Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Aan storms gaan jy in jou lewe nie ontkom nie; trek jou dansskoene aan en dans dat die stof so staan!
WAAR IS DIE CHRISTENE NOU? (SLOT)
VOLKSSTUDIE (3/6)
Lees reeks by Volksstudies
Ds. André van den Berg
6.1 ‘n Valse verwagting
Kort voor die noodlottige magsprysgawe in April 1994 het sekere blanke politici beweer dat nagenoeg 80% van die Suid-Afrikaanse bevolking Christene is en 'n remmende invloed op die verwagte morele verval sou uitoefen. Daar is selfs geglo dat dié Christene weens die ANC se openlike verbintenis met die plaaslike Kommunistiese Party nie vir die ANC sou stem nie. Die Christene en nie die ANC nie, sou die gang van toekomssake aan die suidpunt van Afrika bepaal.
Dit was ‘n drogrede en wensdenkery. Die werklikheid was 'n perd van 'n ander kleur. Ten spyte van die kommunistiese bokkloue wat duidelik onder die ANC se rok uitgesteek het, het miljoene swartes daarvoor gestem en vir geen ander rede as dat dit anti-blank was nie. Selfs vooraanstaande nie-blanke kerklui het vir die ANC gestem. Die Christelike geloof was helaas geen faktor nie. Anti-blank was belangriker as anti-God!
6.2 Die aftakeling
Dit was van meet af aan duidelik dat die nuwe septerswaaiers daarop uit was om die Boerevolk se geloofswaardes af te takel. Die Protestantse geloof wat saam met Van Riebeeck aan die Kaap gevestig is, was die boosdoeners se eerste teiken. Die Protestante vlam wat vir bykans 350 jaar aan die suidpunt van Afrika gebrand het, is geblus en met ‘n nuwe een vervang wat geen eerbied vir God of sy Woord het nie. Die ware geloof is met ‘n menseverheerliking vervang en die Wet van God met ‘n Handves van Menseregte.
Die multi-godsdienstige openingsgebede tydens die gewraakte Kodesa-beraad was die eerste aanduiding van so ‘n verandering. Dit was 'n voorloper van wat later in die veelvolkige parlement sou gebeur. Die volksvyand wou Suid-Afrika godsdiensneutraal maak. Van die verwagte heilsame invloed van die sg.80% Christene wat kwansuis teen die verderf sou walgooi, het absoluut niks gekom nie. Vandag slaan bose magte die tamboer in ons eertyds Christelike land. Die gevolge is vernietigend!
6.3 Wolwe in skaapsklere
Die ondeurdagte, lasterlike uitsprake van sekere kalkligbehepte swart kerklui het hulle ware kleure verraai. Hulle was wolwe in skaapsklere! Hulle kwasi-heilige kerklike vertoon was niks anders as leë gebare om hulle bose oogmerke te verberg nie. Baie van hulle is ywerige werktuie van die Satan se Nuwe Wêreldorde waaroor die Antichris kort voor die wederkoms van Christus sal heers.
Die onverantwoordelike, openbare uitsprake van iemand soos Desmond Tutu het gelowiges al dikwels laat sidder. Dit was nie net aanstootlik nie, maar teologiese beoordeel, verstommend vlak. Sy oneerbiedige omgang met die Christelike leer en geloof is onaanvaarbaar komende van 'n man wat op ‘n stadium die hoof van sy kerk was. Kerkdienste wat in die verlede deur hom gelei is, was dikwels met verdagmakery en openlike opruiery deurspek. Tutu het alles in sy vermoë gedoen om die Boerevolk as boosdoeners af te maak. Van ware versoening was daar geen sprake nie. ‘n Versoener dra nie 'n knuppel onder sy toga nie!
6.4 Skole
Vir die ware Christendom is daar in die ANC-bedeling geen plek nie. Die stigma van apartheid kleef skynbaar net te sterk aan die Christendom dat ANC-ondersteuners dit werklik sal ondersteun. Daarom word dit sedert 1994 onopvallend dog verseker afgetakel. Die vernietigingsproses begin by blanke kinders in staatskole. Die onderwys-owerheid probeer verhoed dat kinders in 'n bepaalde godsdiens onderrig word. Hulle moet glo aan 'n groter verskeidenheid van godsdienste bekend gestel word sodat hulle vanuit 'n neutrale waardebeskouing vir hulself een kan kies.
Die Christelike geloof en lewenswaardes wat daarmee gepaard gaan, is gedurig onder druk. Die ANC-regering is multi-godsdienstige georiënteer en plaas die Christelike godsdiens derhalwe op gelyke voet met die Islam, Boeddisme, Hindoeïsme en die verering van bose geeste wat onder die dekmantel van voorvadergeesaanbidding in ons land geduld word. Die ANC-regering moedig selfs voorvadergeesaanbidding aan omdat dit ‘n teenvoeter vir die Christelike godsdiens is! Sal ons ooit die gesig van die skreeuende voorvadergeesaanbidder tydens Mandela se inhuldiging as president vergeet!
Slotopmerking
Ware gelowiges durf nooit met die ANC se hantering van godsdienstige sake vrede maak nie. Daarvoor is Jesus se uitsprake al te duidelik. Daar is net een weg tot saligheid en dit loop oor Jesus Christus. In Joh.14:6 sê Jesus: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie”. Gevolglik is daar net een godsdiens en dis die Christelike godsdiens. Alle ander is afgodsdienste. Wie die Christelike godsdiens met ander godsdienste probeer gelykgestel, verloën die Here Jesus en sal die toorn van God voel!