Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie so hard vir Christus werk dat jy geen krag oor het om te bid nie. Om sterk te kan wees moet jy bid. En om te kan bid moet jy sterk wees.
TWEEDEHANDSE INLIGTING...
Gebrekkige Skrifkennis lei tot dwaalleer
Ds. A.E van den Berg
“En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand.17:11).
Inleiding
As gevolg van gebrekkige Skrifkennis word die kerk van meet af aan deur dwaalleer geteister. Gebrekkige Skrifkennis laat ʼn godsdienstige lugleegte ontstaan wat met leuens gevul word. Gevolglik moet ʼn kerk teen dwaalleer waak en nie skroom om leertug toe te pas waar nodig.
1. Voorbeeld
Mense ontvang die Woord van God dikwels verskillend. Die gelowiges in Berea (Hand.17) se ontvangs is ʼn noemenswaardige voorbeeld. Hierdie mense was ernstig oor godsdiens en predikers se woorde na die tyd aan die Skrif getoets soos Paulus s’n toe hy by geleentheid in hul sinagoge gepreek het.
Dis nodig dat prediking ondersoek word. Die leer van Christus huiwer nie vir enige navraag nie en verwelkom ondersoek want sodoende raak mense met die waarheid vertroud, kom tot bekering en ervaar geestelike verdieping.
Hoorders van evangelieprediking moet soos die mense in Berea gunstig wees om dit te ontvang maar ook gretig om dit te ondersoek. Paulus se boeiende prediking was ʼn bysaak. Al wat saak gemaak het, was of hy die waarheid gepreek het. Om dit vas te stel, het hulle die Skrif as waarheidshandleiding. gebruik.
Hierdie ondersoek het ʼn sekere karakter gehad. Hulle het tyd daarvoor ingeruim en nie sondermeer geglo wat hulle gehoor het nie. Paulus se preek het hulle harte oop en hul koppe skoon gemaak. Diegene met skoon koppe maar geslote harte vind geen aansluiting by Skrifprediking nie. Die gelowiges in Berea se koppe was skoon en hulle harte oop. Hoe ʼn mens God se Woord benader, is belangrik. Wie dit skepties benader, wil oortuig word. Wie dit soekend benader, wil dit graag glo.
Van die gelowiges in Berea word gesê dat hulle nie soos die Tessalonisense oortuig moes word nie. Hulle het op grond van hul Skrifondersoek geglo. Lukas gebruik die woord edelmoedig. Dit beteken om ʼn oop verstand te hê. Sonder kennis van die waarheid werk geen mens se verstand reg nie.
“Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Joh.17:17).
2. Gevaar
Omdat leraars deur God tot diens geroep word en hulle met sy gesag optree, word hulle deur mense hoog geag. Desondanks bly hulle sondaars wat mislei kan word om die leuen vir die waarheid aan te sien. Daarom moet lidmate waaksaam wees oor dit wat vanaf kansels verkondig word. Baie dwaalleraars het goed begin en toe die spoor byster geraak.
Blinde lojaliteit laat mense dikwels slegte besluite neem. Baie lidmate in ontspoorde kerke weet dat hul kerk dwaal maar beëindig nie hul lidmaatskap nie en kondoneer sulke dwaalleer. Blinde lojale lidmate hanteer kerke soos sommige mense mediese praktisyns hanteer. Hulle aanvaar hul kennis sonder om hul kundigheid te bevraagteken. So ook met leraars – mense skei nie die boodskapper van die boodskap nie.
Skrifpeutery en kanselmanipulasie laat die dood in die kerk se murg beland waarna net ʼn leë dop oorbly. Kerke wat die waarheid nie beskerm nie, het geen bestaansreg nie. Daarom moet lidmate noulettend toesien dat hulle leraars die waarheid van God se Woord verkondig.Predikers wat nie na God luister nie, het niks om vir mense te sê nie.
Jeremia vertel van die oneindige skade wat valse woordverkondiging aan ʼn volk doen. Die leraars van sy tyd het leuens verkondig en die straf van God oor Juda gehaal. Hulle het die Skrifte nie net met valse prediking nie, maar ook met dwaalgeskrifte besoedel:
“Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die HERE is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuen-pen van die skrywers. Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?”(Jer.8:8).
Mense het hulle egter geglo omdat hulle die Skrifte nie geken het nie. Eeue later wys Jesus op die selfde probleem:
“Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mt.22:29).
Mense het nie die moeite gedoen om hulself van die vereistes van die Skrifte te vergewis nie en alles geglo wat verkondig is. Wie met tweedehandse kennis van die woorde van God tevrede is, kan later nie meer tussen leuen en waarheid onderskei nie!
Slot
Geen kerk bestaan slegs uit gelowiges nie. Daarom kom daar van tyd tot tyd onsuiwerhede voor wat soos onkruid uitgespit moet word. Indien dit nie gedoen word nie, durf gelowiges hul lidmaatskap nie langer voortsit nie en gesonde weiding gaan soek.