Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Dosis gif wat jy sluk kan net vir jou, en jou net een maal vergiftig; 'n slegte boek of film kan jou intellek en jou hele nageslag s'n bly vergiftig – sorg dat jy die regte stof lees en kyk!
WRANGE VRUGTE VAN ONGELOOF
Ds A.E. vd Berg
“Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie” (Ps.14:1)
Wanneer jy in die veld stap en die spoor van ʼn wilde dier sien, weet jy dat daardie wildsoort in die omgewing is. Jy sien dit aan sy spore. Hoe jammer dat daar mense is wat die hand van God wat so duidelik op die heelal afgedruk is, nie raaksien nie, mense wat net soos ateïste God se bestaan minag.
Hulle glo dat hulle van niks afkomstig is en ná hulle dood na niks terugkeer nie. Hulle leef net vir die hier en die nou en voel benewens hulself, vir niks en niemand verantwoordelik nie. Hulle verwag niks ná die dood nie; beslis ook nie ʼn goddelike oordeel en straf vir verkeerde dade nie.
Benewens Paulus se bekende woorde aan die Korintiërs oor elkeen wat voor die regterstoel van God gaan verskyn, skryf Dawid eeue tevore: “Gee hulle na hul dade en na die boosheid van hul handelinge; gee hulle na die werk van hul hande; vergeld hulle na hulle dade” (Ps.28:4).
Die vraag is: Wat doen ateïste as hulle in nood beland en dit donker in hul lewe word? Na wie gaan hulle as verhoudings skipbreuk ly of hul gesondheid ingee? Sommige mense besef dan dat hulle in ʼn doodloopstraat is en maak ʼn ommekeer na Christus vir verlossing. Ander raak negatief, veral oor godsdiens en gaan na sielkundiges en ander raadgewers maar staan op die ou einde steeds vingeralleen!
Dis egter nie net ongelowiges wat die donker sy van die lewe ervaar nie. Gelowiges ook. Geloof is nie ʼn ongeluksvrywaringspolis nie. Gelowiges ervaar ook negatiewe dinge soos bv. die nare gevolge van landsverval, die effek van ʼn swak ekonomie op hul huishouding, onregpleging en die hoë misdaad wat ons land al jare lank soos ʼn Middeleeuse plaag teister.
Hoe verskil gelowiges se hantering van sulke trauma van dié van ongelowiges? Gelowiges het Iemand wat by hulle staan; ongelowiges staan alleen; “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe 'n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor.10:13).
Daar is niks so gerusstellend as die wete dat God met ons in alle beproewings is! Dink aan Daniel se drie vriende wat in Babel in die vuuroond beland het en niks oorgekom het nie omdat God by hulle in die vuur was!
“Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word... Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebr.4:16; 13:5).“Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Pet 5:7).
ʼn Ongelowige is ʼn dwaas. Die Hebreeuse woord vir dwaas is nabal. Dit was die naam van Abigail se brutale man in die tyd van Dawid. Maar wat is ʼn dwaas? Iemand wie se gees leeg is. Dit beteken nie dat ʼn ateïs God se skepping miskyk nie. Die dwaas van Ps.14 leef net asof daar geen God is om hom te seën of om hom te vervloek nie. Hy is sy eie god.
Gevolglik lê ʼn dwaas se probleem nie by sy verstand nie maar by sy hart. Die Bybel sê dat so ʼn persoon ʼn dwaas is oor dit wat hy in sy hart sê: “Daar is geen God nie”. Daar kom egter ʼn dag dat hy die gevolge van sy dwaasheid nie sal kan vryspring nie. “Daar het skrik hulle oorweldig, want God is by die regverdige geslag” (Ps.14:5).
Ateïste beskou godsdiens as ʼn hindernis wat mense bind wat eerder vry moet wees. Mense moet van sulke bindinge bevry word. “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps.2:1-3).
Ateïsme is die filosofie van bandeloosheid. Ateïste beskou dit as die staat se plig om die skade wat godsdiens ʼn gemeenskap berokken te beveg en die beoefening daarvan te verbied. Hulle streef na ʼn wêreldstaat met ʼn selfontwerpte godsdiens wat alle mense tot onderwerping dwing.
So ʼn staat moet mentor, onderwyser en godsdiensleiervan sy mense wees en sy polisiemag gebruik om kerke te sluit en ʼn sosialistiese vryheid te bevorder. Ouers moet bv. verbied word om hul kinders in godsdiens op te voed en alle teenstand teen sedelose gedrag soos bv. homoseksualisme strafbaar te maak.
Ateïste se strewe van ʼn sosialistiese eenheidstaat is Satan se nabootsing van die Evangelie van verlossing met die een verskil – die mens verlos homself. Dis die filosofie van die dood. Let op die onheil wat sosialisme in baie lande veroorsaak het – net in Stalin se tyd het dit meer as 60 miljoen lewens geëis.
Oral waar kommunisme gevestig is, het ellende na ʼn hoër rat verwissel. Dit het met Suid-Afrika gebeur. Ons loop daagliks onder die korrupsie van sg. Comrads deur; ʼn kommunistiese benaming wat gelowiges teen die bors stuit.
Wie leef asof daar geen God is nie, ontvang God se straf: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword ... Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid” (Rom.1:22-24).
Dwase word deur misplaaste trots verteer. Let op die gesigsuitdrukkings van sommige politici – vermetel en verwaand. Hulle glo dat hulle niks van God nodig het nie en alles wat nodig is self sal vermag. Hoe dwaas! “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Kor.4:7).
Van die grootste misdade teen die mensdom is nie deur geldgieriges gepleeg nie, maar deur dwase wat God minag. Hulle ongeloof weerspieël nie ʼn besondere intellek nie, maar eerder ʼn sondige leefwyse waarmee volhard word. Wie die fontein van die lewende water verwerp se dors word nêrens anders geles nie en word so maklik ʼn prooi van Satan!
Die wêreld is vandag ernstig oor vrede begaan en probeer dit op alle maniere bekom. Alles tevergeefs! Daar is net een vryheid: dit is ʼn gebondenheid aan ons Here Jesus. Hoe meer jy aan Hom gebonde raak, hoe vryer is jy.
Die dwaas sê in sy hart dat daar geen God is nie. Die gelowige juig weer omdat hy weet dat daar wel ʼn God is wat die mens so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun na die aarde gestuur het om deur sy dood sondaars met God te versoen. Dit alleen bring vrede in mense se lewens. Het jy hierdie vrede? Dan is jy wys. Hou dit vas totdat Jesus kom!