Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Debatteer jy maar, ek sal glo. Redeneer jy maar, ek sal soos Paulus bewonder en berus.
DIE NOOD AAN SUIWER SKRIF-PREDIKING
Ds A.E. van den Berg
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet,1:19).
As God Hom nie aan die mens bekend gemaak het nie, sou ons niks van Hom geweet het nie. Hy maak Hom op twee maniere bekend: deur die natuur en deur die Bybel. Die Bybel is die belangrikste en al die boeke daarvan is deur mense geskryf wat deur die Heilige Gees geïnspireer was. Om die boodskap daarvan te verstaan, gebruik God predikers. Eerstens om verlorenes tot bekering op te roep en tweedens om gelowiges se geloof te versterk.
Daarvoor is prediking onontbeerlik. Paulus skryf: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie” (Rom.10:14).
Prediking skep 'n ontmoetingsgeleentheid met God om gelowiges dieper insig in Bybelse waarhede te gee. Swak prediking neutraliseer dit. Sulke predikers is soos dokters wat met pasiënte oor hul gesondheid praat maar sonder 'n voorskrif huistoe stuur.
Skrifgetroue prediking is van onskatbare waarde. Dit versterk die geloof en leer gelowiges onder andere om die waarheid van die leuen te onderskei: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim 3:16.17).
Leraars moet nooit aanvaar dat hul lidmate met alle Bybelse heilsfeite vertroud is nie. Dit bly leraars se voorreg om die ou-ou tyding van die verlossing in Jesus so eenvoudig en duidelik te bring dat selfs kinders dit verstaan.
Predikers praat met God se gesag met hul lidmate. Wie dinge strydig met die waarheid van die Bybel preek, eien God se gesag vir homself toe en skaad die werk van God wat die Bybel as onderrig-instrument vir geloof gee: “...want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Pet.1:23).
Baie mense gaan vandag nie meer kerk toe nie – nie dat hulle 'n hekel aan kerkgang as sulks het nie, maar soms aan die dwaalleer wat vanaf kansels verkondig word. God haat dit: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie....” (Gal.6:7). Prediking van Bybelse waarhede is God se skakeling met die mens. As dit ontbreek, is prediking niks werd nie en selfs skadelik vir die siel.
Ongelukkig het Skrifgetroue prediking vandag skaars geword omdat baie kerke in oppervlakkigheid deurstrengel geraak het – 'n kilometer breed maar slegs 'n sentimeter diep. Sedelike sake, politiek, mense-verhoudings en godsdienstige tierlantyntjies met min geestelike kilojoules word aan lidmate opgedis.
Geen prediker kan op sy eie krag 'n geseënde bediening hê nie. As hy nie sy afhanklikheid van God ervaar nie, misluk sy bediening. 'n Verlies aan roepingsbewustheid gee dan aanleiding tot kansel-vermaak.
Luther het hom destyds juis ten doel gestel om prediking se regmatige plek in die erediens te herstel en het met die Hervorming onder andere oorlog teen die Roomse karikatuur van aanbidding verklaar. Vandag omhels talle hoofstroomkerke erediens-gebruike wat onbeskaamd Rooms is.
Eredienste word dikwels met laser-ligte, video grepe en dramas opgekikker wat by lidmate geen behoefte meer aan die suiwer Skrif-prediking van ouds veroorsaak. Hulle soek net kansel-vermaak. “Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Hebr.4:2).
Daar is geen alternatief vir ware aanbidding nie. 'n Groter orkes, moderne musiek en soetsappige, sentimentele liedjies voed geen geloof nie; alleenlik Skrifgetroue prediking en 'n heilige orde in eredienste.
Ongelukkig is baie leraars so behep met die tydsgees, dat hulle soos die wêreld dink en selfs sekere Skrifgedeeltes omseil wat aanstoot kan gee. Rom.1 is 'n voorbeeld hiervan waar God homoseksualisme sterk veroordeel maar deur sekere kerke ontsondig is en sodomiete verwelkom, selfs as leraars!
In 2019 verskyn daar 'n skokkende berig in Die Kerkbode. Ene Louis van der Riet, 'n homoseksuele man wat ook met 'n man getroud is, is in een van Kuilsrivier se NG Kerke as leraar bevestig. Die berig lui dat geskiedenis daarmee gemaak is; 'n meesterstuk vir Satan maar 'n gruwel in God se oog!
Prediking moet slegs deur 'n eerbare, gelowige man geskied en alleenlik op die Bybel gegrond wees. Dit as sulks gee gelowiges die versekering dat God met hulle praat. Daarom is en bly Woord-gesag 'n prediker se hoogste gesag. Geen prediker durf sy amp-gesag prysgee om mense ter wille te wees nie. Daarsonder staan 'n prediker geestelik naak en het niks om vir sy gemeente te sê nie.
God roep deur die eeue predikers tot sy diens om Bybelse waarhede aan mense te verduidelik sodat hulle dit in hul lewe kan toepas. Ware gelowiges hunker daarna. Luister hoe koning Dawid na 'n erediens verlang toe hy tydens 'n burgerlike opstand Jerusalem noodgedwonge moes verlaat:
“Soos 'n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn? My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God ? Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof — 'n feesvierende menigte! (Ps.42)
Let ook op die terugkerende bondsvolk se hunkering na prediking: “En Esra het die boek oopgemaak voor die oë van die hele volk.... en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan” (Neh 8:6). Nadat die Wet voorgelees is, het Esra dit verduidelik. Hy het nie 'n drama daarvan gemaak nie en God se Woord eenvoudig verduidelik soos wat dit by Skrifgetroue prediking pas.
Wat 'n geseënde geestelike honger was daar nie destyds na die Woord van God nie. Wat het vandag van die honger na Skrifgetroue prediking geword? Dit het in baie kerke basies verdwyn. Mag God ons volk genadig wees en 'n ommekeer op ons volk se kansels bring!