Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God se gedagtes het so 'n diepte dat die verstand van mense daardeur verswelg sal word as hulle selfs net sou probeer om dit binne te dring – gelowige onkunde is beter as onbesonne kennis.
DIE DOOD
Kom ons praat oor die dood
Ds.A.E van den Berg
Inleiding
Die lewe is nie ʼn besitting nie, maar ʼn lening. Ons is huurders en God die eienaar. Hy kan die huur enige tyd opskort waarna ons die lewe moet teruggee. Hierdie teruggee is die dood. Daar is niks so seker as dat ons dit eendag sal moet teruggee nie en gevolglik huiswaarts reis.
“...en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Pred.12:7)
Daarom gaan daar vir elkeen ’n nuwe jaar aanbreek waarvan hy die Oujaar nie sal sien nie. Niemand gaan ʼn ooreenkoms met die dood aan nie. Dit het ʼn duisend deure wat die lewe uitlaat en sny selfs koppe af wat krone dra. Die Arabiere sê dat die dood soos ʼn swart kameel is wat op een of ander tyd by elkeen se tent inloop.
Die Bybel sê dat die dood die kleedkamer is waar ons vir die ewigheid aantrek:
“Want om hierdie rede ... verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word,as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie” (2 Kor.5:2.3).
Die ewigheid kan of met vreugde in die hemel of met pyn in die hel deurgebring word. Dit hang van die bekering af.
In die hemel:
“ ... Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer “ (Mt.25:23)
In die hel:
“En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam” (Luk.16:23,24).
God wil ons almal in die hemel sien:
“Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel” (Eseg.33:11).
1. Op die laaste vaart
Die lewe is ʼn gewigte saak; almal gee op een of ander tyd onder die gewig daarvan mee. Of ons oud of jonk is, ons is almal op ons laaste vaart. Vir gelowiges mag die dood nooit ʼn verrassing wees nie omdat dit elke dag verwag word. Dawid sê vir Jonathan:
“ ... so waar as die HERE leef ... daar is maar net een tree tussen my en die dood” (1 Sam.20:3)
Die Bybel verstrek die rede vir die dood:
“Want die loon van die sonde is die dood...” (Rom.6:23).
Om te sterf, is ʼn skuld wat almal moet vereffen. Die dood is die kwitansie daarvoor.
2. Slaap jy?
Mense is oor die algemeen net so bang vir die dood soos kinders vir die donker. Kinders se vrese word gewoonlik deur allerlei wolhaarstories opgejaag. So ook baie mense se vrees vir die dood. Daar is etlike mistastings oor die dood. Baie mense sien dit as ʼn ewige slaap. Vandaar die talle Rus in Vrede grafskrifte. Net die teenoorgestelde is waar; die dood is ʼn laaste ontwaking en is die mens vir ewig wakker:
“En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef...” (Luk.16:23).
As God se vinger ons aanraak, is ons vir ewig wakker. En dis vir gelowiges groot vreugde want hulle het soos gouderts wat deur die smeltoond van die dood gegaan en is as goud vrystel. Die res word weggegooi:
“...en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het...” (Pred.12:7).
Ja, hoe broos is die omhulsel wat ons siele huisves!
Gevolglik verloor gelowiges nie die lewensspel met die dood nie. Tyd ontbreek net om daarmee voort te gaan. Dit wat van die ou Rolls Royce motors gesê is, is ook hier waar: A Rolls Royce never breaks down. It only fails to proceed.
Die dood is ook nie ʼn terminus nie, maar die oplaaipunt na die Nuwe Jerusalem. Dis soos ʼn lig wat afgeskakel is omdat die dag aangebreek het. Al wat soms baie onaangenaam kan wees, is die oorgaan van die lewe na die dood as dit met pyn en lyding gepaard gaan.
Wie die dood verwag, behoort elke dag voluit te leef. Om dood te gaan, is geen kuns nie. Selfs die slegste mense kry dit reg. Om sinvol te leef, is egter ʼn ander saak - nie almal slaag daarin en bekeer hul betyds nie.
Elkeen van ons se lewe eindig met die dood. Dis net die detail hoe ons geleef en gesterf het wat ons van mekaar onderskei. Niemand leef verkeerd en sterf reg nie! ʼn Eerbare dood is altyd beter as ʼn oneerbare lewe. Boosdoeners het egter altyd ʼn weersin in die dood.
3. Sekerheid
Die dood is ʼn vinnige skaduwee op pad na die hemel. Dis soos ʼn verhuising van die een huis na ʼn ander een. Moet dus nie aan ʼn geliefde wat dood is dink soos aan ʼn blom wat doodgegaan het nie, maar as ʼn blom wat in ʼn ander bedding oorgeplant is om daar mooier te blom, al kan dit nie gesien word nie.
Die sekerheid dat Christus vir ons ʼn ewige woning berei het, het geen gelyke op aarde nie:
“In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei”(Joh.14:2).
Wie dit ontken, leef ʼn troostelose lewe en gaan te laat probeer regmaak:
“Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie” (Mt.25:11,12).
Om te sterf, is vir gelowiges in werklikheid ʼn ongelooflike avontuur. Vir ongelowiges is dit egter ʼn ongekende verskrikking. Wie nie vir die lewe na die dood gereed maak nie, is soos ʼn wag wat tydens ʼn beleg op sy pos slaap.
Slot
Gelowiges moenie die dood as ’n kwaad aan die einde van ’n goeie lewe sien nie. As jy verantwoordelikheid vir jou lewe neem, neem Christus dit vir jou na jou dood. ʼn Gelowige het by geleentheid gesê dat hy nie bang is vir die dood nie omdat hy jare gelede saam met Christus gesterf het. Mag die rimpels wat jy in die poel van die lewe maak, lank na jou dood steeds gevoel word!