Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soos wat geneesmiddels nie op almal dieselfde uitwerking het nie, het swaarkry ook nie. Sommige se gestel word daardeur versterk. Ander s’n word geknak.
VOLKSVERRAAD (15)
Adv PJ Pretorius
Lees volledig by Volksverraad - die boek
DIE OORGAWE VAN SUIDWES-AFRIKA HET BEGIN
Die sluipmoord op dr. Verwoerd sou ook 'n einde bring aan Suid-Afrika se seggenskap oor Suidwes-Afrika. Op 27 Oktober 1966 het die VN onder druk van 36 Afrikastate resolusie nr. 2145 aangeneem. Hiervolgens beskou die VN Suidwes-Afrika voortaan as sy direkte verantwoordelikheid. 'n Adhoc-komitee van veertien lande is saamgestel om praktiese middele te vind om die gebied te administreer en onafhanklik te maak. Waarskynlik sit die CIA ook agter hierdie inisiatiewe. Die VN het Suid-Afrika toe die stryd aangesê om beheer oor SWA te verkry. Op 2 November 1966 het Vorster in 'n verklaring gesê: "Suid-Afrika beskou die WO se besluit om die Repbliekse mandaat oor Suidwes weg te neem, as onwettig en ongrondwetlik. Die beste wat ek van die saak kan sê, is dat dit 'n verspotte besluit is. Ons sal voortgaan om die gebied soos in die verlede te administreer."Tussen 21 April en 13 Junie 1967 het die VN besluit om 'n Raad vir Namibië daar te stel. Die Raad se verantwoordelikheid was om die nodige stappe te doen ten einde SWA onafhanklik te maak. Die dreigende konfrontasie tussen Suid-Afrika en die VN het meer gestalte aangeneem, terwyl terrorisme in SWA toegeneem het. Op 29 Augustus 1967 verklaar Vorster in Windhoek dat die Suid-Afrikaanse regering uitvoering gaan gee aan die versoeke van die Blankes uit SWA om eenheid tussen SWA en Suid-Afrika te bewerkstellig.
Skaars drie jaar na die afkondiging van eenheid tussen SWA en Suid-Afrika sou Vorster begin om Suid-Afrika se seggenskap oor SWA stuk-stuk weg te gee. Dit het toe duidelik geblyk dat Vorster ontslae wou raak van SWA. Vorster se raadgewers (hoofsaaklik Muller) het gemeen dat hulle daardeur vir hom 'n breë pad van aanvaarding in Swart Afrika sou baan. In 1968 het Vorster nog wetgewing in die parlement laat aanneem, wat voorsiening gemaak het vir die totstandkoming van Swart tuislande vir die ses vernaamste etniese groepe van Suidwes. Gedurende Maart 1969 het die VN sy politieke aanslag teen Suid-Afrika verskerp. Die Veiligheidsraad het Suid-Afrika versoek om hom aan SWA te onttrek. Die VN het SWA toe as 'n speelbal gebruik om boikotte teen Suid-Afrika te loods. In Julie 1970 het die Veiligheidsraad die Wêreldhof weer om 'n adviserende mening oor die regsgeldigheid van Suid-Afrika se voortgesette teenwoordigheid in SWA gevra. Vorster het grootliks op advies van Muller besluit om deel te neem aan daardie verrigtinge van die Wêreldhof. Deur deel te neem aan daardie verrigtinge in 1971 het Vorster by implikasie twyfel getrek oor die geldigheid van die 1966-uitspraak en by implikasie medeseggenskap van die VN in SWA erken.
Terwyl die hofverrigtinge reeds in 1971 in 'n gevorderde stadium was het Vorster die hof in kennis gestel dat hy 'n beter voorstel het. Die beter voorstel was toe 'n aanbod om 'n volkstemming ‘onder al die mense' van SWA te laat hou, teneinde hulle geleentheid te bied om te besluit watter administrasie hulle verkies — Suid-Afrika of die VN. Hierdie aanbod het inderwaarheid beteken dat Vorster vir die eerste keer die beginsel van een mens een stem in SWA aanvaar het. Op 27 Junie 1971 het die Wêreldhof beslis dat Suid-Afrika se teenwoordigheid in SWA ontwettig is en het die hof geëis dat Suid-Afrika sy administrasie van die gebied moet beëindig. Hilgard Muller het die Veiligheidsraad in kennis gestel dat Suid-Afrika die beslissing van die hof verwerp en dat hy sal voortgaan om die bevolkingsgroepe 'tot selfbeskikking te lei'. Die Veiligheidsraad het op 20 Oktober 1971 Resolusie 301 aanvaar om die beslissing van die hof te bekragtig. Daarna het die Veiligheidsraad op 4 Februarie 1971 'n buitegewone vergadering in Addis Abeba gehou om teen Suid-Afrika op te tree as hy sou weier om afstand te doen van SWA.
Die sekretaris-generaal, Kurt Waldheim, het intussen opdrag (Resolusie 309) gekry om in konsultasie met die Raad vir Namibië, kontak te maak met alle partye om 'die volk' van Namibië tot onafhanklikheid te lei ooreenkomstig die Handves van die VN. Op 4 Februarie 1972 het Vorster 'n uitnodiging aan Waldheim gerig dat hy SWA met hom wil bespreek. Waldheim het op 17 Februarie 1972 die uitnodiging aanvaar, maar dit duidelik gemaak dat die samesprekings sal geskied in ooreenstemming met Resolusie 309 — met ander woorde, Suidwes se onafhanklikheid. Waldheim het Suid-Afrika in Maart 1972 besoek. Tydens die besoek bevestig Vorster sy standpunt van onafhanklikheid vir die volke van SWA. Waldheim benadruk dit dat SWA as 'n eenheid onafhanklik moet word. Na 'n lang proses van onderhandelinge tussen Vorster en Waldheim se persoonlike verteenwoordiger, Alfred Escher, het Vorster gedurende Oktober 1972 ingestem om 'n sentrale gesag vir SWA in die lewe te roep. Vorster het hom bereid verklaar om SWA heeltemal los te maak van Suid-Afrika en om die gebied op die weg van 'n veelrassige regering te plaas — 'n Swart meerderheidsregering.
Hierna het Vorster 'n veelrassige Adviesraad vir SWA met homself as voorsitter aangekondig. Die raad het drie vergaderings gehou. Muller het in April 1973 met Waldheim in Geneve samesprekings gevoer. Muller het aan Waldheim 'n dokument oorhandig waarin hy verklaar dat Suid-Afrika geen jurisdiksie het om SWA se onafhanklikheid te vertraag nie en dat Suid-Afrika, in samewerking met die Sekretaris-generaal en die inwoners van In die dokument beklemtoon hy dat Suid-Afrika geen deel van SWA as sy eie beskou nie.
Waldheim het op 30 April 1973 sy verslag (S/10921) by die Veiligheidsraad ingedien. Dit omvat toegewings van die Suid-Afrikaanse regering. Op 12 Oktober 1973 verklaar Vorster dat die Republiek nie aanspraak maak op 'n duim van SWA nie en dat bande tussen Suid-Afrika en SWA losgemaak sal word. Die VN het op 13 Desember 1973 Swapo as die werklike verteenwoordigers van die mense van 'Namibië" erken en weereens geëis dat Suid-Afrika uit die gebied moet onttrek.
In Oktober 1974 het To the Point in 'n artikel melding gemaak van 'n meesterplan vir SWA. Die blad meld dat die man wat verantwoordelik sal wees vir die uitvoering van die plan Dirk Mudge sou wees. Langs hierdie weg het die Blankes verneem dat die planne vir 'n Turnhalle-beraad in werking gestel is. Dit moes die veelrassige Adviesraad van Vorster vervang as sentrale gesag vir SWA en moes SWA na onafhanklikheid lei.
Die Veiligheidsraad het in Desember 1974 op aandrang van die Afrikalande 'n buitengewone sitting gehou om die Suidwes-kwessie te bespreek. 'n Besluit word geneem dat Suid-Afrika tot einde Mei 1975 tyd gegun sal word om daadwerklike bewyse te lewer dat hy van voornemens is om SWA ingevolge die ooreenkoms met die VN onafhanklik te maak. Die Organisasie vir Afrika-Eenheid het tydens 'n vergadering aanbeveel dat Swapo 'n veelvoudige strategie moet volg. Dit was bedoel om Swapo te oorreed om die onderhandelingswapen ook teen Suid-Afrika te gebruik en nie net op terroristebedrywighede te steun nie. Vorster reageer daarop en verklaar op 18 April 1975 dat Suid-Afrika nie Swapo erken nie.
Pik Botha word in Mei 1975 na Windhoek toe gevlieg waar agter geslote deure 450 uitgesoekte amptenare en lede van die Nasionale Party gewaarsku word dat die Westerse grootmoondhede in die Veiligheidsraad nie meer hulle veto ten gunste van Suid-Afrika sou gebruik nie en dat skepe wat produkte van SWA na die buiteland vervoer, gekonfiskeer sou word. Hy het aanbeveel dat die Suid-westers hulle eie huis in orde kry en dat diskriminerende maatreëls verwyder moet word. Hy het gewaarsku dat die Westerse moondhede nie langer genoeë sal wees dat 'die voete gesleep word' wat die onafhanklikheid van SWA betref nie.
Gerig op die ultimatum van die VN waarin Suid-Afrika tot einde Mei 1975 tyd gegun word om sy erns met SWA se onafhanklikheid te bewys, spreek Vorster op 25 Mei 1975 die jaarkongres van die Afrikaanse Handelsinstituut toe. Hy gee die VN weer die versekering dat Suid-Afrika nie aanspraak op enige deel van SWA maak nie en dat die mense van SWA self oor hulle eie staatskundige toekoms sou besluit. Die ultimatum is formeel op 25 Mei 1975 in 'n brief van Muller aan Waldheim beantwoord. Die brief het uittreksels van Vorster se toespraak van 20 Mei 1975 bevat, en vir die eerste keer word melding gemaak van die oordrag van gesag in SWA. Dit word aan die VN gestel dat Suid-Afrika reëlings gaan tref vir die oordrag van gesag en dat Suid-Afrika hom uit die gebied sal onttrek sodra die inwoners van SWA hom versoek om dit te doen.
In SWA is daarna begin met 'n georganiseerde poging om alle skeidingsmaatreëls af te skaf. Die eerste vergadering is op 1 September 1975 in Windhoek gehou. Verteenwoordigers van die elf etniese groepe het in die Turnhalle byeengekom. Op 12 September 1975het die Turnhalle-beraad 'n dokument opgestel in die vorm van 'n 'Deklarasie van Voorneme'. Die strekking daarvan was dat die beraad hom verbind tot die opstel van 'n grondwet binne drie jaar. Geen voorsiening sou vir tuislande gemaak word nie en 'n uitgesproke onderneming is gegee dat alle 'rassediskriminasie' afgeskaf sou word.
Die tweede sitting van die Turnhalle-beraad het op 20 November 1975 begin te midde van groot spanning tussen twee blanke verteenwoordigers.
'n Internasionale konferensie oor SWA is in Januarie 1976 in Dakar, Senegal gehou. Die Dakar-deklarasie wat ná die konferensie uitgereik was, het Swapo erken as die 'enigste en werklike verteenwoordiger' van die mense van SWA en Suid-Afrika veroordeel vir sy 'onwettige teenwoordigheid' in SWA. Vrye verkiesings onder toesig van die VN is geëis. Die teenwoordigheid van militêre magte van Suid-Afrika in die gebied moes onverwyld beëindig word. Die Dakar-konferensie het die weg voorberei vir die besluit van die Veiligheidsraad op 6 Februarie 1976 om 'n ultimatum aan Suid-Afrika te rig. Die ultimatum sou op 31 Augustus 1976 verstryk.
Henry Kissinger het gedurende Junie 1976 in Bodenmais, Wes-Duitsland 'n plan vir SWA aan Vorster voorgelê. Verdere samesprekings tussen Kissinger en Pik Botha het op 2 Augustus 1976 gevolg. Kissinger doen in hierdie ontmoeting 'n beroep op Vorster wat wesenlik 'n herhaling van die VN besluite is. Hy het gemaan dat vordering in die oplossing van die Suidwes-kwessie verpligtend geword het. 'n Vaste datum vir onafhanklikheid word geëis en Suid-Afrika moet alle politieke partye in SWA toelaat en 'n vrye verkiesing onder die VN toesig hou.
Die konstitusionele komitee van die Turnhalle-beraad het op 3 Augustus 1976 vir die eerste keer vergader. Tussen 4 en 9 Augustus 1976 het Vorster persoonlik ingegryp en die leiers van die Nasionale Party meer as een maal na Pretoria laat kom. Vorster was waarskynlik bekommerd dat die Turnhalle nie sou voldoen aan die eise wat in die ultimatum van die VN en Kissinger vervat is nie.
Op 18 Augustus 1976 het die komitee onverwags besluit dat 'n tussentydse regering ingestel sal word om 'n grondwetlike raamwerk op te stel. Die datum 31 Desember 1978 is aangedui as die datum waarop SWA onafhanklik sou word. Volgens die Turnhalle se konsep-grondwet sou die Sentrale Owerhede uit 'n staatshoof (president), 'n uitvoerende gesag (ministersraad), 'n wetgewende gesag (Nasionale Vergadering) en 'n regsprekende gcsag onder die Hooggereghof van SWA bestaan.
Vorster het in September 1976 met Kissinger in Pretoria oor onder meer die Suidwes-kwessie onderhandel as voorsetting van die vroeëre samesprekings in 1976 in Zurich. Kissinger het eers twee weke daarna 'n verklaring uitgereik. Kissinger het pres. Julius Nyerere meegedeel dat Vorster teenoor hom die volgende erkennings gedoen het:
* Suid-Afrika is bereid om Swapo by die konferensietafel oor die toekoms van SWA toe te laat;
* die VN kan 'n rol in die gesprekke oor die staatkundige toekoms van die gebied speel, en
* die grondwetkonferensie moet deur die etniese en stamgroepe belê word.
Dit is bekend dat Vorster ná die samesprekings met Kissinger in Zurich op ' n perskonferensie teen al bovermelde aspekte sy teensin uitgespreek het. In die Nederlandse blad, Elseviers, is Vorster aangeval. Die blad se verslaggewer, Van Nieuwenhuysen sê onder meer: "Kissinger weet dat Vorster in werklikheid nie 'n sterkfiguur is nie en dat hy baie waarde daaraan heg om as 'n staatsman gesien te word. Toe Kissinger hom uit hierdie hoek benader, het die bespreking gang gekry. In werklikheid is die Suid-Afrikaanse probleme tans eerder sielkundig as polities van aard. " Die skrywer gaan voort: "Die manne kon oor 'n formule begin gesels waaragter Vorster hom kon opstel. Vorster het van die Amerikaners geëis dat geen afbreek aan sy posisie gedoen moet word nie. Trouens, hy het verwag dat die Amerikaners hom na buite sou steun. Op hierdie basis meen hy kon hy 'n geheime ooreenkoms grond terwyl hy in die openbaar in 'n teenoorgestelde rigting 'n sterk standpunt sou inneem. En wat die ooreenkoms betref, meen hy dat sy woord voldoende sou wees. Teen hierdie ietwat merkwaardige standpunt-inname het Kissinger beswaar gehad, maar hy het besluit dat'n gedeeltelike oplossing uiteindelik beter sal wees as geen oplossing nie."
Met hierdie grondwet is die Nasionale Party in Mei 1977 na die blanke kiesers in 'n referendum waarin geantwoord moes word op die vraag of hulle ten gunste van so 'n tussentydse regering is. Die uitslag was oorweldigend in die guns van die Turnhalle.
Vervolg...