Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet jy dat jy jou hele lewe kan verander deur jou houding en gesindheid te verander? Probeer dit gerus in die positiewe sin!
BESETENHEID
Ds A.E. van den Berg
“Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Joh.4:4).
Besetenheid kom van die woord besit en verwys na ʼn persoon wat nie in beheer van homself is nie, maar deur Satan beheer word. Die Bybel het talle voorbeelde van mense wat besete was en die waarnemingsimptome daarvan. Besetenheid tas soms die sintuie aan: “En terwyl hulle weggaan, bring die mense ʼn stom man wat van die duiwel besete was, na Hom toe. En nadat die duiwel uitgedryf was, het die stomme gepraat...” (Mt.9:31,32). Die bose gees het hierdie man fisies gestrem sodat hy nie kon praat nie.
Mattheus teken ʼn soortgelyke geval op: “Toe het hulle ʼn duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien” (Mt.12:22). Die bose gees in hom het hom dubbel gestrem - hy kon praat of sien nie; stom en blind.
In Mt.17 het ʼn pa sy maansieke seun vir genesing na Jesus gebring: “Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af” (:18). Dit was ʼn bekende vorm van besetenheid. Vandaar die uitdrukking: hy is met die maan gepla. Dit het skynbaar iets met die aangroei van die maan te doen gehad.
Bose geeste kan selfs kinders betrek. Toe Jesus by geleentheid in die gebied van Tirus en Sidon kom, het ʼn Griekse vrou Hom smekend om hulp genader. “Want ‘n vrou wie se dogtertjie onreine gees gehad het, het van Hom gehoor en gekom en voor sy voete neergeval.... en sy het Hom gevra om die duiwel uit haar dogtertjie uit te dryf .... En toe sy huis toe gaan, vind sy dat die duiwel uitgevaar het en dat haar dogter op die bed lê” (Mark.7:25,26,30).
Satan ontsien nie eens kerke nie. Luk.4 vertel van ʼn besetene wat in die sinagoge in Kapernaum geweldig geraas het: “En in die sinagoge was daar ʼn man met die gees van ʼn onreine duiwel.... En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! ... En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom gegaan...” (:33,35).
Satan het selfs nie die dissipelkring ontsien nie. Lukas skryf dat hy in Judas ingevaar het om Jesus te verraai (Luk.22:3). Lukas skryf in Hand.16 van ʼn besete slavin wat vir haar eienaars met waarsêery geld verdien het. Sy het kennis van dinge buite haar verstandelike bevoegdheid gehad; ʼn bewys dat Satan ook ʼn beperkte kennis van die toekoms het en aan agente bekend maak.
Uit Bybelse gegewens weet ons dat Satan ʼn mens soos ʼn huis kan betrek en abnormaal kan laat optree. Die besetene van Gadara het naak tussen die grafte gedwaal het. Bose geeste tree nie altyd alleen op nie, maar soms ook tegelyk soos in die geval van die besetene van Gadara wat weens die hoeveelheid van bose geeste in hom bo-natuurlike liggaamkragte gehad het. Daar is talle aangetekende gevalle waar skraal besetenes kettings soos gare gebreek het!
In die OT lees ons van ʼn interessante geval waar God ʼn bose gebruik het om die afvallige Saul te teister: “Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk, en ʼn bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik. Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ʼn bose gees van God verskik u” (1 Sam.16:14,15). Moet nooit vergeet dat God almagtig is nie en self bose geeste as ʼn tugroede in sy hand kan gebruik. So het Hy bv. die Assiriërs en Babiloniërs gebruik om die Bondsvolk in ballingskappe weg te voer. Hulle was instrumente in sy hand.
Besetenheid neem verskeie voorkomste aan soos bv. abnormale fisiese onreëlmatighede wat in ʼn persoonlikheidverandering teweeg bring. Dink hier aan mense met ʼn diepe neerslagtigheid, opvlieëndheid, afwykende sosiale gedrag en ook ʼn voorkennis van toekomsgebeure. Pas op vir die moderne profete! Ter selfdetyd moet daar nie ʼn duiwel agter elke bos uitgeskop word nie. Gedragsafwykings is nie ongekwalifiseerd aan besetenheid toe te skryf nie.
Benewens fisiese en emosionele onderskeidingstekens het besetenheid ook geestelike kenmerke soos bv. die weiering om te vergewe. Paulus skryf aan die Korintiërs dat Satan mense kan bedrieg om te glo dat hulle nie hoef te vergewe nie (2 Kor.2:10,11). Dis natuurlik fataal vir geestelike groei!
Satan teister mense ook met dwaalleraars om hulle van die waarheid weg te hou: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ʼn ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ʼn ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.... Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan verander hom in ʼn engel van die lig ” (2 Kor.11:3,4).
Daar is baie maniere waarop mense hul lewens vir bose geeste oop stel. Satan het bv. in Judas se lewe ingekom en hom ʼn vroeë dood laat sterf weens sy liefde vir geld. Wie met sonde volhard, nooi Satan uit om sy lewe te betrek.
Afgodsdienaars raak maklik besete omdat afgodsdiens die aanbidding van bose geeste is nie. Daar is eintlik nie so ʼni ets soos ander godsdienste nie. Daar is net een ware godsdiens nl. die Christendom. Alle ander is afgodsdienste. Buiten die Christendom is alles satanies en lei baie maklik tot besetenheid.
Pas ook op vir kultusse. Aanhangers van vreemde kultusse staan die gevaar om besete te raak soos Jim Jones in 1978 toe bykans 909 van sy volgelinge saam met hom selfmoord gepleeg het.
Buitengewone belangstellings in die okkulte is ook baie gevaarlik. Omdat dit op die gebied van die onbekende (metafisiese) lê, prikkel dit die belangstelling en kan groot geestesskade berokken. Wie Jesus volg, klee hom met sy wapenrusting (Efes.6:10-18).
Gelowiges troos hul daaraan dat Satan en sy trawante niks kan doen wat God hulle nie toelaat nie. Job is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Kan ʼn gelowige besete raak? Nee, hy kan nie. Die Heilige Gees deel nie sy blyplek met bose geeste nie! Paulus skryf aan die gemeente in Korinte dat die Heilige Gees gelowiges se lewens verseël (2 Kor.1:22; 5:5).
Daar is wel ʼn verskil tussen besetenheid en ʼn plaery deur bose geeste. Besetenheid is waar ʼn bose gees volledige beheer oor die gedagtes en/of optrede van ʼn mens het. Demoniese plaery is wanneer bose geeste mense tot sondige optredes aanspoor.
Die Bybel gee gelowiges opdrag om Satan teen te staan: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak.4:7). “Wees nugter en waaksaam, want julle teenstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof....”(1 Pet.5:8,9).
God sal nooit sy kinders wat deur die bloed van Jesus gereinig is deur ʼn onreine gees laat beheer nie. Gelowiges voer wel stryd met Satan en sy bose magte. “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Joh.4:4). Wie is in die wêreld? Die Satan en sy bose magte. Wie is in gelowiges? Die Heilige Gees. Daarom kan geen gelowige ooit besete raak nie.