Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Selfbejammering is gif vir jou gees en maak jou selfsugtig. Niks maak ‘n mens so eensaam as wanneer eie belange jou enigste belange word nie. En dis wat selfbejammering doen! Laat mense nooit van jou sê: “Wat ‘n selfsugte mens!” nie.
SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (12)
Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Hys die Vierkleur!
Boy Mussmann vertel verder:
Toe die Boeregeneraals opgeroep is na Vereeniging in 1902, om te gaan onderhandel vir vrede, toe sê oom Klasie aan Koos de la Rey; "Julle sal vrede maak maar ons verloor ons land." Hy sê toe ook: "Dan kom daar 'n oorlog tussen Engeland en Duitsland en daardeur sal ons weer ons verlore vryheid kry... Ek sien 'n aantal trek saam met my: haastig tussen die putte (gevare) deur na Duitswes om te gaan traktate maak met die Duitsers in Duitswes." Toe genls. Botha en Smuts te kenne gee dat hulle Duitswes vir Engeland wil gaan annekseer, besluit De Wet, De la Rey en Beyers. hulle hys die Vierkleur en veg vir 'n republiek; maar hulle gaan nie onskuldige bloed vergiet nie.
Net voor die uitbreek van genoemde oorlog was ds. Faustmann van Schweizer- Reineke met verlof in Cambridge. Hy kry 'n brief van my vader om te sê: "Siener van Rensburg sê hy moet huis toe kom, want Siener sien die vlamme van die oorlog slaan uit." Ds. Faustmann het hom nie daaraan gesteur nie, want die professors het gesê: Daar is geen wolkie van oorlog in die lug nie, waar sal oorlog vandaan kom? Hy gaan toe Skotland toe. Agtien dae later kon hy nie sy skip terug kry nie, want hy het met 'n Duitse skip gegaan. Lord Selborne gee hom en sy vrou toe ‘n vry passaat na Kaapstad.
Ek was destyds op Stellenbosch op skool. Ek kry van my vader 'n telegram om dadelik huis toe te kom.
Ek wys ds. Faustmann my telegram en ons reis saam na Schweizer-Reneke. Opad vertel ek hoe oom Klasie my pa vertel hoe ons deurtrek na Duitswes.
Die Parlement besluit om Duitwes te gaan aanval met vrywilligers. Die Engelse regimente Die Natal Carbineers, Natal Light horse Cape Mounted Rifles, ens. was dadelik in die veld. Die eerste afdeling wat Duitswes bereik, trek in tot by Sandvlei. Daar het die Duitsers van hulle wors gemaak. Genl. Smuts skrik toe groot. (Hy het later in sy rapport oor die Rebellie gesê: "Wes-Transvaal het soos een man aan genl. De la Rey en aan Siener geglo en daarom soos een man gerebelleer"). Rapport gedruk 2.2.1915 na die Rebellie.
Generaal De la Rey word 15 September doodgeskiet. Toe maak Genl.Smuts 'n toets om te sien of die burgers van Lichtenburg nog soos een sal rebelleer. Hy kommandeer Isak Claassen met sy manne op. Toe hulle op Coligny kom, staan die trein gereed om hul na Duitswes te vervoer. Op die trein staan "Volunteers for German West." Isak sê: "Ek is geen Volunteer," en hy en sy manne laat hulle perde afspring van die trein waarmee hul van Lichtenburg gekom het. Toe neem genl. Smuts die lojales en val Isak se kommando aan.
Ons , die Schweizer-Renekers, vertrek van Christiana na Lichtenburg. Ons kry genls. Beyers en Kemp met ongeveer 2 000 man - hulle vertrek in die rigting van Schweizer-Reneke. Op die aand van 2 Nov. 1914 (volmaan), slaap ons agt myl (12 km) van Schweizer-Reneke af. 3 Nov. trek Adriaan de la Rey en ek die Engelse vlag af en hys die Vierkleur. Ds. Faustman sien my en laat my roep. Ek kom daar en hy sê aan my: "Dit is groot sonde om teen jou owerhede te rebelleer - lees Romeine dertien. Ek sê: "Dominee, toe u in Cambridge was, het u nie geglo nie en nou glo u al weer nie. Ons is nou op die pad na Duitswes soos ek vir u vertel het op die trein. Hy vra: "Waar is Van Rensburg?" Ek sê: "Hy sal so tien- of elfuur se stryk hier wees."
In tussentyd het 'n aantal professors en predikante van Stellenbosch 'n dekreet na genl. Botha gestuur en gesê: "Hy moet die Rebellie afkeur, want dit is ‘n sonde om teen jou owerhede te rebelleer - Rom. 13." Daarom het genl. Botha Wes- Tranvaalse predikante opgeroep na Pretoria en hulle moes Rom. 13 preek.
Die middag na ete gaan my oudste broer met Siener saam na ds. Faustmann. Toe die Siener daar kom, toe sê ds. Faustmann: "Dit is groot sonde om teen jou owerhede te rebelleer - Rom. 13." Siener se toe: "Dominee, die Heer stuur Samuel om Saul te salf as koning. Toe stuur die Heer weer Saul om Dawid te salf as koning. Wie van die volgelinge van Dawid of Saul was die rebelle?" Ds. Faustmann sê toe: "Kyk, die Ou Testament is uitgedien! Hy dien as 'n storieboek om ons by die Nuwe Testament te bring." Siener sê: ons moet onthou in die Ou Testament staan ons Tien Gebooie en nie in die Nuwe." Hy sê ook: "Dominee, ek kom by die Nuwe Testament: Jesus was volmaak en het gesê: Gee die Keiser wat syne is en die Heer wat syne is. En wie het hom doodgemaak? Die owerhede. "
Dit was op daardie dag, 3 November 1914 dat ek oom Nieklas die eerste keer ontmoet het en dit was die begin van 'n groot avontuur vir my.
Toe Siener terugkom, sê hy vir my: "Dominee Faustmann is 'n predikant, maar sonder geloof." Die dag vertel Siener ook aan ons hy sien vorentoe is 'n sloot oor ons pad. Ons gaan by die regterkant se punt om. Hy sien ons ontvang Duitse mausers in Duitswes maar hulle het wit punte. Hy weet nie wat dit beteken nie. Hy sien hy groet genl. Maritz waar hy op sy blouskimmelperd sit in Duitswes.
Ons vertrek die aand van Schweizer-Reneke en staan die volgende dag op Louwsvlakte regoor Killarney. Ons trek daar weg en trek met die laagte af wat reguit na Pudimostasie lei. Toe ons by die konvensielyn kom, stop oom Klasie die kommando en sê: "Hier op Pudimostasie staan ‘n gepantserde trem vir ons en wag." Hy draai die nag met ons daar weg en trek reg noord tot regoor Dryhartstasie (name hier onseker). Die anderdag (5 Nov) staan ons op die Kaapseberg. Daar sê oom Klasie: "Hier is 'n bont korhaan tussen ons ('n verraaier). Die aand donker trek ons daar weg. Ons was nie ver weg nie of ‘n skoot val op die voorpunt van die kommando en 'n perderuiter verdwyn na links. Ons wag daar tot die agterste ruiters bykom. Oom Klasie kom en sê: "Ons kan nou maar trek, die bont korhaan is uit. Hy wou genl. Kemp skiet en het mis geskiet."
Op Sondag 8 November is ons op pad Kuruman toe. My broer Piet en ek ry langs mekaar. Oom Klasie kom van agter en voeg hom by ons. Hy sê aan my broer: "Kyk, as ek myself sien, dan is dit my mense. Ek sien ek word geskiet. Hul neem my deur 'n vlei water en oorkant staan 'n huis met 'n varandadak aan die noordekant. Hulle Iê my op 'n rusbank en gooi 'n rooi kombers oor my."
Toe val dit my by wat oom Klasie vir ons gesê het voor die geveg. Die vleiwater is Kuruman se fontein se water. Die regterpunt van die sloot waar ons omgaan is die sendingstasie, Siodin. Die wit huis is die huis van die sendeling. Later het Siodin ‘n onderwysinrigting geword.
Kuruman se dokter kom grawe die koeël uit broer Piet se boud.
('n Martini-koeël) Ons trek daarvandaan met Piet in die motorkar. Ons staan by 'n plek met die naam Dingele. Oom Klasie sê: "Ek sien die regeringstroepe het voor by 'n dammetjie een van ons spioene doodgeskiet."
By Kuruman is drie man gewond. Kaptein van der Merwe en Jerrie Bezuidenhout. By die dammetjie is Coertze doodgeskiet.
Ons trek na Olifantshoek. Die nag vlak voor Olifantshoekdorp toe stop oom Klasie die kommando en sê: "Die regeringstroepe staan ons voor weerskante van die pad in die kliprantjies."
Ons draai links weg met die pad na Posmasburg. Ons staan die volgende môre op die plaas Dekepping. Daar begrawe ons Coertze.
Ons spioene het die môre 'n ou perdehingsie met 'n dik knie gevang en in die laer gebring. So teen elfuur kom ou Koos Uys en kom vra vir genl. Kemp of hy die ou perd mag kry. Genl. Kemp stem toe. Hy (Uys) vra aan genl. Kemp waarheen is sy plan hiervandaan. Kemp sê "af na Posmasburg." Kemp vra: "Hoe is dit gesteld met water en gras daar." Uys sê: "Dit het al 'n tyd gelede gereën, water is volop en die gras behoort al groen te wees."
Siener sê: "Ek sien die regeringstroepe kom by ons verby na die ooste kant toe." Ons spioene in daardie omgewing het toe ook so gerapporteer en bevestig.
Vervolg...