Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons mag soos Dawid bid: "Red my van my vyande HERE! ...En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om... Slinger bliksem en verstrooi hulle; stuur u pyle uit en verwar hulle!... Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose." Ps 143,144,145.
MOEDERTAAL ONDERRIG...
... EN DIE KOMMUNISTIESE AANSLAG TEEN AFRIKAANS
Afrikaans as onderrigtaal is tans weer die teiken van 'n spul jong oproermakers met 'n duidelike kommunistiese agenda. Afrikaans word veral as onderrigtaal aan universiteite, maar selfs ook by skole, ernstig bedreig. Wat is die ware agenda agter hierdie aanslag? SONJA VENTER kyk in hierdie artikel na die feite oor moedertaalonderrig, wat die kommuniste se propaganda daaroor in perspektief stel.
O moedertaal,
O soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
Niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal,
O soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Hierdie vers geskryf deur CF Visser, laat die vraag by mens ontstaan: Waar staan ons vandag ten opsigte van ons moedertaal en, meer spesifiek, teenoor onderrig in ons moedertaal? Die vraag met reg gevra word of hierdie wanpersepsie van onderrig in 'n volksvreemde taal uitgeroei sal kan word?
"Afrikaans, eens uitgekryt as 'n kombuistaal, is vandag 'n wêreldtaal. 'n Taal van onderwys, wetenskap en ekonomie," skryf 'n kenner in 'n debat oor moedertaalonderrig op die debatsforum van die internetblad, Litnet. Daar is nasionaal en internasionaal navorsing gedoen oor die voor- en nadele van onderwys in die kind se moedertaal. Telkens is dit bewys dat studie of onderrig in 'n student se moedertaal help om die student/skolier se begripsvermoë te bevorder. Keer op keer het navorsers weer bewys dat dit die beste opsie is vir die kind om onderrig in sy moedertaal te ontvang. Hierdie navorsing het byvoorbeeld bewys dat die vaslegging van basiese konsepte, wat belangrik is vir latere doeltreffende leervermoë, vind die beste plaas deur moedertaalonderrig. Die suksesvolle aanleer van 'n tweede- en selfs 'n derde taal hang daarvan af of die kind sy moedertaal onder die knie het en dit bemeester het. Wanneer die kind 'n gesonde kennis het van sy moedertaal, bied dit vir hom toegang tot die aanleer en bemeestering van 'n ander taal.
Oral in die wêreld waar daar suksesvolle onderwysstelsels bestaan val die klem op onderrig in moedertaal. 'n Land soos Finland is 'n sprekende voorbeeld hiervan. Hier praat die inwoners Fins of Sweeds en leerlinge van albei hierdie tale kry onderrig in hul moedertaal van hul eerste skooljaar en selfs later op universiteit of ander tersiêre instansies. Hoewel nie een van hierdie tale wêreldtale is nie, kan hulle hulself enige plek in die wêreld laat geld. Daar is onlangs in 'n studie bevind dat Finland oor die meeste top navorsers per capita in die wêreld beskik ten opsigte van ingenieurs- en natuurwetenskappe.
Hier in Suid-Afrika is dit ook bekend dat Afrikaanse universiteite en ander instellings, voordat dit besmet is deur politiek, topstudente in hul moedertaal geskool het vir die beroepswêreld. Hierdie studente word met ope arms oor die hele aardbol ontvang en hulle is leiers op hul vakgebied wat hulle skoene deeglik volstaan.
Volgens 'n wêreldverslag van UNESCO (The United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization), is taal nie net 'n middel tot kommunikasie nie, dit verteenwoordig 'n rykdom aan kultuurgoedere en is 'n draer van identiteit en waardes.
Die sogenaamde 1966 Den Haag-aanbevelings ten opsigte van onderwysregte het voorgestel dat die leerprogram verkieslik in die kind se moedertaal aangebied word. Waarom dan verkeer so baie skole en tersiêre instansies wat juis moedertaalonderrig wil toepas onder soveel druk om te verengels? UNESCO definieer moedertaalonderrig as "education which uses as its medium of instruction a person's mother tongue, that is, the language which a person has acquired in early years and which normally has become his natural instrument of thought and communication".
Moedertaalonderrig dien dus as middel waardeur leerders die basiese beginsels van 'n onderwerp in hul moedertaal geleer word. Kinders en selfs volwassenes kan hulself beter uitdruk in 'n taal wat vir hul verstaanbaar en bekend is. Die tweede taal bly vir hul 'n ‘vreemde’ taal waarin hul hulself nie so gemaklik kan uitdruk nie. Selfs vakke soos wiskunde kan problematies wees. Sommige vakkundige uitdrukkings word moeiliker begryp of kan die student verwar.
In die debat op Litnet, word die wanopvattings wat by ouers bestaan oor moedertaalonderrig baie mooi en duidelik uiteengesit: "Talle Afrikaanssprekende ouers meen, op grond van wanopvattings soos dié hier onder, dat Engels die enigste keuse is. Die feite weerspreek engter dié (drog)redenasies:
- Argument: "Dis tot my kind se voordeel om deur middel van Engels onderrig te word". Antwoord: 'n Sesjarige kind het al 'n woordeskat van sowat 2 500 woorde in sy huistaal, maar slegs 'n geringe woordeskat in Engels waarmee hy verdere kennis moet verwerf. In 'n Engelse skool sal hy dus met 'n agterstand begin.
- Argument: "Die meeste handboeke vir verdere studie is in Engels". Antwoord: Afrikaanssprekendes se prestasies vergelyk besonder gunstig met dié van hul Engelssprekende eweknieë en hulle gee op verskeie terreine die toon aan. Teen die tyd dat kinders op universiteit kom, is hulle ewe vaardig in Engels as in hul huistaal.
- Argument: "Engels is die wêreldtaal". Antwoord: Dit is gewis so, maar in lande soos Nederland, Duitsland, Frankryk, Japan, China en Indië kry kinders onderrig in hul moedertaal en dié lande beskik tans oor die grootste ekonomieë in die wêreld.
Volgens dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Wes-Kaapse Taalkomitee en ook lektor in Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch, kan dit soos volg opgesom word:
- Ten spyte van hul ouers se goeie bedoelings, betaal leerders tans 'n duur prys weens die klem op Engels en die ontkenning van dié tale waarin hul begripsvlakke en uitdrukkingsvaardighede vasgelê is. Kinders wat die grootste deel van hul primêre skoolopleiding ontvang in 'n taal wat hulle nie verstaan nie – en wat hulle onderwysers dikwels nie behoorlik kan praat nie – se kognitiewe ontwikkeling word ernstig benadeel.
- Hy skryf verder: "Nie-moedertaalonderrig het 'n regstreekse uitwerking op akademiese prestasie. Kennis is meer as net die vermoë om te onthou. Dieper vlakke en begrip stel leerders in staat om kennis van een konteks na 'n ander oor te dra. En leerders se voorafkennis is in hul taal opgesluit. 'n Vergelyking van studente in 'n vak soos Wiskunde dui daarop dat dié wat die grondbeginsels in hul moedertaal geleer het, 'n beter begrip van die vak het vergeleke met dié wat dit in 'n tweede taal geleer het".
Moedertaalonderrig verskaf dus 'n noodsaaklike basis vir 'n goeie opvoeding op hoër vlakke. Hopelik sal ouers dit onthou as hulle 'n besluit moet neem oor waar hulle hul kinders moet inskryf.