toetrede tot die WRK as die herstel van ’n groot fout wat in die verlede gemaak is!
ʼn Kerk wat haar by volksvyandige organisasies tuis voel, pleeg verraad teenoor haar eie volk. Het die NG kerk dan nie al seer genoeg gekry nie? “Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan om af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank” (Jes.1:5).
Die NG kerk behoort die WRK onmiddellik te verlaat en God om vergifnis vir haar gebrek aan profetiese vise smeek. “ ..... Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb.18:4).
Dink aan Paulus se waarskuwing aan die gelowiges in Korinthe: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Kor.6:14-18)
7. Liturgiese kettery
7.1 Oneerlikheid
Die byderwetse inkleding van haar eredienste, maak die NG kerk se optrede verdag. Deur dit op ʼn eg charismatiese wyse in te kleur, maar nogtans daarop aanspraak te maak dat sy Gereformeerd is liturgiese kettery. Selfs die tipe liedere wat soms gesing word, is kenmerkend charismaties. So ook die voorsangers wat tussen die liedere deur hul eie prekies prewel. Dan is daar ook die charismatiese liggaamsgebare soos ʼn gewuif met die hande, wikkeling van lywe en selfs danspassies. Dis glo vrye liturgiese orde wat in werklikheid op geen orde neerkom nie.
Vir die NG kerk gaan alles oor uiterlike vormgewing om die kerk hoofsaaklik vir jongmense aanlokliker te maak. ʼn Charismatiese tooisel aan ʼn Gereformeerde lyf is verwarrend. Die inkleding van eredienste getuig altyd van dit wat ʼn kerk in werklikheid glo. Vorm verklap leer.
7.2 Kerklike vermaak
Die NG se pogings om haar vir die wêreld meer aanvaarbaar te maak, is ʼn fatale fout. Alhoewel geen kerk haar van die wêreld mag onttrek nie, moet sy waak om nie in die dryfsand van wêreldsheid te beland en daarin te versink nie. ʼn Evangelie wat in ʼn wêreldse idioom verkondig word, ontaard spoedig in ʼn wêreldse evangelie wat in ʼn Christelike idioom verkondig word.
Die kerklike wêreld is hol van al die oppervlakkige kerklike vermaak. Kerke wat ʼn kilometer breed vloei, is dikwels net ʼn sentimeter diep. Lidmate word met godsdiens-lekkernye gevoer wat byna geen geestelike kilojoules bevat nie. Suid-Afrika het geen behoefte aan oppervlakkigheid nie, maar eerder aan grondige geestelike leiding. Die kerk moet ʼn reddingsboot wees wat drenkelinge uit die stormsee van sonde gaan red en nie ʼn vlot vir geestelike plesiervaarte nie!
7.3 God se vennoot?
Die NG Kerk trap gereeld in dieselfde strik as Charismate. Laasgenoemdes wil aan God die hoogste plek gee, maar met ʼn plus daarby - die mens. Hulle werk met ʼn polêre skema - God se kant en die mens se kant. Die mense is God se vennoot in sy eie redding. Die mens ontvang namate hulle gee en verkry omdat hy doen. Dis suiwer werkheiligheid en nie egte geloof nie maar eerder bygeloof!
Gereformeerde gelowiges huldig ʼn teologie van die kruis en klee hul aanbidding en erediens anders in. Die teologie van die kruis is die mens se bankrotverklaring voor God. Hy reken hulle weinig meer as slegs sy genade toe. Sulke eredienste hou met die diepste bedoeling van die erediens verband - ʼn nie-polêre fokus op God en Hom alleen.
God en mens is nie vennote nie. Hulle is sy dienaars! Geloof doen nie iets met God nie, maar eerder met die mens. Die wonder is nie dat mense Hom liefhet nie, maar dat Hy hulle eerste liefhet. “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ʼn versoening vir ons sondes” (1 Joh.4:10). Dit sluit enige roem uit. Hierdie waarheid is so oorstelpend heerlik, dat gelowiges in plaas van lywe rond te swaai en hande in die lug te gooi, eerder voor God stil word omdat woorde van dankbaarheid ontbreek.
7.4 ʼn Grondverskuiwing
Die NG kerk se byderwetse aanbiddingstyl dui baie duidelik op ʼn verandering in haar teologie en gevolglik dit wat sy vir baie jare geglo, gepreek en bely het. Dit blyk dat die evangelie van genade met inbegrip van heilige verwondering vir God grootliks verlore geraak het.
Die NG kerk het soos talle ander kerke in ʼn industrie met bepaalde gesagstrukture ontaard. Godsvrug speel tweede viool. Dit gaan oor besigheid; om soveel as moontlik lidmate te wen ten einde meer geld te kry om te kan voortbestaan. Vir ʼn kerk wat op hierdie pad beland, is dit belangriker om mense gelukkig te hou as om die waarheid te praat.
7.5 Bose gemene sake
Die NG kerk se ontsporing is ook aan haar gemene sake met die Roomse Kerk (RK) te wyte. Sy kikker haar eredienste toenemend met Roomse tradisies en simbole op en beskou dit as ʼn verruiming van die Gereformeerde liturgie ten einde die geloof te verdiep.
Die viering van Roomse heilige dae, kruissimbole en die aansteek van kerse by spesiale geleenthede soos huwelike, die voorstelling van nuwe lidmate en doopgeleenthede is deesdae ʼn algemene gesig in NG kerke. Nie eens van die kindernagmaal te praat nie.
Die RK glo dat godsdienstige simbole diep geestelike ervarings bied. Brandende kerse beeld glo Christus as die Lig van die wêreld uit en word as ‘n voortsetting van gebede beskou. Solank kerse brand, het sulke gebede groot krag. Die RK heg selfs geseënde waarde aan die kerswas wat van heilige kerse afdrup. Dis glo ’n simbool van ‘n liefdesoorgawe aan God.
Die voorkoms van Roomse rituele en simbole behoort NG lidmate te verontrus want baie daarvan is hoofsaaklik heidens van oorsprong. Die Babiloniërs het bv. ook kerse vir Semiramis, hul moeder-godin, laat brand.
Die NG kerk se bemoeienis met die RK het by ekumene begin; ʼn Rooms georkestreerde interkerklike beweging wat poog om Protestante van hul kerklike erfenis te vervreem. Die Hervorming het die RK destyds in haar fondamente geskud waarna sy gesweer het dat al die afvalliges (Protestante) nog na haar toe sal terugkruip. Dit gebeur sienderoë met o.a. die NG kerk!
Die RK wil Protestante laat glo dat hul verlede verder as die Hervorming strek. Gevolglik word hulle aangemoedig om hul klassieke verlede te ontdek en hul liturgie dienooreenkomstig aan te pas. Die dae van bloot sit en luister in die kerk is uitgedien. Lidmate moet aan die erediens deelneem.
“Geseënd is hy wat in die Naam van die Here kom” sê die NG leraar tydens Nagmaal waarop die gemeente op eg Roomse wyse met “Hosanna!” antwoord. As hy sê: “Verhef julle harte” antwoord die gemeente: “Ons verhef dit tot die Here” . Dis suiwer Rooms!
Daarbenewens word die Roomse liturgiese gebruike soos die Agnus Dei en Kyrie Eleison al hoe meer in NG Kerke gehoor. Talle gemeentes gebruik selfs ʼn rooster en handleiding vir Skriflesing wat met die Revised Common Lectionary van die RK ooreenstem.
Desondanks ontken die NG Kerk dat sy haar kerklike erfenis verraai het en haal selfs vir Calvyn aan: “ecclesia reformata, semper reformanda” - die kerk het hervorm en moet altyd hervormende bly. Nodeloos om te sê, word Calvyn uit verband aangehaal. Hy het allermins ʼn terugbeweeg na die RK bedoel!
Sodra ’n kerk haar identiteit begin prysgee, ontgroei sy haar wortels. Geen ritueel durf ooit Woordbediening aan te vul of selfs te verhelder nie, al word ʼn duisend kerse aangesteek. Kerse verhelder geen geloof nie, maar verdoof dit eerder. Dit verryk nie die geloofsbelewenis nie, maar verarm dit. Daarbenewens verruim dit geen siel nie, maar verkneg dit eerder aan verbloemde heidendom.
Die Roomse leiband is stadig maar seker besig om ʼn wurgketting om die nek van die NG kerk te word. Haar Rooms georkestreerde Bybelvertaling het juis teen ʼn Roomse agtergrond ontstaan nadat die RK Protestantse kerke in die 60er jare aangemoedig het om ʼn gemeenskaplike Bybelvertaling met Roomse manuskripte as bronteks te gebruik. In Junie 1968 is eenstemmigheid met ʼn ekumeniese dokument Guiding Principles for Interconfessions Co-operation in Translating the Bible bereik, wat tot die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) gelei het.
8. Universele versoening
8.1 ʼn Nuwe dwaling
Die leer van universale versoening (Universalisme) is ʼn betreklik nuwe dwaling wat toenemend aanklank in die NG kerk vind. Dit spruit weereens uit ʼn verkeerde omgang met die Skrif. Dit verkondig dat, nadat Jesus aan die kruis gesterf het, niemand meer hel toe gaan nie. Jesus het vir almal ongekwalifiseerd gesterf. Daarom gaan alle mense na die dood hemel-toe.
8.2 Godsdiens van die massa
Hierdie dwaalleraars maak hul eie god; een wat net liefhet en nie straf nie. Dis beslis nie die God van die Bybel nie, maar eerder ʼn afgod! Ongelukkig is baie van hierdie dwaalleraars so oortuigend, dat hulle duisende volgelinge het, selfs NG leraars. Hul alle-paaie-lei-na-Rome boodskap wat Jesus Christus as die enigste brug tussen God en mens laat verdwyn, vind wêreldwyd aanklank en is besig om die godsdiens van die massa te word.
Hierdie slenter van ʼn universele liefdes-evangelie van versoening en vergifnis laat talle kerke in ʼn horisontale versoeningsmanie tol. Dit ondermyn die Bybelse waarheid van geregtigheid en oordeel en voer mense ver verby die kruis na die ewige verdoemenis.
9. Ontnugtering
9.1 Ghetto-bestaan
Die NG kerk slaag nie daarin om een reguit tree op haar krom paaie te gee nie want verkeerde dinge kan nie reg geleef word nie. Om in pas met die politiek te beweeg, maak mense en kerke doof vir die stem van God. Daarom het haar skynvertoon van ʼn byderwetse nie-statiese kerk wat verskillende standpunte en menings huisves, klaaglik misluk. Die NG kerk het haar arm verder uitgesteek as wat sy dit kon terugtrek en aan ʼn tou getrek sonder om te weet wat aan die einde daarvan is. Dit het haar geloofwaardigheid gekos en lidmate ontnugter.
Toegewings aan die misplaaste menseverheerlikings van die sekulêre grondwet, het haar so van haar roeping in die wêreld vervreem, dat sy besig is om haarself in ʼn selfontwerpte ghetto terug te trek. Dit het talle NG leraars al so ontnugter dat hulle die bediening verlaat het net om van die siek gevoel van verlatenheid en spyt ontslae te raak. Ander leraars byt maar ter wille van die vergoeding vas.
“Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. En die honde is gulsig, hulle ken geen versadiging nie; en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie; almal loop hulle eie pad, elkeen na sy onregverdige wins, almal saam” (Jes.56:10,11).
“En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik, en hulle verlei deur hulle vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges” (Rom.16:17,18).
9.2 Politieke knuppel
Suid-Afrika het nie in die vrye, sorgsame en verantwoordelike gemeenskap verander soos wat die NG kerk en ander volksvyandige godsdiensinstellings in die vooruitsig gestel het nie. Die menseregte waarna die grondwet verwys, het ʼn selfsugtige, materialistiese gemeenskap gebaar wat menseregte al te graag as ʼn politieke knuppel gebruik.
As die beginsels en waardes wat God vir die mens se eie beskerming daargestel het opsy geskuif word, styg verkeerde dade soos ʼn stofwolk op en gaan ʼn land onder ʼn eindelose aanslag van misdaad, geweld, korrupsie, leuens, onsedelikheid en gesinsverbrokkeling gebuk.
Met die NG kerk se bedenklike ontsondiging van gruwels word die gat in ons volk se morele osoonlaag al hoe groter. Van die 22 beskawings wat tot ʼn val gekom en van die wêreldtoneel verdwyn het, het 19 weens sedelike verval verdwyn. Niks wat sedelik verkeerd is, kan ooit polities reg wees nie.
9.3 Sonsondergang
Lig kan of verhelderend of verblindend wees. Dwaalleer het die NG kerk so vir die waarheid verblind, dat die son besig is om oor hierdie eens gewaardeerde kerk onder te gaan. En om te dink dat die wêreld op ʼn stadium haar verhoog was. Haar optrede was egter ʼn slegte toneelstuk. Sy het die verkeerde pad gevat omdat dit na vernuwing gelyk het. Elke afdraaipad was egter ʼn doodloopstraat wat in ontnugtering geëindig het. Daarom behoort haar ontsporing vir elke kerk ʼn waarskuwing te wees.
10. Herstel
10.1 Terug na die waarheid
Is dit Ikabod met die NG kerk of is herstel moontlik? Sy kan met God se genade herstel indien sy groot genoeg is om haar foute te erken en dapper genoeg om na die ou paaie terug te keer. “ .... Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel ...” (Jer.6:16).
Paulus skryf aan Timoteus: “...verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering, want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:2-4).
Paulus sê dat ʼn leraar Woordgebonde en onverskrokke in die stryd vir die waarheid moet wees: : “...een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê. Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is ..... hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins” (Tit.1:9-11).
Om ʼn goeie huis te bou, is ʼn goeie bouplan onontbeerlik. Dit kan nie met ʼn swak plan gebou nie. So ook die NG kerk. Haar herstel loop slegs op die spoor van ʼn terugkeer na die ou beproefde Skrifwaarhede. Daar is geen ander uitweg nie. Groot suksesse begin dikwels by foute wat herstel is!
Leraars moet weer begin om kennis van God se Woord oor te dra sodat mense geestelik kan groei: “En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is” (Eseg.44:23). Maleagi skryf: “Want die lippe van ʼn priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ʼn boodskapper van die Here van die leërskare” (Mal.2:7).
Daarom sal die NG kerk reg by die begin moet begin en dwaalleer uitroei ten einde die waarheid te laat seëvier. Die enigste manier om te bewys dat ʼn stok krom is, is om ʼn reguit een langs dit neer te sit. So is dit ook met die Woord van God. Om na die Woord terug te keer, sal haar moontlik polities inkorrek laat voorkom. Regte denke lei egter altyd tot regte optredes.
10.2 Beëindig onreg
Indien sy haar volk se vertroue wil herwin, sal die NG kerk moet help om ʼn einde aan die verstikkende onregpleging in die land te maak. Sy durf haarself nie langer in hierdie modderwater probeer spieël nie. Gelowiges het meer as genoeg van die reënboognasie se gekamoefleerde skrikbewind gehad. Hulle wil die regte dinge begin doen. En dis net moontlik indien hulle weet wat om te doen. Dis hier waar ʼn herstelde NG kerk sterk leiding kan gee.
Slotwoord
Verraderlike politici en kerklui het ons volk se geskiedenis so fyngetrap, dat die land met iets anders as die nag donker word. Desondanks is daar niks met die land verkeerd wat nie met dit wat reg is genees kan word nie. Ons sal ons geskiedenis slegs deur ʼn terugkeer na God en sy Woord herwin. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
Die Bybel het vir baie vooruitgang en beskawing in die wêreld gesorg. Daarom kan dit ook ʼn gids vir die herstel en toekoms van ons volk wees. Daarvoor moet die waarheid oor die leuen seëvier. “ ... As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ʼn volk wat geen dageraad het nie” (Jes.8:20).
God gee by monde van Hiskia vir die geestelike leiers van sy dag raad wat die NG kerk dringend ter harte moet neem: “Luister na my, Leviete! Reinig julle en reinig die huis van die Here, die God van julle voorvaders. Vat die vuilgoed uit die heiligdom uit.” (2 Kron. 20:5). Die geskiedenis getuig van gelowiges wat weens hul uitsonderlike geloof en volksliefde kragtige instrumente in God se hand was. Die tyd het aangebreek dat die NG kerk ʼn radikale omkeer terug na God en haar volk maak anders gaan die haan haar te laat wakker kraai!