Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alle mense het liefde nodig om te funksioneer – dit is die soort liefde wat God ons geleer het: onvoorwaardelik. Kyk net hoe gedy die persoon vir wie jy onvoorwaardelik liefhet!
WAARHEIDS- MEMORANDUM (12)
TEMA 3: MISDAAD
Lees reeks by Waarheidstryders
U word weer vriendelik versoek om hierdie memorandum aan soveel persone moontlik te versprei. U word ook hartlik uitgenooi om u mening oor die inhoud te lig. Stuur dit asb aan die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
BURGERLIKE ONGEHOORSAAMHEID
Mense met baie name hou nie daarvan om vorms in te vul nie. Keiser Nero sou beslis nie daarvan gehou het nie - Nero Claudius Caesar Augustus Germanicus! Hy was 12 jaar lank keiser van Rome (54-68nC) en ’n booswig wat gruwels bedryf het soos om met ʼn man getroud te wees! Toe ’n vernietigende brand ’n deel van Rome in 64nC verwoes het, het hy die Christene die skuld daarvoor gegee. In werklikheid het hy die brand laat stig om plek te maak vir nuwe geboue wat hy daar wou oprig.
Paulus se brief aan die Romeine is tydens Nero se regering geskryf. ’n Mens sou kon verwag dat Paulus gelowiges tot opstand teen hierdie booswig sou aanvuur, maar hy het nie. Selfs onder ’n goddelose keiser skryf Paulus om nie die regering van die dag teen te staan nie omdat alle regeermag van God af kom. Regeerders dien God in hul politieke hoedanigheid.
Paulus stel dit in Rom.13 duidelik dat die staat sy mag van God ontvang en derhalwe ’n dienaar van God is. Wie hierdie mag nie gebruik nie, word ’n dienaar van die Satan! Daar staan geskryf dat die owerheid die swaard nie verniet dra nie.
Toe Jesus voor Pilatus verskyn, sê Pilatus vir Hom: “…. Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” (Joh.19:10). Hierop het Jesus hom geantwoord: ” …U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie…” (:11). Jesus het Pilatus tereggewys. Sy menslike gesag was ’n Godgegewe gesag.
Toe Paulus later voor Festus staan, sê hy: “…. Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word…. as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie…” (Hand.25:10,11). Paulus het die owerheid wat die reg het om die doodstraf op te lê, eerbiedig.
’n Paar jaar later het Petrus in sy eerste Sendbrief ook oor staatkundige gesag geskryf. Dit het soos Paulus se skrywe ’n paar vrae laat ontstaan. Het Paulus en Petrus van gelowiges verwag om hulle altyd aan die gesag van regering van die dag te onderwerp ongeag die wette hulle uitvaardig? Mag gelowiges ooit burgerlik ongehoorsaam wees?
Daar is drie vorms van burgerlike ongehoorsaamheid. Eerstens anargisme wat sê dat ’n persoon na goeddunke kies om ʼn regering te gehoorsaam. In die lig van Rom.13 het so ʼn standpunt geen Bybelse ondersteuning nie. Ekstremisme is ʼn tweede vorm van burgerlike ongehoorsaamheid. Dit sê dat ’n persoon die regering van die dag gehoorsaam moet word ongeag sy opdragte.
Hierdie standpunt het ook geen Bybelse steun nie. Selfs die geskiedenis kom hierteen in opstand. Tydens die Nuremberg-verhore wou een van die Nazi prokureurs die verskoning gebruik dat sy kliënte net hoër opdragte uitgevoer het en dus nie vir hul gruwels aanspreeklik gehou kan word nie. Een van die regters vra toe: “Meneer, is daar dan nie ’n hoër wet as menslike wette nie?” Met hierdie eenvoudige vraag het die opposisie se argument verkrummel. Die Heilige Gees oortuig die mens wat reg of verkeerd is. Ongeag die Nazi-regering se bevele het die offisiere geweet dat hulle verkeerd doen.
Die derde en korrekte vorm van burgerlike ongehoorsaamheid is Bybelse onderdanigheid. Die Skrif leer gelowiges om aan ’n burgerlike regering onderdanig te wees mits dit nie gruwels wettig nie. In so ’n geval durf ’n gelowige die owerheid nie gehoorsaam nie. Dit sal sonde wees. “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie…” (Ex.23:2).
Die Bybel het talle voorbeelde van gelowiges wat ter wille van God burgerlik ongehoorsaam was. In Ex.1 het die Farao twee Hebreeuse vroedvroue opdrag gegee om alle manlike babas dood te maak. Hulle het geweier: “Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe” (:17). En God het hulle geseën: ” Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys.… En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk” (:22,21).
Jos.2 vertel van Ragab wat die koning se opdrag veronagsaam het om die twee Israelitiese spioene uit te lewer en hulle laat ontsnap. Alhoewel dit ’n opdrag van haar koning was wat met die dood gestraf kon word, het sy geweet dat sy dit nie kon doen nie. Die Israeliete het dan ook haar lewe gespaar toe hulle die stad geval het.
In 1 Sam. gee Saul opdrag dat niemand moes eet voordat hy die geveg teen die Filistyne gewen het nie. Toe Jonathan die opdrag veronagsaam en heuning eet om hom te versterk, het Saul opdrag gegee dat hy doodgemaak moes word. Toe sê sy manskappe vir hom:” …. Moet Jonathan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! Sowaar as die Here leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie!.... So het die volk dan Jonathan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie” (1 Sam.14:45).
1 Kon.18 vertel van ’n sekere Obadja wat God gevrees het. Toe sy koningin Isebel die profete van God begin vermoor, het hy 100 van hulle versteek en so aan die dood laat ontkom. Sy optrede was direkte ongehoorsaamheid aan die regering van die dag, maar in ooreenstemming met God se wil. Daarom het Isebel se plan om al die profete van God dood te maak, nie geslaag nie.
2 Kon. 11 vertel van Atalia, koning Ahasia se moeder, wat na sy dood die hele koninklike geslag van Juda laat uitmoor het. Die koning se dogter het egter vir Joas weggesteek om die bloedlyn te behou. Toe hy ses jaar later koning word, het hy sy ouma laat teregstel. En dit was reg in God se oë.
Die boek Daniel vertel van twee gevalle van burgerlike ongehoorsaamheid. Die eerste in hoofstuk 3 - die bekende verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego wat nie voor die beeld van koning Nebukadneser wou buig en uit die brandende vuuroond verlos is. Die tweede verhaal is in hoofstuk 6 waar Daniël koning Darius se bevelskrif om niemand anders as die koning te aanbid nie, veronagsaam het, waarna God hom uit die leeukuil verlos het.
Handelinge 4 vertel van Petrus en Johannes wat ’n verlamde man genees het en weens hul getuienis oor Christus in die tronk gegooi is. Die Joodse kerklui wou die Christendom probeer keer en die dissipels beveel om nooit weer van Jesus te praat nie:” Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis. ; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien of gehoor het nie” (Hand.4:19,20). Toe die kerklui hulle daarna weer aan die opdrag herinner, sê Petrus: “… Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand.5:29).
Die laaste voorbeeld van burgerlike ongehoorsaamheid wat in die Bybel opgeteken is, is in Openb.13 waar die Antichris almal wat in die eindtyd leef, opdrag sal gee om die beelde wat van homself gemaak is, te aanbid. Dis ’n soortgelyke geval as in die tyd van Daniël. Johannes skryf dat die gelowiges van die eindtyd dit nie sal doen nie.
Daniël is ’n baie belangrike boek vir die gelowiges van die eindtyd. Soos wat gelowiges in die tyd van Daniël geleef het, sal dit ook aan die einde wees. Daar sal vervolging van staatsweë se kant wees. So ook goddelike ingrypings! God raap nie gelowiges weg soos wat dwaalleraars verkondig nie, maar staan hulle op ’n baie besondere wyse aan die einde by.
Burgerlike ongehoorsaamheid is nie sonder meer sonde nie. Die Bybel gee vir gelowiges duidelike riglyne. Hulle moet ʼn regering wat gruwels wettig en mense tot boosheid aanhits, teenstaan. Dis die enigste toelaatbare burgerlike ongehoorsaamheid.