Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoop is 'n deug wat moontlik alle ander deugde oortref. Dit sou 'n klap in God se gesig wees om 'n situasie as totaal hopeloos te beskou en jou aan wanhoop oor te gee – God kan alles doen, en alles verander; hou moed!
WYSHEIDSTORIES (16)
Skerp Waarnemer
Lees reeks by Wysheidstories
Soek elke storie se les
en omskep dit in dade
NET INGEVAL
Andries-hulle was baie arm. In die omgewing waar hy grootgeword het, was dit alles behalwe veilig vir 'n laerskoolkind alleen op straat. Daar was baie boelies en skelms. Omdat die skool baie ver was, moes Andries soggens, veral in die winter wanneer dit nog halfdonker was, alleen van die huis af begin loop. Sy ma het toe die buurseun wat ouer was, elke dag betaal om saam met hom te loop. Vir arm mense soos hulle was die geld meer nodig om kos en klere te koop.
Toe dink Andries aan 'n plan: Hy sou alleen skool toe loop, dan kon sy ma die geld spaar. Maar hy sou ekstra versigtig wees en met niemand langs die pad praat nie. En sy ma weet mos hoe vinnig hy kan hardloop!
Sy ma het teensinnig ingestem, want sy het agtergekom dat dit vir hom nie net om die geld gegaan het nie; hy was te skaam om voor die ander kinders so "opgepas" te word.
Jare later toe Andries al volwasse was, het die gesin oor die vroeë dae gepraat. Toe Andries van sy "geldspaarplan" vertel, het sy ma ondeund geglimlag.
"Het jy regtig gedink ek sou jou in daardie gevaarlike omstandighede alleen skool toe laat loop?" het sy knipoog gevra.
"Ek het die groot buurseun steeds gevra om 'n ogie oor jou te hou en hom steeds betaal. Hy moes net sorg dat jy nie agterkom dat hy kyk waar jy is nie. Net vir ingeval iets met jou gebeur . . ."
'n Ma en Pa sorg altyd vir hulle kinders al weet die kinders nie daarvan nie. So moet ons ons vriende ook stilweg bystaan wanneer ons dit nodig vind, sonder dat hulle verleë voel. Ook moet ons ons ouers eer vir wat hulle ongesiens vir ons doen en gedoen het.
STORIE VAN TWEE SKOENE
Die dogtertjie het pas sewe geword toe 'n motoris een oggend teen die rooi verkeerslig ry en haar fiets tref. Altwee haar bene is lelik gebreek en verskeie operasies moes op haar uitgevoer word. Die moontlikheid dat sy nooit weer sou kon loop nie, was groot. Net die tyd sou kon wys. Toe die lewenslustige dogtertjie dit hoor, was sy teen die grond. Sy het baie gehuil. Sy was opstandig. Sy wou nie met die dokters saamwerk nie.
Boonop was sy in die stad in 'n groot hospitaal ‒ ver van haar ouers en maats op die plattelandse dorpie waar sy gewoon het. Sy het baie verlang. Byna niks kon haar belangstelling prikkel nie. Die enigste gebeurtenis wat haar enigsins kon opvrolik, was wanneer daar pos vir haar was. Daar was briefies van haar klasmaats, kaartjies van haar ouers, legkaarte en boeke en reuse teddiebere van familie en vriende.
Sy was 'n intelligente kind en het gou besef dat al haar geskenke gemik was op 'n kind wat die res van haar lewe bedlêend of in 'n rystoel sou wees. Die besef het niks gedoen om die kind se gemoed te verlig nie. Haar ma het geskryf, gebel, bandopnames met opgewekte stories gestuur. Niks wou help om haar lus vir die lewe te herstel nie.
Toe stuur haar ma eendag vir haar 'n snaakse pakkie. Toe die dogtertjie die kartondoos oopmaak, het die verpleegsters iets gefluister van "wat se swak smaak is dit!," en "die vrou wat nie haar kop gebruik het nie, kan sy nie dink nie?"
Maar die dogtertjie het hulle nie gehoor nie. In die pakkie was die twee mooiste blinkleerskoentjies in die wêreld wat haar sou pas. En kniekouse met die fynste, fraaiste valletjies. Die ma het gewys sy dink die dogtertjie sal weer kan loop en die skoene en kouse aantrek. Dit was skoene en kouse vir loop en nie vir toemaak onder 'n kombers nie. Die nota daarby het gelees: "Hoop jy sal dit gou kan gebruik."
Die kind het dadelik haar hande in die skoene gesteek en op en af op die wit hospitaallaken met haar hande daarmee begin "loop". Van daardie dag af was daar 'n verandering in die dogtertjie. Die verpleegsters en dokters het hulle verstom aan haar skielike geesteskrag en samewerking. Drie maande later het die dogtertjie, teen al die dokters en verpleegsters se verwagtinge in, weer strompelend geloop. En 'n ruk later het sy self uit die hospitaal gestap ‒ in haar swart blinkleerskoentjies!
Omdat 'n ma geglo het dat haar kind die innerlike krag het om weer te loop, kon sy weer loop. Die invloed van 'n ma op haar kinders is onbegryplik groot. Daarby het sy ook gewys dat as jy glo dat jy iets kan doen en dit aanhou probeer, sal jy dit regkry. Glo in geloof.