Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Suksesvolle leier is aanpasbaar. As hy nie meer brandhout bymekaar kan maak nie, maak hy sy vuur kleiner. Met God by hom, is geen terugslag te groot nie. Dis mos nie hóe ‘n matroos die hawe uitvaar wat van hom ‘n gesoute seeman maak nie, maar hóe hy na ‘n storm daarheen terugkeer. Kalm water maak geen matroos vaardig nie.
VERWOERD - 13 SEPTEMBER 1966
Die Nuwe Leier
’n Week na die moord op dr. Verwoerd, op Dinsdag, 13 September, is die nuwe hoofleier van die Nasionale Party, en as sodanig ook Eerste Minister van Suid-Afrika, deur die Parlementêre koukus van die Nasionale Party aangewys.
Om 10.30 het die koukus in die Parlementsgebou byeengekom. Al 164 lede, Senatore en Volksraadslede, was aanwesig. Die voorsitter, sen. Paul Sauer, het uit ’n siekbed opgestaan om daar te kan wees.
Teen die tyd was dit ’n uitgemaakte saak dat die keuse lê tussen mnr. B. J. Schoeman, die 61-jarige Minister van Vervoer, en mnr. B. J. Vorster, 50-jarige Minister van Justisie.
Geruime tyd voordat die koukusvergadering sou begin, het mense al in Parlementstraat byeengekom. Hulle kon nie die terrein van die Parlementsgebou betree nie vanweë die strenge veiligheidsmaatreëls wat getref was.
Reg teenoor die treetjies van die Senaatsingang, waar die uitslag van die verkiesing bekend gemaak sou word, was ’n stellasie opgerig vir die menigte fotograwe en beeldradiomanne wat daar opgedaag het. Links daarvan, aan die Volksraadskant van die gebou, was ’n rooi tou gespan waaragter koerantmanne en andere wat wel toegang tot die terrein verkry het, gestaan het.
Om 10.25 het mnr. Vorster uit sy kantoor in die Marksgebou gekom, Parlementstraat oorgesteek en by die Volksraadstreetjies opgestap. Hy het volkome ontspanne en meester van die situasie gelyk.
Op die Volksraadstreetjies het ’n klein figuurtjie in rooi gestaan - Jeanette Marais, vyfjarige dogtertjie van mnr. Willie Marais, L.V. vir Wonderboom. So in die loop het mnr. Vorster afgebuk, haar gesiggie tussen duim en voorvinger geneem en dit ’n ligte drukkie gegee.
Enkele oomblikke later het mnr. Schoeman gekom. Op sy gesig was, soos gewoonlik, ’n onleesbare uitdrukking. Hy het nie die treetjies opgestap nie, maar binnekant die Volksraad se hek links geswaai en langs die Parlementsgebou op gestap na ’n ander ingang.
Andere voor hom, onder wie dr. Hilgard Muller, het ook die roete gevolg.
Langs die Volksraadstreetjies het die Eerste Minister se motor met die nommer TP 1000 gestaan.
Die koukusvergadering is deur sen. T. F. J. Dreyer met gebed geopen. Daarna het sen. Paul Sauer as voorsitter van die koukus gesê dat hy eers die prosedure van die verkiesing sou verduidelik voordat hy mnr. J. E. Potgieter as hoofsweep versoek om nominasies te vra.
Maar voordat mnr. Potgieter daartoe kon oorgaan, het mnr. Schoeman opgestaan en gesê dat hy hom nie verkiesbaar stel nie. Terwyl Suid-Afrika voor een van die ernstigste tydperke in sy geskiedenis staan, het hy verduidelik, is dit gebiedend noodsaaklik dat daar nie die geringste sweem van verdeeldheid moet wees nie. Die regerende party moet ’n verenigde front toon, en die nuwe leier en Eerste Minister moet weet dat hy op die steun van alle Nasionale Parlementslede kan reken. ’n Ontsettende verantwoordelikheid sal op die nuwe Eerste Minister rus, het mnr. Schoeman voortgegaan, en daarom sal hy self hom met raad en daad bystaan.
Terwyl mnr. Schoeman gepraat het, is hy telkemale deur die lede van die koukus toegejuig.
Daarop het mnr. S. P. Botha, L.V. vir Soutpansberg, voorgestel dat mnr. Vorster tot leier gekies word. Mnr. G. de K. Maree, L.V. vir Namakwaland, het die voorstel gesekondeer.
Daar was geen ander voorstelle nie, en sen. Sauer het gesê dat min. Vorster eenparig tot hoofleier gekies was.
Hierna het dr. T. E. Dönges as waarnemende Eerste Minister en namens Kaapland, sen. Jan de Klerk namens Transvaal en die Senaat, min. W. A. Maree as leier van die Nasionale Party in Natal, min. J. J. Fouche as Vrystaatse partyleier en adjk.-min. J. G. H. van der Wath as leier in Suidwes, kort toesprake gehou waarin hulle mnr. Vorster gelukgewens en hom hul steun beloof het.
Na ’n kort toespraak deur mnr. Vorster het die aanwesiges hom “Laat Heer U seën op Hom daal” toegesing.
Vervolgens het al die aanwesiges, met sen. Sauer en mnre. Potgieter en Vorster vooraan, deur die gange van die Parlementsgebou na die Senaatsingang beweeg.
In Parlementstraat het die skare intussen aangegroei tot by ’n duisend. Goedige skerts en grappies het gehelp om die tyd verby te laat gaan, maar die wag het lank begin word. Twee of drie keer het iemand in die wagtende skare begin hande klap en dan het almal se oë na die Senaatsingang gedraai. Maar telkemale was dit ’n vals alarm.
Teen halftwaalf was daar ’n ligte roering onder die mense wat aan die Volksraad se kant van die Senaatsingang agter die rooi tou gewag het. ’n Vrou in ’n smaakvolle ligblou uitrusting gekleed het tussen hulle deur beweeg tot teenaan die tou en, met die oë stip op die Senaatsingang gerig, daar gestaan. Dit was mev. Vorster. Later het haar dogter, Elsa, bygekom.
Toe het die wagtendes geweet.
Kort daarna het mnr. Vorster by die Senaatsingang verskyn, met sen. Sauer aan sy linkerkant en mnr. Potgieter aan sy regterkant. Die ander lede van die koukus het gevolg en weerskante van en agter mnr. Vorster gaan staan. Min. Schoeman, wat nie onder die eerstes was nie, het tussen ander lede deur beweeg totdat hy reg agter mnr. Vorster gestaan het.
Die mense se gesigte was strak en ernstig. Party buitestaanders, wat nie hul gevoelens en die van ander Suid-Afrikaners kon deel nie, het dit selfs te somber en onverbiddelik gevind. Een buitelander het die middag na ’n foto van die groepie gekyk en gese: “Die foto gaan julle en jul nuwe Eerste Minister in die buiteland geen goed doen nie. Die mense lyk te grimmig, afwerend nors.”
Maar drie maande later het die Londense blad The Economist daardie selfde foto op sy buiteblad gepubliseer met die waarskuwende opskrif: “Do you want to fight these men?”
By die verskyning van mnr. Vorster het ’n gejuig van die skare opgegaan. ’n Glimlag het sy gelaat verhelder en hy het die gejuig met ’n wuif eers van die een hand en toe van die ander beantwoord. Agter die rooi tou het mev. Vorster vir hom gewaai.
Op straat het iemand die Volkslied ingesit. Almal het saamgesing en na afloop daarvan is weer gejuig.
Sen. Paul Sauer het na vore getree en gesê: “Mnr. Potgieter sal nou ’n offisiële aankondiging doen.” Asof almal nie reeds geweet het nie!
In Afrikaans het mnr. J. E. Potgieter bekend gemaak dat die koukus mnr. Vorster eenparig tot hoofleier van die Nasionale Party gekies het. Die skare het weer gejuig, ook nadat mnr. Potgieter die bekendmaking op Engels herhaal het.
Toe het mnr. Vorster die aanwesiges toegespreek.
“Voordat ek u bedank wat hier vergader het,” het hy gesê, “wil ek by my eerste verskyning in die openbaar my beskeie hulde bring aan die man wie se plek ek geroepe is om in te neem. Weinig word aan ’n volk ’n man gegee wat so begenadig is met wysheid en verstand en met innerlike krag en versiendheid, met die vermoë om mense aan te voer soos wat wyle dr. H. F. Verwoerd ons aangevoer het.
“U vra nou vir my waaraan ek glo en wat my pad is. My pad is om verder te loop op die pad waarop Hendrik Verwoerd geval het. (Toejuiging.) En, my vriende, hy het geval nie omdat iemand hom in die rug geskiet het nie, maar omdat hy sy bors uitgehou het vir u en my. Op daardie pad wil ek loop. Mag die Almagtige God my genade gee om dit te doen.
“U vra my waaraan glo ek. Ek glo aan die Nasionale Party. Ek glo aan sy beginsels en ek glo aan die volle uitlewing daarvan in elke opsig en met alle konsekwensies wat dit meebring. (Toejuiging.)
“Ek praat nie nou na buite nie. Ek praat net na binne. Die geleentheid om na buite te praat, sal kom.
“Ek glo aan my mense, maar bowe al staan ek hier as ’n man wat klein is, omdat ek aan God glo. (Toejuiging.)
“Ek dank u wat hier bymekaar gekom het. Hierdie taak wat volvoer moet word, is nie net vir een man beskore nie. Een man kan dit nie doen nie. Ek is baie dankbaar dat ek nie alleen hier vanmore kan staan nie, maar dat ek saam met my kollegas hier staan. Ek is baie dankbaar dat ek vir u kan sê dat al my kollegas in die Kabinet en ek hierdie wa verder sal trek om Suid-Afrika te dien. (Toejuiging.)
“Ek dank hulle, en ek wil ’n besondere woord van dank rig aan die waarnemende Eerste Minister, dr. Dönges. Ek wil ’n woord van dank rig aan mnr. Ben Schoeman, die Leier van die Huis; ek wil ’n woord van dank rig aan die Leier van die Senaat, sen. De Klerk, ’n Dankwoord ook aan die leier van Natal, mnr. Maree, min. Fouche van die Vrystaat en mnr. Van der Wath van Suid- wes.
“Eenparig, almal van ons, sal u dien. Maar ons wil Suid-Afrika dien.”
Op Engels het hy voortgegaan: “Geen man in die geskiedenis van Suid-Afrika het meer gedoen om nasionale eenheid te bevorder en Afrikaans- en Engelssprekendes bymekaar te bring as wyle dr. H. F. Verwoerd, ons ontslape leier nie.
“Ek sê dat, vir sover dit die volk van die land betref, hulle bymekaar wil kom en saam wil staan. (Toejuiging.) En hulle wil saam-staan, nie omdat hulle deur omstandighede van buite gedwing word nie, maar hulle wil bymekaar kom omdat hulle glo en ons glo dat ons slegs saam hierdie groot Suid-Afrika van ons kan bou.
“Laat my ter afsluiting sê dat, vir sover dit my betref, wanneer ek sê dat ek op die pad van dr. Verwoerd wil loop, ek ook op daardie pad wil loop wat hom beweeg het om nasionale eenheid te bevorder. Dit sal my doel en strewe wees soos dit syne was.
“Ek vra u steun, nie om my ontwil nie, maar ter wille van Suid- Afrika, ons vaderland.
“Laat ons ons geskille hê. Hulle sal altyd daar wees. Laat ons ons geskille hê, maar laat ons ons land dien soos nooit vantevore nie.”
Toe weer op Afrikaans:
“Ek sluit af. Ons het gerou en ons het getreur. Ons het hulde gebring op ’n wyse soos Suid-Afrika dit nog nooit gedoen het nie, omdat hy dit so waardig was en hy so ’n groot man was.
“Nou het ons hom weggelê. Nou mag ons nie langer by sy graf stilstaan nie.
“Ons sal hom nooit vergeet nie, en ons sal altyd aan hom hulde bring, en hy sal ons lig en ons inspirasie wees, maar nou moet ons werk.
“Nou moet ons vorentoe kyk vir Suid-Afrika, hierdie mooi land van ons. Laat ons hom voorspoedig maak. En ek belowe aan u niks behalwe vir u te sê dat, sover as wat dit menslik moontlik is, ek my sal beywer vir die veiligheid van Suid-Afrika se mense.
“Dankie dat u gekom het.
“U vra my ’n woord ten slotte by hierdie geleentheid. Ek het net een woord vir u en dit is dit: Vir sover as wat die Voorsienigheid, vir sover as wat dit die Almagtige God behaag het om aan ’n mens te gee om sy eie toekoms uit te werk, om oor sy eie lotgevalle te beslis, vir sover sal die lotgevalle van Suid-Afrika hier deur onsself beslis word. (Toejuiging.)
“Ek dank u. Dit was baie vriendelik dat u gekom het. Baie dankie.”
Terwyl hy gepraat het, het hier en daar trane gekom. Oorkant Par- lementstraat, op die balkon van die Eerste Minister se kantoor, het twee vroue met ’n sakdoek oor die oe gevee. Hulle was mej. Bettie Louw, wat dr. Verwoerd se persoonlike tikster was, en mej. Kowie Kleynhans, haar assistente.
Agter die rooi tou het mej. Elsa Vorster met ’n paar trane op die wange gestaan en luister.
Met nuwe oë en verskerpte belangstelling het die aanwesiges geluister en gekyk na die man wat hulle as Minister van Justisie geken het, wat nou Eerste Minister sou word. Sy individuele spreekstyl het dadelik opgeval: die manier wat hy het om sy siening op sake te gee as antwoord op ’n vraag deur homself gestel – ”U vra my . . .” of: “U wil weet ...” - sy manier om af en toe, baie effektief, enkele sekondes lank stil te bly. Een maal het die sweem van ’n glimlag op die ernstige gesig verskyn.
Een maal het hy albei arms sywaarts tot op skouerhoogte gehef, meermale met die wysvinger in die lug beduie en teen die einde, toe hy sê dat Suid-Afrika se vraagstukke hier opgelos sal word, met ’n ruk van die arm na die grond gewys terwyl hy die kop ’n bietjie hoër opgehef het. En sy diep baritonstem het byna ’n tenoor geword soos hy die woord “hier” beklemtoon het.
Toe hy klaar was, het mev. Vorster onder die tou deurgebuk om na die treetjies te loop terwyl hy haar tegemoetgekom het. Half pad het hulle mekaar ontmoet en omhels, en hy het haar na sy kollegas op die Senaatstreetjies gelei.
Die skare het bly rondstaan, traag om uiteen te gaan, totdat mnr. Sauer na die mikrofoon gestap en gesê het: “Die verrigtinge hier is nou oor.”
Dit was meer as net die verrigtinge wat oor was. ’n Hele tydperk is daar afgesluit, die tydperk van die manne van 1948, die jaar waarin die Nasionale Party aan die bewind gekom het.
Vir die eerste keer is ’n man tot Eerste Minister gekies wat nie in daardie jaar lid van die Parlement geword het nie - ofskoon mnr. Vorster toe met net twee stemme verloor het teen sen. A. E. Trollip, wat later ook lid van die Nasionale Kabinet geword het.
Van die Kabinet wat in 1948 deur dr. Malan saamgestel is, het op 13 September 1966 nog net twee ’n ministersamp beklee: dr. T. E. Dönges en mnr. Schoeman, wat in 1948 op 43-jarige leeftyd die jongste lid van die Kabinet was; en van die 164 wat die koukusvergadering bygewoon het, was in 1948 nog geen twintig eens lid van die Parlement nie. In 1966 was tien van hulle minister.
Net na 12-uur het dr. Dönges, sen. Sauer, mnr. Potgieter en ’n aantal ander senatore en volksraadslede na die presidentswoning naas die parlementsgebou gegaan om die Staatspresident formeel van die verkiesing van mnr. Vorster in kennis te stel. Tussen pres. Swart en sen. Sauer, jare lank kollegas en intieme vriende, het ’n formele tweegesprek ontstaan:
Pres. Swart: “Kragtens die desbetreffende bepalinge van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika is dit die verantwoordelikheid van die Staatspresident om die Eerste Minister aan te wys en hom te versoek om die lede van die Kabinet vir goedkeuring voor te dra. Die aanstelling van die Eerste Minister geskied na die gebruiklike raadpleging. Menere, het u iets om aan my voor te dra?”
Sen. Sauer: “Dit is vir my ’n eer om u, Meneer die Staatspresident, mee te deel dat mnr. B. J. Vorster vanoggend deur die Nasionale Party-koukus gekies is tot hoofleier van die Nasionale Party.” Pres. Swart: “U het my nou verwittig dat die heer B. J. Vorster tot hoofleier van die Nasionale Party in die Parlement gekies is. Het die party tans die volstrekte meerderheid in die Volksraad en in die Senaat?”
Sen. Sauer: “Ja, dit word algemeen so aanvaar.”
Pres. Swart: “Ek bedank u vir die inligtinge wat u aan my oorgedra het. Ek sal die aangeleentheid in die lig daarvan oorweeg.” Vervolgens het die Staatspresident sy sekretaris, mnr. A. L. Pretorius, en mnr. J. E. Potgieter gevra om mnr. Vorster na hom te ontbied, en om 12.25 het laasgenoemde sy kantoor in die Marksgebou vir die tweede keer daardie oggend verlaat - dié keer op pad na die Presidentswoning.
Daar het pres. Swart hom formeel versoek om ’n regering saam te stel, en as formeel aangewese Eerste Minister het mnr. Vorster daarvandaan na sy huis teruggekeer - met dieselfde motor waarmee hy die oggend as Minister van Justisie na sy kantoor gekom het. By die Parlementsgebou het TP 1000 nog steeds gestaan waar dit die oggend geparkeer was.