Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jósafat waarsku in II Kronieke die regters van die volk teen partydigheid en "aanneming van geskenke" – omkopery. Dit sien ons deesdae elke dag in ons eie land. Calvyn verklaar indien regters iets verkeerd doen, is hulle nie alleen onregverdig teenoor die mense wat hulle wederregtelik krenk nie, hulle verag ook God. Wat word van 'n land waar die 'leiers' en regters God verag? Verwonder ons ons dan dat dit met Suid-Afrika so sleg gaan?
DIE DOOP MET DIE HEILIGE GEES
Ds A.E. van den Berg
“Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (I Kor. 12:13).
Die doop met die Heilige Gees is ʼn Bybelse gegewe waaroor dwaalleer verkondig word omdat mense nie die Bybel ken nie. Dwaalleer is die gevolg van gebrekkige Bybelkennis wat mense leuens laat glo. Jesus berispe die kerklui van sy tyd: “. Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ........” (Mt.22:29).
Alle dwaalleer is skadelik vir die geloof en ʼn bespotting van God. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” (Gal.6:7).
Een van die bekendste dwalings kom in Charismatiese kringe voor. Charismate glo dat mense met hul bekering nie die Heilige Gees ten volle ontvang nie en dat daar ná die bekering na die volle seën daarvan gestreef moet word; ’n tweede seën (secondblessing) wat verkeerdelik die doop met die Heilige Gees genoem word. Hierdie eenmalige seën plaas gelowiges op ʼn hoër geestelike vlak as diegene daarsonder. Dis ʼn dwaling!
Die Bybel sê dat gelowiges tydens bekering met die Heilige Gees gedoop word: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (I Kor.12:13).
Gelowiges het geen Bybelse opdrag om die doop met die Heilige Gees ná bekering op eie stoom te soek nie. Dis het reeds met die bekering gebeur!
Charismate glo dat toe Jesus by geleentheid op die dissipels geblaas en gesê het: “Ontvang die Heilige Gees” (Joh.20:22), hulle die Gees gedeeltelik ontvang het. Hierdie proses is glo op Pinksterdag met die uitstorting van die Gees voltooi. Dis onbybels, onwaar en gevolglik dwaalleer.
Toe Jesus op die dissipels geblaas het, was dit ʼn aanduiding dat die uitstorting van die Heilige Gees baie naby was. Daarom moes die dissipels nie Jerusalem verlaat nie, maar op die belofte van die uitstorting van die Gees wag: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ʼn ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Joh. 14:16).
Die dissipels moes geduldig op die gebeure wag: “...maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom ...” (Hand. 1:8).
In Joh. 7:39 sê Jesus dat Hy eers ten hemel moet vaar alvorens die Heilige Gees bekend gestel kon word. Gelowiges moes nie na die Heilige Gees gaan soek het nie, maar op Hom wag. En dis die norm – gelowiges moet biddend op die vervulling van die Heilige Gees wag. Dwaalgeeste wag nie; hulle soek eerder.
God het op Pinksterdag wondertekens in die tempel in Jerusalem gegee sodat almal kon weet dat die Heilige Gees sy intrek in die kerk geneem het. Hand. 2 was ʼn eenmalige gebeure en nie normatief vir die kerk nie. Dit kon nie herhaal word nie. Daarom moet gelowiges nooit bid dat die Heilige Gees weer uitgestort word nie. Dit het alreeds gebeur. Ons kan slegs om die vervulling met die Gees bid. Dis twee verskillende dinge.
Dwaalleraars gebruik Hand.8 verkeerdelik as ’n bewysplaas vir hul dwaling van ʼn tweede seën: “Hulle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus” (Hand. 8:15,16).
Hand. 8 was ’n uitsonderlike geval. Die Samaritane moes, net soos die Jode, ook aan die Heilige Gees bekend gestel word omdat die saligheid aan almal beloof is. God het egter ʼn besondere doel met hierdie gebeure in Samaria gehad. Die Jode en die Samaritane het geen gemene sake met mekaar gehad nie. Toe die Samaritane die boodskap van die verlossing in Jesus verneem, is talle bekeer.
Hoe het die Christenkerk die bekeerde Samaritane hanteer? Het die nasionale vyandskap voortgeduur? Nee, die kerk volg geen vyandige volkskeidingslyne nie; slegs volksverskeidenheidlyne. Jesus sê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh. 10:16). Families bly mos nie almal saam in een huis nie!
Die Samaritane het deur die bekering deel van die Christelike kerk geword met hul eie plekke van aanbidding – verskillende stalle; een Herder. Deur die Heilige Gees ook aan die Samaritane bekend te stel, het God getoon dat die Joodse Christene nie God se witbroodjies was nie. Hulle was bloot net van ’n ander stal.
In Hand.10 skryf Lukas oor die bekering van Cornelius, ’n Romein. Die Jode het die Romeine gehaat vir hul heerskappy oor Israel. Nadat Petrus die gesig oor die rein en onrein diere ontvang, het Cornelius hom laat roep en het hy en talle ander saam met hom tot bekering gekom en is met die Heilige Gees vervul: “En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak ...” (Hand.10:45,46).
Daar was geen verposing tussen Cornelius en die ander se bekering en vervulling met die Heilige Gees nie. Met Cornelius se bekering het God getoon dat Hy nie uitsluitlik ʼn Joodse God was nie, maar ook God van nie-Jode. Die bekendstelling van die Heilige Gees in die tempel in Jerusalem is daardie dag met Petrus se besoek aan Cornelius op ʼn kleiner skaal in Cornelius se huis in Cesarea herhaal.
Die gebeure waarvan Handelinge praat, het ʼn nuwe era in die kerkgeskiedenis ingelei nl. dié van die Heilige Gees. Die werking van die Gees word egter in die briewe van Paulus, Petrus, Johannes en Jakobus breedvoerig behandel. Nêrens word in enigeen van hierdie briewe van ʼn tweede seën melding gemaak nie.
Die doop met die Gees staan nie los van die bekering nie. Dis ʼn onlosmaaklike deel daarvan: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam ...” (I Kor. 12:13). Dit bind gelowiges tot ʼn geestelike eenheid in Christus saam wat die liggaam van Christus genoem word. Dit is ʼn heilsfeit en nie ʼn gevoelsdaad soos wat dwaalgeeste daarvan maak nie. Ons ontvang almal die Heilige Gees met ons bekering. Dis die doop met die Heilige Gees. Hoe gehoorsamer ons aan God is, hoe meer is ons vervul. Hoe ongehoorsamer, hoe minder vervuld. Ons bly egter steeds met die Gees gedoop.
Nêrens in die Bybel ontvang gelowiges ʼn opdrag om met die Heilige Gees gedoop te word nie omdat dit reeds met die bekering plaasgevind toe hulle in die liggaam van Christus gedoop is: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne, en ons is almal van een Gees deurdronge” (I Kor. 12:13). “Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van God nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Rom. 8:9).
Die NT verwys sewe maal na die doop met die Heilige Gees maar nooit as ʼn opdrag nie. Wanneer die Heilige Gees ʼn gelowige vervul, beheer Hy hom en doen hy wat God wil hê soos toe Petrus en Johannes voor die Joodse Raad verskyn het: “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Hand. 4:31).
Die vervulling met die Heilige Gees laat gelowiges die regte dinge in die lewe doen. Dit gaan nie met allerlei vreemde emosionele ervarings gepaard nie. Die Bybel sê dat gelowiges die vrug en nie die gawes van die Heilige Gees moet voortbring nie.
Om met die Gees vervul te wees, beteken dat gelowiges so moet leef, asof Jesus reg langs hulle staan. Kyk wat met Petrus gebeur het. Toe Jesus by hom was, het hy die regte dinge gedoen. Toe Jesus nie by hom was nie, doen hy die verkeerde ding en verloën Hom selfs by geleentheid.
Wie met die Heilige Gees vervul is, leef asof Jesus langs hulle loop, want Hy is langs elke gelowige! “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld...” (Mt.28:20).