Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons sê dikwels ons kan niks aan ons haglike omstandigheid in ons land doen nie. Dit is nie waar nie: geen land se toekoms rus op die skouers van die owerheid nie. Die toekoms van politieke instellings berus op die kapasiteit van die mense om self tussen reg en verkeerd te onderskei; op ons elkeen se kapasiteit om oor onsself te heers volgens die tien gebooie van God – as ons elkeen hierdie verantwoordelikheid nakom sal ons 'n baie ander prentjie in ons land sien as tans.
STRYD TEEN VREEMDE OORHEERSING (18)
LW Bienedell
Lees reeks by Stryd teen vreemde oorheersing
DIE KOMMUNISTIESE UITOORLÊPLAN
11 Februarie 1994
DIE Kommunistiese aksieplan wat die Transvaalse Landbou-Unie enkele dae gelede gepubiiseer het, kom uit ’n onberispelike bron. Onafhanklike kenners van kommunistiese taktiek het ook getuig dat dit in alle opsigte die Kommunistiese merk dra, soos dit bekend is uit die internasionale reëls wat al jare gelede tot in besonderhede uitgewerk is vir kommunistiese partye wat elkeen in sy eie land die mag wil verower. Dit is bloot ’n toepassing op Suid-Afrikaanse toestande en op die rol wat die NP, die regses en die sakebelange in die land speel. Die patroon van die outentieke kommunistiese benadering is daarin egter oral herkenbaar en sluit dit absoluut uit dat dit, soos Joe SIovo beweer, ’n fabrikasie sou wees.
Die dokument is gedateer November 1993.
Die gretigheid wat SIovo getoon het om die dokument met die boereleiers te “bespreek,” is ’n indirekte bevestiging van die egtheid daarvan, want daarmee moes SIovo ’n berekende kans vat dat sy optrede ook in breër verband juis publisiteit aan die stuk sou gee. SIovo sal waarskynlik oorweeg om aan te bied om sy vernietigingsplanne teen die Blanke boere te “matig” indien die Landbou-Unie die dokument nie verder sou versprei nie.
Die stuk is ’n interne diskussiegrondslag vir ampsdraers van die SA Kommunistiese Party, soos afgedruk in ’n interne SAKP-“joernaal” wat per hand versprei word. Moontlike skrywers van die dokument sluit in Joe SIovo self en die SAKP se ideoloog, Jeremy Cronin.
Die geskiedenis van die huidige politieke situasie in Suid-Afrika word in die dokument teruggeneem tot 1986, toe afgesante van mnr. PW Botha, waaronder ’n minister en prominente lede van ’n Inligtingsdiens, in Londen eers met die ANC en toe langdurig met die SAKP alleen, samesprekings gevoer het met die doel om hulle te oorreed om terug te kom na Suid-Afrika en as wettige politieke partye volle geleentheid te kry om hul sienswyse te bevorder.
Gedurende die hele tyd van die onderhandelings, vanaf die Londense gesprekke ses jaar gelede tot vandag toe, het die De Klerk-regering by elke draai afsonderlik met die SAKP onderhandel, as ’n raamwerk van die onderhandelings met die ANC. Die publiek is toegelaat om te weet van gesprekke met die ANC, maar die eintlike onderhandelings was met die Kommunistiese Party. De Klerk het geweet dat die SAKP die ANC beheer en het daarvolgens opgetree.
Die SAKP se leiers is sedert jare geskool in die Kommunistiese styl van onderhandelings en is baie beter in onderhandelingstegnieke opgelei as die Amerikaans-beïnvloede hanteerders van De Klerk se saak. Die Kommuniste het De Klerk dan ook om elke draai uitoorlê.
Dit was in werklikheid die SAKP en nie die NP nie, wat die eerste reeks onderhandelings, bekend as Kodesa, beëindig het. Lenin het reeds tagtig jaar gelede die teorie van konstitusionele samesprekings geskryf en gesê hulle kan begin word in ’n minderheidsposisie maar moet dan onderbreek word om die vyand te verdeel. So het die SAKP, wat toe reeds die ANC beheer het, in Kodesa voor ’n koalisie van die NP, Bophuthatswana, Ciskei en Kwa-Zulu gestaan. Die tyd tussen Kodesa en Kemptonpark is gebruik om die Bisho-insident uit te lok en daaroor ’n wêreldwye persveldtog te organiseer. Daarop het die “notule van verstandhouding” gevolg, waarop as ’n bilaterale ooreenkoms tussen De Klerk en die SAKP besluit is, maar waar later die ANC in die plek van die SAKP gekom het. Die ooreenkoms het bepaal dat die NP slegs met die ANC — lees SAKP — sou onderhandel. Buthelezi, Mangope en Gqozo het toe hul eie weg gegaan.
Netso is oor die verkiesingsdatum, die struktuur van die UOR, die verkiesingskommissie en verwante bepalings eers met die SAKP ooreengekom en daarna in die openbaar met die ANC onderhandel.
Die voorrang van die NP-SAKP samesprekings bo die gepubliseerde NP-ANC samesprekings het tot vandag toe voortgeduur, waar Joe Slovo en die SAKP konsekwent alle volkstaat-onderhandelings tussen die AVF, die NP en die ANC afgeskiet het.
Eerste fase
Getrou aan die resep van Lenin, volg Slovo en die SAKP die taktiek van die tweefase rewolusie. Eers is daar die demokratiese rewolusie van nasionale bevryding, daarna die rewolusie vir ’n sosialistiese staat.
Die afstanddoening van geweld deur die SAKP en ANC was net bluf. Selfs die polisie se onthulling van die Vula-opstandplan het die SAKP nie verhinder nie, om die grondslag van ‘n opstand, die gedissiplineerde opbou van ’n massa-struktuur en semi-gewapende groepe, ywerig te bedryf.
Vir die huidige het die onderhandelings die vernaamste gevegsveld geword. Onderhandelings is basies ’n militêre operasie waarin buite-parlementere druk die vyand sag moet maak. Daarsonder sal hy geen toegewings maak nie.
Ná Boipatong, Bisho en die notule van verstandhouding het die regering toegestem om die onderhandelings in toprat te skuif.
“Ons moes die bewind so ver soos ons kon aan ons bind. Die onmiddellike doel was om die UOR in sy plek te kry en daarmee die oorgangsproses te kan beheer. Verder moes ’n vaste verkiesingsdatum bepaal word. Terselfdertyd moes ons onwrikbaar staan in ons afwysing van federalisme en selfbeskikking van deelstate. Hieroor kan daar geen kompromis wees nie, want ons beweeg na ’n sosialistiese eenheidstaat ná die verkiesing.
“Die meganisme (vir die eerste fase) is reeds gereed. Die UOR sal ons effektiewe beheer gee oor die regering, veral oor die gewapende magte.
“Ná die verkiesing sal ons met die reaksionêre magte afreken. Daarvoor moet ons die MK wettig georganiseer kry in die Vredesmag.
“Die stryd teen die IVP in Natal en die PWV moet geïntensiveer word, met alle kragte en middele waaroor ons beskik. Die selfverdedigingseenhede in die woonbuurte moet hul deel doen in die totale bevryding van hierdie gebiede.
“Intussen moet die kandidatelyste voorberei word. Ons moet sorg dat die meerderheid van die kandidate SAKP-lede is. Ons moet ook sorg dat die veiligheidsmagte ons agenda nie bekend maak nie.
“Dit behoort relatief maklik te wees om die veiligheidsmagte via die UOR te beheer, soos dit ook moontlik moet wees om die Vredesmag te gebruik teen enige gebied wat wil afskei.
“Die proses wat ek hier vir u beskryf het, die nasionale demokratiese bevryding, het as doel om as meerderheid in die parlement te kom en die huidige regering ondoeltreffend te maak deur hom ’n minderheidsgroep te maak. Daarna kom die stryd na die verkiesing om die kapitalistiese staat in ’n sosialistiese staat te verander.
Tweede fase
“Ons sal die parlement ná die verkiesings deur die ANC beheer, omdat die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC ons skaduwee-parlement is. Die skepping van die sosialistiese staat sal deur die Heropbou- en Ontwikkelingsplan geskied. Suid-Afrika moet ’n werker-beheerde staat word. Alle landbougrond moet in die hande van die volk wees.
“Wanneer die finale grondwet geskryf moet word, sal ons die skryfwerk doen. Alle reaksionêre staatsamptenare en offisiere van die gewapende magte sal verwyder word. In die heropbou fase sal die volk toegerus word om af te reken met die reaksionêres. Die meeste wapens sal nie meer in die hande van Blankes wees nie.
“Die onafhanklike tuislande sal uitgeskakel en hulle leiers magteloos wees. Daar sal ook nooit ’n Afrikaner-volkstaat wees nie, want die reaksionêres sal dit bloot as ’n magsbasis gebruik.
“Ons moet sorgvuldige aandag gee aan die militêre stiyd. Die gewapende stryd was altyd soos ’n goue draad in ons aksie. Ook die huidige strategie van lae-intensiteit burgeroorlog en die bewapening van die massas pas ons goed en verskaf ons die uitgangsposisie vir ’n gewapende opstand. Gewapende opstand is gewoonlik nie (openlik) beplan nie en ontstaan uit ’n spesiale aanleiding, soos ’n moord op ‘n swart leier, wat ons in staat sou stel om — indien die aanleiding met die verkiesing sou saam val — die hele verkiesing in ’n gewapende opstand te omskep.
Derde fase
“Ten slotte sal daar ’n finale fase wees, waar die sosialistiese staat in ’n kommunistiese samelewing omskep word. Dit sal op Afrika-wye vlak gebeur, waar Suid-Afrika maar net ’n onderdeel van ’n kontinentale of sub- kontinentaleblok sal wees. Saam hiermee kom ’n konsep van wêreldpolitiek.
Huidige gevare
“Vir die gevaar wat in die Vryheidsalliansie skuil, moet ’n duidelike strategie geformuleer word. Dit sluit in dat die huidige bewind betrek moet word in ’n veldtog om hulle te diskrediteer en dat die regering die veiligheidsmagte opdrag moet gee om op die gevaar van regs te konsentreer.
Dit sluit ook die versameling van inligting in, sodat ons eie ondergrondse magte vryer kan beweeg.
“Die beeld van die Nasionale Party moet binne en buitelands opgebou word, sodat hulle aanhang weer van die regses kan terugwen.
“Die beeld moet geskep word dat die regses bloot oorlogsugtiges is, sodat hul steun in die sake-wêreld verswak kan word. Die regses moet ook verhinder word om ’n skeuring tussen die “valke” en die “duiwe” in die NP te bewerkstellig.
“’n Wesenlike gevaar ontstaan indien ’n burgeroorlog voor die verkiesing uitbreek, wanneer die regses betekenisvolle ondersteuning van die sakewêreld kry, erkenning in die buiteland weet te monster, en natuurlik as ’n regse staatsgreep slaag, of die regering van De Klerk genoodsaak word om ’n Blanke verkiesing of referendum te hou. Die SAKP moet alles doen wat in sy vermoë is om enige een van daardie dinge te verhoed.”
Vervolg...