Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet heilig wees want God wil dit so hê. Maar ons dink heiligwees is 'n valse vookoms van sedelikheid waarvoor mense ons sal spot. Verkeerd! Heiligwees beteken slegs om uitdrukking te gee aan die lewe van Christus soos ons dit as sy kinders ervaar. As jy vir Hom lief is, sal jy graag hieraan uitdrukking gee.
STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (6)
LW Bienedell
Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing
Paul Kruger: Sy betekenis vandag
5 Oktober 1983
DIE AFRIKANERVOLK se roem was nooit hoër as tydens en ná die wapenstryd wat pres. Kruger Brittanje in Oktober 1899 aangesê het nie. Drie jaar waarin die wreedste metodes deur die Britse mag toegepas is, kon die Afrikanervolk nie breek nie — die afbranding van plaashuise, die doodmaak van plaasdiere en die vemietiging van graanlande, die gevangeneming van vrouens en kinders na konsentrasiekampe waar duisende gesterf het weens ontbering, die verbanning van krygsgevangenes na Ceylon en St. Helena...
Die smartvolle ervaring het ook die karakter-adel van mense tot uiting gebring en leiers na vore gestoot wie se onversetlikheid en krygskuns wêreldroem verwerf het. De Wet en De la Rey se name het weerklink oor kontinente. Die Boer het groot teen die horison van die geskiedenis gestaan.
Hierdie heroïese tydvak het formeel geëindig op 31 Mei 1902 by die Vrede van Vereeniging; dit het begin min of meer in 1875—’ n tydsduur van so wat ’n kwarteeu. Dít was die Kruger-era.
Vóór hierdie tydperk was daar die harde pionierslewe aan die oosgrens, die oorloë teen die Swartes, die verontregting deur die Britse owerheid, die uitdaging en ontbering van die Groot Trek, nogmaals oorloë teen Swartes: Dingaan, Silkaats en ander. Nogmaals agtervolging deur die Britse imperialisme.
Sterk leierskap
Dit was ’n gebreide en geharde volk wat die laaste kwart van die negentiende eeu ingegaan het. Uit ’n volk wat versterk en veredel is deur stryd, kom sterk leierskap. Dít is wat Kruger na bo gestoot het.
Dit is ironies dat juis Thomas Burgers, ’n voormalige liberale predikant, Kruger as Staatspresident van Transvaal voorafgegaan het. Met sy “ja” vir Britse anneksasie van Transvaal deur Shepstone, het Burgers in 1877 amper die Afrikanervolk se selfrespek vemietig.
Met byna die krag van ’n fisieke wet, wat onder Burgers die pendulum tot sy verste punt van swakheid gedruk het, het die teenbeweging begin om “nee” te sê vir onderhorigheid aan Brittanje, ’n beweging wat vier jaar later by Amajuba ’n plotselinge militêre en politieke hoogtepunt bereik het en die versnelde aanloop na Kruger se verkiesing as Staatspresident in Mei 1883 gebaar het.
’n Volk wat homself sterk voel, verlang sterk leierskap. Kruger as kragfiguur en die Afrikaners as ’n geestelik en liggaamlik gestaalde volk deur dekades van stryd, is onafskeidelik.
Karaktervas
Gladstone het as Britse Eerste Minister in ’n Laerhuis-debat na die slag van Amajuba na die Boere verwys as “mense van buitengewone lewenskrag en karaktervastheid.”
Amajuba het getoon dat ’n volk wat moed en durf en sterk leierskap het, die planne van ’n magtige vyand kan verydel. Dié wete het die Boere innerlik gesterk en geestelik voorberei vir wat hulle intuitief geweet het sou moet kom in hulle verhouding met Brittanje.
Die ontdekking van goud het die pas van die geskiedenis verhaas. Pres. Kruger, as verteenwoordiger van ’n kulturele nasionalisme, het in direkte konfrontasie geskuif met Rhodes as die verteenwoordiger van ’n finansiële imperialisme, wat deur gekonkel en geknoei en wapengeweld die Britse veroweringstogte oor die wêreld wou voortsit en beheer van die ryk goudmyne van Transvaal as hoë prioriteit gestel het.
C.E. Vulliamy skryf in “Outlanders” oor Rhodes: “Cash and empire,.... the employment of all the shoddy trickeries of what is called ‘high finance’ and of negotiators whose methods were often deliberately fraudulent.”
Onder pres. Kruger kon Brittanje nie weer met ’n Burgers-Shepstone slaag nie. Die toestande was heel anders. Die Transvaalse regering was veel sterker, maar aan die ander kant was die Uitlanders ’n nuwe faktor wat deur die goudmyne na Transvaal aangetrek is. Hierdie Uitlanders se politieke regte het die hefboom geword waardeur die internasionale geldmag met Rhodes as sy werktuig pres. Kruger wou breek.
Dit het uitgeloop op wat genoem word die Jameson-inval uit die Kaapkolonie. Jameson was ’n Rhodes-trawant en ’n beter naam vir hierdie 1895-episode sou wees die Rhodes-komplot. Rhodes as toenmalige Eerste Minister van die Kaapkolonie, was die sleutelfiguur wat met die Britse regeringslid en die Britse pers in Londen geskakel het en tegelyk met die mynbase, die Uitlanders en die Engelse pers in Johannesburg. Flora Shaw van die Londense Times was haarfyn ingelig oor die komplot, en in Johannesburg het The Star selfs die konsep-proklamasies gedruk waardeur die magsoorname deur Jameson bevestig sou word.
Toe die spulletjie misluk het en die invallers gevange geneem is, het Rhodes uit sy Kaapse Eerste Ministerskap na Brittanje gevlug—’n uiters vernederende daad vir ’n regeringshoof. Maar soos Francis Dormer, ’n voormalige redakteur van The Star, in Vengeance as a policy in Afrikanerland skryf: “Die koerante wat op wenke van Groote Schuur (die Rhodes-kring) gereageer het, het met ’n verwoede en opruiende agitasie begin” om die bende losgelaat te kry.
Verhoor
Pres. Kruger het onder druk van sy “gematigde” volksgenote, waarvan heelwat leidende figure voor die Jameson-inval ondersteuners van die Johannesburgse “Reform Committee” was, die fout gemaak om nie die Jameson-invallers in Transvaal te laat verhoor nie. Hy het hulle losgelaat om deur Brittanje gestraf te word, wat ’n klugtige affêre afgegee het en natuurlik meer toesmering as openbaring tot gevolg gehad het. As hierdie bende in Transvaal verhoor is, sou die onthullings ’n golf van verontwaardiging deur Suid-Afrika gestuur het en veral die Engelse nader aan die Afrikaners gedwing het. Daarby sou dit waarskynlik die Britse magshebbers tot groter nugterheid gestem het oor die Boere se wil om hulleself te handhaaf en te betuig.
Ná die val van Rhodes het Kruger direk te staan gekom teen Alfred Milner as die Britse regering se verteenwoordiger, maar tegelyk die skakel met internasionale geldmag wat die Transvaalse goudmyn-rykdom begeer het.
Dat dit ’n klassieke model vir ’n wapenbotsing in die mode van daardie tyd was, is klaarblyklik, veral in die lig van die Britse militêre lui se obsessie om Majuba te wreek en die vergiftigende rol wat deur Engelse koerante gespeel is in Suid-Afrika en Brittanje.
Prof. J.A. Hobson in sy boek The War in South Africa beskryf hoe die pers “engineered a war”. En Dormer, ’n voormalige redakteur van The Star na wie se boek Vengeance as a policy in Afrikanerland hierbo verwys is, skryf dat sy opvolger by The Star vasbeslote was “to put the heather aflame”.
Die konstitusionele veranderings wat pres. Kruger gemaak het om die Uitlanders se politieke regte te erken, het niks gebaat nie. Die agitasie het na toegewings onverpoosd voortgegaan. Soos pres. Kruger aan Milner gesê het: “Jy wil nie die stemreg hê nie; jy wil my land hê.”
Toe die Britse militêre mag teen die laaste kwart van die jaar 1899 op die Transvaalse grens saamgetrek het, het die swaar verantwoordelikheid op pres. Kruger geval om “nee” te sê vir ’n bloedlose, roemlose verowering. Dit vra krag om teen so ’n oormag nee te sê.
Van Wyk Louw het in een van sy essays geskryf dat Kruger met ’n krag van Bo en redelike insig besluit het dat hy die Britse aggressie sal moet beantwoord. Hy het wel die oorlog verloor, maar hy het die Afrikanervolk se eer gered, en die Britse veroweringsug ’n slag toegedien waarvan dit nooit herstel het nie. Die hele gang van die geskiedenis is verander deurdat die Boerevolk die Britse militêre mag verneder het.
Vir ons tyd is daar die onmiskenbare boodskap: ’n volk leef nie deur konstitusionele kontrepsies en politieke praksasies nie, maar deur die wil wat hy kan monster om homself te handhaaf en te betuig, selfs deur die uiterste vorm van stryd: die wapen.
Daar was onder die Boere die hensoppers, die joiners, die National Scouts, maar soos te alle tye is hulle die swak, sagte buitekors van ’n volk wat in die benouende nood van ’n nasie hulle lafhartigheid rasionaliseer: die oormag is te groot; die ellende en lyding is te erg; die prys is te hoog; maak vrede, want die alternatief is “too ghastly to contemplate”—bekende frases in elke krisis. Hierdie mense het die voorwerp van veragting in die oë van hulle volk geword ná 1902 en die Botha-Smuts-beleid van konsiliasie na die oorlog was om versoening te bewerkstellig tussen die bittereinders en hierdie meelopers en verraaiers.
Toe vrede gesluit is, het die Britte onderhandel met die vegtende minderheid van Boere, die wat geweier het om oor te gee sonder om te veg. Van hulle was pres. Kruger en pres. Steyn die verpersoonliking: leiers wat bereid was om alles op die spel te plaas vir hulle volk se eer, en wat daarmee die groot hoofstukke van ons heldedom geskryf het waarsonder die Afrikanervolk bitter arm aan steunpunte in die geskiedenis sou gewees het.
Kruger het die sentrale figuur van die Suid-Afrikaanse geskiedenis geword. Die stryd om vryheid van buitelandse dominasie en die stryd teen uitwissing deur Swart getalle het die Kruger-era oorheers. Daardie tweekantige stryd is oorgedra op die twintigste eeu. Genl. Hertzog, dr. Malan, adv. Strijdom, dr. Verwoerd het draers van die Kruger-kleed geword om langs ander weë en met ander middels die stryd om vryheid te hervat en voort te sit.
Daar word soms gesê dat die Afrikaners die “Boere-oorlog” voortsit en dat dit die eenheid van Afrikaners en Engels belemmer. Dat die Afrikaners tot hulle eer die stryd om die verlore republieke terug te wen, voer, is waar. Dat die navolgers van Rhodes en Milner die roofoorlog van die laaste kwart van die 19de eeu voortgesit het en vandag nog met eweveel intensiteit voer om die Afrikanervolk se politieke mag te breek, is veel meer waar.
Enigiemand wat die rol van die Rhodes-Milner politiek tydens en ná die 1875/1902-periode wil begryp, moet eers die onlangs verskene boek van prof. Carroll Quigley, “The Anglo-American Establishment” lees, waarin die hele konspiratoriese aard van die politiek oopgevlek word met ’n magdom van feite.
Dat die geldmag wat Rhodes en Milner teen pres. Kruger verteenwoordig het, sedertdien die stryd gevoer het teen die Nasionale Party van genl. Hertzog, dr. Malan, adv. Strijdom en dr. Verwoerd, behoef geen beklemtoning nie. Die Oppenheimer-figuur was in die vyftiger- en sestigerjare net so in direkte konfrontasie met die Nasionale Party-leiers as wat Rhodes met pres. Kruger was. Net soos Kruger, het hierdie manne nie geswig nie.
Hoe uitdagend Oppenheimer sedertdien geword het, kan afgelei word uit sy lesing op 12 Augustus 1970 by ’n herdenking van die Jameson-inval.
“Rhodes”, verklaar mnr. Oppenheimer, “was nogtans nie verkeerd deur te dink dat die Transvaalse Republiek van pres. Kruger nooit deel kon vorm van ’n moderne, verenigde Suid-Afrika tensy dit grondig verander word nie. As daar ’n Blanke gemeenskap was, so selfvoldaan, so agterdogtig teen vreemde invloede dat hulle selfs teen groot materiële koste geweier het om saam te werk aan die bou van ’n verenigde moderne land, dan moes die gemeenskap vernietig word. Soos Rhodes die saak gesien het, het die gemeenskap homself hardkoppig en dwaaslik gestel as ’n versperring in die weg van die noodwendige evolusionêre vooruitgang van die geskiedenis. Suid-Afrika moet kies: vooruit as ’n moderne, verenigde nasie in tred met die res van die mensdom, of terug in die laer ten einde homself, so goed hy kan, te verdedig teen die veranderde lewens- en denkwyse van die buitewêreld in ’n poging om die afsonderlike identiteit en tradisies van sy stamme en nasies onveranderd te hou.”
Dan gaan mnr. Oppenheimer voort: “Cecil John Rhodes was reg om die Boerevolk van Transvaal te probeer vernietig. Rhodes het net te gou en op die verkeerde manier te werk gegaan deur deel te hê aan die Jameson-inval. Rhodes het sy antwoord op Suid-Afrika deur mag afgedwing en daarom misluk.”
Dit bly een van die interessante onverklaardhede dat in die tweede helfte van die sestigerjare, kort na die sluipmoord op dr. Verwoerd, ’n hoofamptenaar van Anglo-American, M.C. O’Dowd, in ’n publieke dokument geskryf het dat teen 1980 Suid-Afrika ’n liberale regering sou hê, maar dat die Nasionale Party steeds aan bewind sou wees. En die SA Stigting het die geskrif versprei.
So ’n liberalisering sou ook onder pres. Kruger die geval gewees het as hy bereid was om ja te sê vir Milner en Rhodes se politiek, sodat die geldmag ook die politieke mag kon word. Dat pres. Kruger dit nie gedoen het nie, het hom steeds die vyand gehou van diegene wat die Rhodes-Milner-politiek later voortgesit het en vandag nog voer.
Die beste getuienis daarvan kom uit die kring wat die nouste daarmee gemoeid is—’n voormalige redakteur van ’n Argusgroep-koerant, The Cape Argus. Dit is Morris Broughton, wat in 1960 ’n gunstige woord vir republiekwording gehad het en daardeur sy pos verloor het. In sy boek “Press and Politics” skryf hy: “Daar is ook die behoefte om ontslae te raak van die onsigbare man oorkant die redakteurstoel van feitlik elke Engelse koerant. Daar sit hy, verergerend, swyend, pligstatig: die gees van Paul Kruger. Op stuk van sake is dit hy en sy beeld teen wie die inkvaatjies van hoon en spot, woede en nyd steeds uitgegiet word.”
In ’n tyd van woeling en onsekerheid soos tans, is hierdie getuigskrif rigtinggewend. Die bondgenootskap van die huidige Nasionale Party met Engelse koerante, geldbase, uitlandse magte en Nieblankegroepe vloek teen Paul Kruger en sy volk.
Net soos Rhodes en Milner met die rugsteun van die geldmag, en die Britse regering die Uitlanders se politieke regte wou gebruik om die Transvalers se mag te breek, word daar vandag gepoog om Nieblankes se politieke regte te gebruik om die Blanke volk se politieke mag in Suid-Afrika te breek, en weereens word dit gerugsteun deur die Britse regering en die geldmag.
In sy tyd het Kruger, as man van integriteit en eer, nee gesê vir die influisteringe van hierdie magte. Dit is in teenstelling met die politieke proses wat begin het na die sluipmoord op dr. Verwoerd en nou uitloop op die referendum waarin die volk gevra word om ja te stem vir onderworpenheid aan ’n veelrassige regering om die buiteland te paai en die geldmag te behaag.
Waarmee ons volk vandag te doen het, is in hoë mate te vergelyk met die toestand na Thomas Burgers se kapitulasie. Die weiering onder Kruger se aanvoering om daarin te berus, die durf om nee te sê, die moed om daarteen op te staan en deur stryd te herower en te herwin en te herstel wat hulle ontneem is, dít is die les van die Kruger-era vandag, honderd jaar nadat Kruger in 1883 president geword het en vandaar die Afrikanervolk se plek op die verhoog van die geskiedenis oopgestoot het.
By terugskouing is die onontwykbare slotsom dat ’n volk deur stryd, selfs oorlog, nie ten gronde gaan nie, eerder sterker word en ook uit nederlae kan opstaan en die loop van die geskiedenis kan swaai. Maar daarnaas skryf die era van 1875 -1902 die les groot oor die Afrikanervolk dat ’n leier soos Burgers, ’n volk kan verneder, maar ’n man soos Kruger ’n volk kan opvoer tot ’n hoë vlak van geestelike ervaring, wat ’n blywende bate word vir die geslagte wat kom en telkens weer uitgedaag word om te veg vir wat hulle het en wat hulle is.
Vervolg...