Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel gee baie duidelike riglyne hoe ʼn volk polities gerig moet word. Die eerste vereiste is dat slegs gelowiges gekies moet word om ʼn volk te rig. ‘n Hart gewas in die bloed van Jesus Christus is vir ʼn volk baie meer werd as ʼn ongelowige kop vol akademiese kennis!
HERE, BEKEER ONS!
Of jy by jou haarkapper instap, of jou laerskoolkind na ‘n maatjie se partytjie neem, oral sien jy tatoeëermerke op al wat lewe. Hier word spesifiek gepraat van “gewone”, saggeaarde mense, onskuldige kinders, vriendelike mammas asook kerkgangers – uitgesluit die wilde ouens en bendelede met die kopbene, drake en sataniese simbole. Hier word gepraat van gewone volksgenote wat by die duisende “onskuldige” prentjies op hulle ledemate laat tatoeëer.
Die NG Kerk het hierdie gebruik ontsondig en beveel dit vir sy lidmate aan – daar word tot verskillende adresse van tatoeëerders in sy maandblad, die Kerkbode, verskaf. Die 41-jarige Herman (Harry) Strydom, eienaar van een van die Disciples Ink-takke wat in die Kerkbode aanbeveel word, beaam bg: “Die dae toe net rowwe diamante hier ingekom en vir ’n tatoeëermerk gevra het, is lánkal verby.”
Stap dan gerus by dié tatoeëer-ateljee, of te wel “street shop”, in Durbanville in – en moenie verbaas wees as jy slegs “gewone” mense hier aantref nie. Almal wat besluit het om ’n ink-prentjie op hul lyf te laat aanbring. Sommer oor middagete. Herman sê-vra: “Weet jy hoeveel ma’s kom hier in om hul kinders se name en geboortedatums op hul lyf te laat tattoo? En mense wat ter nagedagtenis van ’n gestorwe dierbare dié se naam wil aanbring?” Aldus die Kerkbode.
Soos die NG Kerk talle ander sondes ontsondig het oa homoseksualisme, saamwonery, huwelike van dieselfde geslag ens, dinge wat sterk deur God in sy Woord veroordeel word maar nou skielik nie meer vir die mens sonde is nie, so het tatoeëring ook die “regte” ding onder misleides geword wat dié kerk se veranderinge blindelings glo en navolg.
Mens wil vra of God dan ‘n fout gemaak het toe Hy sekere dinge as sonde uitgewys het? Het Hy dit dan nou skielik goedgepraat? Of het die mens nou sy eie god geword, slimmer en meer wys as God self?
In die NG Kerkbode word verwys na ‘n sekere Pierre wat die teks in Levitikus 19 opper wat gelowiges verbied om tatoeëermerke op hul liggaam te laat aanbring: “Maar dan moet jy konsekwent wees, verder lees en aan ál daardie voorskrifte voldoen. Soos dat iemand wat sy ouers vloek, doodgemaak moet word. God gee baie meer om oor jou karakter as oor ’n tatoeëermerk op jou lyf”, sê Pierre.
Ook word Jaco Strydom, bekende Pretoriase predikant en stigter van die Echo-jeugbediening, aangehaal: “Die afsny van die hare voor jou ore word in dieselfde Levitikus-vers verbied. En in vers 19 word die dra van ’n kledingstuk verbied wat uit meer as een soort materiaal gemaak is. Jy kan mos nie die gedeelte oor die tatoeëermerke ernstig opneem en nié die res nie? Dis belangrik om te onthou dat Levitikus 19 teen die spesifieke heidense gebruike van daardie tyd gerig is.”
Hierdie mense probeer tatoeëring regverdig deur dit as ‘n Ou Testamentiese (OT) verbod en deel van die uitgediende seremoniële wette te sien omdat die Nuwe Testament (NT) dit nêrens verbied nie. Dis egter baie gevaarlik om so te redeneer. Die seksuele omvang van mense met diere ( bestialiteit) word ook slegs in die OT verbied. Beteken dit dat die NT dit goedkeur? Beslis nie!
Lev.19:29 sê ook dat ouers nie dogters vir hoerery mag misbruik nie. Die NT sê niks daaroor nie. Is dit dan toelaatbaar? Natuurlik nie! Wat in die OT verbode was, is ook in die NT verbode. Dit is slegs die Joodse seremoniële wette wat saam met die Ou Verbond uitgediend geraak het.
In Lev.19:28 word twee dinge verbied - snye en tatoeëring. Heidene het hul flenters gekerf as teken van rou en droefheid. God noem in Lev.19:28 twee heidengebruike in een asem omdat dit oor die mens se liggaam gaan. Snye en tatoeëring is van meet af aan eie aan Sataniese kultusse. Lev.19:26-28 verbied heidense gebruike. In die OT was sulke merke ʼn teken van afgodsdiens. Afgodedienaars het hulle graag laat tatoeëer en daarmee aangedui dat hulle aan ʼn sekere afgod behoort. Keiser Konstantyn het in die vierde eeu nC alle tatoeëermerke in die gesig verbied sodat die gesig die onbesoedelde beeld van God kon weerkaats. In 767 nC het pous Adrianus alle tatoeëermerke verban, ook op die lyf.
Ons liggaam is solank as wat ons leef ‘n tempel van God:
“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? “ (1 Kor.6:19).
“Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees…” (:20).
“Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand ‘n tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.3:16,17).
Israel het tatoeëermerke as toewydingstekens aan afgode verafsku.
Die Kerkbode berig verder dat ‘n studie deur die Anglia Ruskin-Universiteit in die Verenigde Koninkryk bevind het dat mense tatoeëermerke deesdae om hoofsaaklik drie redes laat aanbring:
- Die betrokke persoon is ’n ekstrovert en hou doodgewoon daarvan.
- Daar is diegene wat deurgaans na“interessante ondervindings” op soek is.
- Daar is ook dié wat ’n behoefte daaraan het om uniek of minstens “anders” te wees.
Wat hierdie navorsing NIE uitwys nie, is dat die mens juis raakgesien wil word daardeur, nie uniek of anders te wil wees nie maar eerder dood as uit die mode, eerder in pas met die res van die sondaars as “uniek” – “cool” is die woord wat hulle gebruik as hulle nie by die res wil afsteek nie maar met die modeneiging saamgaan.
Tatoeëring kom op afgodery neer - aanbidding van die liggaam. Tatoeëring dra 'n sentrale boodskap: Sien my raak want ek is belangrik. Die Woord van God roep ons telkens op om alles tot eer en verheerliking van die Here te doen, nie tot ons eie eer nie (Ps.150:6; Jes.61:3). Die Heilige Gees het nog nooit ‘n gelowige gelei om hom/haar te laat tatoeëer nie. Daarom het Hy talle mense met tatoeëermerke al van sonde oortuig waarna hulle die merke laat verwyder het – 'n pynlik proses!.
Die Kerkbode vermeld ook die geval van Anya Paxton van George wat net een tatoeëermerk het. “Op my pols. Dis ’n herinnering aan my oorlede broer, Eron Burmeister,” vertel sy.“My sussie het dieselfde ‘tat’ op dieselfde plek. Dis ’n prentjie van ’n perd, presies soos op die CD-omslag van Eron se gunsteling-‘band’. Ons het dit laat doen om ons enigste broer te onthou en hom naby aan ons te hou.”
Wat sê die Bybel daaroor? “Julle mag ook ter wille van ʼn dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here” (Lev.19:28).
Gelowiges word opgeroep om anders te lyk en te doen as ongelowiges. Paulus skryf aan die gelowiges in Rome om nie aan die wêreld gelykvormig te wees nie, maar anders (Rom12:2). Tatoeëring is sonde en adem ‘n gees wat vreemd aan gelowiges is. Gelowiges se gees behoort teen tatoeëring in opstand te kom omdat dit nie by hulle pas nie. Mag God ons volk se dwalinge vergeef en betyds hulle oë oopmaak teen die dwaalleraars en die satan se misleiding. Here, bekeer ons sodat ons ons kan bekeer!