Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gebed verander sake. Maar dan moet ons dit nie net in tye van nood wil gebruik nie. Mense wat net in hul nood wil bid en verwag dat dit onmiddellik moet verdwyn, dryf eintlik met God die spot. Gebed is nie ‘n towerformule wat opgesê word en siedaar dinge verander nie!
OP SOEK NA DIE WARE KERK?
Ds Andrè van den Berg
Inleiding
Jongmense wat in konserwatiewe kerke grootword en later lidmate word, wonder soms of dit die regte kerk is. Moet hulle in die kerk van hulle ouers bly of miskien tog van kerkverband verander? Wie erns met die Woord van God maak en die waarheid liefhet, moenie vra by watter kerk hy moet aansluit nie, maar eerder watter een die ware kerk is en daarby aansluit. Die klem val op die navolg van die waarheid en veragting van die leuen al het dit ʼn godsdienstige baadjie aan.
Die ware kerk bestaan eeue lank tussen al die sektes en valse kerke wat leuens verkondig. Laasgenoemdes mislei die kerklike wêreld sodat baie mense al kerke verlaat het op soek na God! Die Bybel waarsku dat die waarheid aan die einde van die tyd ernstig versaak en mense mislei gaan word. Om die ware kerk in hierdie tyd te wil vind, sal ʼn liefde vir die waarheid en deeglike Bybelkennis onontbeerlik wees.
1. Wêreldwyd
Die ware kerk is sedert die begin van die Christendom af daar en sal tot die einde daar wees. “ ... en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Mt.16:18).“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20).
Die ware kerk staan egter nie net onder een naam bekend nie, maar het verskeie. Nogtans vorm dit ʼn onsigbare, geestelike eenheid te midde van die groot verskeidenheid. Die valse kerk aanvaar dit nie en poog al jare lank om hierdie eenheid sigbaar te dwing. Die Belhar-Belydenis is so ʼn voorbeeld.
Die Bybel leer dat die ware kerk uit ʼn verskeidenheidvan mense bestaan wat met ʼn geestelike (onsigbare) band verbind is. “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh.10:16).
2. Maak onderskeid
Gelowiges wat hul by die ware kerk voeg, het ʼn duidelike onderskeid tussen die ware en valse kerkgemaak. Die valse kerk minag sekere Skrifwaarhede, ontsondig gruwels en mislei mense met hul oppervlakkige vertoon. “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor.2:14).
Om die ware kerk te vind, moet daar gevolglik tussen waarheid en leuen onderskei word. Gelowiges moes al dikwels onder moeilike omstandighede die leuen ontbloot ten einde die waarheid te verdedig. Jeremia is ʼn sprekende voorbeeld hiervan wat met die ontsporing in sy eie kerk gebots het.
“So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie. Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer” (Jer.23:16,17,21).
Jesus waarsku ‘n paar eeue later: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mt.7:15).
Paulus waarsku dat valse leraars gemeentes gaan besoek en hulself as gesante God sal voordoen:
“Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor.11:13-15).
3. Verwarring
Alle leuendienaars glo dat hulle God ʼn guns doen deur die waarheid teen te staan en gelowiges aan die pen te laat ry. Jesus waarsku: “Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys” (Joh.16:1,2).
Valse profete besef nie altyd wat hulle doen nie. Hulle kan soos Paulus voor sy bekering daarvan oortuig wees dat hulle die regte ding doen en God se guns verdien. Desondanks is hulle nie God se dienaars nie, maar eerder dié van die Satan, God se teenstander!
4. Misleiding
Mense word maklik deur die emosionele prediking van vurige ekstroverte asook indrukwekkende godsdienstige dade beïndruk.Dis alles ʼn set van die Satan. Daarom waarsku Jesus:
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Mt.7:21-23).
Jesus is die goeie Herder (Joh.10). ʼn Goeie herder verlaat nie sy kudde nie. Valse herders wel. Petrus praat op Pinksterdag baie ernstig met sy volksgenote: “...Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag” (Hand.2:40). Dis die taal van ʼn gelowige wat hom nie laat mislei het nie en ʼn baie duidelike onderskeid tussen die ware en valse kerkgemaak het!
5. Kenmerke van die ware kerk
Valse kerke vertoon nie almal dieselfde kenmerke vertoon nie. Gevolglik is dit nie so maklik om die ware kerk in ʼn wêreld vol kerkvervalsings te vind nie. Let op die drie kenmerke van die ware kerk.
- Suiwer Skrifprediking
Die ware kerk preek die Woord van God suiwer. Gelowiges hoor die stem van die Christus, die Herder,baie duidelik. “Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie” (Joh.10:5). Suiwer Skrifverkondiging is al manier waarop skape die stem van die goeie Herder herken.
Die doel van prediking is om die geloof aan die hand van die Bybel te voed en te versterk. As die voedsel giftig is, sal dit ook die skape vergiftig. As dit te min geestelike kilojoules het, sal die skape ondervoed wees en doodgaan.
- Suiwere sakramentbediening
Suiwere sakramentbediening is ʼn tweede kenmerk van die ware kerk en nie van die eerste een te skei nie. As Skrifverkondiging nie suiwer geskied nie, vind dit ook sy weg na die sakramente. Die sg. inseën van kindertjies i.p.v. die kleindoop en die toelating van kinders tot die Nagmaal voor aanneming, getuig van ʼn gebrek aan Skrifkennis en gevolglike ontsporing.
- Die toepassing van die kerklike tug
Die suiwere toepassing van die kerklike tug is die derde kenmerk van die ware kerk. Dis daar om ergerlike sondes in liefde te straf sodat oortreders tot bekering kan kom. By suiwer prediking gaan dit oor die hoorbare Woord, by suiwere sakramentbediening oor die sigbare Woord en by die kerklike tug oor die voelbare Woord.
6. Die regte oordeel
Om ʼn kerk as vals te veroordeel is nie sondermeer sonde nie. Solank as wat dit net waar is. Jesus het nie geskroom om die valse profete van sy tyd aan te spreek en van hulle as ʼn sinagoge van die Satan te praat nie.
Die duidelikste kenmerk van die valse kerk is dat dit die stem van God nie laat hoor nie. Daarbenewens ontheilig dit die sakramente en staan diegene wat die waarheid verkondig teen. Dit gaan oor die vraag: Wie is die hoof van die kerk? As dit nie Christus is nie, is dit soos die Roomse kerk met haar pous as die hoof, ʼn vals kerk.
Christus voer sy gesag deur sy Woord en Gees in die kerk. Hy maak sy Woord deur die kerk herkenbaar. Wie daarvoor buig, ken die stem van die goeie Herder en weet vir seker dat hy lid van die ware kudde (kerk) is.
Gelowiges kan slegs deur Woordstudie tussen die ware en valse kerk onderskei. God vestig sy koningskap op 'n besondere manier in die ware kerk. Daarom moet gelowiges diegene wat op die naam kerkaanspraak maakondersoek en op die proef stel of hulle volgens die Woord waarlik kerk is. Dit maak gelowiges nie altyd baie gewild nie.
Die wêreldwye gees van valse verdraagsaamheid, haat waarheidsoekers. Hulle veroordeel Bybels geregverdigde kritiek as liefdeloos en in stryd met die skyn-evangelie van menseregte. Die Skrif praat anders: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
7. Kenmerke van die valse kerk
“Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:2,3).
- Gesagskrisis
Die valse kerk verleen aan menslike insettinge dieselfde gesag as die Bybel. Die Roomse Kerk se tradisie en konsilie-uitsprake wat op lidmate se gewetens afgedwing word, is ʼn voorbeeld hiervan en teenvoeter vir die ware kerk.
Hierdie tendens word egter nie net in Roomse geledere gevind nie, maar ook in Gereformeerde kerkkringe waargeneem waar ontspoorde teoloë allerlei redenasies aanvoer om menslike bronne op gelyke voet met die Skrif te plaas. Dis alles die gevolg van ʼn ekumeniese geheul met die Roomse Kerk.
Teoloë verdraai Bybelse waarhede sonder enige vrees dat die kerk met leertug teen hulle sal optree. Van hulle is al selfs met akademies-literêre toekennings vereer. Dis sprekend van die valse wat aan eie verklarings en geskrifte meer gesag as aan die Bybel toeken.
- Sakramente
Verder skaad die valse kerk die Christendom deur die sakramente nie te bedien soos wat Christus die kerk beveel het nie. Hy het die kerk opdrag gegee om gelowiges in die Naam van die Drie-enige God te doop en die Nagmaal te onderhou. Daaraan mag nie verander word nie. Die Roomse Kerk het sewe sakramente.
- Tug
Die derde mistasting is die korrupte wyse waarop die valse kerk die kerklike tug toepas. Toe Luther die dwaalleer van die Roomse Kerk blootgelê het, is sy boeke verban en hy voëlvry verklaar. Die Roomse Kerk het nie die Christelike dissipline soos Christus en sy apostels dit beveel het, uitgevoer nie, maar eerder 'n ongeëwenaarde skrikbewind vir eiebehoud gevoer. Despote wat mag oor onderdane verkry, raak altyd van hul teenstanders ontslae!
'n Kerk wat die gewetens van lidmate met ʼn ysterhand aan haar eie instellings bind, kan nooit die ware kerk wees nie. Dan gebeur dit so maklik dat sonde nie meer aangespreek word nie, maar toenemend verdra en selfs goedgepraat word. Die gevolg is dat kerklike dissipline verslap en die kerk wêreldgelykvormig word. Lidmate wat die lewenskultuur van die wêreld betree, word deur die stroom van afvalligheid meegesleur en ʼn vermaaklikheidskultuur in die kerk gevestig.
8. Vermaak
Dis altyd lekker om na ʼn sirkus te gaan. Kunstenaars vermaak die gehoor en almal wat daar uitstap, voel beter as toe hulle ingekom het. Mense vergeet vir ʼn kort tydjie van hul probleme.
Wêreldse kerke verskil nie veel hiervan nie. Vurige ekstroverte vermaak net hul gehoor van kansels af. Sommige vertel mooi stories wat mense tydelik van hul probleme laat vergeet. Ander sing weer mooi of gebruik sielkundige metodes om mense emosioneel op te jaag. Sommige is selfs grappig en laat mense lag. Spesiale klank en aanbiedingstegnieke dra tot die vertoning by. Desondanks bly die doelwit dieselfde as in sirkusse – om mense te laat ontspan en goed oor hulself te laat voel. So ʼn tydelike ontvlugting van die werklikheid van die lewe laat mense weer die lewe in die oë kyk.
Maar dis nie wat God van ʼn kerk verwag nie! Vir die eerste Christene het dit om kennis van die Woord van God en ʼn opregte omgee vir mekaar gegaan. Daar was geen vermaaklikheidselement teenwoordig nie, veral nie in die prediking nie. Gelowiges is aangemoedig om by hul gemeente betrokke te raak en hul geloof prakties te beoefen.
Kerkbywoning was geen werklikheidsontvlugting nie. Die wêreld moes baie duidelik sien dat gelowiges gekom het om te dien en nie om gedien te word nie. “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld” (Jak.1:27).
Gelowiges gaan nie kerktoe om eendag in die hemel te kom nie. Niemand bou daardeur ewigheidskrediete op nie. Die wêreld het egter ʼn nood aan gelowiges wat die waarheid liefhet en met hul lewens Christus verheerlik. Daarom streef die ware kerk daarna om mekaar te dien en Jesus te verheerlik en nie om ʼn sirkusatmosfeer te skep om mense te trek nie.
9. Waar is die ware kerk?
In die 12 Artikels word bely dat die ware kerk algemeen en dus wêreldwyd versprei is. God het in sy ewige raadsplan bestem dat hierdie ware kerk onder alle volke tale en nasies sal voorkom:
“...deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Efes.1:9,10).
Daarom het die ware kerk geen grense nie en mag geen kerk as die enigste ware kerk voorgehou word nie. Daar kan wel met groot oortuiging gesê word dat die Afrikaanse Protestantse Kerk deel van die ware kerk is, maar nooit die enigste ware kerk nie. Daar is ook uitverkorenes in ander kerkverbande. Hulle staan egter onder ʼn heilige verpligting om op grond van die Woord baie seker te maak dat die kerk waarin hulle is, wel aan die kenmerke van die ware kerk voldoen.
Gelowiges mag hul selfs vir tyd en wyl in ʼn valse kerk bevind. Dit moet baie gou verlaat word want godsdiens as sulks red niemand nie. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Mt.7:21).
Daarom moet gelowiges ondersoek instel of die kerk waaraan hulle behoort wel die wil van die Vader in die hemel doen! Is hierdie kerk lief vir die waarheid? Is die Bybel haar enigste gesagsbron?
Wat staan gelowiges te doen as hulle kerk dwaalleer begin verkondig? Onthou dat daar geen kerk op aarde sonder vlek of rimpel is nie. Geen kerk bestaan net uit gelowiges nie. Omdat kerke uit sondaars bestaan, kom daar van tyd tot tyd onsuiwerhede voor. Dit moet soos onkruid gedurig uitgespit word.
Afwyking en algehele verwording is egter twee dinge. Verwording vind plaas as ʼn kerk openlik vir sonde kant kies en dit deel van sy beleid maak. Dit gebeur wanneer ʼn kerk nie oor die suiwere prediking van die Woord waak nie en aan sy ampsdraers en lidmate vrye teuels gee om na hartelus op te tree. In so ʼn geval durf ʼn gelowige nie langer lidmaat daarvan wees nie en moet sy lidmaatskap onverwyld opsê.
Om die ware kerk te vind, verg ʼn deeglike studie van die Woord. Wie dit nalaat, word maklik mislei om die optrede van die valse kerk aanvaarbaar te vind. Die Gees van God lei gelowiges wat hul in Skrifstudie verdiep, altyd na die ware kerk. Die Gees en die Woord is uiteraard onlosmaaklik aanmekaar verbind. Daarom gaan diepgaande Woordstudie altyd met die werking van die rigtinggewende Gees gepaard. En die Gees sal gelowiges by die gemeente voeg waar Hy hulle wil hê.
Slot
Die ware kerk maak nie vrede met sonde nie, maar beveg dit. Daarvoor is die suiwere toepassing van die kerklike tug onontbeerlik. ʼn Kerk wat sondes met rus laat, is ʼn valse kerk. Die ware kerk haat sonde en beveg dit ook in eie geledere. Wie sonde in gemeentegeledere bemerk, moenie met die eerste en beste geleentheid weer na ʼn ander kerk vertrek nie. Die behoud van die ware kerk lê juis in gelowiges se voortdurende stryd teen sondes en onderlinge vermaning. Niemand is tot die engelestand verhef nie. Daar sal altyd sonde wees. Dit mag net nooit met rus gelaat word nie!