Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer jy sekerheid het wat God se take vir jou hier op aarde is en jy jou met oorgawe daaraan toewy, kan geen mens met watter kwade bedoelings ookal, jou onstig en ontwrig nie want dit is nie belangrik nie – die Here sê ons moet rustig voortwerk, Hy is in beheer. Glimlag dan en doen jou dagtaak in die gemoedsvrede wat God jou skenk.
GESKIEDENIS VAN DIE KRUGER- STANDBEELD (1)
Dr JH Breytenbach
Lees reeks by Geskiedenis vd Krugerstandbeeld
Hy was 'n merkwaardige figuur, die Israeliet Sammy Marks - soos hy algemeen in die omgang genoem is. Eweas sy medekapitaliste in die ou Suid-Afrikaanse Republiek, het ook hy sy fortuine uit die Suid-Afrikaanse —en in die eerste plek uit die Transvaalse—bodem gehaal, maar anders as die meerderheid van hulle was hy daarmee heeltemal gelukkig en tevrede terwyl 'n aantal van die uitlandermynbase en grootkapitaliste in Johannesburg gal teen die Regering van die Republiek en insonderheid teen sy gevierde Staatspresident Paul Kruger gebraak het.
Intussen het die fluisterstorie hier in Augustus 1895 die strate vol gelê van 'n opstand wat sou kom om die "oligargie" in Pretoria—soos daardie mense die Krugerregering genoem het—omver te werp. Te midde hiervan was hy, Marks, besig om tere gedagtes om die einste Paul Kruger te weef. Vir hom was die President nie die ruwe, haas onbeskaafde, outokratiese, bekrompe wese waarvoor daardie kapitaliste en hul handlangers hom daagliks uitgeskel het nie, maar 'n verteenwoordiger van Suid-Afrika in die volste sin van die woord:
die een figuur wat vanweë sy vaderlandsliefde net so onafskeidelik en onverganklik aan die Suid-Afrikaanse bodem verbonde was as die berge wat daarop gestaan het.Hy het die President gesien as die verpersoonliking van die Afrikanervolk, die groot draer van die Afrikaanse gedagte: die "Boer of all Boers," om die woorde van die Amerikaanse skrywer Hillegas te gebruik- en as sodanig het hy vir hom die hoogste bewondering en diepste eerbied gehad.
Terwyl dan ook die reeds genoemde grootkapitaliste—mense wat uit die goud van die Transvaalse garde ryk geword het, in die geheim besig was met die smee van 'n omvattende komplot om Paul Kruger en sy regering deur 'n staatsgreep te vernietig ten einde self die politieke mag in hande te kry, daardie komplot wat nog dieselfde jaar op die berugte Jameson-strooptog uitgeloop het—was Marks besig om te peins oor hoe hy kon vergoed vir wat Suid-Afrika aan hom besorg het. Hy het gewonder watter sigbare teken hy kon nalaat as 'n blywende simbool, wat nie uitgewis sou word nie, van sy dankbaarheid jeens die bodem wat hom met aansien en skatte oorlaai het. In hierdie verband kon hy aan geen geskikter tema dink as 'n standbeeld wat die stand van die tyd sou trotseer, van die man wat, soos hy dit gesien het, vir alle geslagte in Afrika sou wees wat George Washington vir Amerika was: Paul Kruger. En so begin die geskiedenis van die Krugerstandbeeld in die hart van'n dankbare vreemdeling wat—ten minste volgens sy eie getuienis—aan Suid-Afrika dankie wou sê op 'n wyse waardig aan wat Suid-Afrika aan hom geskenk het.
Op 20 Augustus 1895, nadat hy sy hoofboekhouer e.a. geraadpleeg het, het Marks dan ook 'n brief aan die President en Uitvoerende Raad gerig waarin hy ewe saaklik en, asof dit sommer maar 'n alledaagse sakie was, meedeel dat hy besluit het om die stad Pretoria met £10,000 te begiftig op voorwaarde dat daar uit die fonds 'n marmerstandbeeld van pres. Kruger opgerig sou word op 'n plek wat sy Hoog Edele self moes aanwys ; die balans moes ten voordele van Pretoria bestee word op 'n wyse wat die President self moes bepaal. Hy sou graag sien dat die bestelling van die standbeeld aan hom opgedra word en origens bly wees om so spoedig moontlik te verneem op wie se naam en in watter bank hy die geld moes deponeer.
Hierdie brief het die bal aan die rol gesit. Die Regering—wat blykbaar 'n volle veertien dae nodig gehad het om oor die groot verrassing te bekom —het Marks op 5 September hartlik "voor deze rijke gift " bedank, en hom vervolgens meegedeel dat sy Hoog Edele Burgerspark aan die hand doen as 'n geskikte plek vir die standbeeld en die balans van die geldsom graag bestee wil sien aan die op te rigte dieretuin in Pretoria. Die geld, kon in die Nasionale Bank van die Republiek op naam van die Tesoutier-generaal gedeponeer word, wat 'n afsonderlike rekening daarvan sou hou.
Marks se verrassende aanbod en die voorgenome standbeeld is intussen druk bespreek en bepeins deur, die hoofde van die onderskeie staatsdepartmente en ander hoofaraptenare in die Republiek, o.a. ook deur dr. N. Mansvelt, die Superintendent van Onderwys en 'n goeie kunskenner, wat hom egter heel beskeie die vraag veroorloof het of 'n standbeeld van brons nie verkiesliker was bo een van marmer nie, aangesien marmer moontlik nie teen die sterk temperatuursveranderings van die Transvaalse klimaat stand sou hou nie. Ook het hy ten opsigte van Marks se begeerte om self die standbeeld te bestel, versigtig in oorweging gegee dat geen standbeeld tog in ontvangs geneem moes word wat nie vooraf goedgekeur is deur iemand wat sy Hoog Edele persoonlik goed ken nie, sodat voorkom sou word dat die standbeeld ontaard tot die vele portrette wat daar van die President bestaan en wat wel die hooflyne maar volstrek nie die eienaardige karakteristieke uitdrukking van sy gelaat weergee nie. By Marks het hierdie wenke op vrugbare aarde geval. Hy het hom ten minste uiteindelik met dr. Mansvelt se sienswyse oor die verkieslikbeid van brons bo marmer vereenselwig en nie lank daama nie of hy het, natuurlik in oorleg met die Regering van wie hy op hierdie tydstip 'n besonder getroue aanhanger was, sy kunstenaar gekies gehad— toe nog 'n totaal onbekende figuur in die kunstenaarswêreld—ene Van Wouw.
Die eienskappe van die President het Van Wouw diep getref en toe hy van Marks se planne verneem het by dadelik aan die werk gespring om 'n sketsmodel te maak van 'n monument wat, indien dit eenmaal afgewerk en opgerig was, hierdie eienskappe onmiskenbaar aan die lig sou stel. Dit het die President in sy gebruiklike formele drag as staatshoof uitgebeeld, rustig staande op 'n hoë voetstuk in 'n eg vaderlike houding, omring deur vier gewapende burgers twee uit die Voottrekkertyd en twee uit Van Wouw se eie tyd—wat in al vier die windrigtings rondom die sentrale Krugerfiguur brandwag staan- nie in die steriotipe houding van afgerigte soldate wat op aandag staan nie, maar soos tipiese burgerkrygers, sittende en tog wakker en waaksaam: Die President as die sentrale figuur in die groep, sou die simbool wees nie alleen van die sentrale posisie wat hy as vader in die hart van sy volk inneem nie, maar tewens van die Republikeinse vryheidsgedagte wat in hom beliggaam is as hul kosbaarste pand deur die Boerevolk en van alle tye bewaar en bewaak word.
Hierdie sketsmodel het Marks sowel as diegene wat deur hom uitgenooi is om dit to besigtig—etlike lede van die Volksraad en Uitvoerende Raad van die Republiek--geïmponeer, en op 7 Oktober 1896, meer as dertien maande nadat die skenking gedoen is, het die skenker, na oorlegpleging met o.a. met pres. Kruger en Van Wouw, laasgenoemde skriftelik opdrag gegee om onverwyld na Europa te vertrek om die werk in Frankryk of Italië onder sy toesig te laat uitvoer. Daarvoor is hom tyd gegun tot 1 April 1898, wanneer hy na Pretoria moes terugkeer om toesig oor die oprigting van die monument te hou. Hy sou 'n salaris van £40 per maand vir 'n tydperk van nie langer as twee jaar ontvang, en natuurlik vergoeding van alle koste wat hy in verband met die maak en giet van die beelde mog hê; voorts sou ook vry reispasse aan hom, sy vrou en kind, na en van Europa verskaf word, asook na plekke in Europa wat hy met die oog op die uitvoering van sy werk sou moes besoek.
Vir Van Wouw was dit die groot dag van sy lewe en hy het geen gras onder sy voete laat groei om wat hom opgedra is sonder verwyl aan te pak nie. Die kunstenaar in hom het nou lewendig geword en die heerlike vooruitsig om in Frankryk, Italië en elders met die grootste beeldhouers, die meesters in die kuns, en beeldhouwerke van die wêreld kennis te maak, het hom so aangevuur dat ons hom reeds in Desember 1896 in Europa aantref, druk besig om met die Gesant van die Republiek en gesaghebbendes in die modelleer- en gietkuns in Nederland te raadpleeg oor sy voorgenome skepping en die maak en giet daarvan.
Vervolg...