Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Al leef gelowiges ook hoe vroom, is hulle steeds sondaars. Deur die bekering word ons van slegs die bindende mag en uiteindelike oordeel van sonde verlos. Dit as sodanig waarborg ons hemelse erfenis wat ons as dankbare, verloste mense met ’n innige begeerte om nie te sondig nie, laat leef.
AS DIE LIG VERDRYF WORD
Die onderwyskrisis
Ds A.E. van den Berg
“In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” (Joh.1:4).
“ .... Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie.....” (Joh.8:12).
Johannes skryf dat Jesus lig en lewe is. En dis reg want waar daar lig is, lewe dinge. In duisternis is daar net die dood. Jesaja het voorspel dat Jesus as lig na die aarde sou om in mense se sonde-duister te skyn en hul donkerte op te klaar: “ Die volk wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn” (Jes.9:1).
Waar Jesus nie heers nie, heers die Satan met duisternis en die dood, en sy ryk is groot: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Joh.5:19).Mense sonder Jesus in hul lewe verkies die duisternis. Hoor hoe skreeu hulle tydens Jesus se verhoor: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”
Wat sê hulle in werklikheid? “Weg met die lig, gee ons die duisternis!”Dis ʼn universele reaksie. “Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters —omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het” (Ps.107:10,11).
As die raad van die Allerhoogste verwerp word, word gemeenskappe donker en word mense deur ellende oorval. Skakel die TV aan, luister na nuus-bulletins; waaroor praat mense oor die algemeen? Oor die geweld wat ons land daagliks ontwrig. Dit was nooit so gewees nie. Wat het daartoe aanleiding gegee? God is uit die gemeenskapslewe gehaal; die lig is verwyder en duisternis gevestig.
Die 10 Gebooie is met ʼn Handves van Menseregte vervang. Volksinstelling het Christus uit hul gemeenskapslewe gehaal en pluk vandag die bittere vrugte daarvan. Skole is so ʼn tragiese voorbeeld. Geweld, aanranding, verkragting en moord is algemeen op SA skoolterreine. Dit gebeur as die Lig bewustelik uit die skole verwyder word en donkerte dit oorval!
Heiden owerhede beroof ons land van Bybelse en sedelike beginsels wat onontbeerlik vir sinvolle besluitnemingis. Sal mense bedrog pleeg, steel, skade aan openbare eiendom aanrig as hulle Bybelse beginsels het? Beslis nie!
Ons kinders is in die spervuur. ʼn Kind leer op twee plekkein die samelewing lewenslesse; by die ouerhuis en by die skool. As God uit skole weggeneem word, ontstaan ʼn lugleegte wat met booshede gevul word en sal aanhou totdat God weer in ons skole teruggeplaas word. Maar dan ook net een duidelik omskrewe God – die God wat Hom in Jesus Christus openbaar. Dit sal verhoed dat afgodsdienaarshul gode op gelyke grond met die ware God plaas soos tans en as godsdiensverdraagsaamheid verheerlik word.
Daar is net een God, die Een wat Hom in Jesus openbaar. Alle ander is afgode. Daar is ook net een godsdiens - die Christen godsdiens. Alle ander godsdienste afgodsdiens! “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).Godsdiensverdraagsaamheid is ʼn onding en invalspoort van die Satan!
Onderwys is ʼn wonderlike beroep vir mense met ʼn liefde vir God en kinders. ʼn Onderwyser se vermoë om kinders hul vermoëns te laat ontdek, is groots! Ons het ʼn nood aangelowige onderwysers wat soos tuiniers ongewenste elemente onder ons volkskinders kan help uithaal en deugsaamheid kweek.
Ons land se toekoms loop deur sy skooldeure en ʼn klaskamer ʼn struktuur met vier mure en die toekoms binne in. Elke skool wat op Bybelse beginsels bedryf word, sluit as’t ware ʼn tronk toe want Christen onderwys is ʼn beweging weg van die duisternis na die lig van Jesus toe. ʼn Gelowige onderwyser is nie die pyp na die brandstoftenk van ʼn kind se verstand nie. Hy is die vonkprop wat kinders tot ʼn Christelike lewenswandel aanvuur.
Ons onderwys is in ʼn krisis. Ongelukkig sien die heiden owerheid nie die duiwels van hul eie skepping raak nie en maak van onderwys ʼn ontstellende katalogus van heiden-onderrig. Let maar net op die Ewolusieleer wat in skole bevorder word. Dis ʼn bose leer. God sê in die Bybel hoe die mens ontstaan het. Ewolusioniste leer die teenoorgestelde; ʼn ou set van die Satan. In die Tuin van Eden vra hy vir Eva: “Is dit so dat God gesê het...? Dan draai hy dit om en verseker haar dat dit nie so is nie. As ʼn onderwyser iets anderste sê as wat God sê, buikspreek hy Satan en verwar hy kinders. Die rimpeleffek daarvan laat lelike letsels op gemeenskappe.
Amerika het met dieselfde veral in staatskole te kampe. Daar is net een oplossingvir dié ellende – bring Jesus terug in skole. ʼn Paar jaar gelede het ʼn treffende gedig op Internet verskyn:
“Mary had a little lamb, his fleece was as white as snow.
And everywhere that Mary went, the lamb was sure to go.
He followed her to school each day, ‘it wasn’t even in the rule.
He made the children laugh and play, to have a lamb at school.
And then the rules all changed one day, illegal it became;
To bring the Lamb of God to school, or even speak His Name.
Every day got worse and worse, and days turned into years.
Instead of hearing children laugh, we heard gunshots and tears.
What must we do to stop the crime, that’s in our schools today?
Let the Lamb come back to school, and teach our kids to pray!”
Suid-Afrika steier net soos Amerikaonder heiden-onderwys. Dit bring verwarringen baar geweld. Kinders wat op Amerikaanse skoolgronde met geweervuur afgemaai word, is niks nuuts nie. Skoolveiligheidswagte het al net so in instelling as onderwysers geword en Suid-Afrika goed op pad!
Ons is besorg oor die reënboognasie-onderwys wat aan ons kinders opgedring word. Dit gaan soos die spreekwoordelike klip in ʼn tregter hoe dieper hoe slegter. Dink maar aan die onlangs voorgestelde seksonderrig op skole waarmee selfs die NG Kerk genoeë neem. Dis vet op die vuur van onsedelike lewensgedrag!
Ten spyte van al die lelike dinge in ons land, leef ons nie soos mense sonder hoop nie. Ons sal tot God bly bid dat Hy ons eertydse trotse onderwyssisteem wat deur die heiden owerheid tot skroot afgetakel is, sal herstel sodat ons kinders.soos dié van weleer, weer die Lam van God in hulle midde sal geniet.