Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is soveel gapende afgronde elke dag op ons pad van heiligmaking – wat ons nie eers raaksien nie! Ons blindheid veroorsaak dat ons luidkeels teen die Vaderhand wat ons daar wegruk, protesteer.
BEYWER JULLE OM VLEKKELOOS TE WEES
Hannes Ollewagen
2 Pet. 3:1-18
“Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” (:13&14).
Hierdie opdrag van onse Here Jesus Christus behoort ons vir ’n oomblik te laat stil raak en te besin waarvoor ons in ons lewens ywer. Sy opdrag in hierdie verband is ondubbelsinnig en duidelik – ons behoort te ywer om ons lewens van sonde en ongeregtigheid te reinig.
Geliefdes, dit is natuurlik algemene kennis dat geen mens sonder sonde is nie. Hiervan getuig Paulus ook duidelik in sy brief aan die Romeine. “...want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,” (Rom. 3:23). En hy bevestig hierdie getuienis ook in Rom. 5:12. “DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het – “. En saam met Paulus getuig koning Dawid ook hiervan in Ps. 51:7. “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” Ons moet egter daarteen waak om nie hierdie ellendige toestand van ons sondigheid as ons lot te aanvaar nie, want God gee aan ons die opdrag tot die teendeel. Ons moet in Christus hierdie droewige toestand van ons sondigheid ontvlug na ’n geheiligde lewe in Hom.
“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.” (Rom. 6:4-6).
U moenie dink dat ek probeer verkondig dat ’n mens verwaand moet wees om te dink dat hy uit eie krag homself voor God kan regverdig nie. Daar is natuurlik vir ons net een weg na saligheid en dit is deur Christus. Ons moet egter daarteen waak om nie ons verlossing in Christus as ’n valse gerustheid te gebruik om in tevredenheid met ons ongeregtigheid agteroor te sit nie. Daarbenewens moet ons nie ons sondige toestand gelate aanvaar nie. Ons moet daarteen stry en dit beveg. Luister na Christus se opdrag in Lukas 13:24. “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” En is dit nie vir ons uit Hebreërs 12:4 duidelik hoeveel ywer ons in hierdie stryd moet werp nie? “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.”
Dink ’n bietjie aan u eie lewe. Sou u net omdat u dalk in ’n huis gebore is waar u finansieël swaar gekry het hierdie swaarkry gewoon as u lot vir die res van u lewe aanvaar? Sou dit beteken dat u in hierdie swaarkry moet oud word en sterf? Of sou u met aanwending van alle ywer probeer om hierdie toestand te verander? Dink ook hoe mense en volkere al geywer het om van ander se onderdrukking en heerskappy vry te kom. Hierdie dinge is vir ons heeltemal verstaanbaar. Maar wanneer dit by die swaarkry en stryd teen sonde kom wil ons gans te maklik handdoek ingooi en verskonings uitdink waarom ons hierdie toestand maar as gelate kan aanvaar eerder as om met aanwending van alle ywer hierteen te stry. En dit is verkeerd!
Indien ons gerus en tevrede met die sonde in ons lewens is, is dit dringend tyd dat ons ons prioriteite in ons lewens moet hersien. Hierdie is veronderstel om vir ons as God se kinders een van die belangrikste sake te wees waarvoor ons bereid moet wees om met ywer te stry. Die Woord van God is daaroor duidelik dat ons ons behoort te beywer om die sonde te beveg om vlekkeloos, rein en heilig voor Hom te wees. “...laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Kor. 7:1). Indien ons in diensbaarheid in sy koninkryk wil staan, moet ons die ongeregtigheid in ons eie lewens ook met ywer teëstaan. “Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.” (Rom. 6:19).
Mag ons met ywer die sonde in ons lewens beveg en met ywer die goeie stryd van die geloof stry en die heiligmaking nastreef. Dit is tog immers elkeen van ons se begeerte om eendag met vrede die Aangesig van God tegemoet te gaan en om rein en vlekkeloos voor Hom te mag staan. “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.” (Jak. 1:27).