Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer hier gepraat word van 'n 'ander se skuld' word daar nie volksvreemdes ingesluit nie – hier word suiwer bedoel ons geliefdes en bekendes teen wie ons so dikwels verkeerd optree. Omdat ons oordeel juis weens ons sondige natuur subjektief is (dit beteken dat ons nie die vermoë besit om ons eie skuld in te sien nie), is ons geneig om eerder 'n ander se skuld raak te sien. Maar wanneer ons self ons eie skuld opreg bely kry ons wel 'n beter insig en oordeel in ander se optrede. Tog kom die finale oordeel God alleen toe. Onthou dat Hy die volmag het om sy skepsele te oordeel, nie ons nie.
ADINA SE BRIEWE (7)
Dr JP Botha
Lees reeks by Adina se briewe
KYK WAT DOEN HY ALLES
Nadat Adina en Salóme van Galilea af teruggekeer het, het sy die langverwagte brief van haar vader ontvang. Sy het die stuk gretig oopgerol en begin lees, maar onderwyl sy daarmee besig was, het daar 'n teleurgestelde en droewige trek op haar gesig verskyn. Sy het sommer nog dieselfde dag weer aan hom geskryf:
Aan my seer geagte Vader
Ek wil u graag bedank dat u weer aan my geskryf het. Ek voel nou gerusgestel oor u persoonlike welsyn en dat u nog gelukkig is met die onderrig van u studente aan die universiteit. Ek lees egter met hartseer in u brief dat u nie met my saamstem dat Jesus die Messias en die Christus van God is nie. U gee egter toe dat Hy nie 'n valse profeet is nie, want u glo dat Hy al die wonderwerke gedoen het waarvan ek vir u geskryf het en dat daar ook al berigte daarvan Alexandrië bereik het. U is ook verbaas dat ek kan sê dat God Hom gestuur het om ons te leer om ons sondes te bely, sodat dit ons vergewe kan word, want u glo dat ons net maar die wet van God volkome moet onderhou om die ewige saligheid te beërwe. Maar Pappa weet self dat dit menslik onmoontlik is. U vra, as Jesus dan die Messias is wat ons volk moet verlos, wat is dan die nut van al die wonderwerke waarvan ek skryf?
Pappa weet self hoe sterk die heerskappy van die satan deesdae hier in ons heilige land is. Wanneer Jesus die duiwelbesetenes bevry, beveg Hy die satan se heerskappy regstreeks. Wanneer Hy siekes genees en dooies weer opwek, hef Hy die gevolge van die sonde op. Wanneer Hy storms stilmaak en die brood vermeerder, hou Hy sy eie werk in stand, want Hy is God en Medeskepper van alles wat bestaan, saam met Jehova, en so bewaar Hy wat syne is. Wanneer Hy vir sy dissipels 'n wonderlike visvangs laat plaasvind en water in wyn laat verander, toon Hy sy mag oor die natuur en gebruik Hy dit om in mense se behoeftes en nood te voorsien.
Pappa, ek glo vas dat Jehova vir Jesus na die aarde gestuur het om as Middelaar ons afgedwaaldes weer na Hom terug te roep. Sy wonderwerke help Hom om sy middelaarswerk uit te voer. Ek het daar in Galilea gesien hoe dit die volk tot geloof in Hom bring.
Pappa, ek het ook gesien dat Jesus se kragtige wonderwerke sy heerlikheid openbaar en daarom wil ek graag vir u nog meer daarvan vertel.
Jesus en sy dissipels het vanaf Tirus en Sidon weer na Galilea teruggekeer. Net soos die vorige kere toe Hy hom in die omgewing van die Galilese See bevind het, het daar weer 'n groot skare om Hom versamel. Hulle het hulle kreupeles, blindes, stommes en gebreklikes saamgebring. Jesus het hulle almal gesond gemaak. Die skare was uitermate verbaas om te sien dat stommes weer praat, dat gebreklikes volkome gesond word, dat kreupeles weer loop en dat blindes weer kan sien. Hulle het spontaan almal saam Jehova daarvoor verheerlik.
Dit het weer 'n groot saamtrek van die menigtes geword, wat nie net uit die dorpies van Galilea afkomstig was nie, maar ook uit Samaria en die omstreke van Jerusalem. Die mense wou Jesus nie verlaat nie. Na drie dae was hulle moeg en honger, want die kos wat hulle saamgebring het, het opgeraak. Jesus het hulle baie jammer gekry en wou hulle nie wegstuur nie, maar sy dissipels het net sewe brode en 'n paar vissies gehad vir die meer as vierduisend mense wat daar was. Soos die vorige keer, het Jesus die skare weer op die grond laat plaasneem en nadat Hy gedank het, die sewe brode en die visse, wat in sy hande vermeerder het, gebreek en aan sy dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Nadat almal meer as genoeg gekry het om te eet, het die dissipels nog sewe mandjies gevul met die brokstukke wat oorgebly het.
Daarna het Jesus die skare weggestuur en in 'n skuit na die gebied van Magdala gevaar. Hy het met sy dissipels teen die berg opgegaan om 'n bietjie alleen met hulle te wees en te herstel van die vermoeienis wat sy aanhoudende bediening van soveel mense veroorsaak het. Met hulle terugkeer was daar al weer 'n groot skare bymekaar wat vir Jesus ingewag het. 'n Man het na Hom geroep en vir Hom gevra om tog asseblief sy seun gesond te maak. Die kind word deur 'n demoon geteister, wat hom teen die grond slinger en stuiptrekkings laat kry. Jesus het die bose gees beveel om uit hom uit te gaan en die dankbare vader het sy seun weer gesond daar weggelei.
Toe Jesus uiteindelik van hierdie skare se verering en aanbidding loskom, het Hy met sy dissipels na Kapernaum gegaan, na die huis waar Hy altyd met hulle tuisgegaan het. Die mense wou egter nie agterbly nie, want 'n aantal van hulle het agter Jesus hulle aangegaan en die huis binnegedring en so vol gepak dat daar later niemand meer kon inkom nie.
Tussen die mense buite, was daar vier manne wat 'n verlamde vriend van hulle op 'n draagbaar gebring het, met die hoop dat Jesus hom sou kon genees. Hulle kon Hom egter nie bereik nie en klim toe op die huis se dak. Hulle het 'n aantal daksooie opgelig en weggeneem, sodat daar 'n groot genoeg gat ontstaan het, waardeur hulle hul siek vriend met behulp van toue met draagbaar en al, laat afsak het tot voor Jesus se voete.
Toe Jesus hul geloof sien, sê Hy vir die verlamde: "Seun, jou sondes is vergewe."
Daar was 'n hele paar skrifgeleerdes in die huis, wat gesit en dink het dat Jesus godslasterlik praat toe Hy vir die man gesê het sy sondes is vergewe. Jesus het presies geweet wat hulle dink. Hy sê vir hulle: "Waarom dink julle gedurig net aan slegte dinge? Sê 'n bietjie vir my of dit moeiliker of makliker is om vir hierdie man te sê sy sondes is vergewe, as om vir hom te sê hy moet opstaan en loop?" Hulle wou Hom nie antwoord nie.
Om hulle te oortuig dat Hy die mag het om mense se sondes te vergewe, sê Hy toe vir die man om op te staan, sy bed te neem en huis toe te gaan. Dit het gebeur! Sy vier vriende het hom buite ingewag om saam in sy groot vreugde te deel.
Pappa, ek kan nie verstaan waarom die skrifgeleerdes en Fariseërs al hoe meer vyandig gesind teenoor Jesus raak nie. Miskien is hulle jaloers omdat daar duisende mense na die plekke stroom waar Jesus met hulle oor die koninkryk van God praat en meen hulle dat die volk hulle nie genoeg eer nie.
Met al hierdie wonderlike dinge wat Jesus doen, bepaal Hy hom nie net by die siekes en behoeftiges van ons volk nie, maar Hy help almal wat sy pad kruis en sy hulp nodig het. Toe Hy met sy dissipels die omgewing van Tirus en Sidon besoek het, het daar 'n Siro-Fenisiese vrou voor Hom neergeval en Hom gesmeek om 'n onreine gees uit haar dogtertjie uit te dryf. Jesus wou haar geloof toets en sê toe vir haar dat Hy net gekom het vir die verlore skape van Israel en dat dit nie mooi is om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.
Hierdie woorde van Jesus het die desperate vrou nie ontmoedig nie. Haar antwoord was: "Ja Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval." Jesus het haar groot geloof beloon en haar huis toe gestuur waar haar dogter, wat volkome herstel was, haar ingewag het.
Na sy terugkeer uit Tirus en Sidon, het Hy weer in Betsaida gekom waar hulle 'n blinde man na Hom gebring het. Jesus het sy hande op sy oë gelê en na 'n rukkie kon hy duidelik sien. Daarna het hulle weer 'n doofstom man na Hom gebring. Jesus het sy vingers in sy ore gesteek en sy tong aangeraak. Daarna kon die man duidelik praat en goed hoor.
Al hierdie wonderlike genesings wat Jesus gedoen het, het die klompie skrifgeleerdes en Fariseërs, wat Jesus knaend in Galilea agtervolg het om te sien wat Hy doen, dwars in die krop gesteek. Hulle het gedurig fout gevind met alles wat Hy doen. Hulle het beweer dat Hy die sabbat verontheilig deur mense op daardie dag van hul kwale te genees.
Jesus het elke sabbat na die sinagoge van die dorp gegaan waar Hy en sy dissipels was en die skare mense wat daar saamgetrek was meer van die koninkryk van God geleer. Daar het dikwels in die sinagoge ook genesings van sy hand plaasgevind. By een so'n geleentheid het Jesus tussen die skare 'n vrou raakgesien wat agtien jaar lank al heeltemal inmekaargetrek en lam was. Hy het haar na Hom toe geroep en vir haar gesê dat sy van haar siekte verlos is. Toe Hy sy hande op haar lê, het sy meteens regop gaan staan en begin om God te loof en te dank vir haar wonderlike herstel.
Met hierdie genesing het die skrifgeleerdes en Fariseërs weer groot fout gevind. Die hoof van die sinagoge was baie verontwaardig. Hy het vir die mense gesê: "Daar is ses dae in die week waarop 'n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak en nie op die sabbatdag nie."
Jesus het hom aangekyk en gesê: "Jou huigelaar! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip af los en lei hom weg om hom te laat suip nie? En hier is 'n vrou wat werklik al agtien jaar lank deur die satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?"
Hierdie woorde van Jesus het hulle laat skaam kry, maar seker ook nie vir lank nie, want hulle wrewel het elke dag meer teen Hom opgelaai. Hy het op 'n sabbatdag op uitnodiging van een van die owerstes van die Fariseërs, by hom gaan eet. Reg voor Jesus was daar 'n man wat aan water gely het. Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: "Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?"
Hulle het weer nie 'n woord gesê nie, net stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader. Hy het hom gesond gemaak en laat gaan. Daarna sê Hy vir hulle: "Sê nou 'n seun of 'n bees van een van julle val in 'n put, sal hy hom dan nie dadelik uithaal nie, al is dit op 'n sabbatdag? Hulle kon of wou Jesus weer nie antwoord nie.
Dieselfde ding het hier in Jerusalem gebeur toe Jesus tydens een van die feeste hier was. By die Skaappoort is 'n bad met vyf pilaargange, wat Betesda genoem word. Jesus het daar geloop en die baie siekes wat daar gelê het, jammer gekry. Dit was blindes, kreupeles en lammes wat gewag het dat 'n engel die water moes roer. Die een wat dan die eerste daar ingaan, word gesond. Daar het ook 'n man gelê wat al agt en dertig jaar lank siek was. Hy kon nooit die water eerste bereik wanneer dit begin roer nie.
Jesus het hom raakgesien en vir hom gevra of hy graag gesond wil word en hom beveel om op te staan, sy beddegoed bymekaar te maak en huis toe te gaan. Hy het dadelik gesond geword en dit gedoen. Dit het op die sabbat gebeur. Die skrifgeleerdes wat dit gesien het, sê toe vir hom: "Haai jy, jy mag nie jou bed dra nie; dis Sondag!"
Hy antwoord hulle: "Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê ek moet my bed dra."
"En wie is dié man nogal?" Maar hy het nie geweet nie.
Jesus het hom later in die tempel gekry en gewaarsku om nie meer sonde te doen nie, sodat daar nie nog erger dinge met hom gebeur nie. Toe het hy vir die klomp wetskenners gaan vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het.
Pappa, dit doen my hart leed aan om vir u so oor ons geëerde volksleiers te skryf. U het my in Alexandrië grootgemaak om aan elke skrifgeleerde die nodige respek en eer te betoon, want hulle is tog die geestelike leiers van ons volk wat aan ons die wil en wet van Jehova moet bekend stel, sodat ons gehoorsaam daarvolgens moet lewe. Maar Pappa, Jesus is nie besig om ongehoorsaam aan die wil van God sy wette te breek en onheil hier op die aarde te stig nie. Nadat ek ooggetuie geword het van die wonderlike dinge wat Hy doen om mense se leed te versag en ons van die liefde en genade van die almagtige God te leer, begin ek besef dat Hy nie 'n menslike messias is wat ons van die Romeine sou verlos nie, maar dat Hy die Seun van God self is, wat gekom het om ons van onsself te verlos en die koninkryk van God in ons harte te plant.
Pappa, ek skrywe hierdie woorde aan u met groot huiwering, omdat ek weet dat u nie kan aanvaar dat Jesus na die aarde gekom het om 'n goddelike roeping te volbring nie. Ek bid dat die groot Jehova ons harte só sal verlig dat alle ongeloof en twyfel sal verdwyn en ons met sekerheid sal weet hoe Hy Hom verder deur Jesus aan ons gaan openbaar.
Van u kind Adina.