Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bekerings wat nie hou nie, was nooit bekerings nie, en is emosie en soos die saad van die saaier wat opgekom en gou verwelk het. Ware bekerings hou stand!
NG KERK VERWELKOM LGBTQ (lesbians, gays, bisexuals, transgenders and queers)
NA WIE SE STEM LUISTER DIE NG KERK?
Ds. A.E van den Berg
In die tyd van Jesaja het Juda geestelik verval en ten spyte van die profeet se oproepe tot bekering geen ommekeer gemaak nie en God se straf op hulself gehaal. Vandaar Jesaja se vraag: ” Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank” (Jes.1:5).
Juda se geestelike verval het by 'n kwynende sonde-besef begin wat mense blind vir sondes en doof vir die waarheid maak. Die NG Kerk is 'n sprekende voorbeeld hiervan. Dit was baie lank 'n behoudende geestelike bastion vir die Boerevolk, maar vandag nie meer nie. Toe liberale teologiese sienings oor seksualiteit en gevolglike ongehoorsaamheid aan die Woord van God 'n vastrapplek daarin verkry het, was die dood in die pot en verdeeldheid onafwendbaar. Daarna het talle leraars en duisende lidmate die kerk sonder gewetenswroeging verlaat.
Die verval in die NG Kerk het met die beïnvloeding deur lidmate met afwykende seksuele gedrag begin. Dit het spoedig daartoe gelei dat selfde-geslag-verhoudings en homoseksualisme “ontsondig” is. Mense met afwykende seksuele gedrag het verwelkomende ruimtes in die NG Kerk gevind.
Die jongste verwikkeling in dié verband is dat die ruimte binnekort deur 'n taakspan van 12 tot 15 lede geskep gaan word om LGBTQ-mense (“people and individuals who are lesbian, gay, bisexual, transgender or queer”) in die NG Kerk tuis te laat voel. Die taakspan gaan uit predikante, gemeentelede en kundiges in pastorale werk asook voornemende huweliksbevestigers saamgestel word.
Die NG Kerk glo dat geloof en seksualiteit nie twee aparte wêrelde is nie en dat dit tyd is om van uitgediende grense af te sien en nuwe weë van saamwees te skep. Die taakspan wil gemeentes wat wil groei, help om die inklusiwiteit (“vasgelopenheid”) van die verlede met 'n vars benadering af te skud.
Die blootstelling aan LGBTQ is veral vir jong kinders baie gevaarlik. Die New York Post van 24 Junie 2023 berig oor 'n New York Drag Queen March waar die booswigte “We’re here, we’re queer, we’re coming for your children.” herhaaldelik gesing het.
Hulle teiken kinders om anders oor LGBTQ te dink en as 'n alternatiewe erotiese leefstyl te aanvaar. Enkele jare gelede het die San Francisco Gay Men’s Chorus 'n video vrygestel waarin 'n lied met die refrein;“We’ll convert your children. Happens bit by bit, quietly and subtly, you’ll barely notice it.” ook telkens gesing is.
Gelowiges durf nooit 'n leefwyse wat in stryd met die Bybel is, aanvaar nie. Ook nie kerke nie! Kerke is juis geroepe om booshede teen te staan. Vandag verander booshede kerke! God se Woord is duidelik: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en volmaakte wil van God is.” (Rom.12:2).
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? (2 Kor.6:14,15).
Dis tragies dat kerke hul willens en wetens deur die wêreld in 'n bose gietstuk laat indruk en gevolglik 'n geestelike duisternis op hulle laat toesak. Is kerke dan nie veronderstel om lig in 'n donker wêreld te wees nie? Paulus skryf: “...sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Fil 2:15).
Kennis van die Bybel stel ons in staat om die waarheid van leuens te onderskei en Jesus sodoende waarlik lief te hê. “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15). Daarom kan gelowiges nooit vrede met afwykings van God se oorspronklike plan met die mens maak nie. God se plan met die mens is duidelik: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis......En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen.1:26,27). Man en vrou is tesame draers van die beeld van God.
Afwykings van God se oorspronklike plan word gestraf. Gen.19 vertel die verhaal van die verwoesting van Sodom en Gomorra (Gen19) as gevolg van so 'n afwyking – homoseksualisme. Ongelukkig rig baie mense hul lewenswaardes volgens dit wat hul gemeenskap en kultuur aanvaar, in. Dit kan gevaarlik wees,“Wie in sy opregtheid wandel, vrees die HERE; maar hy wat verkeerd is in sy weë, verag Hom” (Spr.14:2),
Die Bybel spel vir die mens God se bepaling van sy lewensbeginsels duidelik uit. Hy wil hê dat mense vasstaande etiese standaarde handhaaf. Levitikus se heiligheidsvoorskrifte geld vir alle tye. Die LGBTQ mense se leefwyse skreeu daarteen. Paulus skryf: “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer —hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word .....Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Rom.1:24-26).
Met die woorde“die natuurlike verkeer met die vrou” verwys hy na God se oorspronklike plan met die mens. Wie hiervan afwyk, is uit pas met God. Daarom laat die Bybel geen ruimte vir die aanvaarding van afwykende seksuele gedrag soos deur die NG Kerk en ander ontspoorde kerke aanvaar word nie.
“Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos 'n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see” (Jes.48:18).