Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hulle wat nie bid wanneer die son skyn nie, sal ook nie weet hoe om te bid wanneer die wolke saampak nie. As jy in goeie tye getrou in jou verhouding met God wandel, sal die wolke nooit so dik pak dat jy nie sy Ligstrale daardeur sal kan sien nie.
NG KERK BELY EN ROU WEER…
…Hierdie keer dalk ten goede
Toe die NG Kerk destyds in berou bely het dat apartheid ‘n sonde was en toe sommer die daad by die woord gevoeg het om soveel onskriftuurlike prosesse soos “gay” predikante op die kansel toe te laat en veel ander godslasterlike dinge in te stel, het talle mense gesien hoe hulle al dieper in die gat van sonde val.
Tans is daar meer as 100 gemeentes wat hieroor rou en ‘n amptelike status van dolering verteenwoordig. Dit is verblydend om te sien dat daar werklik duisende lidmate is wat nie met die verval wil saamgaan nie; daarom is die volgende rouklag opgestel.
• As Bruid van Christus erken en bely ons dat ons deur versuim, eie belang en apatie teenoor die Here en teenoor mekaar gesondig het (Num 32:23); en
• onderneem ons om as deel van ons interne radikale reformasie-proses op ‘n beplande maar doelgerigte wyse en o.l.v. die Heilige Gees so gou doenlik aandag te gee aan wat verkeerd is in die NG Kerk.
Wat presies is verkeerd met die NG Kerk?
Sekerlik die hele Algemene Sinode (AS) wat besluite namens gemeentes neem wat onskriftuurlik tot nadeel van die reeds rouende gemeentes strek. Die lidmate dra nie kennis van al die besluite nie want die AS verswyg hulle onchristelike besluitneming sover moontlik. Maar nou is daar ‘n punt bereik waar sommige gemeentes asook die Kairos Netwerk genoeg van die verval van die NG Kerk verduur en ‘n skriftelike verslag opgestel het oor waarom hulle nie meer aan die AS verbind kan wees nie en wat hulle beplan om daarvan los te maak.
Die plan op die tafel is: Die Koinonia Sinode [KS], die beplande sinode vir Skrifgetroue NG gemeentes in die plek van die Algemene Sinode.
Die redes vir hulle losmaking word in hulle verslag hier puntsgewys uitgewys:
Die AS wat jare lank as oorkoepelende kerkverband vir die NG Kerke gedien het, het ongelukkig die afgelope paar jaar op die glybaan van geestelike afvalligheid beland wat maak dat sy tans nie meer kwalifiseer om te dien as oorkoepelende verband vir die verskeie NG Kerke nie.
- Aangesien die AS deur verskeie besluite waarin die gesag en betroubaarheid van die Bybel in die gedrang kom, nie meer die spreekbuis vir die NG Kerke se geloof en belydenis is en kan wees nie; en
- aangesien die AS verskeie keuses gemaak het, soos bv. hul droom vir ‘n getransformeerde kerk in 2030 wat in stryd is met ons gereformeerde teologie en amptelike belydenisse, en die AS dus nie meer ’n sinode van gereformeerde kerke sal wees nie; en
- aangesien die AS haar rug gedraai het op suiwer gereformeerde teologiese opleiding vir ons voornemende leraars. Ten spyte van talle versekerings dat alles in orde is, word die realiteit weerspieël met menigte voorbeelde soos die verklaring van die dekaan van Tukkies in Augustus 2021 oor hulle nuwe kurrikulum: “We are consciously giving more attention to black theology, African Christian theology, liberation theology, feminist theology, womanist theology, urban theology, etc. The faculty is consciously seeking to move from a reformed confessional faculty to an ecumenical one, embracing a variety of christian denominations and traditions. Currently we have more than 33 different denominations participating in the faculty…”; en
- aangesien die getalle van studente wat teologie wil gaan studeer verder ‘n bron van uiterste kommer geword het en alreeds die gebrekkige vertroue in bestaande teologiese instellings van die NG Kerk bevestig; en
- aangesien verskeie gereformeerde kerke reeds besluit het, of dit sterk oorweeg om alle bande met die NG Kerk te verbreek weens die AS se on-Skriftuurlike besluite. (So het die CRCA [Christian Reformed Churches of Australia] reeds in Mei 2022 besluit om alle bande met die NG kerk te verbreek. Die meeste NGK- lidmate is nie eers bewus van die besluit nie aangesien die AS hulle nie hieroor ingelig het nie); en
- aangesien die AS alle gravamina en beswaarskrifte teen hul liberale Skrifhantering en besluite doodeenvoudig ignoreer; en
- aangesien die AS, die ASM en die ATR die vele herhaalde waarskuwings oor die krisis in die kerk, sowel as die oproepe tot bekering en uitnodigings tot gesprek wat Kairos Netwerk en ander behoudende lidmate persoonlik en publiek tot hulle rig, deurgaans verwerp sonder om enige noemenswaardige aandag daaraan te skenk; en
- aangesien daar reeds meer as 100 NG gemeentes is wat besluit het om amptelik te doleer oor die rigting waarin die AS die NG Kerk stuur; en
- aangesien daar ten spyte van etlike miljoene rande wat die AS se omstrede besluite die kerk al gekos het, die duisende lidmate wat ons reeds verloor het, asook die negatiewe publisiteit vir die kerk na buite daar by die AS en sy strukture, nog geen teken van berou, skuldbelydenis en gewilligheid tot bekering te bespeur is nie; en
- aangesien die ASM in pogings om hulself te regverdig onbeskaamd valse en ongekontroleerde publieke verklarings uitreik wat gerig is teen Kairos Netwerk en ander behoudende lidmate; en
- aangesien die ASM hulle aanvanklike beloftes om KN in amptelike gesprekke te betrek oor die hantering van die krisis in die kerk, openlik verbreek met ongeloofwaardige verskonings dat KN (wat baie NG gemeentes verteenwoordig) volgens hulle nie locus standi het vir sulke gesprekke nie. Intussen skroom hulle nie om saam met gay-groepe waarvan vele nie eers NG lidmate is nie, en wat nog minder kan aanspraak maak op locus standi, vergaderings, werkswinkels, en konferensies te reël en hulle by amptelike gesprekke te betrek nie; en
- aangesien die lidmate en gemeentes van die NG Kerk en ander gereformeerde kerke wat die landswye byeenkoms van die Familie van Gereformeerde Gemeentes (FGG) in Julie 2022 bygewoon het dit eens is dat die rakleeftyd van die AS verby is; en
- aangesien die huidige leierskap van die AS hulleself reeds irrelevant gemaak het deur hul totale onderskatting van die huidige krisis in die kerk en hul pligsversuim in die verband; en
- aangesien die KN tevergeefs reeds byna alle beskikbare kerklike kanale uitgeput het om die krisis aan te spreek, en ons nie langer kan wag vir die bestaande strukture om die krisis aan te spreek nie, het ’n groeiende behoefte by behoudende en dolerende gemeentes van die NG Kerk ontwikkel vir ’n oorkoepelende sinode waar ons weer waarlik een kan wees in liefde en in waarheid. Gemeentes smag na ’n ware “sun hodos” (Grieks) waar gemeentes weer waarlik op dieselfde pad is en saamloop na dieselfde einddoel. Ten einde die eenheid van die kerk te bewaar en seker te maak dat ons gemeentes nie heeltemal uitmekaar spat nie, is ons verplig om ’n alternatiewe kerkverband te soek waar gemeentes tuis kan wees in waarheid en in liefde.
Ons berig later oor hoe die nuwe Sinode aangepak sal word.