NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Afsondering is een van die oudste behoeftes van die mens. Elkeen van ons wil soms bietjie alleen wees sodat ons rustig kan wees, sonder die inspanning wat ander mense se teenwoordigheid bring. Ons moet egter onthou dat ons nooit, nooit sonder God se teenwoordigheid is nie. Afsondering beteken dus vir die Christen om alleen saam met God te wees, soos wat Christus in afsondering gaan bid het voor sy kruisiging.

PAUL KRUGER (SLOT)

'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger

Deur D.W. Kruger

Lees reeks by Paul Kruger 

’n Nuwe Bedeling

Paul Kruger se verblyf in die buiteland het sonder twyfel sy kennis en ervaring vermeerder, maar hy het die eenvoudige Afrikaner van voorheen gebly. Hy was geanker in eie bodem en te midde van sy eie volk, ’n man van seldsame karakter en daarby iemand met beginsels wat onwrikbaar op die Heilige Skrif gebaseer was. Die omgang in die vreemde met groot manne van allerlei en selfs teenoorgestelde oortuiginge het hom nie van sy koers laat afwyk nie. Dit het eerder bygedra tot sy groeiende status en onder die grotes van die wêreld was daar min wat nie beïndruk was nie.

Terug in sy eie land is hy opnuut gekonfronteer met probleme wat sy aandag geverg het. Die Konvensie het nie dadelik ’n einde gemaak aan die wesgrensvraagstuk nie. Die grenslyn het op afbakening gewag en Kruger het hom teen sy beterwete laat oorreed om tog nog territoriale gewin vir die Republiek in die warboel te soek. In stryd daarmee was die omstandigheid dat hy ’n Britse protektoraat oor die res van Betsjoeanaland erken het. Die grootste deel van die Republieke Stellaland en Goosen sou daarbinne val, ’n gedagte waarmee die inwoners nie genoeë geneem het nie. Met Kruger se terugkeer uit Europa het hy ’n gespanne situasie aangetref. Die optrede van eerw. John MacKenzie as Britse Resident-kommissaris in die protektoraat het veel daartoe bygedra.

Hy was bekend as ’n negrofilis en Boerehater en sy houding teenoor die boere in die gebied was geensins versoenend nie. Hy wou hulle geen versekering gee van hulle grondbesit nie. Derhalwe het die Stellalanders hulle beywer vir inlywing by die Republiek. Hy was ook gekant teen enige aanhegting van die gebied by die Kaapkolonie. So ongewild was sy optrede dat die Britse Hoë Kommissaris hom teruggeroep het. Sy plek is deur Rhodes ingeneem wat veel meer toeskietlik was.

Die Stellalanders was geneë om hulle nou na omstandighede te skik, maar Transvaalse leiers soos genl. Joubert en ds. Du Toit het gemeen dat die onsekerheid langs die grens tog ’n geleentheid gebied het tot Transvaalse uitbreiding. Paul Kruger het hom onder invloed van Du Toit laat mislei tot ’n staatkunde wat gevaarlik was vir so ’n swak land. Toe Du Toit Joubert as grenskommissaris in September 1884 vervang, het hy met goedkeuring van Kruger druk op die stamhoofde uitgeoefen om inlywing by die Transvaal te soek. So iets sou in stryd met die pas-bekragtigde Konvensie wees, maar Kruger het gemeen dat finaliteit nog nie bereik is nie. Gevolglik het hy op 15 September 1884 by wyse van ’n proklamasie ’n republikeinse protektoraat oor die stamme van Montsioa en Moshette afgekondig. Du Toit het verder gegaan en die Trans­vaalse Vierkleur in die gebied gehys. Daar was ’n storm van protes uit Kaapland en in Brittanje. Selfs goedgesinde Afrikaners in die suide was onthuts oor die onverantwoordelike optrede. Die Britse Regering het formeel geprotesteer en Kruger was verplig om sy proklamasie te herroep. Dit was ’n groot diplomatieke neerlaag en het daartoe bygedra om sy aansien in Engeland te verminder.

’n Verdere gevolg was dat die Britse houding verhard het en ’n troepemag onder aanvoering van sir Charles Warren is na Betsjoeanaland gestuur om Britse gesag te handhaaf. Nadat vooraf reëlings getref is, het Kruger en Warren mekaar in Januarie 1885 by Veertienstrome ontmoet. Op weg daarheen het hy die inwoners van die twee republieke gemaan om hulle rustig te hou en Britse gesag te aanvaar. Hy het terdeë besef dat hy ’n flater begaan het en dat hy alles in sy vermoë moet doen om die Britse owerheid gerus te stel.

Tydens die samesprekings was Cecil Rhodes ook teenwoordig. Dit was die eerste ontmoeting van twee groot manne en Rhodes het horn by hierdie geleentheid meer inskiklik as Warren getoon. Warren wou niks anders hê as ’n voortsetting van sy ekspedisie en die gewelddadige verdrywing van die blanke nedersetters uit die gebied nie. Eindelik is ooreengekom op ’n gemeenskaplike afbakening van die nuwe grenslyn. Die ekspedisie sou voortgaan, maar Warren het nêrens teenstand ondervind nie. Sy hele onderneming het in die lig van die omstandighede bespotlik geword. In elk geval is Kruger verplig om in die toestand te berus. Verder weswaartse uitbreiding van die Transvaal is onmoontlik gemaak, terwyl die weg vir Rhodes deur Betsjoeanaland na die gebied noord van die Limpopo moontlik geword het.

Paul Kruger het voortaan alle aandag aan sy ooswaartse planne gewy. Sy spoorwegplan het met die ontdekking van goud in die land en die groot ekonomiese oplewing wat daarop gevolg het, binne die perke van die bereikbare gekom. Tog is hy terselfdertyd voor ’n geweldige nuwe probleem gestel, nl. die aanwesigheid van duisende vreemdelinge wat die land binnegestroom en ’n bedreiging geword het vir die Afrikaner-heerskappy.

In die winter van 1886 is goud op verskeie plekke langs die Witwatersrand 60 kilometer van Pretoria ontdek. Daar was byna onmiddellik n toeloop van delwers uit alle dele van Suid-Afrika en uit die buiteland. Delwerskampe het soos paddastoele verrys en Kruger het die eerste openbare delwery op 20 September geproklameer. Toe dit geblyk het dat die goudvonds standhoudend en die hoofrif ontdek is, het die tydelike verblyfplekke geleidelik plek gemaak vir permanente geboue. ’n Nuwe stad Johannesburg, het verrys en huisvesting en leeftog aan duisende uitlanders, meestal van Britse herkoms, verskaf. Dit was geen langsame insypeling van assimileerbare immigrante soos in die verlede nie, maar ’n plotselinge vestiging van ’n bevolkingsgroep wat daarop uit was om hulle fortuin te benut en hoegenaamd nie van plan was om hulle met Kruger se Republiek en sy mense te vereenselwig nie. Hulle lewenswyse en lewensopvattinge het geheel en al verskil van dié van die ou bevolking.

Heel gou het die vraagstuk van burgerregte vir die vreemdes opgeduik, terwyl ook aangedring is op noodsaaklike geriewe.

In Februarie 1887 het Kruger die nuwe goudvelde besoek. Hy is hartlik verwelkom, maar die delwers was nie almal tevrede nie. Hulle het aangedring op eiendomsreg op hulle standplase en het ook gekla oor hoë invoerregte op goedere uit die buiteland, en oor hoë lisensiegelde. Hulle het selfs aangedring op munisipale selfbestuur. Dit was die begin van ’n lange stryd tussen Kruger en die nuwe bevolking, of ten minste diegene wat beweer het dat hulle namens die Uitlander-element gepraat het.

Op die vertoë van die delwers het Kruger belowe om hulle moeilikhede met hulle verteenwoordigers te bespreek. Later die dag het hy ook onderneem om, bewus van hulle behoeftes, hulle tegemoet te kom. Hy het wetsgehoorsame Uitlanders die beskerming van die wet toegesê en die eendragtige samewerking van die oue en die nuwe bevolking bepleit. Daardie middag het hy by ’n eetmaal kennis gemaak met die Kaapse politikus, en Rhodes vir die tweede keer ontmoet. Rhodes het hom nogal verstandig uitgelaat en die Uitlanders gemaan dat hulle die Transvaalse Regering nie kan kwalik neem as hy hulle met argwaan bejeën nie.

Toe Kruger Johannesburg in September 1887 vir die tweede keer besoek, is hy feestelik ontvang. Hy het soos voorheen verklaar dat hy geen onderskeid tussen die ou en die nuwe bevolking sou maak nie. Hierdie keer het hy egter bygevoeg dat sodanige gelyke behandeling nie die vraagstuk van die stemreg en verteenwoordiging in die Volksraad insluit nie. Sy woorde het geen goeie ontvangs geniet nie en Kruger het deur sy ontaktvolle optrede tydens die dinee wat hom aangebied is, nie juis bygedra om die stemming te verbeter nie. Die President en die Uitland-element wat twee aparte wêrelde verteenwoordig het, kon mekaar eenvoudig nie vind nie. Die Uitlanders het ’n heterogene, onassimileerbare ele­ment in die Republiek gebring, maar tog het Kruger besef dat hulle deur die ontwikkeling van die goudnywerheid baie bygedra het tot die nuwe ekonomiese welvaart wat die Transvaal ondervind het. Terwyl die Uitlander-probleem jaar na jaar groter geword het, het die Republiek ’n tydperk van ongekende voorspoed binnegetree.

Geld het in omloop gekom, daar was ’n nuwe groot mark vir boerderyprodukte, transportry het in ’n groot en winsgewende bedryf ontwikkel waarby die boere gebaat het, en die staatsinkomste het gedurig gestyg. Dit het die regering in staat gestel om baie meer fondse beskikbaar te stel vir die onderwys, die staatsdiens en die oprigting van openbare werke. Die Transvaal het ’n aantreklike beleggingsgebied geword, en eindelik het die Nederlandse konsessionarisse vir die bou van die oosterlyn daarin geslaag om voldoende kapitaal te vind. So het in 1887 die Nederlandsch Zuid- Afrikaansche Spoorwegmaatschappy tot stand gekom. Die Transvaalse Regering het ’n aansienlike aandeel daarin verkry. So het Kruger se ideaal nog ’n stap nader aan vervulling gekom.

Met die vyfjaarlikse presidentsverkiesing in 1883 is Paul Kruger met ’n oorweldigende meerderheid bo sy teenstander, Piet Joubert, verkies. Die Kommandant-Generaal se politieke invloed het grootliks afgeneem, maar ook ds. S. J. du Toit se belangstelling het verflou en daarbenewens het hy sedert die wesgrensfiasko nie meer die vertroue van die President geniet nie. Kruger was nou stewiger in die saal as tevore en hy het sy administrasie versterk deur die benoeming van dr. Leyds tot staatsekretaris, nieteenstaande kwaai teenstand van die kant van diegene wat gemeen het dat die Hol­landers te veel invloed verkry. Terselfdertyd is Kruger ook aangeval oor sy voorstel om aan die N.Z.A.M. ’n konsessie te verleen vir ’n stoomtrem van die Boksburg-steenkoolvelde na Johan­nesburg. ’n Toonbeeld van die heersende ekonomiese voorspoed was die oprigting van die pragtige nuwe regeringsgebou aan die Kerkplein te Pretoria. Die President het die hoeksteen op 6 Mei , 1889 gelê.

Gedurende hierdie tyd het hy ernstige aandag gegee aan onderwysaangeleenthede en pogings aangewend om met die oog op die oprigting van ’n universiteit, ’n professor uit Nederland te bekom wat die grondslag moes lê. Dr. Abraham Kuyper, die bekende godgeleerde en geesgenoot van Kruger, was nie geneë om te help nie, want hy het verkies dat Transvaalse studente hulle studies aan sy eie universiteit, die Vrye, van Amsterdam afrond. In 1891 het die onderhandelings tussen die twee afgespring en daar het verwydering in hulle onderlinge verhouding ingetree. In ander opsigte het die onderwys in die Transvaal egter groot vordering gemaak. ’n Staatsgimnasium is opgerig, ’n modelskool vir die opleiding van onderwysers asook ’n staatsmeisieskool wat almal die volmondige steun van die President geniet het.

Terwyl die Nederlandse spoorwegmaatskappy langsamerhand met die konstruksie van die spoorweg begin het, het ook die Natalse en Kaapse spoorweë gestreef na verlenging van hulle lyne in die rigting van Johannesburg. Sy winsgewende mark sou die spoorweë lonend maak. Elkeen was begerig om eerste te wees, want sonder die Transvaalse Regering se toestemming kon die spoorweë van die suide nie oor sy gebied gebou word nie. Voltooiing van die oostelike spoorweg sou finansiëel veel groter voordele vir die Transvaal inhou weens die Republiek se groter aandeel aan doeanetariewe sowel as vraggeld op goedere wat uit die buiteland ingevoer word. So het die voltooïng van die spoorweg na Delgoabaai die sluitsteen van Paul Kruger se politiek geword. Eers toe die bou van daardie spoorweg ver gevorder het, het hy sy toestemming gegee dat die Kaapse spoorweg deur die Vrystaat na Johannesburg verleng kon word. Op 15 September 1892 het die eerste trein uit die suide Johannesburg binnegestoom.

Op 15 Oktober 1894 het die eerste trein uit die ooste Pretoria bereik, maar die amptelike opening het eers die volgende winter plaasgevind te midde van die groot feesvierings in Pretoria en Delagoabaai wat albei deur Kruger bygewoon is. Daar is hy van alle kante begroet as die krag agter die hele ondememing. Soos voorsien kon word, het ’n geweldige kompetisie binne enkele maande tussen die verskillende spoorlyne ontstaan.

Te midde van al hierdie gebeurtenisse moes Kruger ook die Uitlander-vraagstuk hanteer. Die eise van die Uitlanders om stemreg en verteenwoordiging in die Volksraad kon nie langer teengestaan word nie.

In 1890 het Kruger gemeen om ’n oplossing te vind deur aan hulle deur wetgewing afsonderlike stemreg vir ’n tweede Volksraad toe te staan. Die Volksraad sou veral die mynbelange behartig. Terselfdertyd is die grondwet gewysig sodat nuwe intrekkers na ’n tweejarige verblyf genaturaliseer kon word en na ’n verdere twee jaar kon kwalifiseer om vir die Tweede Volksraad verkies te word. Maar daama sou nog 4 jaar verloop voordat so ’n vreemdeling volle burgerskap en stemreg verkry. So, het Kruger ge­meen, sou die mag in die hande van die ou bevolking bly. Baie Transvalers het heftig beswaar gemaak teen selfs die toegewings met die Tweede Volksraad en dit het al Kruger se oorredingskrag vereis om die Volksraad tot sy sienswyse oor te haal.

Natuurlik het die wysiging van die grondwet nie net Britse onderdane getref nie, maar alle vreemdelinge sowel as Kaapse Afrikaners. Dit het bygedra tot die vervreemding wat ingetree het tussen hulle en Kruger na aanleiding van sy spoorwegbeleid. Dit sou in elke geval spoedig blyk dat die Uitlanders glad nie met die beperkte stemreg tevrede was nie. Baie van hulle, gesteun deur die meeste mynbase, het begin dink aan ’n omverwerping van die Krugerbewind en sy vervanging deur ’n liberale regering wat ook groter ekonomiese toegewings sou maak. Hulle vernaamste beswaar in daardie verband het die dinamietkonsessie gegeld. Die prys van dinamiet, ’n plofstof wat die myne baie gebruik het, was hoog as gevolg van ’n monopolie wat die regering aan Eduard Lippert verleen het. Die Uitlanderpers het aanhoudend kritiek daaroor, en teen die regering in die algemeen, uitgespreek en Kruger persoonlik vir alle misstande verantwoordelik gehou.

Ook met die Britse  Regering het Kruger van tyd tot tyd in geskille geraak. Dit het veral gehandel oor die houding van die Republiek tot Swaziland wat verdere republikeinse uitbreiding in die rigting van die see versper het. Die gebied was van belang vir die Transvaalse boere wat jaarliks winterweiding vir hulle vee daar gesoek het. Maar die gebied was ook die toevlugsoord van honderde fortuinsoekers en veral konsessiejagters wat die guns van die swak koning, Umbandine, gesoek het. Blankes, sowel Engelse as Afrikaners, het ’n ongewenste invloed oor die interne sake van Swaziland verkry en die Britse en Transvaalse regerings het eindelik besef dat die uitbuiting van die land slegs deur blanke toesig stopgesit kon word.

Paul Kruger het grootliks belang gestel in Swaziland aangesien vestiging van Transvaalse invloed aldaar ’n stap in die rigting van ’n eie hawe aan die ooskus sou beteken. Swaziland is van die see geskei deur slegs ’n smal stuk grondgebied wat aan die stamhoofde Zambaan en Umbegize behoort het. Vir die Transvaalse Republiek was Swaziland strategies uiters belangrik terwyl Brittanje eintlik geen belange daar gehad het nie.

Reeds in 1887 het Kruger aan ’n Natalse koerantman verklaar dat hy bereid sou wees om tot ’n tolverbond met die res van Suid-Afrika toe te tree as hy ’n eie hawe het. Die jaar daarop het die Transvaalse Regering die samewerking van Brittanje gesoek vir sy ooswaartse uitbreiding en in Februarie 1889 het die regering gevra of Brittanje nie in beginsel sou toestem tot die inlywing van die gebied tussen die Republiek en die ooskus nie. ’n Paar maande later het Kruger aangebied dat hy alle aansprake op uitbreiding noord van die Limpopo sou laat vaar indien Brit­tanje hom onttrek aan die gebied aan die ooskus, nl. Swaziland en die gebied van Zambaan en Umbegize, insluitende Kosibaai wat Kruger begeer het. Die Britse koloniale minister, lord Knutsford, het geantwoord dat die Transvaalse voorstelle oorweeg sou word na ontvangs van die verslag van ’n Britse amptenaar wat spesiaal na die gebied gestuur is. Intussen sou Swaziland gesamentlik deur die regering van Brittanje en dié van Transvaal bestuur word.

In Oktober 1889 is sir Hercules Robinson as Hoë Kommissaris deur sir Henry Loch opgevolg en hy is gelas om verder met Kru­ger te onderhandel. In Maart 1890 het ’n ontmoeting tussen hulle plaasgevind by Blignautspont, op ’n grens tussen die Kaapkolonie en die Transvaal. Ook Rhodes was teenwoordig. Daar het Kruger tot groot tevredenheid van Rhodes, verklaar dat hy in ruil vir uit­breiding ooswaarts sou afsien van enige planne ten opsigte van die gebied noord van die Limpopo. Loch wou egter niks toegee nie behalwe dat die voorlopige regering in Swaziland tydelik verleng is. Kruger het geweier om hom deur Loch te laat dwing om ’n konsepkonvensie insake Swaziland te aanvaar sonder dat daar melding gemaak word van Transvaalse uitbreiding ooswaarts. Onder druk van Jan Hofmeyr wat spesiaal deur Loch na Pretoria afgevaardig is, het Kruger eindelik geswig, hoewel eers nadat Hofmeyr hom skriftelik namens die Britse Regering verseker het dat Brittanje die oostelike aansprake van die Republiek later gunstiger sou oorweeg.

Die President was baie teleurgestel, want die gesamentlike beheer oor Swaziland is gehandhaaf. Die Republiek het slegs die reg verkry om deur ’n verdrag met die Swazihoof ’n stuk grond van vyf kilometer breed vir die aanleg van ’n spoorlyn na Kosibaai te verkry. Niks is gesê van ’n deurgang deur die Bantoegebied oos daarvan nie. So het die toegewing wat betref. die spoorweg sy waarde in die Republiek verloor, hoewel Kruger hom laat bind het  slegs af te sien van enige noordwaartse uitbreiding nie, maar ook om toe te tree tot ’n algemene tolverbond. Hy moes verder ook toestem tot ’n verlenging van die Natalse spoorlyn van die grens tot Johannesburg.

Vir Kruger was dit ’n groot teleurstelling en hy het sy belangstelling in Kosibaai verloor. Terselfdertyd het hy ’n beperkte doelwit bly nastreef. Dit was om die beheer oor Swaziland te verkry. Knutsford se opvolger in ’n nuwe Gladstone-kabinet wat in Augus­tus 1892 aan die bewind gekom het, lord Ripon, het meer goedgesindheid aan die dag gelê, maar weens die Britse openbare mening was ook hy nie by magte om veel te doen nie. Wel het hy ’n einde gemaak aan Brittanje se deelname aan die gesamentlike be­heer oor Swaziland. In April en weer in Junie 1893 het Kruger en Loch samesprekings gevoer en ’n nuwe Swaziland-Konvensie het in November 1893 van krag geword. Dit was andermaal ’n oorgangsmaatreël, en nog steeds het Kruger nie sy sin gekry nie.

’n Jaar later het Loch ’n besoek aan Pretoria gebring en by die geleentheid het ’n baie onaangename voorval plaasgevind, vernederend vir die President. Hy en Loch het saam plaasgeneem in die rytuig wat Loch van die stasie na sy hotel moes vervoer. Onverwags het ’n groepie geesdriftige jingo’s die perde afgehak en onder die sing van Engelse liedere en die waai van die Union Jack die rytuig na die hotel getrek. Daar is Kruger alleen in die voertuig gelaat terwyl Loch geluister het na die voordrag van ’n lojale adres. Slegs die tussenkoms van ’n aantal troue burgers wat die rytuig verder na die Presidentskantoor getrek het, het Kruger uit ‘n vemederende posisie gered. Die President het kalm gebly hoewel sy bloed gekook het. Die insident het kwaaie gevoelens gewek en fatsoenlike Engelse burgers het teenoor Kruger hulle sterk afkeuring uitgespreek. Daar was ’n gespanne verhouding tussen die ou en die nuwe inwoners van die land en op Kruger se versoek het Loch afgesien van ’n voorgenome besoek aan Johannes­burg. Dit was baie moontlik dat Loch se blote verskyning aldaar die vuur van die Britse patriotisme kon aanblaas.

Na ’n verdere konferensie in Desember 1894 tussen Kruger en Loch naby Charlestown aan die Natalse grens is die Swazivraagstuk deur ’n derde konvensie afgehandel. Hierdeur het die Repu­bliek ’n protektoraat oor die gebied verkry maar Kruger se ou droom van ’n hawe by Kosibaai met ’n spoorweg daarheen is verydel. Die Britse beloftes is nooit nagekom nie en in April 1895 is alle ooswaartse uitbreiding van die Republiek finaal beëindig toe Brittanje die gebied van die onafhanklike swart hoofde, Zambaan en Umbegize, tussen Swaziland en die see geannekseer het. Slegs die oosterlyn het aan die Transvaal ’n verbinding met die buitewêreld besorg, want reeds tevore het Rhodes die gebied noord van die Limpopo ingepalm. Die Republiek was feitlik vasgekeer in die binneland.

Terwyl Paul Kruger ’n verbete stryd teen die Britse verteenwoordigers in Suid-Afrika moes stry, en veel van die goedgesindheid wat hy in 1884 in Brittanje verwerf het, verlore gegaan het, moes hy ook aan ’n groeiende opposisie binne sy eie land die hoof bied. Dit het ’n toppunt bereik met die presidentsverkiesing van 1893. Sy teenstander was andermaal Joubert wat ’n aansienlike persoonlike gevolg van sogenoemde "progressiewe” Afrikaners gehad het asook steun van die Uitlanderpers. Ook die hoofregter, John Kotze, het as kandidaat na vore getree. Dit was ’n taai stryd waarin die Krugerbewind veral kritiek moes verduur oor sy “Hollanderpolitiek”. sy konsessiebeleid, sy spoorwegbeleid en sy hantering van die Swaziland-vraagstuk. Kruger is ook persoonlik aangeval oor sy „outokratiese” neigings. Die uitslag van die verkiesing was ’n naelskraap oorwinning vir Kruger. Hy het slegs 7 854 stemme teenoor 7 009 vir Joubert en 81 vir Kotze behaal.

Paul Kruger se derde ampstermyn het begin in ‘n tydperk van toenemende spanning. Die verkiesingsuitslag was ’n teken dat sy gewildheid aan die afneem was, maar die gebeurtenisse van die daaropvolgende jare het hom die geleentheid gebied om te wys dat hy in tye van krisis die regte stuurman was. Met die voltooiing van die hoofspoorlyne van die kus na Johannesburg het die verwagte kompetisie tussen die verskillende spoorweë ’n hoogtepunt bereik. Die Kaapse regeringspoorweg het in Januarie 1895 sy tariewe verlaag en daardeur die Transvaal gedwing om ter beskerming van sy eie troetelkind, die Nederlandse Z. A. Spoorwegmaatskappy, die vraggeld op die trajek van die Kaapse lyn van Vereeniging af na Johannesburg eweredig te verhoog. Dit was Kruger se antwoord op die doelbewuste poging om die Hollandse spoor­weg in die wiele te ry. Die Kaapse spoorweë het gereageer deur goedere bestem vir die Transvaal aan die Vrystaatse oewer van die Vaalrivier op ossewaens oor te laai en so verder na Johannes­burg te vervoer. Teen die winter van 1895 het die padverkeer na die goudstad baie druk geword en dit ten koste van die Nederlandse spoorweg waarin die Republiek die grootste aandeelhouer was.

’n Konferensie van al die state en kolonies in Suid-Afrika in April 1895 het die saak nie opgelos nie, want die Republiek het in die belang van sy eie spoorweg geweier om die Kaapse eis vir ’n groot aandeel in die goedereverkeer toe te staan. Paul Kruger het nou ’n drastiese maatreël getref toe hy deur spesiale wetgewing daartoe gemagtig, die driwwe deur die Vaalrivier vir ossewaverkeer na die Rand gesluit het. Vanaf 1 Oktober 1895 sou geen goedere van oorsee Johannesburg langs daardie weg kon bereik nie. Die Kaapse Regering was hoogs ontsteld oor hierdie handeling wat hy beskou het as strydig met die Londense Konvensie. Ook die Johannesburgse Uitlanderorganisasie het hulle stem verhef en selfs die Vrystaat was ontevrede. Dit was duidelik dat Paul Kruger die res van Suid-Afrika teen hom gehad het. Die Kaapse Regering het ’n beroep op Brittanje gedoen om tussenbei te kom, maar Paul Kruger het gemeen dat die saak Brittanje nie aangaan nie. Die nuwe Britse minister van koloniale sake, Joseph Chamber­lain, het hom egter bereid verklaar om ferm op te tree en selfs militêre optrede teen die Republiek beplan. ’n Skerp nota is deur Downingstraat aan die Transvaalse Regering gestuur. In hierdie omstandighede was Kruger verplig om toe te gee en die driwwe weer oop te verklaar.

Die driwwekrisis het verwydering gebring tussen die Trans­vaal en die Kaapkolonie en ook die verhouding met Brittanje is gestrem. Die geskil was water op die meul van die Britse imperialiste wat alles sou doen om die onafhanklikheid van die Republiek te ondermyn. Ook die Johannesburgse Uitlanders sou Britse inmenging in die interne sake van die Transvaal verwelkom, want in hierdie stadium het hulle emstig begin dink aan die omverwerping van die Krugerregering, selfs met geweld indien nodig. Hulle het hulle hoop op Chamberlain begin vestig.

Ook Cecil John Rhodes, die apostel van Ryksuitbreiding, en ’n belanghebber by die Transvaalse myne, het gemeen dat die tyd ryp was daartoe. Die voltooiing van die oosterlyn na Delagoahaai het die Transvaal ekonomies meer selfstandig gemaak terwyl hy deur die goudhywerheid reeds die rykste staat in Suid-Afrika was. Hierdie omstandigheid het in die weg gestaan van Rhodes se eenheidsideaal. Hy het geglo dat daardie ideaal nie verwesenlik kon word nie tensy die Krugerbewind tot ’n val gebring en die Repu­bliek ’n deel van ’n Britse Suid-Afrika word. Daarvoor wou hy die Uitlanderbeweging gebruik.

Die Johannesburgse mynbase het aan die ander kant gestreef na hulle eie ekonomiese voordeel en gemeen dat die Krugerbewind die ontwikkeling van die goudnywerheid in die weg staan. Daarby het Chamberlain, sedert sy bewindaanvaarding as minister van kolonies in Engeland, ’n sterker houding teen die Transvaal begin inneem en ’n gewillige oor geleen aan Rhodes en die argumente van Rhodes. Hy, immers, was ’n man van groot invloed, skatryk, die voorsitter van die Chartered Company wat Rhodesië ontwikkel en gekoloniseer het en daarby die Eerste Minister van die Kaapkolonie. So het daar in Oktober 1895 ’n komplot ontstaan tussen Rhodes en die Uitlanders om ’n opstand in Johannesburg te begin, terwyl Rhodes dit met ’n gewapende mag onder dr. L. S. Jameson, administrateur van Rhodesië, van buite sou steun. Chamberlain is ten volle ingelig. Hy was die plan nie net goedgesind nie, maar het ook Britse tussenkoms beloof indien die opstand slaag.

Paul Kruger het enkele weke voor die opstand geweet dat daar iets gaande was en teenoor die bedenkinge van ’n vriend verklaar dat hy geleer het om te wag tot ’n skilpad sy kop uitsteek voor hy sy nek afsny. Op die laaste oomblik het die sameswering teen Kruger en sy Republiek misluk. Jameson en ’n goedgewapende en berede mag van ongeveer 600 man het die wesgrens naby Zeerust op 29 Desember oorgesteek. Hy het vinnig opgeruk na Johannesburg, maar die opstand in die stad het nieteenstaande groot woorde, nie plaasgevind nie. Jameson se bende is naby Krugersdorp tot oorgawe gedwing deur ’n snel gemobiliseerde Boeremag. Johannesburg, waar oproer geheers het, is toe sonder geveg tot oorgawe gedwing terwyl Chamberlain moes toesien dat die hele onderneming in duie gestort het. Hy kon geen voorwendsel vind om in te gryp nie.

Kruger se triomf was volkome en in die uur van oorwinning sou hy toon hoe groot sy staatsmanskap werklik was. Hy het die afrekening met sy verslane teenstanders so vernuftig hanteer dat sy aansien dwarsdeur Suid-Afrika grootliks verhoog is. Nieteen­staande die begeerte by sy eie mense om drasties teen Jameson en die leiers van die opstandelinge op te tree, het hy besluit om gematig en vergewensgesind te wees. Hy het Jameson en sy vrybuiters aan die Britse owerheid oorhandig om hulle straf te ontvang. Brittanje het amptelik geen aandeel aan die saak gehad het nie. Jameson en  sy offisiere is in Engeland verhoor en skuldig bevind, maar die straf wat hulle opgele is, was, lig. Die Uitlanders is in Pretoria deur ’n hof skuldig bevind  aan hoogverraad. Die vyf vemaamste leiers is terdood veroordeel terwyl die res ligter vonnisse gekry het. Kruger het die doodstraf ver­sag en uiteindelik alle gevangenes teen betaling van ’n boete vrygestel.

Die uitwerking van die Jameson-strooptog was groot. Dit het Rhodes se politieke leierskap vernietig en hy is gedwing om as Kaapse premier te bedank. Dit het die Afrikaners verenig en gematigde Engelssprekendes het hulle gewig by die Afrikaners ingegooi. Dit het egter ook intemasionale implikasies gehad wat maklik tot ’n krisis tussen die moondhede kon lei. Die Duitse keiser, Wilhelm II, het nl. op 3 Januarie 1896 ’n telegram aan Paul Kruger gestuur om hom geluk te wens dat hy die aanslag op die onafhanklikheid van die Republiek afgeslaan het. Hy het daarby gesinspeel op moontlike hulp van buite aan die Boere. Engeland het die telegram as ’n klap in die gesig beskou, ’n uitdaging aan die Britse oppergesag in Suid-Afrika. Dit was die begin van ’n breuk tussen die twee moondhede. Verder het dit by Kruger ’n verkeerde hoop laat posvat dat hy in die toekoms op Duitse steun kon reken. Hoewel die Keiser se houding Britse staatsmanne tot versigtigheid gemaan het, het dit op die duur vir Kruger en sy Republiek geen voordeel meegebring nie, want na 1896 het Duitsland moeite gedoen om vriendskaplike betrekkinge met Brittanje te versterk, so selfs dat die Duitse regering in 1898 feitlik onderneem het om neutraal te bly indien Brittanje in ’n gewapende botsing met die Transvaal geraak.

Die vernaamste gevolg van die Jameson-strooptog op Paul Kru­ger persoonlik was dat hy, soos die meeste republikeine, oortuig daarvan was dat Brittanje vroeër of later self ’n aanslag op die onafhanklikheid van die Republiek sou maak. Die binnelandse opposisie wat Paul Kruger gedurende die vroeë negentigerjare ondervind het, het verdwyn. Die President se aansien het hoog gestyg en die Afrikanerdom wat sy steun aan Rhodes onttrek het, het hom voortaan aan die kant van die Republiek geskaar. Alles het daarop gedui dat daar ’n groot botsing op hande was tussen Britse imperialisme en Afrikaner-nasionalisme waarvan Kruger as die kampvegter erken is.

Met die oplewing van die Afrikaner-nasionale gevoel het Kruger se wantroue in die Afrikaners van Kaapland verdwyn. Hy het nie langer geaarsel om talentvolle Afrikaners buite die Transvaal in hoë betrekkings aan te stel nie. Die belangrikste was die jong advokaat Jan Smuts wat in Mei 1898 staatsprokureur van die Republiek geword het. Ook met die Vrystaat is die bande verstewig. Die Vrystaat, gelei deur sy nuutverkose staatspresident, Marthinus Theunis Steyn, het sy vroeëre geskille met die Transvaal vergeet en die gevoel het toegeneem dat die twee Boere-republieke lotsverbonde was.

Vanaf 1896 het die Britse regering, wat sterk beïnvloed is deur die koloniale minister, Joseph Chamberlain, probeer om steeds meer regte vir die Uitlanders te verkry. Dit het gelei tot ’n geleidelike verslegting in die verhouding tussen Brittanje en die Suid-Afrikaanse Republiek. Kort na die Jameson-episode is Kruger deur Chamberlain uitgenooi om Londen te besoek, ten einde die vraagstukke te bespreek wat die veiligheid van die Transvaal en die welvaart van Suid-Afrika raak. Hy was egter terselfdertyd nie bereid om die Londense Konvensie te hersien soos Paul Kruger begeer het nie. Hy het naamlik daarop aangedring dat artikel 4 van daardie ooreenkoms wat aan Brittanje ’n mate van beheer oor die Republiek gegee het, behou moes word. Kruger was as die verontregte party slegs gewillig om na Londen te gaan indien die ou konvensie vervang kon word deur ’n nuwe ooreenkoms van vrede, handel en vriendskap. Aan die ander kant was dit weer Chamberlain se doel om die geleentheid te gebruik om die griewe van die Uitlanders te bespreek. Daartoe sou Kruger nooit instem nie, want dit sou inmenging in die huishoudelike sake van die Republiek beteken. Die onderhandelings het doodgeloop.

In die. Republiek self het Kruger van een onverwagte kant teenstand gekry. Hy het in ’n geskil betrokke geraak met hoofregter J. G. Kotze wat in Januarie in ’n hofbeslissing die geldigheid van  wette en besluite van die Volksraad betwis het as strydig met die grondwet. Hy het selfs daarop aangedring dat die hof ’n toetsingsreg besit. Dit het ’n botsing ontketen tussen die wetgewende en regterlike mag en ook tussen Kruger en Kotze persoonlik. Indien Kotze se beslissing gehandhaaf word, sou dit totale wanorde in die land veroorsaak. Dit sou die wetgewende gesag van die Volksraad aan bande lê en die hooggeregshof feitlik die hoogste gesag in die land maak. Kotze was nie te oorreed om af te sien van sy standpunt wat buitendien in stryd was met sy eie vroeëre beslissings nie. Die Volksraad het daarop in Februarie 1892 die President deur wetgewing gemagtig om enige regter te ontslaan wat volhard in sy aanspraak op die toetsingreg. Kotze wat ook politieke munt uit die stryd wou slaan, was klaarblyklik nie van plan om sonder meer in te gee nie, en na ’n lang korrespondensie het Kruger hom in Februarie 1897 sy ontslag gegee.

Intussen het die verhouding met Brittanje versleg, veral toe Chamberlain in 1897 ’n nuwe Hoë Kommissaris in die persoon van sir Alfred Milner na Suid-Afrika gestuur het. Milner het van 1898 af die skroef begin aandraai deur die Uitlandergriewe as ’n hefboom teen die Republiek te gebruik. Kruger was oortuig dat daardie griewe slegs ’n voorwendsel was om in te meng en om die Republiek tot sodanige toegewings te dwing dat die Afrikaners nie langer baas in hulle eie land is nie. Hy het alle moontlike maatreëls getref om die Republiek op ’n kragmeting voor te berei. Sedert 1896 het hy die bewapening versterk deur die aankoop van moderne artillerie en Mauser-gewere, genoeg om ook die Vrystaat te bewapen.

Die hantering van die Jamesoninval het Kruger se gewildheid wat voor die tyd soos die presidentsverkiesing van 1893 getoon het, sterk aan die afneem was, opnuut laat styg. Met die verkiesing van 1898 het hy ’n verpletterende meerderheid oor sy teenstanders Joubert en Schalk Burger behaal. In Mei van daardie jaar is hy vir die vierde en laaste keer as President ingesweer. In September het pres. Steyn hom besoek en die uitslag van die persoonlike samespreking van die twee presidente was ’n offensiewe en defensiewe verbond tussen die twee republieke. Kruger het seker gemaak dat die Transvaal nie alleen sou stry nie. Om sy saak sterker te maak, het hy die voormalige staatsekretaris, dr. W. J. Leyds, as buitengewone gesant en gevolmagtigde minister na Europa gestuur. Hy sou probeer om betrekkinge met verskeie vastelandmoondhede te verstewig. Origens het hy die gewese pres. F. W. Reitz van die Vrystaat as sy nuwe staatsekretaris benoem. Die jong Kaapse advokaat J. C. Smuts het sy staatsprokureur geword. Dit was die beIangrikste poste in die republikeinse staatsdiens.

Terwyl Milner aanvanklik die pas gemarkeer het, het hy gedu­rende 1898 steeds agressiewer geword. Hy het ten onregte geglo dat die Kaapse Afrikaners, en veral die Afrikanerbond, in die geheim ’n komplot met Kruger gevorm het om ontslae te raak van die Britse oppergesag oor Suid-Afrika. Toe Kruger vir die vierde keer en met ’n oorweldigende meerderheid as President herkies is, het Milner nie geskroom om openlik van sy teleurstelling te getuig nie. Hy het in die openbaar teen die Krugerbewind te velde getrek. Dit het Kruger nog meer in sy houding laat volhard. Vir Milner, net soos vir Rhodes, het Paul Kruger die groot struikelblok geword in die pad van die Britse imperialisme en die staatkundige eenheid van Suid-Afrika onder Britse vlag. Vir die Afri­kaner daarenteen was hy die simbool van wysheid. Gedurende hierdie maande het die Britse pers in Suid-Afrika en oorsee ’n volgehoue kampanje gevoer teen wat hulle genoem het: Krugerisme.

Intussen het ’n tweede Uitlanderbeweging ontstaan waarvan Milner sedert 1899 gretig gebruik gemaak het. Die beweging het onder die vlag geseil van die South African League, ’n organisasie wat sterk Britsimperialisties gekleurd was. Dit was feitlik ’n bondgenootskap van die imperialiste en die Randse kapitaliste en het die sterk steun geniet van Milner en die Britse koloniale kantoor. Intussen het die anti-Transvaalse pers die Krugerbewind onophoudelik beswadder. Reeds in 1898 het Milner die Transvaalse Uitlanders bestempel as helote (slawe) en in Mei 1899 het hy by Chamberlain aangedring op Britse tussenkoms. Teenoor die nuwe aanslag het Kruger gehoop dat hy deur tot ’n vergelyk met die mynmagnate te kom ’n verdeling in die geledere van sy teenstanders teweeg kon bring. In ’n toespraak te Heidelberg het hy aangebied om die verblyfskwalifikasie vir die stemreg van veertien tot nege jaar te verminder, terwyl die Uitlanders op vyf jaar aan­gedring het. Die onderhandelings met die mynbase het as gevolg van die tussenkoms van Chamberlain tot niks gelei nie.

Kort daarna het die toestand verder versleg toe Reitz as antwoord op ’n brief van die Britse minister van kolonies waarin hy aanspraak maak op Britse susereiniteit oor Transvaal, beweer het dat die Republiek se aanspraak op onafhanklikheid nie uit die konvensie van Londen voortspruit nie, maar uit sy inherente reg as ’n soewereine volkregtelike staat. Daarmee is ’n stok in Chamberlain se hand gegee, want die bewering is deur Britse kringe as ’n uitdaging aan die Britse oppergesag in Suid-Afrika beskou. Spanning het toegeneem terwyl Leyds uit Europa gewaarsku het dat die Republiek nie op enige tussenkoms deur vreemde moondhede moet reken nie. Terselfdertyd is van bevriende Kaapse kant druk op Kruger uitgeoefen om meer toegeeflik te wees. Op versoek van die intussen verkose Kaapse eerste minister, W. P. Schrei­ner, het pres. Steyn vir Milner en Kruger na Bloemfontein uitgenooi tot ’n samespreking ten einde tot ’n vergelyk te probeer kom.

Milner het daarheen gegaan met die vaste voomeme om niks toe te gee nie en die eise van die Uitlanders om ’n stemreg wat op ’n vyfjarige verblyf gebaseer was, te steun al sou dit ook tot oorlog lei. Kruger het gegaan met wanhoop in die hart. Hy het gevrees dat geen van sy toegewings aanvaar sou word. Die byeenkoms het geduur vanaf 31 Mei tot 5 Junie 1899, maar dit het tot geen resultaat gelei nie al het Kruger ook ingestem om die tydsduur vir die stemreg tot sewe jaar te verlaag. Hy het gevrees dat die Uitlanders sy eie burgers sou oorstem en dat ’n verdere toegewing tot die verlies van die onafhanklikheid kon lei. In een stadium van die onderhandelings het hy wanhopig uitgeroep dat dit nie die stemreg was nie wat Milner geëis het, maar sy land. Dit was vir hom duidelik dat verdere toegewings buitendien tot nuwe eise sou lei. Inderdaad was dit ook die geval, want in Sep­tember 1899 het Milner op ’n vraag van die Vrystaatse leier, Abraham Fischer, uitgeroep dat wat Kruger ook al toegee, hy steeds meer sou vra.

Sedert die Bloemfonteinse konferensie het Milner doelbewus op oorlog afgestuur. Hoewel Kruger met die besef van die ernstige gevolge van ’n oorlog nog bereid was tot onderhandelings, het Milner steeds nuwe geskilpunte gesoek. Teen die einde van September 1899 het Kruger, gesteun deur Smuts en Reitz, beduie dat dit militêr beter sou wees vir die Republiek om die inisiatief te neem en aanvallend op te tree as dit dan tot ’n oorlog moet kom. Bowe alles moes hy nie wag tot Brittanje sy troepemagte in Suid-Afrika te veel versterk het nie, want dan sou die verbonde republieke geen kans hê nie. Om daardie rede het die twee regerings ooreengekom om ’n ultimatum aan Brittanje te stuur waarin hy 48 uur tyd kry om sy militêre voorbereidinge teen die republieke te staak. Dit is uitgereik op 9 Oktober en die verstrykingstyd was vyfuur die middag van 11 Oktober 1899. Geen groot moondheid kon so ’n uitdaging van die hand wys nie en prakties het die afsending van die ultimatum op ’n oorlogsverklaring neergekom. Dit was onvermydelik en het die uur van beslissing aangekondig, nie slegs vir die onafhanklikheid van die Boere-republieke nie, maar ook vir die toekoms van Suid-Afrika.

Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog, soos die groot botsing tussen Brittanje en die Boere-republieke later bekend sou staan, het Kruger ’n rol gespeel in die bepaling van die oorlogstrategie en aan die begin het hy selfs op die taktiese uitvoering van die strate­gie ’n groot invloed uitgeoefen. Hy het tot snags wakker gebly en is gedurig op hoogte gestel met die verloop van die krygsverrigtinge. Vanuit Pretoria het hy die burgers in die veld onophoudelik gemaan om standvastig te bly. Hy het die offisiere van advies bedien en dikwels het dit geblyk dat sy insigte juister was as die van sy generaals. Ten tye van krisisse aan die front het hy hom selfs persoonlik daarheen begeef. So het hy in Maart 1900 toe die Engelse in Natal deurgebreek het, na Glencoe afgereis en gehelp om ’n nuwe front te stabiliseer. Onmiddellik daarna het hy hom na die front wes van Bloemfontein gehaas waar lord Roberts besig was om met ’n ontsaglike oormag op Bloemfontein aan te ruk. Op sy hoë leeftyd van byna 75 jaar het die  leeu nog steeds vir geen persoonlike gevaar teruggedeins nie en was hy nog steeds ’n rots van sterkte en ’n bron van inspirasie.

Trou aan sy sy het sy Vrystaatse ampsgenoot, die veel jonger Marthinus Theunis Steyn, gestaan en waar Kruger soms tekens van mismoedigheid getoon het, het Steyn baie gedoen om sy weerstandswil te versterk. Op 7 Mei 1900 het Kruger die Volksraad in Pretoria, vir die laaste keer toegespreek, maar drie weke later moes hy sy hoofstad verlaat met die nadering van die magte van Roberts wat na die inname van Bloemfontein verder noord van die Vaalrivier opgeruk het. Hy het per trein langs die oosterlyn uitgewyk en tydelik sy regeringsetel na Machadadorp in Oos-Transvaal  oorgeplaas.

in Augustus 1900 toe dit geblyk het dat ’n nuwe soort oorlogvoering noodsaaklik geword het, het die regerings van die twee republieke besluit dat Kruger as ’n man van reeds vyf en sewentig jaar oud nie die vegtende burgers in die veld kon vergesel nie. Ook kon daar nie toegelaat word dat hy in die hande van die vyand val nie. Op 10 September is daar dus ooreengekom dat hy oor Delagoabaai na Europa sou vertrek om die saak van die strydende republieke in die buiteland te bevorder.

Sy plek is ingeneem deur vise-president Burgers as waarnemende president. Kruger se laaste amptelike daad was ’n kragtige proses teen Roberts se anneksasie-proklamasie teen Transvaal. Verge­sel van ’n klein gevolg het hy op 9 September die grens by Komatipoort oorgesteek, onderweg na Lourenco Marques. Daar het hy as ’n gedwonge gas van die Portugese goewerneur gewoon tot 19 Oktober, toe hy op die kruiser De Gelderland wat spesiaal deur koningin Wilhelmina van die Nederlande gelas is om hom na Europa te neem, vertrek het. Op 22 November het hy in Marseille, Frankryk aan wal gestap.

In Frankryk is hy met oorweldigende geesdrif ontvang. Orals langs die roete na Parys het skares saamgedrom. In die Franse hoofstad is hy amptelik deur president Emile Loubet ontvang, maar weens die Europese politieke verhoudinge was die Franse Regering nie bereid om meer te doen nie. Hoewel sonder ’n ampte­like uitnodiging het Kruger hom op pad na Berlyn begeef, maar in Keulen is hy in kennis gestel dat die Duitse keiser hom nie kon  ontvang nie. Hy was bitter teleurgesteld ná die Duitse vriendskapsbewyse van die verlede. Daar was vir hom geen ander weg oop nie as om na Nederland te gaan. Daar is hy met ongekende geesdrif deur die publiek begroet en hy is aan die Nederiandse hof ontvang. Gedurende die res van die oorlog het hy in Utrecht en Hilversum gewoon Sy verblyf in Holland en sy besoeke aan ander plekke in die land het veel bygedra tot die belangstelling en gees­drif vir die Boeresaak, hoewel geen enkele regering iets gedoen het in belang van die Boere nie.

Ver van sy vaderland kon hy die verloop van die oorlog nie meer aktief beïnvloed nie. Hy het ook besef dat die finale beslissing oor vrede slegs deur die Boereregerings te velde en die vegtende burgers geneem kon word. Die tyding van die dood van sy eggenote in Pretoria op 20 Julie 1901 en die vredestyding in Mei 1902 was vir hom ’n swaar slag. Hy het egter gelowig berus in die ondergang van sy republiek, maar hy het nooit sy geloof in die heropstanding van sy volk laat vaar nie.

Gedurende die Europese winter van 1902-1903 het hy tydelik verhuis na Mentone aan die Franse Riviera. Die somermaande het hy deurgebring in die koeler Nederlande om in Oktober 1903 finaal terug te keer na Mentone. In sy ballingskap is hy vergesel deur sy persoonlike geneesheer, sy private sekretaris en enkele familielede. Per brief en andersins het hy vanuit Europa nog steeds die volksleiers en vriende in Suid-Afrika gemaan om trou te bly. Op 24 Mei 1904 het hy hom gevestig in n villa in Clarens aan die meer van Genève. Daar het hy op 9 Julie siek geword en op 14 Julie gesterf aan ouderdomspneumonie, die gevolg van verkalking van die bloedvate.

Sy stoflike oorskot is gebalsem en na Den Haag vervoer en tydelik bygeset in die begraafplaas Eik en Duineu. ’n Paar maande later is sy liggaam met ’n spesiale boot De Batavier VI na Kaapstad vervoer. Daar het die oorskot in staatsie gelê voor dit per trein na Pretoria vervoer is te midde van groot openbare belangstelling en huldebetoning. Die begrafnis het plaasgevind op 16 Desember 1904. By dié geleentheid is sy laaste boodskap deur genl. Louis Botha aan die versamelde duisende voorgelees. Daarin het hy ’n beroep gedoen op die volk om die verlede nie te vergeet nie, maar die beste daaruit te neem en ’n nuwe toekoms te bou. Dit was van groot betekenis juis in daardie tyd van politieke herontwaking in die Transvaal.

In die geskiedenis van die Afrikanerdom en van Suid-Afrika het Paul Kruger ’n rol van groot betekenis gespeel.

Hy het grootliks bygedra tot die vorming van die Afrikaner se nasionale bewussyn, want hy was nie slegs staatshoof van die Transvaalse Republiek nie, maar ook ’n volksleier en die simbool van die Afrikanerstryd teen Britse imperialisme.

Hy het die republikeinse tradisie verstewig en omvattend gemaak.

Hy het die naam Afrikaner wêreldwyd bekend gemaak en ons volk feitlik op die wêreldkaart geplaas. Deur sy lank volgehoue stryd wat met groot wilskrag en deursettingsvermoë gevoer is, het hy Afrikaner-selfrespek en trots bevorder. Deur hom is ook die groei van Afrikanersolidariteit versnel. Deur hom het bo alles Afri­kaner-politieke leierskap sterk na vore gekom. Sedert sy tyd was feitlik alle politieke leiers van Afrikanerherkoms gekweek in sy skool. Voor sy tyd was hulle yl gesaai of het hulle slegs sporadies en aarselend na vore gekom na ’n latente tydperk van byna driekwarteeu onder Britse heerskappy. Hy was ten slotte die eerste Afrikaner van wêreldformaat.

Paul Kruger staan nog onmiddellik en vlak by ons, beliggaming van alle Afrikanerstrewe, die wonderkind van Suid-Afrika. Tydsomstandigheid het hom groot gemaak en hy het die Afrikanerdom uit die tydelike verhef. Toegewy aan die diens van God, was hy ook ’n dienskneg van sy volk. Met al sy menslike swakhede, eiewilligheid en koppigheid was hy ook ’n geskenk van God aan die nasie. In ’n wordingsperiode in die geskiedenis van Suid-Afrika het hy die beliggaming geword van sluimerende Afrikaneraspirasies. Hy het hulle in ’n patroon gegiet waaruit ons nie kan wegbreek nie.

Opsoek na inligting?

  • BOEKE TE KOOP

    Die Engelse oorlog was alles behalwe die sg. "gentleman's war" soos sommige Britse skrywers dit genoem het. Lees meer oor die boek VRYHEIDSVEGTERS, outeur Gustav Norval, by Vryheidsvegters .

     

    In ‘n nuwe boek deur die geskiedskrywer Gustav Norval, getiteld Onskuldige bloed: Britse oorlogsmisdade 1899-1902, word skokkende feite oor beweerde Britse oorlogsmisdade tydens die ABO onthul. Lees meer hieroor by Onskuldige Bloed. 

     

    Hierdie geïllustreerde A4-groote 300-bladsy boek deur EJG Norval, vertel die verhaal van die gevegte tussen Boer en Brit in die 1840’s die drie verwoestende ba-Soetoe oorloë in die Oos-Vrystaat tussen 1858 en 1867, en nog meer. Lees daaroor by In Die Smeltkroes .

     
  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1576 gaste aanlyn