Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
GOD PRAAT DEUR SIEKTE MET JOU
LUISTER NA SY STEM!
Siekte is 'n manier waarop God met sy kinders praat, sê Job in hoofstuk 33:19: "Hy spreek die mens aan met ernstige siekte."
Dit is nie 'n teken van God se onmag as iemand nie gesond word nie, maar die middel tot God se almagswerke, sodat ons vir Hom getuies kan wees; sodat ons weer kan besef, al word ek elke dag afgetakel, daar is niks wat my van God se liefde vir my kan skei nie.
Daar op jou siekbed kyk jy met nuwe oë na jou eie lewe, veral na die dinge wat jy nog so graag wil bereik; na die mense wat jy liefhet en geen waarborg het dat hulle môre nog by jou sal wees of jy by hulle nie. Dan besef jy elke minuut wat jy nog krag en tyd oorhet, moet maksimaal benut word omdat elke oomblik genadetyd is.
Jy besef ook weer dat jou lewe hier op aarde net 'n klein deeltjie van God se plan is, dat jou eintlike lewe nog voorlê, dié lewe wat vir jou by God wag. En dan word jy dankbaar om te lewe al sien jy uit om na Hom te vertrek.
Hierdie verhoog waar jy tydens siekte verkeer is meermale die podium van waar ons geloof aan die wêreld sigbaar word. Hierdie dinge werk soos die swart fluweel-agtergrond waarteen juweliers so graag hulle goud en diamante juweliersware uitstal – ons geloof behoort só te blink teen die donker agtergrond van siekte. God praat met jou deur jou siekte – luister na sy Stem!
BRIEWE AAN CHARLES (1)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Beste Charles,
Jy kan getuig dat 'n man baie keer in die hitte van die stryd onnodige dinge kwytraak. Dit het baie met my op die sogenaamde “Betogerstoer” van 1969/70 deur die Britse Eilande gebeur. Ek wonder dikwels wat jy alles sou gesê het as jy op die toer agter die mikrofoon was.
Vandag, as ek na al die jare rustig sit en terugdink aan die 25 wedstryde wat tussen Woensdag 5 November 1969 en Saterdag 31 Januarie 1970 gespeel is en ek lees weer wat ek in my boek Rugby agter doringdraad geskryf het, besef ek al hoe meer dat die ouderdom tog wysheid meebring. Jy het altyd gesê dat geen kommentator naby ’n sportmikrofoon moet kom voordat hy minstens 35 jaar oud is nie. Ek was op daardie toer in my vroeë veertig, maar my uitsendings kon nie altyd suiwer oor sport gaan nie. Die boek wat ek knap na die toer geskryf het, het as gevolg van die aard van die betogings oor baie meer as net sport gehandel. Vandag dink ek oor baie voorvalle miskien anders. Oor een ding is ek nog baie seker en beslis: Politiek moet onder geen omstandighede met sport inmeng of betrekkinge tussen nasies of volkere vertroebel nie.
Ek is ook oortuig dat die Springbokke van Dawie de Villiers ’n baie beter rekord kon gehad het as die toer onder normale omstandighede plaasgevind het. Vandag kan ek ook iets noem wat ek nie destyds sou gesê het nie. Daar was darem te veel onnodige keuses. Manne wat nie werklik Springbokkleure verdien het nie. Dan wil ek weer beklemtoon dat die onpartydige skeidsregters uit Wallis, Skotland, lerland en Engeland die spreekwoord “bloed is dikker as water” baie duidelik onderstreep het.Charles, ek wil jou nie vermoei met die uitgrawe van ou koeie uit die sloot nie, maar wil liewer praat oor die ligter sy van die ou sakie soos ek dit vandag sien.
Kyk, ek is vir ewig genees van die manewales van vakbonde, maar was baie bly toe ons na die moeder van betogings by Landsdowne Road vir die volgende wedstryd op Limerick van hotel moes verander as gevolg van hulle streke.
Die aand ná die toets in Dublin is ek so byna-byna gearresteer toe ek met die aankoms van die span by die hotel hulle, luidkeels toegesing het met een van die toe al bekende betogersliedere, Go home you bastards, go home. Die vinnige vleuel van Noord-Transvaal, wyle Renier Grobler, het gesien HKGK en het my net betyds voor die aanstormende polisie weggeruk en met my in die hotel verdwyn. Ons volgende hotel was toe langs die Shannon Lughawe en teenaan die geskiedkundige Bunratty Castle. Die verblyf hier was vir die meeste van ons een van die hoogtepunte van die toer. Met my kamer ’n entjie weg van die hoofgebou was daar baie meer privaatheid. Dwarsdeur die toer was my kamer ’n kuierplek vir die hardebaarde in die span.
Eers moet ek vertel hoe ek met my aankoms by die hotel 'n lastige skuldige betrap het. Op die toer is ek elke oggend waar ons ook al tuisgegaan het, om 5 voormiddag gewek deur die telefoon en die woorde: "Good morning Sir, your early morning call.” Die oggend het ek gehoor hoe Frik du Preez vir die dame agter die toonbank sê om ’n “early morning call for Mr Viviers in room 20” in die boek aan te teken. Hy het lekker gelag toe ek hom op heterdaad betrap met die woorde: “Jou donner, dan was dit al die tyd jy!” Hy het menige oggend aan die ontbyttafel kastig gewonder wie die man in die span is wat 'n mens so vroeg laat wakker maak. Hy moes beslis met die hotelpersoneel geheul het, want ek het baie keer navrae gedoen maar hy is deur niemand verklap nie.
Ek was nog besig om my tas uit te pak toe die eerste Sondaggaste in my kamer opdaag. Frik, Mof en Sakkie de Klerk. Frik vertel my van lerse donkies wat in 'n modderkampie daar naby loop. Ek dag hy maak ’n grap, maar hy en Sakkie het my gaan wys. Die donkies het kleiner gelyk as dié in ons land, en terug in die kamer gaan die gesprek oor die kuns van donkiery. Dis veral Sakkie wat spog oor hoe hy in die wêreld van sy kinderjare, Kalvienie (Calvinia), donkies gery het. Nog Frik nog ek wou afsteek by sy kennis van die ry van Vaaltyn en ons vertel stories van ons kinderjare op die rug van die esel. Mof het nie saamgesels nie. Die besoekers het aangegroei. Piet Greyling, Renier Grobler, Martin van Rensburg, Mannetjies Roux, Robbie Barnard en Jan Ellis het bygekom. Dit was na aan etenstyd en Mof was besig om wyn oor die telefoon te bestel. “Please send us six bottles of good South African dry white to room 20, Mr Viviers will sign.”
Gelukkig het oom Swannie in die goeie ou dae van die SAUK geweet dat ek nie onnodig onthaal nie. (Wyle mnr. Jan Swanepoel was Direkteur-generaal van ’n finansieel baie gesonde SAUK.) Mof het 'n heildronk ingestel op die drie “brawe” jokkies wat die reënweer, die doringdraad omheinde modderkampie en die drie donkies - die valetjie, 'n swarte en ’n vuil bruinetjie - in lerland gaan aandurf.
Frik was baie slim. “Kêrels, maar die ouens hier wat ‘fox hunting’ doen, dra mos ’n ‘taai’. 'n Mens kan seker nie hier 'n donkie ry sonder ’n taai nie.” Hy het sy das geknoop en het nogal koddig gelyk met kortbroek sonder 'n baadjie. Sakkie se kommentaar: “Ja, die ouens ry ook nie sonder kleure nie.” Hy het sy Springbokbaadjie aangetrek. Ook hy was in ’n kortbroek maar sonder das. Ek sê: “Manne dis koud buite. Ek ry in 'n langbroek, reenjas en beslis nie sonder 'n hoed op die kop nie.”
Dit was ’n bekommerde lerse boer wat die naderende raasbekprosessie ingewag het. Ons drie ryers aan die voorpunt. Die ondersteuners met kameras volg en heel agter Mof Myburgh met ’n “bottle of good South African dry white” wat aan die wenner oorhandig moes word.
Die boer is ingelig waaroor alles gaan en hy het gewaarsku dat ons versigtig moet wees vir Peggy, die vaal donkie. Sy spring kwaai en skop soos ’n muil. Frik het Peggy met liefde, soos dit ’n man betaam wat ’n donkie ken, om die nek vasgevat en aan Sakkie gesê: “Klim, grootbek.”
Sakkie het sy baadjie vasgeknoop, sy regtervoet uit die dik, slap modder gelig, die been oorgeswaai en soos ’n nie-kenner voor op die skof gaan sit. Frik het gelos. Peggy het sonder om te beweeg kop tussen die bene gesteek en Sakkie het voor haar in die modder beland. Sy kanse om die kompetisie te wen is dadelik deur die beoordelaar, Mof, afgeskryf. Hy het stadig en onder groot gelag uit die modder opgestaan en Peggy vies om die nek beetgekry vir Frik om te klim. Frik het met sy twee hande op Peggy gedruk, wydsbeen uit die modder gespring en met die sitvlak op Peggy se kruis beland. Dis mos waar ’n mens op ’n donkie sit, het ek by myself gedink. Sakkie het Peggy gelos. Met een agteropskop het Frik met “taai”, wit broek en al in die modder beland. Mof, wat in die middel van die kampie op ’n klip gestaan het, het met die gelag ook in die modder geval, maar gelukkig met die bottel “dry white” omhoog gehou.
Toe moes ek met Sakkie en Frik se gelyktydige bevel van “Toe, grootbek, dis jou beurt” klim. Ek was presies een sekonde op Peggy se kruis, twee sekondes in ’n bollemakiesiebeweging deur die lug en 'n minuut of wat op die naat van my rug in die swart modder. Piet Greyling het my help opstaan en het bekommerd verduidelik dat die donkie my amper teen die kop raakgeskop het.
So kon ons darem nie verneder word deur die nageslag van die eeue-oue vervoermiddel nie. Frik het Peggy gegryp. Spring soos sy wou, sy kon nie sommer ontslae raak van Frik se nommer 13 skoene in haar lieste nie. Toe sy dreig om te byt het Frik die stryd gewonne gegee. Ook Sakkie het nogal koddig vertoon op die klein bruin donkie se kruis. Sy lang bene het in die modder gesleep. Die bruinetjie het so met die gespring nare geluide en reuke gemaak soos ’n donkie alleen kan doen. Dit het hom so afgesit dat hy besluit het die donkie wen. Die swartetjie het egte ongeskikte donkiemaniere gehad. Hy het met my op sy rug teenaan die doringdraad geskuur-hardloop. Dit was die einde van ’n reënjas en broek en nog ’n donkie-oorwinning. Ons het die aftog geblaas met die bottel wyn veilig in Mof se besit.
Terug in my kamer is daar besluit dat ek die oorsaak is van al die modderskoene en besmeerde klere. Ek is behoorlik gestraf. Hulle het my op die bed neergesmyt en op my gespring om my te laat voel hoe dit in 'n losskrum in die modder voel. Die bed kon nie die gewig dra nie en dit het oom Swannie nog ’n paar Britse ponde uit die sak gejaag.
'n Hele rukkie later het ek die eetsaal binnegestap en kon nie help om te lag toe ek naby ’n tafel vir twee saam met Frik en van die ander gaan aansit nie. Die twee was Avril Malan, die afrigter van die span, en Mof Myburgh. Voor hulle het die oopgemaakte bottel “dry white” gestaan en Avril het aandagtig na Mof se lesing oor die “kuns van donkiery” geluister. Miskien sou ons die stryd die middag gewen het as Mof ons vooraf die lesing gegee het.
Groete
Gerhard