Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gebruik hierdie lang somersonskyndae na regte - maak nou genoeg hout bymekaar sodat jy in die winter by die vuur kan sit wanneer daar min tyd in 'n dag is.
SIENER VAN RENSBURG, DIE MENS (15)
Lees reeks by Siener van Rensburg, die mens
Boy Mussmann vertel verder:Ek vra toe: "Oom Klasie hoe lyk dit vorentoe?" Hy sê: "Môre is ons tussen die blouklippe. Maar wat ek nie verstaan nie, is dat ek sien hulle jaag so uitmekaar weg van ons en dan kom hulle terug met twee blou perde, twee bruin perde en een skimmelperd. Dan kom hulle tussen ons in."
Ons trek die nag van Rooidam weg. Die volgende more net toe die son uitkom, kom ons by 'n plaas (Geluk) aan. Ons sien daar 'n aantal perderuiters. Ons steek hul onder die koeëls want water en kos moet ons kry. Hulle het eers in die kraal skuiling gesoek. Toe hul sien ons kom nader en nader toe slaan hul op die vlug en jaag uitmekaar sodat ons nie altwee in een skoot kan raakskiet nie. Toe ons by die plaas kom, vemeem ons dat dit Duitsers en Duitse boere is wat weggevlug het.
Die eienaarvan die plaas, mnr. Long, het nie skape of bokke en beeste in die veld nie. Kaptein Williams word na hul gestuur met die rapport. Hy vat twee bruin perde en die skimmelperd saam wat Muller Rademeyer die vorige aand gebuit het. En hy kom terug met kaptein Adam Boshoff, kommandant Schoeman De Wet en ene Van Zyl met twee blou perde. Kommandant Schoeman het die kanonne se gebulder gehoor en wis toe dat dit die een of ander rebellekommando is wat daar deurbreek. Daarom het hy die vorige dag in die rigting van die kanonne opgeruk so vinnig as wat hy kon. So was die stuur van Ferreira en MacCharty dan nie geslaag nie, en ook onnodig die opoffering van Russel se lewe.
Die osse word van die motor afgehaak en aan genl. Maritz gerapporteer. Ek (Boy Mussman skiet een van die trekosse dood. Toe die vel mooi op die grond Iê, toe kom oom Klasie en sê: "Dadelik, dadelik trek." Toe ons terugkyk in Rooidam se rigting, toe sien ons die rooi stof in die lug van Botha se troepe wat aan die kom is.
By Eersteplaas waar die pad oor die rand gaan na Grootneus daar neem ons posisie in. Die voetgangers gee die ammunisie wat hulle nog het aan ons en trek tot by Grootneus verby. Genl. Botha se magte wil ons maar net omsingel, en komdt. Schoeman moes dan agtervleuel toe jaag, daar gaan terugskiet en dan weer links om. Dit het geblyk dat genl. Botha versigtig te werk gegaan het, want hy wis nie of daar nog ander magte as dié van komdt. Schoeman in die nabyheid is nie.
Na die dag se geveg trek ons tot by Koegoeskop. Daar sê oom Klasie: "Ons kan maar gerus slaap. Die vyand kom nie." Die volgende dag trek ons na Langklip. Genl. Botha bly die heeldag met ons in voeling. Ons arriveer die aand op Langklip. Daar kry ons baie slagvee. Die dam het vol gereën. Die wal was toegeslaan met takke. Dit was 'n rekord braaivleis!
Ons kry 'n sterk wa en span osse. Tienuur die aand toe sê oom Klasie ons moet trek die vyand is aan die kom - van drie kante af. Twee-uur daardie nag slaan genl. Louis Botha toe. Hy kry toe net die (kaalgeëete) koppe en pote. Negeuur die anderdagmore was Manie Maritz by met 'n groot versterking. Daardie aand, 28 Nov, 1914, toe slaap ons op Nakab.
Nadat ons kommando op Nakab gerus, gesing en gedank het, moes ons Maandag 1 Desember verskuif na Nabas na die barakke van die Duitsers. Daar is vir ons kos en klere aangery. Vir ons perde wat nog geleef het, is sakke saadhawer aangery. Ons het gou verhaar en die perde ook. Perde is aangekoop en ook saals. Mausers is aan ons uitgedeel.
Traktate word gemaak
Die goewerneur kom onderhandel met ons. Traktate word gemaak. Ek noem maar net een voorwaarde: Die grenslyn tussen die Unie en Duitwes word bespreek; in geval die Unie onafhanklik word, sal die grenslyn verander word van die oewerwal (van Duitswes) na die middel van die stroom van Grootrivier. Van ons offisiere word gekies om namens die Rebelle van 1914 die traktate te onderteken. 'n Aantal burgers word ingeskryf om te oefen as artilleriste onder majoor Jack Smith. Ons word verskuif van Nabas en Ukamas en na Jeruzalem. Daar word die laatste aantal perde uitgedeel. Ons kry opdrag om te verskuif na Skuitdrif aan Grootrivier. Aan Grootrivier kry ons kommandant Stadler. Hy het kommandant Du Plessis van Cradock met sy staf al 'n tyd te vore krygsgevangene geneem. Kommandant Du Plessis het tevore uit Upington opgeruk met 500 man om sy belofte aan genl. Smuts en Botha te volbring om genl. Manie Maritz se kop te lewer. Die 500 man het die loop geneem en hul kommandant in die veilige hande van kommandant Stadler agtergelaat. Die Botha Smuts- regering het besluit om Duitswes in te trek met verskillende kolonnes van ongeveer 1 000 man elk. Een kolonne was by Rooysvlei, een by Lutzhuts en een by Nous (aan die Unie-kant van Grootrivier) Intussen het Grootrivier baie vol geword. Seker die water wat later die dood van genl. Beyers en Pieterse geëis het.
Om Nous te bereik, was 'n probleem. Maar die gesegde, 'n Boer maak altoos 'n plan, is hier bewaarheid. Van der Merwe roei 'n staaltou oor die rivier en draai die tou aan die Unie-kant om die doornbosse vas. Aan die Duitswes-kant word hy met burgerhande so styf mogelik getrek en dan om die doringbome vasgedraai. Die twee skuite word met planke aanmekaargekoppel. Die planke oor die skuite vorm 'n platform. Aan die voorpunt van die skuit word 'n osketting aangebring met 'n haak oor die staaltou. As ons aan die Duitsweswal wil oorvaar na die Unie, dan trek ons die Duits wes-ketting kort en skiet die Unie-ketting en ons ry oor en weer op dieselfde manier.
Ons vervoer ons kommando en ook die kanonne oor. Oom Klasie wil nie oorgaan nie. Hy sê: "In die middel van Grootrivier is ‘n put (gevaar)." Hy sê: "Ek sien by Nous 'n Engelse meisie (regeringstroepe) Sy spring op en hardloop die dal af. Sy het 'n luier aan en hy is vuil. Dan gaan sit sy."
Op 22 Desember 1914 lê die regeringstroepe nog lekker en slaap. Hulle is veilig, want Grootrivier is so vol dat die regering se motorbote nie by Upington kan oorseil nie.
Toe die bommeksims die regeringstroepe by Nous wakker maak, toe spring hulle op uit die slaap en wil nog vlug, maar vind uit dat hulle feitlik omsingel is. 'n Aantal perderuiters slaag daarin om op een plek uit te vlug. Die vorige dag, 21 Desember het 7 waens die Kersfeeskoek, droë vrugte en volop drank gebring. Die waens was op weg terug na Upington. Kaptein Farell het hulle gaan terughaal. Ons het hulle met ons tweeskuitpont oorgevoer na Duits wes. Met hulle geld het ons die Duitsers betaal vir ons kos, klere, ammunisie, gewere, ens.
Die Nous -troepe het natuurlik die vorige aand al Kersfees gevier, daarom was hulle komberse onveilig vir gebruik na die geweldige skrik.
Die afdeling wat die laatste oor die pont moes gaan, was dié van kmdt. Stadler. Die pont dra vier perde met ruiters op 'n slag. Die laaste vier penkoppe vang die regeringstroepe se slagskape en stop hul onder die planke in die skuite. In die middel van die rivier was die vrag te swaar en skep die skuite water. Twee van die vier verdrink. Die ‘put' wat oom Nieklas gesien het, het sy slagoffers geëis.
Vervolg...