Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het 'n baie waar uitdrukking gehad dat 'n man van weining woorde se solder te klein is vir 'n klomp kaf. Daarby moet ons onthou dat iemand wat loop en skinder en laster, baie meer oor homself daarme sê as oor sy slagoffer...
NUWEJAARSBOODSKAP 2026
RUIM DIE ROMMEL OP
Ds A.E. van den Berg
“En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand” (Neh.1:3).
Baie mense se nuwejaar begin met mooi voornemens. Sulke voornemens word gewoonlik baie gou verbreek omdat dit nie volgehou word nie. Dis soos ’n baba wat gebore maar nie gevoed word nie. As goeie voornemens nie gevoed word nie, gaan dit dood; - veral geestelike voornemens. Een van die mooiste geestelike voornemens word van Josua in Jos.24:15: opgeteken:“...maar ek en my huis, ons sal die Here dien” .
Daar is geen beter voorneme as ’n geestelike voorneme nie omdat al die ander in eie krag onderneem word. Met geestelike voornemens vra jy God om jou daarmee te help. Net met sy krag kan dit slaag. “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,” (Efes.3:20). Sonde maak van mense se lewens puinhope. Net God kan 'n mens help om dit te herbou. Hy weet wat in die herboude ou-struktuur moet ingaan om dit sterk te maak, ja, Hy ken die herbou-proses. Al sy werke getuig van voltooiing. Let op die skepping; alles wat Hy begin het, is voltooi. Daar is niks half voltooi of stukkend gelaat nie.
Sonde het die wêreld egter stukkend gemaak en ons raak gereeld met ’n stukkende wêreld. gefrustreerd So ook met ons eie stukkendwees. Dan sê die Satan: “Los maar jou mooi voorneme en aanvaar dat jy nooit heel sal word nie”. En ons luister soos ’n Eva na hom en sê: “Ja, ou Niek, jy is so reg!” en weg is ons voornemens!
God het ’n plan met jou vir hierdie jaar. Hy wil jou help om jou geestelike mure te herbou sodat jy geestelik sterk word vir die finale aanslag van Satan wat op hande is. Jesus se wederkoms is naby en die einde in sig. Hoe lyk jou geestelike mure aan die begin van hierdie nuwe jaar? Kan jy die vyand trotseer of het dit opknapping nodig?
Die herbou van geestelike mure gaan dikwels met baie teenstand gepaard. Satan los 'n gelowige nie uit nie. Hy stuur selfs mense om jou te ontmoedig; soms uit oorde wat jy dit die minste verwag.
Let op iemand wat ’n geestelike voorneme gehad en dit met die hulp van God laat verwerklik het – die held Nehemia. Na die val van die Babiloniese ryk, is die ballinge toegelaat om onder leiding van Nehemia na Jerusalem terug te keer. Sy geloof in God en liefde vir sy volk het van hom 'n uitnemende volksleier gemaak. Dit was egter nie sonder stryd nie.
Toe die ballinge terugkeer, was hulle ontsteld oor Jerusalem se mure wat afgebreek en as bou-rommel rondgelê het. God het in Nehemia ’n begeerte laat ontvlam om hierdie mure op te bou; iets wat tot ’n nuwe nasionale gevoel onder die Jode sou lei en hulle weer saamsnoer. Die Samaritane, ’n basternasie, wat in daardie geweste gewoon het, wou dit verhoed omdat dit hulle sou uitsluit. Daarom het hulle die Jode die stryd aangesê. Maar ten spyte van teenstand is die mure in 52 dae se tyd herbou. Maar, dis hoe Satan werk – hy spot met geloof en eerbare werke. Hy wil hê dat jy jou voornemens moet laat vaar. Satan haat mense wat geestelik heel is. Hy wil hê dat almal, net soos hy, stukkend moet wees. As Nehemia destyds na hom geluister het, was dit neusie verby met sy voorneme. Die les wat ons hieruit leer, is dat as jy na Satan begin luister, sneuwel jou voornemens!
Gevolglik is gelowiges in ’n daaglikse geestelike stryd gewikkel. Hulle is immers soldate: “Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir diens gewerf het” (2 Tim.2:2,3). Wat bedoel Paulus met die werksaamhede van die lewensonderhoud ? Om nie toe te laat dat die sorge van die lewe jou geestelike spoed breek nie. Gelowiges laat dit aan God oor. Wie egter daarin verstrengel raak, sien die vyand nie kom nie.
Kommer oor die t oekoms is een van die groot redes waarom voornemens misluk. God wil hê dat gelowiges sterk en moedig in sy diens staan. Hy het menigmaal vir Josua gesê om sterk en moedig te wees. Josua het die vyand die stryd aangesê en oorwin omdat hy nie toegelaat het dat vrees vir die toekoms hom oorweldig nie, selfs nie toe die verspieders terugkeer en sê dat die Kanaäniete te veel en hul stede te sterk is nie. En God het Josua die beloofde land gegee. Vrees vir die toekoms verlam en skeur mense uitmekaar en verdeel ’n volk.
Wat verwag God van ons hierdie jaar? Om soos goeie soldate slaggereed te wees en die res aan Hom oor te laat. En as die vyand ons bespot? Skel ons terug? Nee, ons doen wat Nehemia gedoen het, ons bid:”Hoor, onse God, dat ons ’n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof” (Neh.4:4). Nehemia het nie toegelaat dat die vyand se spot en teenstand sy geestelike spoed breek nie. Hy het onmiddellik na die Bron van sy krag en hulp gegaan – na God.
Dis vandag nog net so waar. As vyande jou voorneme bespot, bid jy dat God self met hulle sal afreken. Paulus skryf:.”Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld na sy werke! “ (2 Tim 4:14).
Ons laat so maklik toe dat die vyand ons tot stilstand bring. En as jy eers gaan staan, is dit ikabod met voorneme. Wees eerder bly as die vyand jou aanval. Dit sê dat jy iets vir God doen. As vyande jou nie aanval nie, beteken dit dat jy nie 'n bedreiging vir hulle is nie en skort daar moontlik iets met jou geloof.
Die Jode se voorneme om Jerusalem se mure te herbou, het van God gekom. Nehemia het selfs ’n wag op die been gebring om hulle dag en nag teen aanvalle te waarsku. Toe die Samaritane verneem dat die Jode uitsonderlike vordering met die mure maak, het hulle al hoe meer dreigend geraak. Dit het sommige van die Jode so ontsenu, dat hulle vreesbevange ophou bou het.
Ontmoediging is Satan se kos. Daarom moet gelowiges se oë op Jesus die Leidsman gevestig bly. Nehemia is nie ontmoedig nie, maar het sy volk bly bemoedig. God was vir hulle is, wie kon teen hulle wees? Hy is baie groter as die vyand. Let op die wisselwerking – God het Nehemia bemoedig en Nehemia sy volk. En die gevolg?
“En toe ons vyande hoor dat dit aan ons bekend geword het en God hulle plan verydel het, het ons almal teruggegaan na die muur, elkeen na sy werk. En van dié dag af was die helfte van my mense besig met die werk en die ander helfte het die spiese en skilde en die boë en die pantsers gehou, terwyl die owerstes agter die hele huis van Juda gestaan het. Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen, dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou” (Neh 4:15-17).
Hierdie verhaal leer gelowiges sommer baie van geestelike oorlogvoering. Moenie dink dat Satan ooit ophou om gelowiges aan te val nie. Hy wil dat ons ophou bou aan God se koninkryk en sodoende ons geestelike voornemens versaak. Daarom moet ons, as die vyand aanval, die Woord van God soos ’n wapen in ons hart dra. Onthou, jy veg nie alleen nie, God veg vir jou! “… onse God sal vir ons stry” (Neh4:20).