Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gedurige gebed wat opreg is sal ingekleur wees met die purperkleur van smeking – want smeking is die waarmerk van egte, gelouterde menslike weerloosheid.
Die Fariseër se woorde in die tempel in Lukas 18:11,12 was nie dié van iemand wat smekend bid nie maar van iemand wat beuel blaas en spog.
PASOP VIR GEVOELS- GODSDIENSTE!
Ds A.E. van den Berg
“...want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en hul oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).
Dwaalleer is besig om soos ʼn middeleeuse plaag deur ons land te trek en voer duisende van ons volksgenote saam. Dwaalleer en ongeloof is in werklikheid twee kouse van dieselfde materiaal en leer mense dat geestelike ervarings selfs belangriker as Bybelse waarhede is. En so verlaat duisende van ons mense hul Calvinistiese kerke vir gevoelsgodsdienste met kerke wat uit hul nate bars.
Gevoelsgodsdienste verskil wesenlik niks van kultusse nie. Dit word deur dieselfde denkwyse oorheers en vind aanklank by mense met ʼn gebrekkige geestelike onderskeidingsvermoë; almal mense wat nagelaat het om die leer van so ʼn kerk te ondersoek of dit met die Bybel ooreenstem. Indien hulle dit gedoen het, sou hulle nie by die betrokke dwaal-kerk betrokke geraak het nie!
Die manier waarop van die dwaalleraars te werk gaan, stem met die optrede van kultusleiers ooreen. Hulle word as gesante van God aanvaar wat gelowiges na iets nuuts moet lei nl. die volheid van die koninkryk van God op aarde.
Mense soek mos graag na iets nuuts en opwindends. Daarom klim mense graag op ʼn nuwe wa om geestelike hoogtes te bereik. “Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie” (Hand.17:21). Met gevoelsgodsdienste is dit eenders.
Aanhangers van dwaalleraars beskou hulself as deel van God se binnekring wat gereeld bymekaar moet kom om te hoor wat God vir hulle deur die dwaalleraars wil sê. Gevolglik smag hulle na mistieke insigte in God se weë en waarhede wat nie met Bybelstudie bekom kan word nie. God kanaliseer dit deur die prediker direk na hulle. En wat hy sê, word as die wil van God geag.
Dis vir gelowiges moeilik om dwaalgeeste te laat besin omdat daar nouliks op grond van vaste Bybelse waarhede met hulle geredeneer kan word. Hulle glo vas dat God besig is om deur hulle iets nuut op die aarde te vestig nl. ʼn geestelike leër wat sy koninkryk op aarde gaan laat verwerklik.
Gevoelsgodsdienste is nie met die eenvoudige Evangelieboodskap tevrede nie; slegs met nuwe waarhede. Soos branderplankryers wag hulle altyd vir die volgende geestelike golf. Hul byeenkomste word aan ʼn informele atmosfeer, slenterdrag en nuwerwetse musiek gekenmerk. Van stemmigheid, God se heiligheid en orde kom bitter min tereg.
Daar word wel oor God se liefde, geestelike doelwitte en groot drome gepraat, maar dis omtrent al. Daar is geen diepte nie. Hul geestelike lewe is hol van al die oppervlakheid. Hul koffieklubatmosfeer laat duisende mense aanklank by hulle vind.
Hulle prediking bestaan hoofsaaklik uit dinge wat predikers op die geestelike horison sien nader kom; versinsels wat in godsdiens-terminologie vir die waarheid opgedis word. Paulus voorspel dié behoefte aan predikers wat soos kokke die regte disse gaan voorsit: “...want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en hul oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4)
Die gevoelsgodsdienste se grootste swakpunt is hul gebrekkige Skrifondersoek. Die voorbeeld van die toewyding van die gelowiges in Berea in Hand.17 moet elke gelowige se erns wees. Hierdie gelowiges het die Skrif daagliks ondersoek om vas te stel of dit wat Paulus gepreek het, daarmee ooreen gestem het. Vers 11 noem hulle edelmoediger weens hul liefde vir en toewyding aan die Woord van God. Paulus het dit verwelkom. En so ook elke suiwer kerk.
Mense wat die gevoelsgodsdienste verlaat, getuig almal van hul nuutgevonde liefde vir God se Woord en kennis van die waarheid. Die Bybel word vir hulle weer lewendig omdat Skrifkennis die enigste manier is om God te leer ken.
Gelowiges het ʼn opdrag om dwaalleer daadwerklik teen te staan: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh.4:1). Gelowiges durf dwaalleer nie gelate aanvaar nie.
Alle leer moet aan die Skrif getoets en valse leer aan die kaak gestel word: “Elkeen wat ʼn oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie ... As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie” (2 Joh.9,10).
Die Bybel praat in 1 Kor.12:10 van die onderskeiding van die geeste as ʼn gawe van die Heilige Gees. Die gebrek hieraan is een van die groot redes vir die onrusbarende toename in dwaalleraars. Onthou: Satan beteken teenstander in Hebreeus en is dwaalkerke ʼn etenstafel waarby hy graag aansit en eet.
Baie mense wat by dwaalkerke betrokke is, het betrokke geraak omdat hulle nie vir hulself dink nie maar eerder volg. Predikers sê net wat hulle wil solank as wat dit met ʼn breë glimlag gedoen word en liefdevol klink. Min aanhangers sal glo dat die glimlaggende, welsprekende, liefdevolle persoon op die kansel ʼn dwaalleraar is! Sodra die toewyding aan ʼn leier die waarheid van die Bybel verdring, is dit nie meer ʼn kerk nie maar ʼn kultus soos wat al baie gebeur.
Gevoelsgodsdienste het sekere kenmerke waarvan geestelike snobisme een van die opvallendste en die wortel van misleiding is. Agter sulke elite geestelike gedrag skuil daar dikwels ʼn valsheid. Sodra mense voorgee om op hoër geestelike vlakke as ander mense te verkeer, brand die gevaarligte!
ʼn Verdere gevaarteken is om die Bybel vir geestelike ervarings opsy te skuif. Dit word ʼn geval van: “Bêre jou Bybel. God is besig om nuwe dinge te doen. Spaar jou verstand en moenie verder dink nie. Spring, God sal jou nie laat val nie”. Moet nooit na God se wil buite sy Woord soek nie. Toets prediking en leer aan die Bybel soos die gelowiges in Berea. Dwaalleer is juis die gevolg van mense wat na die waarheid buite God se Woord soek!
Wees versigtig vir mense met ʼn ongesonde belangstelling in geestelike sake wat nie sentraal in die Bybel is nie. Valse kennis is gevaarliker as dwaasheid. Gevoelsgodsdienste trek graag mense se aandag van die sentrale temas van die Bybel af weg. Te oordeel aan hul leerstellings, geskrifte en profetiese boodskappe is rand-temas aan die orde van die dag. “Die regverdige vind sy weide uit, maar die weg van die goddelose laat hulle dwaal” (Spr.12:26).
Wie nie die waarheid verkondig nie, is nie ʼn dienskneg van God nie, maar wel ʼn werktuig van Satan. Dwaalleraars spot in inderwaarheid spot met God. Paulus waarsku: “ Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7).
Dwaallering besorg niemand die ewige heerlikheid nie. “ ... Altyd dwaal hulle met die hart. Maar hulle het My wee nie leer ken nie, sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie” (Heb.3:10,11).
Ons het ʼn verpligting teenoor God om die waarheid te laat seëvier. Wat staan ons te doen as iemand nie wil luister nie? “Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal.1:8).