Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons werk nie so hard op hierdie aarde om iets te besit nie; ons werk sodat ons iets kan word.
ROBEY LEIBBRANDT VERTEL SELF (20)
Outobiografie van Robey Leibbrandt:
GEEN GENADE
Lees reeks by Robey Leibbrandt vertel self
Indien lesers die ware weergawe oor die nasionalisme, geloof en waagmoed van Robey Leibbrandt wil weet, moet u hierdie reeks nie misloop nie. Daar het onlangs ‘n liberale weergawe verskyn waarvan die skrywer in ‘n TV-onderhoud op die vraag waarom hy oor Leibbrandt geskryf het, geantwoord het: “’n Mens kan nie net oor goeie mense skryf nie”. Die suggestie wat hy laat dat Leibbrandt ‘n ‘slegte mens’ was, kom ooreen met die liberale inhoud van sy boek.
My ontmoeting met die hoof van die O.B.
By ons aankoms in Bloemfontein het ek 'n berig ontvang dat die Kommandant-generaal van die Ossewabrandwag hom bereid verklaar het om my te woord te staan. Die ontmoeting sou die aand om negeuur tussen Pretoria en Silverton by 'n ou kareeboom plaasvind. Ek het saam met dr. Hans van Rensburg en sy adjudant, Heimer Anderson, in 'n motor geklim. Heimer was saam met my leerling aan die Grey-Kollegeskool in Bloemfontein en hy het gou vasgestel dat ek werklik Robey Leibbrandt was. Gewapende manne van die O.B. het oral om die motor gestaan. Teen wie en teen wat hulle die Kommandant-generaal wou beskerm, weet nugter alleen. Al was dit net 'n skyn-sirkusvertoning, het ek tog belangrik gevoel — dit nogal sonder manel en pluiskeil.
'n Vraag van dr. Van Rensburg het my eers vererg, maar ek het gou gekalmeer. Hy wou weet of Adolf Hitler aan hom 'n boodskap gestuur het. My antwoord was volkome beheers: "Ja, die boodskap hou egter 'n belofte in. Indien die O.B. optree as 'n Nasionaal-Sosialistiese beweging, sal die Duitse radio-omroep Zeesen vir die Ossewabrandwag propaganda maak."
"Is dit waar?" wou hy weet.
"Dit is my boodskap," het ek geantwoord.
Hierdie leuen het op op Sarizam uitgedink. Sover ek kon vasstel, het Adolf Hitler wet geweet van genl. Smuts, genl. Hertzog en adv. Oswald Pirow, maar seer sekerlik nie van dr. Hans van Rensburg nie. Laat ek hier byvoeg dat Adolf Hitler heeltemal anders oor die Ossewabrandwag gedink het as die snert wat Zeesen later uitgesaai het. Ek is in Duitsland gewaarsku teen alle bluf-organisasies in Suid-Afrika. Dit is in Duitsland bestempel as papbroekige grootdoenery.
Of ek wel bovermelde boodskap aan dr. Hans van Rensburg oorgedra het, moet getoets word aan die werklikheid. Was dit loutere toeval dat die O.B. eers kort na my gesprek met dr. Van Rensburg van die Herenigde Nasionale Party vervreemd geraak het? Waarom het die Ossewabrandwag eers ná my koms na Suid-Afrika'n verflenterde Nasionaal-Sosialistiese kleed omgehang? Dat dr. Hans van Rensburg nooit voorheen daaraan gedink het om as Nasionaal-Sosialis te poseer nie, kan afgelei word van sy eie toesprake. Hy het onder andere gesê dat die O.B. nasionaal en sosiaal van aard is. Wat dit beteken, weet die duiwel alleen en hy sal tog nie sê nie.
Kort na my eerste ontmoeting met dr. Van Rensburg het verskeie gerugte van ondermynende aard die rondte gedoen en ek het besluit om die Kommandant-generaal van die O.B. onmiddellik te gaan spreek. Eers moes ek vasstel of hy wel tuis was. Niemand het skynbaar geweet waar hy hom bevind nie. Toe 'n hoë offisier in die geledere van die O.B. my meedeel dat sy hoof na die Bosveld is, het ek onverwags gevra wat hy daar gaan maak het. Die antwoord was dat hy gaan visvang het.
"Vis in die Bosveld? Jy bedoel seker bosluise," het ek gesê.
Hendrik Erasmus en Karel Theron het my daardie aand vergesel na die woning van dr. Van Rensburg. Soos ek wel verwag het, was hy tuis en nie Bosveld toe nie. Die gebruiklike wagte was weer daar om te verneem na die doel van ons besoek. Hulle kon wel in besit van pistole gewees het, maar gewere het ek nie gesien nie.
Die Kommandant-generaal was in geselskap van sy adjudant toe ons die sitkamer binnekom. Die weiering van die hoof van die O.B. om Erasmus met die hand te groet, het onmiddellik 'n gespanne atmosfeer geskep. Die woordewisseling wat kort daarna tussen my en die Kommandant-generaal plaasgevind het, het vinnig opgelaai tot 'n klimaks toe ek van my stoel opgespring en met gebalde vuiste my gasheer stormgeloop het.
"Wat?" het ek gebulder. "Beskuldig jy my tog nie dat ek 'n Duitse agent is nie? Vra om verskoning. Vra om verskoning en maak gou." Ek het gebewe van woede.
Dr. Van Rensburg het om verskoning gevra.
"Ek waarsku jou. Jy sal spoedig ontdek met wie jy nou besig is," het ek kwaai beduie.
Theron en Erasmus se oë was wyd oopgesper toe ek vlak by die Kommandant-generaal se stoel omdraai om weer te gaan sit.
Toe ons later daar wegtrek, het Erasmus die motor oopgetrap terug na die hoofpad. Ons het vermoed dat iemand die polisie sou bel en hulle van my teenwoordigheid in daardie geweste sou verwittig. Toe die gemoedere heeltemal gekalmeer het wou Erasmus weet wat ek sou gedoen het indien dr. Van Rensburg nie om verskoning gevra het nie.
"Jy vra nog. Volgens die immanente wette van die Adolf Hitler-begrip behoort elkeen met sy hele hart, siel, liggaam, gees en verstand aan daardie volk waaruit, waarin en vir wie hy gebore is. Enige oortreding of valse vertolking van daardie fundamentele wet ontneem so 'n persoon die reg om rond te loop en te pronk as 'n sogenaamde Nasionaal-Sosialis, want dan is hy geen Nasionaal-Sosialis meer nie, maar 'n Internasionaal-Sosialis wat die eufemisme vir 'n Kommunis is. Met ander woorde, indien ek as Afrikaner 'n oortuigde Nasionaal-Sosialis is, word ek deur daardie einste wette verplig om alleen vir die Afrikanervolk te stry, te ly en te sterwe.
"Indien 'n persoon in onkunde verkeer aangaande die diepere wese van die Nasionaal-Sosialistiese idee, durf hy my persoon nie beoordeel en trouens ook nie veroordeel alvorens hy 'n deeglike studie gemaak het van my militêr-politieke verlede nie.
"Van hierdie stelling kan jy aflei dat ek beslis nie passief sal staan teenoor so 'n pynigende belediging nie. Hans van Rensburg het so byna-byna vanaand met sy sitvlak in daardie vuurherd beland," het ek gesê.
Tydens my verhoor het Carl Meiring, die skoolhoof van Wallekraal, getuig dat ek van die begin af die Ossewabrandwag as beweging baie goedgesind was, maar dat ek geen geheim daarvan gemaak het dat ek uiters skepties teenoor die leier van die O.B. gestaan het nie.
Intussen het die getalsterkte van my beweging vinnig aangegroei; veels te vinnig na my sin. Ek het gesoek na manne van durf en daad en nie na politieke laventeljonnies nie. Die waaghalsige Karel Theron het die leierskap van die Nasionaal-Sosialistiese Rebelle in Transvaal op sy skouers geneem, met Hendrik Erasmus as sy adjudant. Ons groot struikelblok was om finansies in die hande te kry. Dit het uiters moeilik gegaan om die Amerikaanse dollars wat ek saam met my van Duitsland gebring het, omgewissel te kry. In normale tye sou enige bank dit vir my uitgeruil het, maar in oorlogstyd sou die bank dadelik agterdog koester teen 'n persoon wat 'n groot getal dollars wou uitruil. Wat my egter die meeste hoofbrekens besorg het, was om 'n betroubare persoon te vind wat die radiosender in werking kon stel.
Uiteindelik het ek op Potchefstroom 'n telegrafis met die naam Abrie by Le Roux ontmoet wat oortuig was dat hy die uitsending na Duitsland kon waarneem. Daar is ooreengekom dat Le Roux en Abrie, vergesel van Karel Theron, vir my en Hendrik Erasmus op 'n sekere dag op Warmbad sou ontmoet om 'n berig aan konsul-generaal Rudolf Karlowa in Duitsland bekend te maak.
Vervolg...