Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een ding moet jy nooit doen nie, en dis om oor die verlede te tob. Jy kan niks aan die verlede doen nie. Jy kan die horlosie nie terugdraai nie. Die mens kan alleenlik aan die hede en toekoms iets doen. Daarom moet jy jou ophou bekommer oor die dinge wat jy nie kan verander nie.
WYSHEIDSTORIES (4)
Skerp Waarnemer
Soek elke storie se les
en omskep dit in dade
GENOEG IS NIE GENOEG
'n Goeie ryk edelman het eendag toevallig gehoor hoe 'n mindergegoede, dog netjiese vrou, vir haar vriendin in 'n winkel sê: "As ek tog net soveel as R50 000 kon hê, sal ek vir altyd tevrede en gelukkig wees."
Die edelman het in sy rykmanslewe nog min mense gesien wat volkome gelukkig is met wat hulle het, want mense is gewoonlik geldgierig en wil altyd meer en meer hê. Hy sou graag iemand wou sien wat werklik tevrede is met wat hy of sy het. Hier was nou die geleentheid.
Daarom gaan hy na die vrou en sê dat hy toevallig gehoor het wat sy sê, waarop hy reël dat sy die volgende dag R50 000 by die bank kon gaan haal sodat sy altyd tevrede en gelukkig kan wees. Sy was vir 'n oomblik oorstelp, want vir haar was dit 'n fortuin.
Toe die edelman buite kom, staan hy 'n oomblik stil buite die deur en hoor hoe die vrou, die oomblik toe sy dog haar weldoener is weg, vir haar vriendin sê: "Waarom het ek tog nie R100 000 gesê nie?!"
Haar vriendin antwoord toe dat sy ondankbaar is terwyl sy so onverdiend sommer R50 000 van 'n goeie man kry. Sy moes bly gewees het om 'n present te kry al was dit net R5.
Hierop draai die edelman om en sê vir die vrou: "Weer het ek gehoor wat jy sê en besef dat jy niks ooit sal waardeer nie. Nou vat ek weg wat ek vir jou wou gee en gee R100 000 aan jou vriendin omdat sy regtig opreg is."
Verstom sê die vriendin, "maar Meneer, ek het niks gedoen om dit te verdien nie." Antwoord die edelman: "Jou goeie gesindheid en opregte eerlikheid verdien daardie geld. Ek weet jy sal dit goed gebruik. Gaan geniet dit."
OM WAT TE MAAK?
'n Professor wat 'n lesing oor goeie tydbesteding sou lewer word op die lughawe deur die gasheer ontmoet. Die gasheer drafstap met die man na sy motor en vra die bestuurder om so vinnig moontlik na die hotel te ry waar die man sou oorbly. Kort-kort jaag hy die bestuurder aan om vinniger as die spoedgrens te ry en nie by oranje verkeersligte te stop nie. Die taxi-ryer doen sy bes deur die swaar verkeer en na benoude oomblikke kom hulle by die hotel aan.
Selfvoldaan dat hy die professor met tydbesparing beïndruk het, sê die gasheer: "Daar's hy. Ons het minstens 15 minute tyd gewen om hier by die hotel te kom. So het ons die tyd gespaar."
"Om wat mee te maak?", vra die professor. "Intussen het ons ander motorbestuurders baie ongerief aangedoen en was ons 'n gevaar op die pad."
Die les: Moenie jouself bluf met onsinnighede nie.
DIE HANDE VAN 'N VRIEND
Lank gelede het twee Duitse leerjongens, Hans en Albrecht, in die houtsneebedryf gewerk. Houtsneewerk het hulle verveel. Hulle albei was belowende skilders en wou baie graag in die skilderkuns by 'n groot leermeester gaan leer, want hulle het besef dat hulle afronding in hul skilderkuns nodig het. Nie een van die twee het egter geld daarvoor gehad nie.
Hulle besluit toe op die volgende oplossing: Een van hulle sal eers bly werk en genoeg geld voorsien sodat die ander een die inkomste kan gebruik om afronding by 'n grootmeester te kry. Wanneer die eerste een dan suksesvol uitstallings gehou het en, soos hulle met reg geglo het, ryk en beroemd geword het, sal hy weer geld voorsien vir die ander een om by 'n grootmeester aan te klop.
Die vraag was natuurlik net: Wie sou eerste gaan studeer? Uiteindelik het hulle 'n geldstuk opgeskiet om te besluit, en Albrecht het gewen. Daardie tyd was kommunikasie moeilik en vervoer skaars en duur. Die geld wat Hans kon aanstuur het geblyk te min te wees.
Terwyl Albrecht in Spanje by 'n leermeester beland het, het Hans by 'n grofsmid gaan werk omdat hy daar meer geld kon kry om vir sy vriend te stuur, anders moes Albrecht terugkeer. Getrou het hy elke maand wanneer hy sy salaris gekry het, die grootste deel daarvan vir sy vriend se kostes aangestuur.
Die tyd het verby gegaan ‒ en uiteindelik was Albrecht behoorlik gekwalifiseerd. Hy het as meesterskilder begin naam maak. Sy skilderye het hoë pryse behaal. Hy kon na sy geboorteland teruggekeer as 'n beroemde skilder. Nou was dit sy beurt om sy vriend Hans met geld te help vir sy studie. Hy kon alles vooruit betaal.
Die twee het 'n blye weerontmoeting gehad, maar toe Albrecht na sy vriend se hande kyk, het hy trane in sy oë gekry. Toe eers kon hy werklik die omvang van sy vriend se opoffering begryp: Die moeilike tye van brute handearbeid as grofsmid om genoeg geld te verdien, het Hans se mooi hande gekneus, gebrand en vol eelte gelaat. Sy hande was nou so grof en krom getrek dat dit nooit weer die fyn kwas van 'n skilder sou kon hanteer nie.
In nederige dankbetoon vir die tyd en ruwe werk van opoffering wat dit vir hom moontlik gemaak het om 'n groot skilder te word, het Albrecht sy vriend goed versorg sodat hy nooit weer hoef te werk nie en in groot gerief kon leef. Vir sy volgende uitstalling het hy 'n portret geskilder van sy vriend Hans se beskadigde hande ‒ die hande wat so hard en so getrou gewerk het sodat Albrecht sy talent kon ontwikkel.
Die dag toe hy aan sy vriend die skildery van die "Biddende hande" oorhandig, het hy nooit geweet dat die simbool van vriendskap en opoffering eendag aan miljoene mense oor die wêreld heen bekend sou raak as 'n simbool van gebed nie. Ryk skilderykopers wou groot geld vir die pragtige skildery van die hande betaal, maar Hans het dit te veel waardeer om te verkoop. Vriende het toe gereël dat duisende afdrukke van die hande gemaak is en die opbrengs is net so aan Hans oorhandig. Dit alleen het hom ryk gemaak. Later is miljoene afdrukke wêreldwyd verkoop. Dit is vandag in miljoene huise te sien.
Verder het Albrecht, wat beroemd en ryk geword het, gereeld soveel geld aan sy vriend gegee sodat hy in welvaart kon leef. Getrouheid aan en harde werk ter wille van vriende lewer altyd beter opbrengs as onbetroubaarheid, laksheid en passief wees.