Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gewone mense dink net hoe hulle hulle tyd kan deurbring; verstandige mense probeer dit gebruik
LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (3)
JESUS LEI DEUR SY VOORBEELD
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
Ons almal het leiding nodig in groot en klein sake. In hierdie proses is die wyse waarop Jesus leiding aan sy dissipels gegee het van die grootste belang. Hy was vir hulle die Voorbeeld in woord en in daad. Sommer met die aanvang van sy bediening het die mense besef dat sy leiding heel anders as die leiding van die Fariseërs en die wetgeleerdes was. Hulle kon Jesus se uitnodiging in Matt 11:29 heelhartig beaam:
"Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed."
Die Switserse teoloog Eduard Schweizer het die leiding van Jesus voorgestel met 'n besondere beeld. In die Europese winters is dit dikwels moeilik vir mense om na 'n swaar sneeuval by hulle voordeure uit te kom. Soms is dit vir klein kinders 'n onbegonne taak. Eers as een van hulle ouers uitgegaan het na die voorhekkie, kon die kinders agernakom en in die diep voetspore loop wat hulle ouers in die sneeu gemaak het. Só het die dissipels destyds vir Jesus gevolg op die nuwe weg wat Hy vir hulle gebaan het.
Omtrent elke daad en elke woord van Jesus wat in die Evangelies opgeteken is, is gedoen met die bedoeling dat die dissipels iets daaruit sou leer van die navolging van Christus. Dit was so 'n prominente element van hulle aktiwiteite dat hulle in die begin nie bekendgestaan het as Christene nie, maar as mense van die 'Weg".
Een van die aangrypendste voorbeelde wat Jesus vir sy dissipels gegee het om na te volg word in Johannes 13 beskryf in die episode waar Jesus sy bo-kleed uitgetrek het en die voete van sy dissipels begin was het. In die Evangelie van Johannes word ons nie vertel van die instelling van die nagmaal soos in die ander Evangelies nie. In plaas daarvan deel Johannes ons hierdie episode mee. Hieruit kan ons aflei dat hy buitengewone groot betekenis daaraan geheg het.
Aan die einde van die voetwasssing sê Jesus aan sy dissipels: "Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen." Joh 13:15.
Die Bybel leer dat Jesus nou nog leiding gee aan sy volgelinge. So sê Heb 3:1 byvoorbeeld: "Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely."
Vandag is Jesus egter nie meer fisiek by sy volgelinge aanwesig nie. Hoe werk dit dan dat Hy steeds leiding kan gee? Gewoonlik vra mense wat Jesus sou doen in hierdie of daardie situasie. Indien daar nie presies so 'n situasie in die Skrif beskryf word nie, probeer hulle uit die Skrif 'n beeld van Hom vorm wat hulle kan navolg. Dit kan 'n goeie manier wees om 'n antwoord te kry.
Neem byvoorbeeld die vraag of 'n gelowige behoort te dobbel. Jesus sê nêrens iets teen dobbel nie. In die verhaal van die kruisiging word egter vertel dat die soldate oor Jesus se kleed gedobbel het. Nou kan mens vra: Sou Jesus gedobbel het? Die antwoord op hierdie vraag behoort vir die meeste gelowiges seker vanselfsprekend te wees – Jesus sou nie gedobbel het nie. 'n Veel belangriker insig in hierdie verband is dat Jesus so volkome geleef het uit die hand van die voorsienige God dat Hy nie nodig gehad het om sy geluk op so 'n wyse te toets nie. 'n Mens kan jou die vraag afvra of enige ware gelowige met 'n rustige hart sou kon dobbel, terwyl hy wéét dat daar oor die kleed van sy Meester gedobbel is.
Jesus het vir sy dissipels een ding by uitstek duidelik gemaak waarin hulle hom moet navolg, naamlik in sy selfverloëning, selfopoffering en lyding. Dit is veral hierin wat Jesus ons leier en voorbeeld wil wees. Dit verneem ons in Matt 16:24 waar Hy sê: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry."
Hierdie leiding lyk anders as die soort leiding wat mense graag wil hê. Dit gaan teen hulle natuurlike grein in. 'n Mens kan vra: "Wat is die wil van die Here?" Jy kan ook vra: "Wat is die liefdevolle, die genadige ding om te doen in hierdie of daardie situasie? " of "Wat sal die koms van die koninkryk van God bevorder?" Die toets vir ware leiding is egter of dit 'n mens tot egte selfverloëning en 'n nuwe openheid vir die genade van God bring. Ware leiding lei onvermydelik tot die een of ander vorm van lyding. En hierdie lyding lei tot lewe. Petrus het hierdie les uit dure ondervinding saam met Jesus geleer. Uiteindelik skryf hy soos volg: "Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg." 1 Pet 2:21. In hierdie lewe het Jesus ons vooruitgegaan op die weg van die kruis. Daar is geen ander weg wat na die lewe lei nie.
Die skrywer van Hebreërs sê dieselfde ding net op 'n ander manier: "(Leef met)... die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie."Heb 12:2.
Wie hierdie Leidsman volg, sal vind Hy is steeds die HERE, die Een wat jou lewe bepaal. Hy gaan steeds vooruit en sal jou nooit in die steek laat nie.
Met sy doop het die gelowige die onverganklike waarborg van God ontvang dat Hy hom steeds deur die Gees sal lei. Die Gees sal gelowiges wat soek steeds aan die woorde van Jesus herinner en Jesus teenwoordig stel in sy lewe.
Ons moet dit egter ook duidelik stel dat Jesus méér is as net 'n voorbeeld. Hy tree ook vir ons in en maak dit vir ons moontlik om sy leiding te volg. Selfs as ons dwaal, vergewe Hy ons ons dwalinge.
Wie vir Jesus ken, kan steeds bid: "HERE, U gee leiding nie net aan die wind en die golwe nie, maar aan elkeen van u kinders. Lei ons na u koninkryk, soos wat u die Israeliete met 'n vuur- en wolkkolom deur die woestyn gelei het na die beloofde land."