Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons Afrikanervolkie kan vandag ook soos in Psalm 80 by ons hemelse Vader pleit: "U het aan ons trane vir kos gegee en ons 'n beker vol verdriet laat drink. Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!"
ADINA SE BRIEWE (1)
Dr JP Botha
Adina se briewe is tussen die jare 33 en 36 n.C. vanuit Jerusalem geskryf aan haar pa in Alexandrië. Sy was 'n ooggetuie van Jesus se doop in die Jordaan en ook van baie van die wonderwerke wat Hy veral in die omgewing van die Galilese See gedoen het.
Sy was by Jesus se kruisiging teenwoordig en het sy opstanding beleef, sowel as sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees.
In al haar briewe aan haar pa, 'n ortodokse rabbi aan die Universiteit van Alexandrië, pleit sy dat hy tog ook tot geloof moet kom in Jesus as die Messias en die Seun van God. Haar gebede is uiteindelik verhoor.
Van Alexandrië na Jerusalem
Gedurende die diaspora het daar 'n aansienlike aantal Jode in Alexandrië beland. Hierdie belangrike Egiptiese hawestad en kultuursentrum is deur Alexander die Grote gestig en deur die Ptolomeërs verder uitgebou. Ptolomeus I het die aantal Jode in die stad nog verder vergroot deur in die derde eeu voor Christus 'n groot aantal van hulle uit Jerusalem weg te voer en in hierdie vooruitstrewende stad te vestig. Hulle het naderhand twee vyfdes van die totale bevolking van Alexandrië uitgemaak.
Daar was maar voortdurend wrywing tussen die Jode en die oorwegend Griekse bevolking van die stad, maar gelukkig het dit jarelank nie tot gewelddadige opstande en botsings gelei nie. Aan die einde van die Ptolomeërdinastie en die oorname van die beheer oor die stad deur die Romeine, het Rome daarin geslaag om nog lank die vrede tussen die Alexandrynse Jode en die Griekse bevolking te handhaaf.Alexandrië het vir die Romeinse wêreld 'n baie belangrike sentrale handelsentrum weens sy ligging aan die Middellandse See geword en sy universiteit en groot biblioteek het wêreldbekendheid verwerf. Een van die leraars en rabbi's van hierdie geleerde instituut was 'n sekere skrifgeleerde, rabbi Efraim, wat sy opleiding by die Sanhedrin in Jerusalem gehad het. Hier het hy, saam met die ander ortodokse Jode, 'n ruim aandeel gehad in die totstandkoming van 'n onafhanklike Alexandrynse sinagoge in Jerusalem. Só verbete ortodoks en nougeset in die handhawing van die Joodse wettiese godsdiens was die Jode in Alexandrië, dat hulle 'n eie aanbiddingsplek in Jerusalem opgerig het, omdat hulle hul volksgenote in Jerusalem as te liberaal en afwykend beskou het. Maar hierdie Alexandrynse Jode kan met reg spog oor die feit dat 70 van hul manne daarin geslaag het om die Ou Testament in Grieks te vertaal, wat die Septuagint genoem is.
Rabbi Efraim het naby die universiteit in 'n imposante huis gewoon, met sy dogter Adina. Sy was in die jaar 33 n.C. 18 jaar oud. Haar moeder het hulle agt jaar vantevore ontval. Haar vader se nougesette aandag het gedurende hierdie jare vergoed vir die verlies van die liefdevolle versorging van haar moeder. In plaas van om in die kombuis soos ander vroue van haar tyd maar meestal met voedselvoorbereiding besig te wees, het sy urelank saam met haar pa tussen sy boekrolle deurgebring.
Rabbi Efraim het nie omgegee om sy geliefde dogter nougeset te onderrig in die grondslae van die Joodse geloof nie. Op Sondae kon sy natuurlik nie saam met hom in die hoofsaal van die sinagoge aan die godsdienstige verrigtinge deelneem nie, maar êrens aan die agterkant van die gebou was daar darem 'n vertrek waar die vroue feitlik deur tralies heen kon waarneem wat daar by die mans plaasgevind het. Maar tuis het haar pa haar nie volgens Joodse gebruik met vroue, behandel asof sy niks van godsdienssake af moes weet nie. Sy het die Skrifte geken en in rabbi Efraim se studeerkamer 'n studie gemaak van Jesaja se boekrolle en gelees van 'n Messias wat sou kom om sy volk te verlos. Sy het soos elke opregte, goeie Jood daarna uitgesien dat Jehova hierdie Koning moet stuur om die verdrukte volk van die Romeinse oorheersing te bevry.
Rabbi Efraim wou baie graag nog veel meer vir sy dogter gehad het. In Alexandrië het almal Grieks gepraat en die meeste van die Jode het nie meer behoorlik Hebreeus geken nie. Hy het gemeen dat die aangewese plek waar Adina hul volkstaal die beste sou kon aanleer, Jerusalem self was. Indien hy haar daarheen sou stuur, sou sy ook in die dampkring of atmosfeer van die heilige stad as 't ware die eg-Joodse tradisie en dogma en gebruike inasem en 'n waardige dogter van Israel word. Die rabbi het besef dat die ideaal wat hy vir sy liewe dogter Adina gekoester het, nie in Alexandrië verwesenlik kon word nie.
Die avontuurlustige Adina het met haar pa se planne en voorstelle akkoord gegaan. Daarna het hulle met familie in Jerusalem begin onderhandel. Adina se moeder het 'n broer gehad, oom Simon, wat met sy vrou, tant Hanna en hulle dogter Salóme, wat so oud soos Adina was, in die heilige stad gewoon het. Oom Simon en tant Hanna was baie opgewonde by die vooruitsig om vir Adina vir 'n onbepaalde tyd by hulle aan huis te neem, want Adina se verblyf by hulle sou ook vir hul dogter Salóme baie beteken.
Adina het baie uitgesien na hierdie grootse avontuur van haar jong lewe. Die verhuising het uiteindelik plaasgevind toe sy vir rabbi Efraim en vir Alexandrië vaarwel toegeroep het en met 'n karavaan-geselskap deur Egipte na haar bestemming afgereis het. Sy het toe nog nie geweet dat sy daar in die heilige land waarheen sy op pad was, 'n ooggetuie sou word van die merkwaardigste gebeurtenisse wat nog ooit op die aarde plaasgevind het nie.
Adina in Jerusalem (2) – vervolg...