Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dis waar dat siekte maar min male moontlik 'n straf op jou sonde is – wat wel waar is, is dat God ernstig met jou praat deur siekte, deur die pyn wat aan jou liggaam knaag. Maak oop jou ore en jou hart en hoor wat Hy besig is om spesifiek vir joú te sê.
DRIE GOEIE-VRYDAG FOTO’S
Ds A.E. van den Berg
“En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word.” (Mt.27:31).
Die kruis van Jesus Christus staan sentraal in die geskiedenis van die mensdom. Die tragiese gebeure van die kruisiging maak gelowiges telkens baie hartseer. Desondanks verbly die hoop wat die redding daarvan gebring het elke gelowige omdat dit die verskil tussen ʼn ewige heerlikheid en ʼn ewige verdoemenis maak.
Van die kruis kan ʼn mens sê: Dis maar net ʼn stuk hout. Sommige soos bv. die Roomse Kerk verafgod dit, ander soos die Sataniste verbrand dit weer terwyl baie mense dit as ʼn amulet om die nek hang, maar selde in die hart!
Die mensdom het al alles probeer om die krag en die effek wat die kruis van Jesus verbeeld uit te wis maar kon na 2000 jaar nog nie daarin slaag nie. Mense neem wêreldwyd kennis van die kruis. Of dit Boeddhiste, Moslems of Hindoes is, hulle neem almal kennis van die kruis omdat dit aan ʼn gekruisigde Timmerman behoort wat gesê het dat Hy God op aarde is. Die kruis is nie ʼn bedrogspul nie, maar ʼn ewige werklikheid.
Baie mense hou nie daarvan dat ʼn foto van hulle geneem word nie. Foto’s herinner ʼn mens soms aan voornemens waarin jy nie geslaag het nie soos die paar kilo’s wat jy jou met Nuwejaar voorgeneem het om af te skud, maar eerder bygekry het. Foto’s herinner aan pense wat gesak het, haarlyne wat opgeskuif het, plooie wat bygekom het en ander dinge. Foto’s lieg mos nie!
Matteus wys vir ons drie foto’s van mense by die kruisiging van ons Here Jesus. Ons almal is op minstens een van hierdie foto’s. Soek na jou eie gesig tussen die aanwesiges op Golgota. Op watter een kom jy voor?
Die eerste foto vind ons in Mt.27:32 “En toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra”. Simon was ʼn algemene Joodse mansnaam. Simon van Cirene was ʼn burger en nie ʼn nuuskierige heiden nie. Hy was miskien ʼn kerkganger wat van die Verlosser geweet het wat God op sy tyd sou stuur. Hierdie foto het opsigtelik net een gesig daarop – Simon, die man wat tot by die kruis gedwing is. Sy teenwoordigheid word slegs in een sin van 14 Griekse woorde aangekondig.
Maar is Simon werklik alleen op hierdie foto? Hoeveel mense voel nie dat hulle as’t ware kerk toe gedwing word nie, mense wat op ʼn Sondag eerder op ʼn ander plek as ʼn kerk sou wou wees. Kyk na jou eie gesig. Is jy nie dalk op hierdie spesifieke foto nie?
ʼn Engelsman het by geleentheid gesê: “The few times I went to church, I became a drug addict – my mother drugged me all the way there”. Ja, sommige mense word deur gesinslede na die kruis gedwing. Ander kom net omdat hulle hul kinders by die Verbondsonderrig moet aflaai. Ná die aanneming verdwyn hulle saam met die kind! Sommige mense kom uit ʼn skuldgevoelige gewoonte kerk toe. Ander voel weer dat kerkgang hul beeld in hul gemeenskap sal poleer. Almal het egter een ding in gemeen – hulle is gedwing. So kan mense na aan die kruis maar ver van die verlossing in Christus Jesus wees!
Kyk na die tweede foto. Dis van kerkgangers en huigelaars; oppervlakkige godsdienstiges wat as’t ware die kruis aanraak, maar nie toelaat dat dit hul siele genees nie. Dis die foto van drie verskillende groepe by die kruis – die soldate, die skare en die godsdiensleiers. Al drie maak ʼn bespotting van die kruis; sommige stil terwyl ander hul verwerping van die kruis luidkeels te kenne gee.
Die soldate op die foto laat ons aan onsself dink. Ons speel ook soms speletjies aan die voet van die kruis – wedywer met mekaar en sug na aansien. Ons kom so na aan die kruis dat ons daaraan kan raak, maar ons laat nie toe dat die bloed wat daarvan afdrup ons siele genees en lewe verander nie. Die prentjie wat Matteus van die twee misdadigers weerskante van Jesus skets, is dat beide dwaas was. Net Lukas skets dat een van hulle wel deur die kruis verander is.
Let op die skare op die foto - haatdraend en spuug op Jesus. Saam met hulle is daar kerklui wat Jesus beswadder. Die kruis is vir hulle dwaasheid! Paulus skryf: “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor,1:18).
Die skynbare dwaasheid van die kruis is wyser as die slimste mens. Die ergste van hierdie twee foto’s is dat ons waarskynlik op een of ander tyd in ons lewe self op een van hulle voorgekom het!
Op die derde foto moet jy ʼn bewustelike keuse maak. Dis die enigste foto waarop jy wil verskyn wanneer Jesus weer kom! Niemand op foto een of twee is deur die kruis verander nie; allermins die kerkgangers of hul priesters; slegs die bekeerde misdadiger, die mees onwaarskynlike persoon wat vir Jesus die ewige lewe vra. Hy was oppad na die hel, maar verkry deur bekering die hemel!
Op ʼn wêreld-fototentoonstelling sou hierdie foto die minste aandag geniet het. Mense meet met ander maatstawwe as God. In God se foto-album is al sy kinders wenners. Miskien het die misdadiger langs Jesus niks van Hom geweet nie of andersins Hom gesien hoe Hy met die eenvoudiges en verworpenes van die samelewing verkeer en selfs saam met hulle geëet het. Die waarskynlikste is dat hy aan die kruis die waarheid van die Romeinse offisier se woorde besef het: “... Waarlik, Hy was die Seun van God” (:54).
Sommige mense is ongemaklik met die derde foto. Om te dink dat ʼn misdadiger en Romeinse offisier die heerlikheid van die paradys sou beleef omdat hulle meer van God se genade as die Joodse kerklui verstaan het!“.... Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God” (Mt.21:31).
Een van die moeilikste dinge vir ʼn sondaar om te begryp, is dat ʼn mens deur genade en nie deur verdienste gered word nie. Mense wil graag wette, reëls en regulasies maak om te voel dat hulle die saligheid waardig is en kan verdien. Dis in werklikheid trots. Trots hou jou in die eerste twee foto’s maar nie in die derde een nie. Die enigste mense wat op die derde een verskyn, is hulle wat besef dat hulle hulself nie kan red nie en hulle toevlug tot Jesus neem.
Op die eerste twee foto’s verskyn mense wat ʼn probleem het dat Jesus die straf vir ons sonde aan ʼn kruis gedra het. Jou sonde het op sy rekening gekom terwyl sy volmaakte lewe op jou rekening beland het. Hy het aan ʼn kruis gesterf om vir jou plek op die derde foto te maak.
Op watter een van die drie foto’s verskyn jy vandag? Is jy tussen hulle wat na die kruis gedwing word of is jy miskien saam met die spotters aan die voet van die kruis? Mag God ons almal genadig wees dat ons almal op hierdie derde foto verskyn as mense wat vergifnis van sonde deur die kruis van Jesus Christus ontvang het!