Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek weet HERE, dat U my nie om die hartseer lei nie maar my dwarsdeur dit neem. Help my dan asseblief om in my diepste seertye te onthou dat U my hand styf vashou al het ek nie die krag om aan U vas te hou nie.
WATTER GEES IS IN JOU VAARDIG?
SG Hagen
Bewaar jou goeie pand deur die Heilige Gees wat in ons woon – 2 Tim 1:14
Die gemiddelde gelowige Afrikaner se kennis gaan mank aan die Heilige Gees of altans, so dink ek. Daar is waarskynlik heelwat redes daarvoor. Miskien het ons wat in die drie susterskerke opgegroei het, te min van die Heilige Gees gehoor, of dalk te min verstaan.
Vandag wil ek my pen waag aan hierdie onderwerp want ek dink ek verstaan deesdae so bietjie meer daarvan, en tweedens glo ek mens moet oor hierdie onderwerp gesprek voer. Immers is dit die Heilige Gees wat aan ons gestuur is deur God self, en deur die toedoen van Jesus (Joh 14:16).
So leer ons dat die Heilige Gees ons voorspraak is, ons Trooster en dat Hy die Gees van die waarheid is. Hierdie Gees alleen bring geloof in die gelowige tot stand en oortuig my van sonde.
En boonop kan ons nie getuig dat Jesus die Here is, behalwe deur die Heilige Gees nie ( 1Kor 12:3). Die Heilige Gees oortuig ons van sonde (Joh 16:8) en stort gawes in ons uit (Gal 5:22).
Dus kan ons God alleen gehoorsaam as ons bekragtig word deur die Heilige Gees (Hand 1:8). Die Heilige Gees bewaar en versterk ons teen die bose. En dit bring my by die vraag: Watter gees is in ons vaardig? En hoe sal ons dit weet?
Wel, Jesus sê Hy het vir ons ‘n Trooster gestuur – ieman d wat ons bewaar van verkeerde weë as ons om sy leiding vra. Die werking van die Heilige Gees laat ons nie in versoeking kom nie. Daarsonder gebeur dit so maklik. Die Heilige Gees het gemeenskap met ons (2Kor 13:13) Hierdie Heilige Gees is deel van die Drie-eenheid en bestaan van ewigheid af, gaan uit van die Vader en Seun en is daarom waaragtig en ewige God (Hand 2:33).
Maar soos daar ‘n Drie-eenheid bestaan, bestaan daar ‘n onheilige drie-eenheid, naamlik Satan, die Antichris en die vals profete (die lugdraak, die seemonster en die landmonster). Soos Satan teenoor God staan, en die Antichris teenoor Jesus, so staan die vals profete teenoor die Heilige Gees. Hierdie vals profete is niks anders as bose geeste nie. (Heb 1:14) wat vyande van God en alle goeie dinge is – om alles in die verderf te stort en te verwoes (Ef 6:12). Maar ons het die troos dat ook hierdie geeste deur hulle eie booshede veroordeel is tot die ewige verdoemenis (2 Pet 2:4, Op 20:10).
Ons lees ook dat alhoewel Satan owerste van hierdie wêreld is, God steeds in beheer is sodat sonder sy toelating hulle ons geen skade kan aandoen nie (Hand 14:17).
Ons lees dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie maar teen die bose geeste. En hoe op aarde kan ons dan staande bly as ons nou weet dat ons toegang tot God deur Jesus is ( Joh 14:6) maar eers deur die Heilige Gees? ( 1Kor 12:3).
Die Heilige Gees moet dus in ons werk voor ons die kennis van God kan bekom. In onsself is ons nie daartoe in staat nie. Die Heilige Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God ( 1 Kor 2:10). Net die Heilige Gees weet wat in God is, want Hy is self God ( 1 Kor 2:11).
Mense wat buite die werking van die Heilige Gees staan kan geen geestelike beoordeling maak nie, dit nie begryp nie en beskou dit as dwaasheid. Die geestelike mens in wie die Gees woon, is in staat om alle geestelike verborgenhede te leer vir sover dit vir die mens se kennis bedoel is.
As die Heilige Gees in ons woon sal God wat Christus uit die dood opgewek het, ook ons sterflike liggame lewend maak (Rom 8:11). Die Heilige Gees se krag kan ons nie peil nie, soos ons God nie kan peil nie. Maar ons weet dat deur sy krag, ons oorvloedig in hoop sal word. (Rom 15:13).
Die Heilige Gees is die lewensbeginsel van die geroepe gelowige (Gal 5:16). As ons deur die Gees lewe en deur die Gees wandel (Gal 5:25) sal die bose geen vatplek aan ons kry nie. Maar nog meer as dit: Die Heilige Gees herstel vir ons die beeld van God. Daarsonder of daarteen, word die Heilige Gees bedroef (Ef 5:30).
Die Heilige Gees is dus nie maar net ‘n keuse of ‘n invloed nie, maar ‘n Goddelike Persoon – onmisbaar vir ons heil. Die volle wapenrusting wat ons moet aantrek om die aanslag van die bose te weerstaan sluit in die swaard van die Gees – die woord van God (Ef 6:17).
Die gelowige het ‘n pand by God – die Heilige Gees bewaar dit (2 Tim 1:14).
My slotsom is dit: Jy is òf vervul met die Heilige Gees, òf die Heilige Gees het plek gemaak vir bose geeste – die essensie van die sonde. Hierdie bose geeste moet elke dag beveg word deur ware geloof en gebed (Ps 3:91).
Ons moet veral waak teen oorgerustheid. Geloof is nie maar net ‘n keuse wat êrens geneem is nie. As dit dan ‘n vaste vertroue is wat alleen deur toenemende kennis opgedoen kan word, weet ons dat ons elke dag, sonder ophou moet groei in die geloof, in die vertroue – iets wat net die Heiige Gees vir ons kan bewerk!.