Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kinders is 'n groot troos in die ouderdom – en hulle help ons ook om dit baie gouer te bereik... maar Martin Luther was waarskynlik ook reg toe hy genoem het dat dit goed sou wees as jongmense meer wys kon wees en ou mense sterk, maar God het dinge beter beplan. Daarom kan ons met hierdie feite vrede maak.
DIS HERVORMINGSONDAG
Weiding of vermaak?
Ds A.E. van den Berg
“ Toe hulle klaar was ..... vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei”(Joh.21:15).
Van al die gawes waarmee God die mensdom geseën het, is Evangeliebediening een van die heel grootstes. Die eerste Christengemeentes het dit as ʼn gawe van God beskou waarmee bekeerlinge gewerf en gelowiges opgebou is. Daarvoor was geestelike herders nodig om God se kuddes in die voedsame grasvelde van suiwere Skrifbediening te laat wei:
“Toe hulle klaar was ..... vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei” (Joh.21:15).
Satan het egter die Evangeliebediening van meet af aan teengestaan en die kerk probeer vernietig deur dit eers van buite en daarna van binne af aan te val. Die aanval van buite af het met die steniging van Stefanus begin waarna die Romeins-Joodse vervolging gevolg het. Toe dit egter nie aan die verwagting voldoen nie, het Satan van strategie verander en met dwaalleer in die boesem van die kerk opgeduik en met dwaalleraars geteister:
“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh. 2:19).
Satan se volgehoue aanslae het spoedig ʼn bres in die kerkmuur veroorsaak waardeur heidenelemente ingesypel en verval gevolg het. Dit wat aanvanklik as ʼn ligte bries begin het, het spoedig orkaansterkte in kerkgeledere bereik. In plaas daarvan dat die kerk die heidendom binnegedring en lig in hul duisternis gebring het, het die heidendom die kerk binnegedring en die lig van die Evangelie verdof.
Naas die sondeval is die ideologiese vermenging van Rome en Babel die ergste ramp wat die mensdom ooit getref het. Dit het tot die ontstaan van die Roomse Kerk (RK) in die vierde eeu gelei nadat die Christenkerk heidense gebruike in haar midde opgeneem het. Dit het spoedig so deel van die kerk geword, dat mense nie meer die waarheid van die leuen kon onderskei nie waarna ʼn heidense duisternis vir baie eeue op die kerk toegesak het. Dit staan in die geskiedenis as die Donker Eeue aangeteken omdat daar geen kerk meer was wat die lig van Christus in die duisternis kon laat skyn nie.
Die valse kerk se invloed en spoedige misleiding het die einde van die Christen kerk in Noord-Afrika beteken. Die RK het met Latyn as kerktaal volhard en verseg om inheems te raak. Gevolglik het die plaaslike bevolking slegs na die beelde, ikone en fresko’s gestaar sonder om een woord van die geheimsinnige taal van priesters te verstaan en die skape geen weiding ontvang nie soos wat Satan wou hê. Toe Islam sy verskyning maak en die taal van die plaaslike bevolking praat, het die kerk leeg en die moskees vol geloop!
Die RK is ’n subtiele vermenging van Babiloniese en Roomse afgodery. Dit het soveel heidendom in haar boesem, dat dit inspanning verg om iets eg Christelik daarin te vind. ’n Amerikaanse teoloog wat die RK se leer vir baie jare bestudeer het, het bevind dat 82 % van die kerkleer nie met die Bybel ooreenstem nie!
Die RK is soos ʼn lugspieëling in die woestyn sonder ʼn druppel lewenswater wat dorstiges se geestelike dors kan les. Dis nie ʼn kerk in die ware sin van die woord nie, maar ʼn reuse toneelspel (lug) waaruit die valse profeet aan die einde van die tyd kom (Openb.17 en 18).
Die ou Babiloniërs was almal afgodsdienaars met ʼn godsdiens wat om die as van geheimsinnige toneelspele en verborgenhede gedraai het. Priesters het mense hierin onderrig waarna hulle slaafs nagevolg is. Kandidate wat kennis van hierdie verborgenhede wou bekom, moes eers ʼn geheime drank drink wat hulle in die mag van die priesters geplaas het waarna hulle in die geheimenisse ingelei is.
Die profeet Jeremia verwys hierna as hy sê dat Babel ʼn goue beker is wat die aarde dronk en nasies rasend maak (Jer.51:7). Johannes praat in simboliese taal hiervan:
“… en sy het in haar hand ʼn goue beker gehad, vol van gruwels” (Openb. 17:4). “omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery …” (18:3).
Die heidene se begeerte na kennis van die verborgenhede het aan die Babiloniese priesters ongekende mag besorg. Hulle is as die enigste vertolkers en uitlêers van die geheimenisse geag en die enigstes wat toegelaat is om diegene wat by die verborgenhede ingelyf was, te onderrig. Sonder die priesters se hulp het die ou Babiloniërs nêrens in die lewe gekom nie.
Om by die verborgenhede ingelyf te kon bly, moes ʼn ingelyfde gereeld na ʼn priester gaan en alles in sy lewe aan hom bekend maak. Dis die oorsprong van die Roomse bieg. Die gedwonge bieg het mense in die mag van die priesters geplaas omdat die priesters alles van almal geweet het.
Die RK het sover vasgestel kon word in die stad Pergamus ontstaan. Pergamus beteken gemengde huweliken was met sy potjiekos-bewoners die hoofstad van die Romeinse provinsie Klein Asië, vandag se Turkye. Die stadspolitiek was met keiser-verering verweef om mense te beheer en burgers soos marionette aan ʼn lyntjie te hou. Die RK gaan op soortgelyke wyse te werk.
Ongelukkig beskou die meeste mense die RK as maar net nog ʼn kerk wat net so bietjie anders is, maar waarvan die lidmate ook hemel toe kan gaan. Dis nie so nie. Hierdie kerk is ʼn reuse sisteem van gekunstelde afgodery wat soos ʼn sterk seestroom mense verby die reddende genade van Jesus voer met geen geestelike weiding te vind nie!
Haar leer verskil so ingrypend van die Bybel, dat daar vir lidmate hoegenaamd geen kans op redding is nie. Haar leer van die wedergeboorte deur die doop, redding deur kerklidmaatskap, regverdiging deur goeie werke, boetedoening, die vagevuur en die aanbidding van Maria en gebede vir dooies is verfoeilike dwaalleer wat geensins in kerkgeledere geduld mag word nie..
Christus het egter sy kerk egter bewaar en op sy bepaalde tyd gelowiges soos Luther, Calvyn en Zwingli gebruik om die booshede van die RK aan die lig te bring en ’n groot kerkhervorming 503 jaar gelede te loods. Protestantisme was soos ʼn vars bries in ʼn bedompige kamer en ʼn terugkeer na die ware kerk met haar vaste geloof, geseënde eenvoud en voedsame geestelike weiding.
Nadat Protestantisme die Bybel as die hoogste kenbron in ere herstel het, het duisende mense met die RK gebreek en kort daarna die Bybel in hul eie taal ontvang. Die RK was bitter kwaad hieroor omdat sy lidmate eeue lank verbied om die Bybel te lees omdat dit hulle kwansuis sou verwar. In daardie tyd was die Bybel slegs in priesters se hande om dit aan mense moes verduidelik; presies wat die Babilonies priesters eeue tevore met hul mense gedoen het. Dis een en dieselfde stelsel!
Die RK het die Bybel in 1229 selfs op ʼn lys van verbode boeke geplaas, waar dit vir eeue lank gestaan het. Vir miljoene kerkgangers was die Bybel dus ʼn verseëlde boek. Om priesters die alleenverklaarders te maak, is mense van die saligmakende kennis van Christus beroof en massabeheer toegepas.
Protestantisme het die kerk van heidense gebruike gesuiwer, die Bybel vir die gewone mens toeganklik gemaak en kuddes laat wei. Christus het verhoed dat die ware Christendom in die stortvloed van Roomse afgodery wegspoel. Daarom deel ons hierdie terug-na-die-Bybel-ommekeer vandag saam met miljoene Protestante wêreldwyd.
Dis egter baie hartseer om te sien hoe toonaangewende Protestantse kerke toenemend gemene sake met die RK soek. Dit word ekumene genoem. Dit voed geen siel nie, maar verkneg kerke wat hul geskiedenis versmaai en hul in die dwangbuis van verbloemde heidendom tuis voel.
Mag God die Afrikaanse Protestantse Kerk hiervan bewaar!