Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Oumense moet ophou om hulle te verknies oor hul uurglas wat uitloop; wees liewer tot nut vir God en jou geliefdes. Jy mors kosbare tyd!
DIE ANTICHRIS 2
Ds A.E. van den Berg
“En geen wonder nie! want die Satan self verander hom in ʼn engel van die lig” (2 Kor.11:14).
Die eerste dier wat Johannes in Openb.13 sien, is die Antichris en die tweede een die valse profeet. Hy doen hom as ʼn wêreldkerkleier voor en oorreed die mensdom om die Antichris te aanbid. “En geen wonder nie! want die Satan self verander hom in ʼn engel van die lig” (2 Kor.11:14).
Die valse profeet werk so hartstogtelik met die Antichris saam dat hy selfs ʼn beeld van die Antichris laat oprig en mense dwing om dit te aanbid. Daarmee word alle formele godsdiens gestaak en afgodsdiens sal alles wees.
Die valse profeet sorg dat die saak van die Antichris deeglik uitgevoer word. Om dit te verseker, verrig hy sewe take:
- Hy oefen oppergesag op kerklike gebied uit. Soos wat Satan gesag aan die Antichris verleen, ontvang die valse profeet syne van die Antichris.
- Die valse profeet motiveer die mensdom om Satan te aanbid.
- Hy doen wondertekens om mense te mislei: “...hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan” (2 Tess.2:9).
- Die valse profeet laat ʼn beeld van die Antichris oprig waardeur die Satan indirek aanbid word.
- Hy laat hierdie beeld selfs lewendig word.
- Daarbenewens laat hy merktekens op mense aanbring wat hul lojaliteit aan die Antichris bevestig.
- Daarna pas hy ekonomiese sabotasie toe.
Die beeld wat die valse profeet van die Antichris sal laat oprig, herinner ons aan die beeld wat Nebukadneser in die dae van Daniel van homself laat oprig het. Wie die beeld aanbid het, het Nebukadneser indirek aanbid. So sal dit ook met die laaste beeld wees – Satan sal daardeur aanbid word. Die geskiedenis herhaal homself.
Soos met die Antichris, sal die valse profeet ook agente hê en kom hoofsaaklik uit die Roomse Kerk (RK). Roomse Katolisisme is ʼn skyngodsdiens wat van meet af aan die saak van Satan dien. In Openb.17:9 skets Johannes die valse profeet as ʼn bordeelhoudster wat haar besigheid op sewe heuwels bedryf. Wêreldleiers stroom na haar sooswellustige kliënte na ʼn bordeel. Rome is nie toevallig op sewe heuwels gebou nie!
Moenie die fout maak om te dink dat die RK die kerk is wat na die uitstorting van die Heilige Gees in Jerusalem ontstaan het nie. Dit is beslis nie! Oral waar die kerk gevestig is, het Satan sy kapel van misleiding laat verrys. Nadat keiser Konstantyn die Christen-geloof erken het, het die oorspronklike kerk met verloop van tyd geleidelik afgodiese praktyke in haar boesem opgeneem wat tot die vorming van die RK gelei het. Beelde van Semiramis, die Babiloniese afgodsgodin, pryk reeds so vroeg as 400nC in Roomse kerke. Sy is net ʼn nuwe naam gegee – Maria. Sy is nie die Maria van die Bybel nie!
Satan het met die RK ʼn valse godsdiens gevestig om mense van die ware geloof te vervreem en baie mense laat doodmaak. Die RK het dit as haar goddelike plig geag om die kerk van sg. ketters te suiwer terwyl sy self die grootste oortreder was! “.... Ja, daar kom ʼn uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ʼn diens aan God bewys. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie” (Joh.16:2,3).
Die groot Roomse vervolging van die Middeleeue gaan net voor die wederkoms van Jesus herhaal word. Die Antichris gaan die laaste gelowiges oneindige leed aandoen: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel...” (Dan.7:25). Die kerk-staat waaroor die Antichris gaan heers, sal op bloedvergieting floreer: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin...” (Openb.13:7)
Die valse profeet wat in die laaste dae as die wegbereider vir die Antichris optree, verskil hemelsbreed van Johannes die Doper, Jesus se eie wegbereider. Johannes is onthoof omdat hy die heiligheid van die huwelik verdedig het. Rome se verbod op huwelike vir haar kerklui en homoseksuele vergrype spot in geen onduidelike taal met die huwelik as ʼn heilige instelling van God nie!
Johannes die evangelis skryf in sy eerste Sendbrief van Jesus se genoegsame offer aan die kruis: “...en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld” (1 Joh.4:3).
Wie die genoegsaamheid van hierdie offer ontken, is een met die Antichris. En dis presies wat die RK doen. Met haar leer oor die onfeilbaarheid van Maria (1854) druk sy as’t ware Maria voor Jesus as verlosser in en ontken daarmee Jesus se genoegsame verlossingswerk aan die kruis. Die Jesus van die Bybel en die Jesus van Rome is twee verskillende persone met dieselfde naam.
Paulus skryf aan die Korintiërs wat die prooi van misleiding was: “Maar ek vrees dat, net soos wat die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne miskien so bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig ... laat julle jul dit goed geval” (2 Kor.11:3,4).
Met haar leer oor die onfeilbaarheid van die pous dwaal Rome gruwelik. Die Bybel leer dat alle mense as sondaars feilbaar is. Rome glo dat ‘n pous die reg ontvang het om die hemel vir mense oop of toe te sluit en haar kerklui die mag het om sonde te vergewe. Wat sê die Bybel? By geleentheid vra die Fariseërs vir mekaar: “Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?” (Mark.2:7).
Die valse profeet se hooftaak is om te sorg dat die Antichris wêreldwyd aanbid word: “En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid....” (Openb.13:8). Miljoene mense aanbid alreeds die pous asof hy ʼn god is! Hulle soen sy ring, buig voor hom en lê by sekere geleenthede selfs uitgestrek voor hom. Dis niks anders nie as ʼn herhaling van wat in Babilon met die aanbidding van die beeld van Nebukadneser gebeur het: “En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word” (Dan.3:6).
Die RK is in werklikheid nie ʼn kerk nie maar eerder ʼn bose godsdiensstelsel wat die pad vir die koms van die Antichris plavei. Mense verkeer onder die wanindruk dat die RK maar net nog ʼn Christelike kerk is. Dit is nie. Haar sug na politieke mag word misgekyk. Sodra kerk en staat verenig, sal haar mag nie teengestaan word nie.
Een van die RK se grondliggende leerstellings is dat sy nooit verander nie. Die Roomse stelsel het inderdaad nog nooit verander nie nl. om die kerk van Christus deur dwaalleer soveel skade as moontlik aan te rig en waar moontlik te vernietig nie. Sy het baie gesigte. As sy in die minderheid is, is sy so mak soos ʼn lam, as sy gelyke mag het, is sy so slu soos ʼn jakkals en as sy die meerderheid is, is sy so wreed soos ʼn bloeddorstige ondier.