Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christene is mense wat van die naglewe van sonde oorgegaan het na 'n lewe van lig in die HERE. Maar nou moet hulle ook lewe soos mense van die lig – dit bring mee om elke ding in jou lewe te ondersoek, of dit reg voor God is, of nie.
WAARHEIDS- MEMORANDUM (13)
TEMA 4: ROOMSE MISLEIDING
Lees reeks by Waarheidstryders
U word vriendelik versoek om hierdie memorandum aan soveel persone moontlik te versprei. U word ook hartlik uitgenooi om u mening oor die inhoud te lig. Stuur dit gerus aan die webmeester by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
EKUMENE
Die Hervormde Kerk het onlangs teen die verwagting in voor internasionale kerklike druk geswig en, soos die NG Kerk (1986), verskoning vir haar eertydse ondersteuning van afsonderlike ontwikkeling aan die suidpunt van Afrika gevra. Wat het haar tot hierdie fatale reënboognasie proefneming laat toetree? Die behoefte aan ekumeniese kerklike aanvaarding. Ekumene is die internasionale strewe na kerkeenheid.
Op internasionale vlak verteenwoordig die Wêreld Raad van Kerke (WRK) ekumenisme en bied hulself as volg aan: Die Wêreld Raad van Kerke is ʼn gemeenskap van kerke wat op grond van die Skrif die Here Jesus as God en Verlosser bely en ag dit gevolglik om saam hul gemeenskaplike roeping om die een God – Vader, Seun en Heilige Gees – te verheerlik.
Dis ʼn gemeenskap van kerke wat met die droom van ʼn sigbare eenheid in een algemene geloof besiel is. Gevolglik draai die as van die ekumeniese beweging om strukturele kerkeenheid soos die omstrede Belhar belydenis dit onomwonde stel. Jesus se gebed in Joh.17 word as Bybelse regverdiging daarvan gebruik: “...dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (:21).
In 1994 het ʼn dokument Evangelicals and Catholics Together die goddelose aap uit die vrome mou gelaat. Ekumene is ʼn wurgketting wat in Rome gesmee is om Protestante mee te verwurg! Dit laat talle vrae ontstaan. Is ekumeniese doelstellings hetsy plaaslik of internasionaal Skriftuurlik korrek? Mag gelowiges by ekumeniese bewegings betrokke wees?
Die vraag is of so ʼn beweging op suiwer Bybelse beginsels staan? Baie mense en organisasies beroem hul daarop dat hulle die saak van Christus dien, maar minag talle dinge wat die Bybel leer. Die Mormone, Jehovasgetuies en Apostelsekte is sprekende voorbeelde. Hulle doen hulle as volgelinge van Jesus voor, maar ontken kardinale Bybelse waarhede. So ook talle kerk-organisasies waarvan die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) ʼn sprekende voorbeeld van is. Van hierdie leiers ontken selfs Christus se maagdelike geboorte en dat Hy die enigste brug tussen God en mens is terwyl die Bybel duidelik sê: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (1 Tim.2:5).
Die toenemende skakeling tussen Protestantse kerke en die Roomse Kerk (RK) is verontrustend. Protestante glo bv. heel anders oor redding, die gesag van die Bybel, ampsdraers en die versoening van Christus aan die kruis as wat die RK glo. Laasgenoemde gee voor om oor kardinale sake eenstemmig met Protestante te wees. Dis ʼn leuen! Om gemeenskaplike dinge saam te gooi en sake van verskil eenkant te laat, plaas kerke op die weg van sinkretisme; ʼn vermenging van die waarheid met die leuen.
Wat sit agter hierdie ekumeniese gier wat Protestantse kerke so pootjie? Die Skrif sê duidelik hoe gelowiges moet leef: “En wat julle ook al doen in woord en daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom” (Kol.3:17). Wat skakeling met verlorenes betref, gee Jesus self opdrag: “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mt.5:16).
Jesus gee ook opdrag wat gelowiges se primêre doel is: “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:18,19).
Ekumeniese doelstellings daarenteen is baie gevaarlik omdat politieke en maatskaplike doelwitte die eintlike dryfkrag is. Godsdiens is slegs ʼn werktuig van politiek. Die aandrang op kerklike goedkeuring van homoseksuele verhoudings en huwelike is baie sterk ekumenies gekleur.
Ekumene is as sulks nie sleg nie mits dit een doel nastreef – om verlorenes na Jesus te bring en gelowiges te versterk: “ En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het...” (Efes.2:1-3). Indien dit nie die doel is nie, moet gelowiges ekumene vermy!
Dit wat tans op ekumeniese gebied gebeur, is boos. Die Roomse Kerk is besig om met ekumene ware godsdiens met ʼn valse godsdiens te vernietig. Dit lyk vir oningeligtes oënskynlik goed, maar intussen is Rome besig om Protestantse kerke te verkneg deur hulle in die hok van gesamentlikheid in te jaag.
Wat sit werklik hier agter? Die Roomse Kerk het ná die Hervorming gesweer dat alle Protestantse Kerke eendag na haar toe sal terugkruip. En dit gebeur vandag sienderoë! Daarvoor gebruik sy ekumene. Ekumene is nie ʼn nuwe gier nie, maar iets wat al lankal daar is. Calvyn het ook ekumeniese gesprekvoering voorgestaan, maar slegs indien dit duidelik omskrywe was. Ekumene sonder grense is niks anders as ʼn herlewing van die ou Babiloniese heersersmodel nie – heers deur ʼn kunsmatige eenheid.
Indien Protestantse kerke aan ekumeniese gesprekvoering wil deelneem, moet die doelstelling en grondslag van daardie ekumeniese organisasie baie duidelik wees. As dit nie aan die algemene belydenisskrifte gebonde is nie, kan dit tot onverskilligheid teenoor die eie kerkleer en verdraagsaamheid jeens dwaalleer lei. Sulke aanvaarding lei tot gelykskakeling en gelykskakeling tot ʼn vernietiging van die eie leer.
Kort voor die dood van pous Johannes Paulus II het hy die vordering wat daar op die gebied van die ekumene gemaak is geloof en gesê dat God sy kinders wat uitmekaar gedryf het, sal verenig. Reeds so vroeg as 1928 het pous Puis XI gesê dat ekumene nie as die terugkeer na een enkele kerk beskou moet word nie, maar eerder as ʼn nuwe manier van kerkwees.
Die moderne ekumene het sy oorsprong in 1925 gehad toe ʼn ekumeniese sinode in Stockholm gehou is. Daar was geen belydenisgrondslag ter sprake nie, slegs ʼn kunsmatige kerkeenheid. Die organiseerders het geglo dat kerklike verskille mense van mekaar vervreem en dat gesamentlikheid mense sou verenig. Daarna is talle ekumeniese byeenkomste gehou wat uiteindelik in 1948 tot die stigting van die WRK gelei het; een van die vernaamste wegbereiders vir die koms van die Antichris.
Ekumenisme het in Okt. 1962 opgevlam toe samewerking tussen Protestantse en Roomse Kerke op die sakelys van die Vaticanum II konsilie (sinode) verskyn het. By hierdie geleentheid is ʼn interkerklike werkplan aanvaar en Die Groot Toenadering tot ander Godsdienste genoem. Dis kwansuis ontwerp om die breuk tussen Protestante en Roomsgesindes te herstel. Dit was in werklikheid ʼn rookskerm om Protestantse kerke binne te dring en te vernietig.
Daarna is Protestantse kerke aangemoedig om ʼn gemeenskaplike Bybelvertaling op grond van Roomse manuskripte uit te gee. In Junie 1968 is eenstemmigheid met ʼn ekumeniese dokument Guiding Principles for Interconfessions Co-operation in Translating the Bible bereik, wat onder andere tot die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) gelei het. Die goddelose aap is uit die mou gelaat - Protestantse kerke het gemene sake met die Roomse Kerk.
Kort hierna het ekumeniese bemoeienis met die NG Kerk daartoe bygedra dat sy haar opspraakwekkende openbare belydenisse oor sg. volksondes gemaak het. Sy was immers die gewete van die Boerevolk. Die gevolg was dat Suid-Afrika net hierna sonder slag of stoot aan magshonger heidene oorhandig en chaos in ʼn bont vlag toegedraai op die voorstoep van wetsgehoorsame burgers afgelaai is.
Die rol wat ekumeniese inmenging aan die suidpunt van Afrika gespeel het, om hierdie skrikbewind te bevorder kan nie misgekyk word nie. Die slenter van ʼn universele liefdes-evangelie van versoening en vergifnis het talle Protestantse kerke in ʼn horisontale versoeningsgier laat tol en kop verloor.
Verloopte teoloë het kerke mislei om te glo dat ekumeniese gesprekvoering Protestantse kerke die gulde geleentheid sou bied om ʼn getuienis teenoor die Roomse Kerk se misleiding te lewer. Dit het nooit gebeur nie. Rome het die laaste gelag want al die gesprekvoering het in kompromievorming geëindig.
Die bedenklike invloed van die Roomse Kerk op Protestantse kerke kan baie duidelik in die NG Kerk se inkleding van haar eredienste gesien word. Sy het ʼn Rooms georkestreerde Bybelvertaling, hou die Roomse kindernagmaal en gebruik al hoe meer kerse by spesiale geleenthede. Dis alles suiwer Rooms!
Ekumene gee voor om kerke saam te snoer. En dit gebeur wel, maar nie tot eer en verheerliking van Jesus Christus nie. Dis ʼn magtige instrument in die hand van die valse profeet waarmee hy besig is om vir die Antichris ʼn nuwe wêreldorde te skep.