Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Tevredenheid maak arm mense ryk. Ontevredenheid maak ryk mense arm.
“TRAP JOU LUIS! ”
Deur dr Gustav Norval

Foto bo: Johannes Hendrik Bakemeyer (“Bakies”) de Beer, Jacobus Johannes Gerhardus Hermann en die joiner Adriaan Hendrikus Stander (13.2.1873 - 9.1.1944)
Dit is maar moeilik om te begryp wat in die psige van ‘n persoon aangaan wat bereid is, of was, om sy broer of vriend te verraai en te vermoor. Sy denke het so versteurd geraak dat hy kan moor vir ‘n paar sjillings wat die Britse Army hom per dag betaal het, of moor op grond van beloftes dat hy ‘n boer se plaas of vee na die oorlog sou kry. Neem nou maar die geval van Adriaan Hendrikus Stander, wat die kleinseun was van A.H. Stander, ‘n man van Deense afkoms, die stigter van Standerton, wat sy lot met die Boere in die 1840’s ingegooi het.
Wat Adriaan gedoen het getuig van ‘n psigiopatiese afwyking, wat gekenmerk word deur ‘n wrok teen die samelewing. Sy motivering was om die Boere te beroof en om wegsteekplekke op te spoor, waar geld of ander kosbare artikels deur die burgers begrawe was om iets te red van die Kakie-plunderaars. Sy kriminele optrede het begin toe hy vir sy moeder vertel het dat hy by ‘n Joiner Korps aangesluit het.
Ma Stander: “Wat het jou besiel… het die satang in jou gevaar!”
Adriaan: “Ma verstaan nie, wag….”
Ma Stander: “Trap uit my huis, jy is nie meer my kind nie, trap voor jy vloeke op ons bring!”
Adriaan het die Kakies by hom beveel: “Burn this place down and take what you want!”
Die bende het hul nie tweekeer laat nooi nie en die moeder se huis afgebrand, terwyl Adriaan se ongetroude tante hom ook geskel het. Stander het haar met sy bajonet bygedam en haar beveel om uit te trek, waarna hy aan die Kakies gesê het: “She’s all yours boys”.
Hulle het haar voor die plaaswerkers seksueel gemolesteer, terwyl Stander eenkant gestaan en die aanranding van die spartelende vrou grynsend bekyk het. Dit was maar die begin van hierdie ontaarde skarmunkel se terreur in die Magaliesberg-wyk. Hy het wie weet hoeveel vrouens en kinders uit hul huise geboender, hul geld en kosbare items geroof, hul graan op die grond uitgegooi vir sy bende se perde om te vreet, waarna hy hul huise aan die brand gesteek het. Die mag oor ander het sy verwronge denke aangespoor om ‘n spoor van verwoesting te saai.
Die burgers op kommando het oral versteekte veeposte in die bosveld geskep waar beeste aangehou was om behoewende families te help. Die vee was buite sig van joiners en Kakies, sodat hulle die beeste en skape nie sou vind en konfiskeer nie. ‘n Swart scout het aan Stander berig dat ene Schoeman 400 beeste, 12 perde en skape, by ‘n sekere veepos naby Buffelspruit, iewers noord van die Magaliesberge, versteek het.
Twaalf burgers, waaronder Bakies de Beer en Jacobus Hermann, was by die veepos op 23 Oktober 1900, toe Stander en sy bende toegeslaan het. Hy het die ongewapende burgers verras en Bakies deur die nek geskiet terwyl hy by die kraalhek doenig was. Die aanvallers het ‘n geweldadige vuur geopen en die burgers moes duik vir skuiling. Hermann het op een of ander wyse sy geweer bekom en ‘n Kakie en ‘n swart Scout geskiet. Daarna het hy ‘n agterhoede geveg aangeknoop om sy makkers kans te gee om te vlug.
Die burgers het al hul besittings verloor en Stander het die vee gebuit. Die 49-jarige gewonde Bakies was na die Pretoria-tronk vervoer, waar hy op 3 November 1900 aan sy wond beswyk het. Die verdere rol van Stander tydens die oorlog is nie opgeteken nie, behalwe dat hy en sy Kakie- en Tswanavriende, vrouens en kinders met ‘n sweep na die Irene konsentrasiekamp geboender het. Dit het hom min geskeel om vrouens met die sweep oor hul rug te raps en huilende kinders kaalvoet oor duwweltjies aan te jaag. Na die oorlog het hierdie gewetenlose skurk na die Nylstroom-gebied verhuis om die venynige tonge in sy kontrei te ontsnap.
Stander was een dag op die skyfskietbaan toe Hermann junior hom herken het en aan die ander uitgebasuin het:
”Haai manne, kyk hierdie vervloekte joiner… hie’rie vent het een van ons manne by Buffelspruit vermoor!”
Stander: “Hou jou ###### bek van my af”.
Hermann: “Of wat…. hu?”
Stander: “Of ek foeter jou tande uit jou groot bek”.
Hermann het sy baadjie in ‘n japtrap uitgetrek, maar toe Stander die bultende arms sien, het hy rieme neergelê.
Hermann: “Ja…… hol weg jou ###### lafhart, jy is mos mans genoeg om arme vrouens en kinders te molesteer. Voertsek jou lae luis……. jy wys nooit weer jou gevreet hier nie”. Stander het die toneel met ‘n woedende rooi gesig, te midde van ‘n gekoggel, verlaat.
Stander se gryse vader, Gideon Stephanus Stander, die jongste van oubaas A.H. Stander van Standerton se agt kinders was so onthuts deur sy laakbare seun se skokkende dade, dat hy De Beer se vrou, Maria Elizabeth gebore Schoeman, bygestaan het deur haar lande te ploeg, te saai en te oes, net om te probeer vergoed vir sy seun se misdade. Hierdie gebeure was vir dekades die fokus van bespreking in die agter-Magaliesberg-wyk. Die smet wat Stander agtergelaat het, spook selfs vandag nog in die gebied. Dan was daar die joiner Sias Stander, wat ook vrouens, wie se mans op kommando was, se geld en kosbare besittings gedurende die oorlogsjare in dieselfde gebied geplunder het. Ander joiners in die Mootgebied was o.a. LN Fourie, Jaap de Klerk, Piet Labuschagne en die broers Koos- en Piet Swart.
Daar was egter ook ‘n Stander wat sy staal in die oorlog gewys het en aan die Waterbergkommando behoort het. Dit was die 51-jarige Jacobus Johannes (Koos) Stander van Krokodildrif. Hy was deur een van die hensopper-generaal Groot Freek Grobler (van Nylstroom) se hensoppers doodgeskiet. Grobler het ene Louw beveel om Koos te arresteer, maar hy het hom verset en Louw het toe geskiet. Volgens Mev. Grobler het haar man hartaanval gehad, maar volgens Odendaal was die omstandighede van sy dood heel verdag. Daar was sprake van selfmoord. Grobler se aanhangers het die oorlog in Bechuanaland uitgesit, nadat hulle die vegtende Waterberg-burgers se vee saamgevoer het as buit. Hierdie 200 hensopper-families het bekend gestaan as die “Gamlanders”. Voorwaar, dit is moeilik om die verwronge psige van verraaiers en hensoppers te begryp.
Bron :
BK de Beer: Agter die Magalies, Postma Publikasie, Fonteinbleau, Transvaal, 1975.
Odendaal RF: Noord-Transvaal op kommando, privaat uitgegee, 2002