Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Suksesvolle leier is aanpasbaar. As hy nie meer brandhout bymekaar kan maak nie, maak hy sy vuur kleiner. Met God by hom, is geen terugslag te groot nie. Dis mos nie hóe ‘n matroos die hawe uitvaar wat van hom ‘n gesoute seeman maak nie, maar hóe hy na ‘n storm daarheen terugkeer. Kalm water maak geen matroos vaardig nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (34)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Elke reis, maak nie saak hoe lank dit is nie, kom tot ‘n einde. Dis nou as die reisigers weet waarheen hulle op pad is en koers hou. Beide hierdie faktore is uiters belangrik. Wanneer ‘n mens egter in sirkels ry of loop, kom jy soms uit by dieselfde plek waar jy begin het.
Kundiges sal sê ‘n mens se regterbeen gee effens langer treë as jou linker een en sonder ‘n spesifieke koersaanduiding sal die deursnee mens dus in groot linksom sirkels beweeg. Dit het in baie gevalle gebeur dat so ‘n groep uiteindelik by hulle vertrekpunt terugkom na dae of selfs weke se loop.
Kris en sy groep het presies geweet waarheen hulle mik, van moderne stelsels soos GPS en elektroniese kompasse gebruik gemaak en het duisende kilometer afgelê in dieselfde tyd as wat Max en sy groep uiteindelik nie meer as twee honderd kilometer vanaf hulle vertrekpunt was nie.
Natuurlik moes Max-hulle op sommige plekke gestrand wees totdat die gevaar verby was, hulle moes ompaaie ry om nie in groot, vyandelike groepe vas te ry nie en natuurlik moes hulle plek soek om kos en brandstofaanvullings te doen. Indien die sukses van sy reis moes afhang van die afstand, was dit ‘n mislukking. Aan die ander kant, as dit gemeet sou wees aan hoeveel mense hy tot veiligheid gebring het, was dit ‘n uitstaande sukses.
Bella het bloot gery om vir Max te gaan soek, en sy het tans geen idee waar hy kan wees nie. Hoe soek jy immers ‘n mens of ‘n sekere groep mense, tussen miljoene ander ontheemdes en honderde, miskien duisende reisende groepe?
Onwillekeurig wonder sy of sy nie dalk moet teruggaan na die dorp toe nie. Dit is in elke geval sinneloos om net te ry en brandstof te mors, sonder om te weet waarheen. Wanneer sy met Jana daarooor praat, is daar ‘n groot verligting op laasgenoemde se gesig te sien.
*
Hoe beskryf ‘n mens dit as jou ergste vrese skielik bewaarheid word? Vir dekades al sien die meeste nugterdenkendes dat moeilikheid onafwendbaar is in Suid-Afrika. Tog probeer almal om net ‘n stappie of trappie bokant die ergste te bly.
Dis soos ‘n man wat teen ‘n bult sit en die water styg stukkie vir stukkie al hoër. Hy versit homself al hoër en hoër, soms met moeite en vrees teen die glibberige opdraand. Partykeer voel dit vir hom asof die water dreig om hom te verswelg, maar hy kry betyds sy voete daaruit.
Met tye gly hy agtertoe, ondertoe, maar kan weer iewers houvas kry en sy momentum ondertoe onder beheer kry. Maar uiteindelik is hy heel bo en daar is nie nog plek hoër op nie. Hy probeer aanvanklik water trap, maar na ‘n lang gespartel, sonder dat hulp opdaag, is sy krag op. Die water oorweldig hom.
Die middelklas blanke in Suid-Afrika het ook die politieke warmwater gesien styg. Hy probeer alles in sy vermoë om buite bereik daarvan te bly, met innoverende, nuwe denke, soms met ongetoetste planne, wat is sommige gevalle werk, in ander nie.
Diegene wat jonk genoeg is en die finansiële vermoë besit, wat nie kans sien vir die onkeerbare verval nie, het emigreer, met Nieu-Zeeland, Australië, Kanada en die VSA as voorkeurbestemmings.
Diegene vir wie dit nie ‘n haalbare oplossing is nie, kyk waar daar ‘n gaping in die besigheidswêreld is, koop ‘n bestaande een wat omskep word in iets nuut, of begin in baie gevalle ‘n heel nuwe een. Ander klou krampagtig vas aan ‘n werksgeleentheid, met die hoop dat hulle sal kan aanbly tot hulle aftree-ouderdom bereik.
Mense skaal af – huise en eiendom word verkoop en ‘n kleiner een gekoop of word gehuur. Hulle bied besittings wat hulle deur die jare aangeskaf het, te koop, om nog ‘n maand of drie aan die gang te bly. Sommige leer nuwe vaardighede aan en ‘n tweede en in baie gevalle ‘n derde inkomste word gegenereer. SARS weet in baie gevalle nie hiervan nie en niemand stel die inligting vrywillig vry nie.
Stukkie vir stukkie styg die politieke kookwater. In feitlik alle gevalle hou Staatsbeheerde Entiteite op bestaan, behalwe in naam en waar dit met meer en meer belastinggeld gestut word. Werksgeleenthede word al skaarser en in meeste gevalle aan nie-blankes gegee, wat nie weet hoe om die werk te doen nie.
Verval tree verder in. Vaardighede gaan verlore soos kundiges die land verlaat, aftree, of net opgee, sonder om nuwe mense hierdie kundigheid te leer. Eenvoudige stukke toerusting, wat in die verlede in stand gehou was deur sulke kundiges, is nou ‘n misterie vir die nuutaangesteldes. In plaas van herstel, word ‘n nuwe teen astronomiese bedrae aangkoop, of bloot buite werking gestel. In baie gevalle word dit sommer net gesteel.
Sommige inwoners bou hulle hoop op politieke beloftes, wat een na die ander verbreek en vervang word met nuwe liegstories. Later glo die gewone mens dit nie meer nie, maar is magteloos om iets daaraan te doen.
Ekonome en politieke ontleders is dit eens dat die land nie nog ‘n ANC-geleide vyf jaar termyn kan oorleef nie en in die aanloop na die algemene verkiesing, hou hulle almal asem op. Sal die ANC mag verloor by die stembus, al is hulle in beheer van die stemtellery; sal ‘n koalisie tussen opposisiepartye die pyp kan rook? En dan die volgende kwessie – sal ‘n ander party die land van totale ondergang kan red, of het die water reeds te ver gestyg?
Die publiek se reaksie op die vergrype van die adjunk-president, Paul Mashatile, se blouligbrigade en hulle boelie-optrede teen drie aspirantsoldate, moes vir die regering ‘n rooi lig laat aangaan het, maar dit het nie. Netso die hofsake wat gewen word deur Afriforum en Solidariteit teen onsinnige wette en vergrype van die regering. Tog is daar steeds nie die politieke wil om ‘n ommeswaai te bewerkstellig nie.
Beurtkrag word nie opgeskort nie en dreig om erger te word. Besighede sukkel om hulle deure oop te hou en dit word gedoen teen enorme koste.
Uiteindelik gaan almal, blank, swart, bruin, Indiër oor die kruin van die koppie, en slegs hulle wat ‘n reddingsboot voorberei het aan die ander kant, sal nie verdrink nie.
*
By die Kamp loop alles relatief rustig die afgelope paar weke. Natuurlik bring elke dag nuwe uitdagings op te hanteer. ‘n Kind val van ‘n tent se dak af – wat het hy daar gemaak? – en breek sy arm, Oom Koot Meintjies kry ‘n effense beroerte en Victor doen wat hy kan, Magda word deur ‘n skerpioen gesteek, die toilette moet oopgemaak word, nuwe mense kom aan en word weggewys.
Twee jongmanne wat mekaar lankal nie kan veel nie, stry oor ‘n meisie en Flip laat hulle bokshandskoene aantrek om die saak uit te sorteer. Die meisie, Madeleen, kry die verloorder jammer en versorg sy stukkende lip en blou oog. Uiteindelik is hulle ‘n paartjie.
Twee weke gelede het ‘n gewapende bende binne die perimeter van die kamp gedring en hulle is na ‘n kort geveg begrawe.
“Hoe lank gaan dit nog aanhou?”
“Geen mens weet nie. Ek voorsien so lank as wat iemand honger of gulsig is en vermoed ander se goed kan met geweld afgeneem word, sal dit aanhou.”
“Of totdat hulle te bang geword het.”
Daar is vir ‘n paar minute stilte waar elkeen hom of haar besig hou met een of ander taak. Uiteindelik is dit middagete en met die bredie en rys afgesluk, is daar ‘n halfuur rusperiode, voordat die werk aangaan. Ben blaas sy koffie koud en praat, nie met iemand spesifiek.
“Wat nou gebeur, is maar net ‘n voortsetting van wat al drie dekades aan die gang was. Tans is dit openlik, soos dit nounet gebeur het. Hierdie spul het ‘n kans gevat, miskien nadat hulle gesien het daar is ouer mense, vroue en kinders onder ons. Dalk het hulle ons al ‘n tydjie dopgehou en besluit ons lyk weerloos, ek sal nie weet nie en hulle kan nie meer sê nie.
“Voorheen was dit op verskillende maniere en hulle het gedink ons weet nie daarvan nie. Vat maar een voorbeeld; die tenders. ‘n Ou met ‘n kruiwa en twee grawe registreer ‘n konstruksiemaatskappy, tender vir ‘n groot gebou of ‘n paar kilometer pad. Hy kry dit en onmiddellik koop hy ‘n bestaande huis, bou vir hom ‘n verdieping hoër en tot teenaan die grensdraad. Hy koop vir hom ‘n nuwe bakkie en vir sy vrou ‘n BMW, nuwe klere, gee sy pastoor ‘n paar honderd duisend en die res plaas hy oor in verskillende rekenings. Na ses maande het niks gebeur nie, die ander, bestaande en bevoegde maatskappye wat ook getender het, maak kapsie, die munisipaliteit of regering word hof toe gesleep, maar die saak rek uit, want die regsverteenwoordigers bedank omdat hulle nie betaal word nie, die getuies word met die dood gedreig, of sommer net vermoor, die beskuldigde kry Shabir-griep, soos ons liewe Msholozi, en na vyf en twintig jaar word die saak deur die applikante gewen, maar daar is niks oor om terug te vat nie, behalwe ‘n lessenaar en drie kantoorstoele.”
“En dit is hoe ons hier gekom het?”
“Netso.”
“Een van die redes.”