Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alhoewel God genadig is, is Hy ook regverdig en daarom word alle sondes gestraf. Die enigste rede waarom ons sondes vergewe kan word, is omdat Jesus Christus die straf wat ons toekom, reeds aan die kruis in ons plek gedra het.
VOLKSVERRAAD (12)
Adv PJ Pretorius
Lees volledig by Volksverraad - die boek
TINY ROWLAND VAN LONRHO-GROEP AS MIDDELMAN VIR DEPARTEMENT VAN BUITELANDSE SAKE
Vorster het intussen sy detente-beleid jeens Afrika ingelui. Hy het die eerste skuiwe gemaak in verband met die toenadering tot Zambië en president Kenneth Kaunda van Zambië. Vorster het groot lof ontvang vir die inisiatief. Hierdie verwikkeling het nog 'n verhaal agter hom. Tiny Rowland van die Lonrho-groep in Londen, Brittanje, wat belange dwarsdeur Afrika en in die Midde-Ooste het, het hierin 'n sleutelrol gespeel.
Die Tiny Rowland-faktor het ook sy uitwerking op die Suid-Afrikaanse Buitelandse beleid gehad. Die Britse sakeman, Roland Walter Fuhrhop, ook bekend as Tiny Rowland is op 27 November 1917 in Indië gebore. Tot en met 1961 is nie veel prominensie aan Rowland verleen nie, maar sedertdien het die prentjie ingrypend verander toe hy betrokke geraak het by London and Rhodesia Mining and Land Corporation Ltd. (Lonrho). Dit het gebeur nadat bepaalde Britse sakelui Rowland geïdentifiseer het as die man wat instrumenteel moes wees in die vestiging van die Britse neo-imperialisme in Afrika. Hy het Lonrho uitgebou tot 'n Britse multi-nasionale maatskappy wat veral die grondstofryke Afrika moes 'regeer'. Lonrho het in 'n bestek van drie dekades 'n greep op die meeste ekonomieë in Afrika verkry en in die proses een van die grootste maatskappye in Brittanje geword. Lonrho het oor die jare nou saamgewerk met die Britse intelligensiediens, Mi6 en was somtyds ook Mi6 se kanaal om geheime fondse aan terreurorganisasies soos Frelimo, Swapo en die ANC te bevorder. Uiteraard het Lonrho ook soms as 'n verlengstuk vir die Britse regering gedien om vriendskaplike betrekking met Swart leiers in Afrika te bevorder. Daar word beweer dat dit die gang van gebeure in Suidelike Afrika beïnvloed het. As hooggeplaaste Vrymesselaar het hy oor die hele wêreld heen vriende op hoë vlakke gehad. Vir Rowland draai alles net om sy eie belange. Deur die jare het hy hom as 'n opperste skurk bewys. Hy het in die verlede selfs vir Lonrho verneuk om homself te verryk.
Rowland se verbintenisse in Suid-Afrika het tot in die kabinet gestrek. In soverre dit die kabinet betref, het hy verbintenis gehad met dr. Hilgard Muller, die Minister van Buitelandse sake. Die vermelde verbintenis het ontstaan toe dr. Hendrik Lütting, die Suid-Afrikaanse Ambassadeur in Londen, Muller oorreed het om by die Suid-Afrikaanse regering aan te beveel dat 'n kriminele klag van bedrog teen Rowland laat vaar word. Die prokureur-generaal het in 1973 op grond van sogenaamde gebrek aan getuienis, opdrag gegee dat die aanklag laat vaar moes word. Later het gerugte in Suid-Afrika die rondte gedoen dat die aanklag laat vaar is omdat Rowland onderneem het om ‘n proses van detente met Suid-Afrika deur middel van sy goeie kontakte in Afrika te inisieer. Rowland was dan ook sedertdien die Departement van Buitelandse Sake se tradisionele middelman of kontakpersoon. Dit was ook Rowland wat gehelp het om die brugberaad tussen Vorster en Kaunda in 1975 te orkestreer.
Rowland self sou pres. Kaunda bearbei en die kontakman in Suid-Afrika, 'n Suid-Afrikaanse sakeman, sou Vorster betrek. Dit was in Maart 1974 dat met die uitvoering van die plan begin is.
Net 'n paar vertrouelinge van Vorster het aanvankiik van die planne geweet. Selfs genl. Van den Bergh, hoof van die Buro vir Staatsveiligheid, is eers op 'n veel latere tydstip by die plan betrek.
Reëlings is in die geheim getref. "Wat minder bekend is, is die feit dat mnr. Vorster 'n week of wat (omtrent einde Oktober 1974) voor sy ('gee-my-ses-maande'-)toespraak in die Senaat besoek van Zambië se Mark Chona en Rowland se verteenwoordiger in Suid-Afrika ontvang het. Dit is tydens hierdie ontmoeting dat die stem-van-rede-toespraak in die Senaat reggeskaaf is (deur Tienie Groenewald) as voorspel tot die latere ontmoeting tussen mnr Vorster en pres. Kaunda in Augustus 1975 tydens die brugberaad by die Victoria-waterval. Detente was in volle swang. In sy reaksie op mnr. Vorster se toespraak het pres. Kaunda drie voorwaardes vir samewerking gestel:
i) Terugtrekking van Suid-Afrika se magte uit Rhodesië.
ii) Onafhanklikheid vir Suidwes-Afrika op die basis van een mens, een stem.
iii) Die beëindiging van apartheid in Suid-Afrika.
Volgens bronne uit Zambie was dit vir die regering na 'n rukkie duidelik dat die CIA die dryfveer agter Zambië se vermelde voorwaardes was. Dit was 'n skaakspel waar die Amerikaners die reëls van die spel bepaal het, die skeidsregter was, en sommer ook die skuiwe op die skaakbord gemaak het. Nie juis veel van 'n skaakspel nie.
In reaksie daarop is daar toe agter die skerm deur die Departement van Buitelandse Sake planne in lyn met die voorwaardes opgestel, wat vir Zambië en die ander Swart state aanvaarbaar sou wees. Een daarvan was 'n plan waarvolgens Rhodesië binne vyf jaar 'n Swart meerderheidsregering sou hê, en 'n ander was die aanloop van die Turnhalle-beraad wat 'n tree nader was aan 'n onafhanklike Suidwes-Afrika op die basis van een mens, een stem.
Die klimaat van Vorster se vredesoffensief was hierna geskik vir 'n ontmoeting tussen Vorster en Kaunda. In Augustus 1975 het die ontmoeting tussen hulle plaasgevind by die Victoria-waterval.
Vervolg...