Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Meer mense sterf sonder Christus as met Hom; mense wat nie met Hom reggemaak het toe hulle die tyd gehad het nie. Tyd; dis ‘n belangrike woord. Jy moet dit hê om te kan regmaak. Wie dit nie het nie, kan nie regmaak nie. Daarom word sondaars in Jes.55:6 dringend opgeroep: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is”.
SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (8)
Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Siener se kinders weggevoer
Enkele dae later toe oom Nieklas weer terug is by genl. De la Rey se kommando 'sien' hy in 'n gesig hoedat vyf van sy kinders deur die Engelse gevang en hy en sy vrou en die ander twee alleen agterbly. Koos de la Rey het oom Nieklas sonder aarseling toestemming gegee om Rietkuil toe te vertrek sodat hy sy mense kon gaan beveilig. Daar aangekom, gaan waarsku die Siener toe eers sy ouers (hulle het nog in die oorspronklike opstal op Rietkuil gebly) en van die ander boere in die omgewing om dadelik die gebied te verlaat, want die Engelse is op pad om hulle huise te plunder en die vrouens en kinders weg te voer.
Slegs enkele bure en 'n vriend of twee het oom Nieklas geglo en toe saam met hom begin reëlings tref om die plase te verlaat.
Met die hulp van 'n huisvriend is die Van Rensburgs se paar stukkies huisraad en ander aardse besittings in een vertrek opgestapel en toe met 'n ekstra kleimuur aan die binnekant toegemaak. Die stoorplekkie was so kunstig aangebring dat, tensy jy daarvan geweet het, jy maklik kon dink die gemesselde afskorting is maar een van die binnemure.
Teen die laatmiddag (die vroue was nog besig om aandete vir die kinders voor te berei) bereik'n boodskap hulle dat Engelse soldate in Rietkuil se rigting oppad is, en daar moes toe inderhaas vertrek word. Oom Nieklas, sy vrou en hul oudste seun, Willie, en twee dogters het op sy perdekar met hulle trop vee die veld in gejaag. Hul oudste, Hester, die vier ander kinders en hulle grootouers het saam met 'n groep ander boervroue van die omgewing met ossewaens in Wolmaransstad se rigting probeer wegkom. Onder die groep was twee skoonsusters van oom Nieklas: mev. Nonnie van Wyk en Hannie Claasen. Nonnie was die vrou van veldkornet Jan van Wyk, wat gedurende die beginjare van die Boereoorlog daar by Taungs teenwoordig was toe die Siener sy visioen oor die verwoesting en afloop van die oorlog gehad het. Dit was hy wat die Boereprofeet toe na genl. De la Rey geneem het.
Die twee kinders by Siener en sy vrou het naderhand begin huil van die honger, maar daar was nie tyd om stil te hou en kos te maak nie. Hulle het dwarsdeur die nag gevlug. Met ligdag toe oom Nieklas-hulle, na veel gesukkel, weer by die groep vlugtelinge aansluit, hoor hy toe dat party van die waens (waaronder syne en dié van mev. Van Wyk) in die donkerte afgedwaal en 'n ander koers ingeslaan het.
Terwyl oom Nieklas later die oggend nog besig is om na hulle te soek, kom hy af op 'n Boerekommando wat altoos in die nabyheid van die Engelse gebly het en hulle deel hom toe mee dat die waens wat die nag afgedwaal het, naby Korannafontein (later Ottosdal) in die vyand se hande geval het. Die Engelse het die vroue, oumense en kinders almal eers na Korannafontein geneem, en nog daardie selfde nag is hulle waens en alles daarop verbrand. Die Siener se ouers, vier kinders en Annie se susters is toe op ander kaal waens na die Mafeking-konsentrasiekamp gestuur.
Die drywer van die wa waarop Siener se kind Hester was, het die bynaam van Goeieman gekry, omdat hy daar by die kamp gehelp het dat die vyfjarige Letta in Hester se sorg geplaas word.
Ontsteld en bedroef moes die Siener 'n dag of wat later weer by sy kommando gaan aansluit. Hy het toe reeds 'n voorgevoel gehad dis maar net die begin van die smarte wat hy en sy gesin nog sou moes verduur.
Moordkampe
In die konsentrasiekamp op Mafeking moes sy dogter, Hester, (sy was pas 13) vir haar twee boeties en twee sussies sorg. Die daaglikse rantsoen was egter so skraps dat hulle voortdurend honger gely het en ten einde raad het Hestertjie toe wasgoed begin was om ‘n paar ekstra pennies te verdien. Dit het haar van vroegdag tot laatmiddag besig gehou, en gevolglik moes haar elfjarige boetie, Cornelius, daagliks by die rantsoenhuis gaan tou staan om die gesin se rantsoen te ontvang.
Mev. Elizabeth Meyer wat ook in die tyd in die Mafekingkamp was, het later vertel dat dit vir die handjievol helpers onmoontlik was om die duisende vroue en kinders se rantsoene op een dag uit te deel. Hulle moes dus Maandae gaan om vleis te haal (dit was meestal sleg en oneetbaar); Dinsdae weer om koffie, rys of suiker te kry; Woensdae en Donderdae vir meel en sout, en eers teen die Vrydag kon hulle 'n bietjie hout in die hande kry. Elke dag moes vroue en kinders van ligdag tot donker voor die rantsoenhuis staan en wag om gehelp te word. Menige keer het van die uitgeteerde verswaktes daar op die kalkbult in die bloedige son inmekaargesak; maar die kampowerheid het hulle geïgnoreer asof hulle glad nie bestaan nie.
"Onder hierdie haglike omstandighede," sê mev. Meyer, "het masels en ingewandskoors in die kamp uitgebreek. Dit was so erg dat hele families uitgewis is. In een stadium was die sterftesyfer 21 per dag."
Emily Hobhouse
Emily Hobhouse beskryf dit in haar boek, 'Die smarte van die oorlog (en wie dit gely het)', as volg: "Dit het gebeur dat moeders met klein kindertjies drie dae lank moes wag voor hulle met 'n dokter kon praat, en toe hulle beurt kom, word hulle in die pad gesteek, want 'het julle nie geweet nie, al die kinders onder vyf jaar moet vrek!' So 'n vrou keer dan na haar tent toe terug met 'n ewige, onverbiddelike haat jeens die vyand."
Toe die 13-jarige Hester weer een oggend opstaan om te gaan wasgoed was, sien sy verskrik dat albei haar sussies bont van die masels uitgeslaan is.
'n Tyd lank het oom Nieklas geen taal of tyding van sy vrou of kinders ontvang nie want in diétyd is genl. De la Rey se magte toenemend deur die vyand rondgejaag en het hulle ook 'n paar noue ontkomings gehad. Dis was eers teen middel-Oktober 1901 dat hy en Annie weer bymekaar sou uitkom.
Maar dit was 'n vreugdelose weersiens, want sy eerste woorde aanhaar was: "Vrou, ek het vroeg die week 'n gesig van ons kinders daar in die moordkamp op Mafeking gehad en dit was niks goed nie: Kyk, ek sien daar staan 'n leer wat van die aarde na die hemel strek, en ons twee dogters, Anna Katrina en klein Maria Elizabeth, is op die leer; terwyl ek nog so kyk, sien ek my suster Bettie, wat mos in '85 oorlede is, aan die voet van die leer verskyn. Dit beteken die Here het vir Bettie gestuur om ons twee kinders te kom haal, hulle is nie meer met ons nie..."
Kort daarna kry hy en sy vrou toe ook die tyding dat die tienjarige Anna Katerina en vyfjarige Maria Elizabeth onderskeidelik op 6 en 8 Oktober in die moordkamp aan masels oorlede is. In dieselfde tyd sterf ook een van die Siener se susterskinders en 'n dogtertjie van sy skoonsuster, Nonnie van Wyk.
(Hierdie vier kinders sou presies 20 jaar later die hoofrol speel in een van oom Klasie se belangrikste gesigte aangaande die eindbestemming van die Boerevolk).
Nadat hy en sy gesin daardie nag van Rietkuil af weggevlug het, was Nieklas van Rensburg nie een keer weer op sy plaas voor ná afloop van die oorlog nie. En daar ontdek hy toe dat die vriend wat hom gehelp het om sy bietjie huisraad agter die 'geheime kleimuur-afskorting' toe te messel hom later in die oorlog as 'National Scout' by die Engelse magte aangesluit het en hulle toe ingelig het oor die 'vals' binnemuur in oom Nieklas se huis. Die verraaier is kort daarna saam met 'n troep soldate Rietkuil toe en daar het hulle die muur met dinamiet opgeblaas en die huisraad vernietig.
Die dag toe oom Nieklas en sy vrou dit ontdek, het hy 'n lang ruk woordeloos langs die verslae en bedroefde Annie gestaan voordat hy sag gesê het: "Naak het ons in die wêreld gekom en naak sal ons hier uitgaan..."
Vervolg...