Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
’n Mens hoor gereeld van mense wat geld vervals en deur die gereg vasgetrek is. As iets soortgelyks maar op kerklike gebied kon gebeur en die vervalsers van die waarheid aan die pen kon ry, sou dit baie beter met ons land gegaan het!
ONS IS AMPER WEER BY GOEIE VRYDAG...
...EN PAASSONDAG
Ons kan die belangrikheid van Goeie Vrydag en Paassondag nooit genoeg beklemtoon nie.
Jesus se aardse bediening het egter nie hier opgehou nie. Ná sy opstanding het Jesus vir 40 dae sy dissipels oor God se koninkryk onderrig en daarna na die hemel opgevaar. Die kruis en die leë graf was die hart van die Evangelie wat deur Jesus se volgelinge versprei is. Paulus skryf : “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend ... dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte” (1 Kor.15:1-4).
Vir baie gelowiges is hemelvaart slegs ʼn nagedagtenis van Goeie Vrydag en Paassondag. Nee, die hemelvaart het wonderlike betekenis vir ons. Kom ons kyk na ʼn paar aspekte van die hemelvaart en verheerliking van Jesus.
Eerstens het Jesus met sy opname in die wolke nie in die hemel gaan aftree nie. Lukas skryf: “Die eerste verhaal, Theofilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is....” (Hand.1:1,2). Hierdie woord begin dui daarop dat Jesus nie ophou werk het nie. Dis waaroor Lukas se tweede boek Handelinge gaan – die handelinge/werke van die verrese Jesus wat Hy deur sy Gees en gelowiges vanuit die hemel gedoen het. “... En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg dié wat gered is” (Hand.2:47).
Jesus moes eers ten hemel vaar voordat die Heilige Gees uitgestort kon word. Ná sy opstandig beloof Jesus: “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader... Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk.24:49). Petrus verduidelik dit op Pinksterdag vir die aanwesiges in die tempel: “Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor” (Hand.2:33).
Die verheerlikte Jesus het die Heilige Gees gestuur om by mense te kom bly soos wat Hy belowe het: “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ʼn ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Joh.14:16). Dit het Hy gedoen om mense te bekragtig vir hul wêreldwye sending: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria tot aan die uiterste van die aarde” (Hand.1:8). Lukas skryf oor die effek van die geesteskrag: “En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal” (Hand.4:33).
Die doel hiervan was om mense so te verander dat hulle met hulle lewens die optrede van hul hemelse Meester weerkaats het: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ʼn spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:18).
Nog ʼn rede waarom Jesus ten hemel moes vaar, was om sy plek as Koning in te neem en as die ware Koning van die wêreld gekroon te word. Dink maar net aan die ophef wat daar vandag van ʼn kroning gemaak word. Hoe moes dit nie in die hemel gelyk het nie!
Die eerste persoon waarvan die Bybel praat wat die Here Jesus na sy hemelvaart in die hemel gesien het was Stefanus, die eerste Christen-martelaar. Terwyl die Jode hom stenig, sê hy: “... Kyk, ek sien die hemele geopen en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (Hand.7:56).
Die profeet Daniël het meer as 600 jaar tevore ook ʼn gesig van Christus in die hemel gehad: “En ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke het Een gekom soos die Seun van ʼn mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ʼn ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie” (Dan.7:13,14).
Jesus se koninkryk kan nie vernietig word nie. Dit sal vir ewig staan: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openb.3:21). Jesus sal aan God se regterhand regeer totdat alle vyande aan sy voete onderwerp is. Koning Dawid skryf ʼn 1000 jaar voor Jesus se geboorte hieroor: “Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ʼn voetbank vir u voete” (Ps.110:1). Jesus se heerskappy vanuit die hemel gaan om almal op die aarde aan Hom te onderwerp soos wat dit in die hemel die geval is.
ʼn Verdere rede waarom Jesus ten hemel gevaar het, was om na sy Vader terug te keer. Voor en ná sy dood en opstanding verklaar Jesus dat Hy deur die Vader gestuur is en derhalwe moet terugkeer: " Ek het van my Vader en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader” (Joh.16:28).
Ná Jesus se opstanding sê Hy vir Maria: “... Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader...” (Joh.20:17). Daar was geen wonderliker hereniging in die geskiedenis as Jesus se terugkeer na sy Vader in die hemel nie. Hy het sy sending suksesvol voltooi en sy Vader tydens sy aardse omwandelings verheerlik. In Joh.17 bid Jesus: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U my gegee het om te doen, het Ek volbring. En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was” (:4,5).
Jesus se terugkeer na die Vaderhuis is ʼn voorbereiding vir ons eie terugkeer daarheen: “In die huis van my Vader is daar baie wonings... Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh.14:2,3).
Jesus tree vir ons as ʼn Bemiddelaar en Hoëpriester in die hemel op. “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Jesus Christus” (1 Tim.2:5). Sy dood en opstanding bied vergifnis en versoening met God. “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree” (Rom.8:34).
Jesus se werk op aarde was geografies beperk. Hy het nie in ander lande opgetree nie. Maar vanuit die hemel tree Hy oral vir mense in. Daarom lees ons in Openbaring dat daar uit elke volk, stam en nasie geredde mense in die hemel sal wees.
ʼn Laaste rede vir Jesus se hemelvaart is die belofte in Hand.1 dat Hy eendag as Koning met die wolke sal terugkeer om saam met sy kinders te wees: “En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien” (Openb.22:3).
Jesus het ten hemel gevaar maar ons nie verlaat nie. Hy is deur die Heilige Gees by ons teenwoordig. Leef dan soos koningskinders want ons is kinders van die Koning van alle konings. “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor.15:58).
Ons hoop is nie in hierdie wêreld gegrond nie, maar in ʼn wonderlike toekoms wanneer ons met ons oë die Here Jesus sal sien terugkeer soos belowe is en Hy as Koning en Regter sal kom om te oordeel.